by

‘n Skroef is los

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Heel vroeg in die bestaan van hierdie blog het ek ‘n keer verwys na Afrikaanse koerante se boekeblaaie as die neerslagplek van belangrike historiese rekord vir die letterkunde in die Afrikaanse taal. As mense oor vyftig jaar wil weet wat het in 2010 aangegaan in die Afrikaanse letterkunde, en hoe dit geskakel het met wat voorafgegaan het, dan sal die koerante die eerste plek wees waar hulle gaan soek na inligting.

Neem mens bestek van wat tans aan die gang is, is dit ‘n somber prentjie wat vorm. Drie oggendkoerante en een Sondagkoerant wat resensies of artikels plaas. Kyk jy wat gereeld daar bespreek word, dan wonder jy in sommige gevalle of die Afrikaanse koerante nou besluit het hul lesers stel meer in Engelse boeke belang.

En probeer jy, al is dit met ‘n omweg, vasstel wat die uitgewers van Afrikaanse boeke hiervan dink, vind jy beleefde antwoorde en ‘n onwilligheid om te praat.

Maar dat daar ‘n skroef los is, daaraan twyfel ek nie. Kyk gerus na die webwerwe van Tafelberg, Human & Rousseau, Lapa, Protea en Kwela, en jy kom dadelik agter hoe verskriklik min Afrikaanse publikasies word geresenseer.

Afgelope Sondag het Rapport se Boeke gespog met drie behoorlike resensies van Afrikaanse boeke. Daarnaas ‘n klompie artikels oor sake rakende boeke, sommige insiggewend, sommige oppervlakkig en ‘n paar op Jip!-vlak. Dit alles binne die bestek van vyftien bladsye – die sestiende is vermors op ‘n tekenaar se voorstelling van Hennie Aucamp se gesig.

Die bylaag dra een advertensie (Sanlam) en uitgewersadvertensies skitter in hul afwesigheid.

Maandag se uitgawe van Die Burger het twee resensies van Afrikaanse publikasies, een bespreking van ‘n Engelse vertaling van ‘n Japanse roman uit die jaar 1909, en ‘n bespreking, deur Marinus Wiechers, van ‘n Engelse liber amicorum vir Van Zyl Slabbert.

Beeld het (te oordeel na hul webwerf) die beste gevaar, met drie resensies van Afrikaanse boeke, terwyl daar by Volksblad die vreemde ding gebeur het van drie ophemelings of reklamestukke (resensies kan mens dit nie noem nie) van drie jeugboeke.

My hart sak in my skoene.

***

Ek sal later, sodra al die koerante hul besprekings geplaas het van Marita van der Vyver se Dis koue kos, skat ‘n blog wil afstaan aan ‘n kykie na die gehalte van Afrikaanse resensies. Dit is besig om te ontwikkel in ‘n besonderse geval.

***

Thys Human se bespreking van Hennie Aucamp se Oor en weer is in ‘n effens ander toonaard as wat ‘n mens gewoonlik by hom kry in sy besprekings (bv. van In oneer). Enersyds dwing die aard van die boek hom daartoe, andersyds probeer hy duidelik skakels vind tussen dít wat Aucamp aansny in die onderhoude wat in hierdie bundel opgeneem is.

Op die gevaar af dat ek soos ‘n eenvrou-rasieklub vir Human begin klink, moet ek sê dat dit ‘n indrukwekkende resensie is. Boonop is dit interessant, en lees plek-plek amper soos ‘n artikel waarin Aucamp self die woord voer. Die feit dat ek die onderhoud end-uit gelees het, sê vir my reeds baie – ek moet beken dat ek ‘b paar jaar gelede met die soveelste ego-publikasie van Aucamp belangstelling in hom verloor het. Wat kan nog openbaar word wat mens nie reeds van hom weet nie? Wil mens dit weet?

***

Leti Kleyn se resensie van dieselfde bundel (in Beeld) is ook knap geskryf. Dis interessant om te sien watter soortgelyke en watter verskillende dinge sy en Human uit die bundel gehaal het om te belig.

