by

Die kern van die saak

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Ná die verskyning in Die Burger van Riana Scheepers se resensie van Dis koue kos, skat, Marita van der Vyver se e-pos-roman, kan mens deeglik kyk na die uiteenlopende aard van koerant-resensies daaroor en besluit of hierdie baanbrekersroman na behore getakseer is.

Rapport was op 1 Mei eerste met ‘n bespreking, deur Pieter-Louis Myburgh, ‘n sportjoernalis. Benewens sy resensie was daar ook die menings van vyf “gewone” mense oor die boek.

Vyf baie positiewe menings (resensie ingesluit), een louerig positiewe mening. Vox populi slaag op hierdie manier goed, maar sou dit ook so aanvaarbaar gewees het as die vox pop negatief was? Rapport verdien lof vir waagmoedigheid, maar dit is nie ‘n benadering wat oor en oor herhaal kan word sonder vrae oor moontlike manipulasie nie.

Myburgh se resensie self is in ‘n lekker leesbare geselstrant geskryf, maar dit neem hom net ses paragrawe om te ontspoor. Myburgh se poging om dieper betekenis toe te skryf aan die naam van die vrou wat die hoofkarakter se man afgevry het, Anaïs, voer hom in ‘n belaglike rigting: “Anarchis? Antichris?” Moontlik is hy nie bewus van die Franse skryfster Anaïs Nin nie, en daarom ook nie van haar verhouding met die Amerikaanse skrywer Henry Miller en sy vrou June nie. Dis jammer, want daardeur kyk hy een van die sentrale verwysingspunte in die roman mis, en ontgaan die wrang ironiese toespeling op die drietal as onromantiese groepering hom heeltemal.

Mens kan sekerlik sy resensie deurlees, maar vir hierdie leser het dit daar in paragraaf ses sy aanspraak op gesaghebbendheid verloor.

Marida Fitzpatrick se resensie in Beeld, ‘n week later, het nog meer skryfsprankeling as Myburgh s’n, maar sy vermy enige verklarings van dieperliggende betekenis wat in name en so meer opgesluit lê.  Wat sy wel doen, is om te verwys na die aardige ooreenkomste tussen Dis koue kos, skat en die rolprent It’s complicated.

As ‘n mens die twee baie oppervlakkig vergelyk, is daar ooreenkomste – nes daar oppervlakkige ooreenkomste is tussen meeste verhale oor liefdesdriehoeke. Mens hoef nie Levi-Strauss te wees om te weet dat meeste verhale teruggeskil kan word na ‘n handjievol algemene verhaal-strukture nie. Maar Fitzpatrick verduidelik té min oor haar insigte in hierdie ooreenkoms, en daarom bly dit net ‘n aardigheid selfs binne die raamwerk van haar resensie.

In Riana Scheepers se verbysterende bespreking van die boek gaan sy sover as om te sê dat It’s Complicated “punt vir punt” ‘n herhaling is van Van der Vyver se verhaal. Vir iemand wat die boek gelees het en die fliek gesien het, gaan dit die verstand te bowe hoe Scheepers so-iets met soveel stelligheid kan beweer. Buiten dat mens dadelik weet dat sy dit moeilik sal regkry om dit “punt vir punt” te boekstaaf , begin jy op daardie punt nie alleen wonder oor die geldigheid van haar vorige opmerkings nie, maar sien jy ook dadelik raak hoe sy kleitrap om die resensie af te sluit. Sy glimlag nog, maar dis net met die tande.

Ek wonder wat sou Scheepers gesê het as sy Nora Ephron se Heartburn gelees het, of die fliek daarvan (met Meryl Streep in die hoofrol, bid jou aan) gesien het?

Scheepers kon die versoeking nie weerstaan om haar resensie in die vorm van ‘n brief te skryf nie. Dis vreemd dat iemand met haar skryftalent nie ‘n brief kon skep waarin daar ‘n geloofwaardige toonaard is nie. Vgl. die paragraaf waarin Scheepers haar reaksie op die omslag oordra: vooroordeel aangebied in die vorm van simpatiebetuiging teenoor haar vriendin. Jy lees dit en jy hoor hoe Aspoestertjie se susters vir haar sê dit is jammer só ‘n mooi meisie dra sulke verslonste klere.

En dan skielik die patroniserende toon wanneer sy praat van die hoofstuktitels en die lysies aan die einde van elke hoofstuk – “dit is knap gedaan, ironies en humoristies – soos ons jou op jou beste ken.” (Hier, kietsie kietsie!) Dit volg op ‘n stuk waarin sy kwansuis nie verstaan hoekom Van der Vyver heel in die begin verklap wat aan die einde gaan gebeur nie, so al asof sy nie werklik snap dat daar dalk in die aanlopende hoofstukke iets anders aan die bod kan kom nie.