Onder meer het Kleyn die volgende aangehaal:

“In aansluiting by onlangse debatte oor die media se verantwoordelikheid teenoor die literatuur is hy ook (in die onderhoud met Melt Myburg) bekommerd oor die plek van die kortverhaal in veral tydskrifte, maar bied die kritiek met humor aan: ?“Wat doen die liefhebbers [en skrywers!] van goeie populêre verhale nou? ?Hul wend hul – let wel, uit desperaatheid – tot Engelse verhale […] want […] tydskrifte [het] promosieblaaie geword, met baie vir die vlees, soos glansender hare en bultende spiere, maar niks wat ’n geesteslewe en die verbeelding kan voed nie.”

Ek is dit met hom roerend eens – maar die aaklige waarheid is dat as tydskrifte soos Huisgenoot voortgegaan het om die soort inhoud te publiseer wat Aucamp bepleit (en wat Huisgenoot nog tot die jare sewentig gedoen het), sou daar vandag geen Huisgenoot gewees het nie.

Miskien het hierdie ou tante meer met Aucamp gemeen as wat sy gedink het. Wat gaan van ons word as koerantredakteurs besluit dis nie meer nodig om plek af te staan aan resensies van fiksie en nie-fiksie nie, want te min van hul lesers het ‘n Kindle?

***

Ek hoop ander lesers het ook die (waarskynlik onbedoelde) humor raakgesien in Marius Crous se resensie van Die skyn van tuiskoms – ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Crous, wie se groei as resensent op Die Burger se blaaie merkbaar is, verwys na die talle gesprekke wat Spies met ander digters in haar digkuns voer – en maak dan die volgende opmerking: “… ‘n mens sou beslis Spies en Hambidge se poësie met die werk van ander digters kon ondersoek.”

Net nie met mekaar nie, Marius?

***

Irna van Zyl het met haar bespreking in Die Burger van In landsbelang die pot spektakulêr misgesit. (Verskoon die woord, maar dis die enigste konteks waarin dit juis klink.)

Haar klagte is, opgesom,  dat dié roman te veel waarheid bevat en te min fiksie. So erg gaan dit vir haar dat “’n mens jou wil-wil verbeel jy lees dinge soos dié bykans daagliks in die koerant.” Maar, sê sy later, sy vind die gegewe uiteindelik oppervlakkig.

Sy maak ook beswaar teen die gebruik van die woord “nie-blanke”. Maar sy sê nie hoekom nie – is die mense wat dit gebruik, mense wat iets anders sou gebruik? Wat sou hulle gebruik? Is die spesifieke gebruik van dié etiket nie ‘n teken of sinjaal van iets groters nie, van ‘n tydvak, of ‘n spesifieke soort mens binne die verhaal nie? En wat het dié rasse-etiket met die boeiendheid van die verhaal te doen?

Ek stem met Van Zyl saam oor die status van hierdie rasse-etiket, maar verwag van haar as resensent om haar opmerkings te motiveer. Ditto “oppervlakkig” – die inhoud wat sy vóór hierdie negatiewe opsomming skets, klink alles behalwe oppervlakig.

3 antwoorde op ‘n Skroef is los

  1. Ek weet nie aldag of ek moet lees wat resente altyd kwytraak nie. Sommige begin groter word as die skrywer self.

  2. crito het gesê op Junie 9, 2010

    @MaanKind: Ek gaan dit beslis nog doen. Volksblad en Die Burger moet nog resensies plaas. Daarna …

  3. crito het gesê op Junie 9, 2010

    @Ludwig: Dit het soms ‘n goeie uitwerking wanneer dit gebeur. Ek dink nou terug aan die dae toe André Brink Rapport se hoofresensent was en elke week lang resensies geplaas het. Maar daar is min mense wat bereid is om sulke harde werk in te sit – week na week op hoë peil te skryf or iets wat nog nie deur enigiemand bespreek is nie. Resensies soos dié van Thys Human en Leti Kleyn waarna ek hierbo verwys, is skryfwerk wat nie sommer vinnig in ‘n halfuur afgehandel is nie. Dit is ure se veleisende werk, en mens moet waardering hê daarvoor.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.