Die toon warrel rond tussen bitsig en intiem, met gewone klaery tussen-in. Dit sien mens die beste as jy die eerste paragraaf (haai oe, hier’s ek ook in Frankryk) vergelyk met die manier waarop sy later die karakters kritiseer wat Van der Vyver introduseer. Eers beskuldig sy Van der Vyver van narsisme, dan wil sy by implikasie reëls neerlê oor watse soort karakters gebruik kan word, en daarna kry sy die insig, teen bladsy 260 se kant, dat die hoofkarakter deur ander bedoelings gemotiveer word. Van die intieme toon is min oor, maar dit keer darem teen die einde van die resensie terug, so half verskonend.

Nie Scheepers se grootste oomblik nie: ‘n louwarm resensie opgedollie as ‘n brief wat sy sê tussen die lyne sê.

Die resensie wat my wel deeglik beïndruk het, is Naòmi Morgan s’n, wat middel vandeesmaand in Volksblad verskyn het. Normaalweg sou die akademiese aard van die resensie my laat terugdeins het, maar omdat hierdie die eerste werklik substansiële resensie van die boek was, het ek dit opgeslurp, by wyse van spreke.

Morgan het met groot deeglikheid die aanloop geneem by Pierre Choderlos de Laclos se Liaisons dangereuses, die vernaamste literêre bron vir Dis koue kos, skat. Sy het ‘n gevoeligheid vir die intertekstuele verwysings in die roman, vir die innoverende  aspekte asook vir die groot getal stemme wat daarin te vind is. (Ek kan my goed indink dat dít eendag die onderwerp vir ‘n verhandeling gaan word: Die stemme in Dis koue kos, skat.)

Sy sien in dat dit ‘n dagboek-vermom-as-briefroman is (so anders as Hettie Smit se dagboek/briefroman Sy kom met die sekelmaan), ‘n vorm van terapie wat die hoofkarakter self toepas en wat dan uiteindelik die helingsproses voltrek.

Morgan spel ook uit waaroor dit uiteindelik alles gaan: Wraak.

Dit is ‘n werklik knap resensie: ‘n Deeglike betoog wat die roman ernstig en omvattend benader.

 

Dit sal interessant wees om te sien wat Morgan maak van die lyn vanaf Hettie Smit na Anna Huygens (skuilnaam van W.A. de Klerk en Anna Neethling-Pohl) se Van Willem en San en vandaar na Dis koue kos, skat, en van die maniere waarop die roman skakel met Nora Ephron se Heartburn,  Matt Beaumont se e. The Novel of Liars, Lunch and Lost Knickers en Reginald Hill se A Cure for All Diseases.

 

Maak mens dan die somme, is drie van die vier resensies oorweldigend positief, en een verwarrend positief/negatief. Of die skrywer sal voel dat almal die volle reikwydte van die roman na behore getakseer het, sal ek nie weet nie.


Ek is nie Van der Vyver se grootste bewonderaar nie. Daar is ‘n bietjie té veel van dieselfde, keer op keer. Maar ek weet wel dat wanneer sy, of enige ander Afrikaanse skrywer, die dag iets werklik vernuwends doen, en vernuwing bring binne ‘n spesifieke genre, dit die resensente se plig is om vir lesers te sê wat hier onder hul oë gebeur. Een uit vier het in hierdie geval by die kern van die saak uitgekom.

 

 

 

 

4 antwoorde op Die kern van die saak

  1. BertieL het gesê op Junie 29, 2010

    Ag Crito, jy weet nie waarvan jy praat nie. Riana se resensie was puik. Afrikaners is net nie gewoond aan eerlike krtiek nie. ‘n Mens mag dalk nie met haar saamstem nie, but come now, dit was beslis ‘n openbaring.

  2. crito het gesê op Junie 30, 2010

    @H Lategan: Openbaring? Waarvan? Die feit dat sy ‘n swak resensie kan skryf?
    @Annemari: Ek vermoed hulle het dit om die helfte gedoen, dit was deel van die groot veldtog in die jare vyftig om middelmoot-leesstof vir Afrikaanse lesers te skep en te publiseer.
    @MaanKind: Nog nie Nikki s’n gelees nie. Sal laat weet.

  3. crito het gesê op Julie 1, 2010

    @MaanKind: Nikki Lordan se resensie is strate beter as Scheepers s’n, dis verseker! Sy ondermyn haar eie gesag ‘n bietjie met haar inleidingsparagraaf, maar die res is werklik voortreflik. Haar resensie het ná dié van Myburgh en Fitzpatrick verskyn, en sy het duidelik die moeite gedoen om heelwat verder te delf as hulle. Sy kon net nie die ou resensie-spook omseil nie – as mens beswaar maak teen clichés in ‘n boek, moet jy sorg dat jou resensie geen clichés bevat nie.

  4. KarinBryn het gesê op Julie 1, 2010

    Dit was nou goed om vir ‘n slag te lees! Welgedaan Crito!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.