by

Wie die seerste kry

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

‘n Interessante gemors waarin ‘n resensent hom die afgelope paar weke bevind het, nè. Ek praat van Koos Kombuis se resensie van Paul Miles se Skoot, wat ‘n ruk gelede in Die Burger verskyn het, en waaroor Kombuis verlede week moes terugkrabbel nadat ‘n brief van ‘n baie ontstoke Gerrit Olivier in Die Burger gepubliseer is.

Olivier had heeltemal reg: Kombuis se vergelyking van Miles se Skoot met ‘n boek wat in 1902 in New York gepubliseer is, wat dieselfde titel het, wat ook bestaan uit om en by 140 kort stukkies, wat almal genommer is, en Kombuis se oordeel dat dit (vir n feit) teruggryp na daardie roman, en stilisties feitlik identies is daarmee, is nie heeltemal orraait nie.

Vir ‘n leser wat suiwer op Kombuis se oordeel moes staat maak, sou dit nie moeilik gewees het om te dink dat Kombuis ‘n geval van plagiaat ontmasker het nie. Daai woord identies

Ek kry Miles bitter jammer, veral omdat hy ‘n debuutskrywer is en plagiaat is die allerlaaste ding wat ‘n debuutskrywer ten laste gelê wil wees. (Ek self het, nadat ek die resensie gelees het, aanvaar Kombuis het ‘n punt beet. Ek het nie kommentaar gelewer nie, en het ook besluit dat ek Skoot nie wou lees nie.)

Ná Olivier se brief het Die Burger se ombudsman uitgewys dat Kombuis nie vir Miles van plagiaat beskuldig nie. Dit is tegnies korrek.  Wat gebeur het, is dat Kombuis sekere oppervlakkige ooreenkomste uitgewys het, en toe dit gaan kwalifiseer het met ‘n opmerking oor “stilisties, feitlik identies”. En ons, die lesers, hoef net die woord identies te sien om die nodige kortsluitings te maak en te dink Kombuis is darem oordentlik om nie die woord plagiaat hardop te gebruik nie.

Ná die lees van Kombuis se apologie, en die Ombudsman se oordeel, het ek Kombuis se oorspronklike resensie baie goed gaan lees. Dit is onmoontlik om te ignoreer dat Kombuis die twee werke aan mekaar koppel, met Paul Miles s’n die een wat in navolging of moontlik parodie geskryf is. Daarna het ek na Kombuis se apologie gaan kyk en toe na Cora G. Sadler se Skoot: A Story of Unconventional Goodness. (Die PDF daarvan is by verskeie webwerwe aflaaibaar.) Miles se boek het ek met groot moeite in die hande gekry en dit ook gelees.

Hoekom Kombuis nie al die rooi ligte sien flits het nie, kan ek nie begryp nie. As mens Miles se werk lees, en jy sien Sadler se subtitel, dan moet jy dadelik weet dis twee heel verskillende lewensbeskouiings wat vaardig is. Miles reageer òf op Sadler, òf is nie bewus van haar boek nie. Daar is nie ooreenkomste wat mens in ‘n ernstige sin kan noem nie.

En “stilisties identies” is misleidend, want dit kan baie dinge beteken, en nie een daarvan is “afgekyk” nie, en nog minder “plagiaat”.

Ná ek Miles se Skoot gelees het, stem ek heeltemal met Kombuis saam dat hy talent het. Kombuis kon sy resensie afgesluit het ná sy omerking oor die dinge wat ‘n uitgewer van ‘n skrywer verwag. Dít wat Kombuis daarna geskryf het, is die soort halfgebakte werk wat mens nie van hom verwag nie.

Trouens, ek dink mens kan dit maar as feit aanvaar dat hy nie Sadler se werk gelees het nie, en nie in ‘n posisie was om die krasse woord “identies” te kon gebruik nie. Mens ken Kombuis uit sy skryfwerk as iemand met ‘n ingebore BS-radar. Jammer daai radar was afgeskakel tydens die skryf van die resensie.

En Miles? Hopelik besef hy dat Kombuis die maklike dog verkeerde uitweg gekies het met sy resensie, en neem Kombuis se woorde in sy apologie ter harte: “Ek … glo dat Miles ’n intelligente, talentvolle skrywer is en dat hy, met die nodige leiding, heel moontlik eendag ’n werk van groot waarde kan lewer.”

Die grootste verloorder in hierdie gedoente is nie Miles nie. Hy het genoeg sigbare talent om bo die resensie uit te styg. Nee, Kombuis ly die grootste skade. Dit gaan nie om die positiewe dinge wat hy agterna gesê het nie, maar oor die dinge wat hy hom aanvanklik nie moes aangematig het om te sê nie.

7 antwoorde op Wie die seerste kry

  1. Dit is presies wat vir my kommerwekkend is. Kombuis se apologie gee geen aanduiding van sy besorgdheid oor die skade wat hy aangerig het nie. Al wat hy wil doen, is om die een deel van sy resensie waaroor hy seker is, te herhaal. Het hy enige simpatie vir Paul Miles?
    Ek sit ook nog en wag dat die Boekeredakteur van Die Burger sy mening gee. Dis onder sy toesig wat Koos Kombuis ‘n ooreenkoms gevind het tussen ‘n boek wat hy gelees het en ‘n boek wat hy nie gelees het nie. Wat is die Boekeredakteur se houding oor die geloofwaardigheid van sy resensente?

  2. lisabeth het gesê op Oktober 26, 2009

    Dankie vir die pos.

  3. hoe meer resensente verander, hoe meer bly hulle dieselfde, veral sommiges.

  4. crito het gesê op Oktober 27, 2009

    Ja, ek het ook gehoop dat Die Burger se Boekeredakteur sy eie mening sou plaas, maar mens moet aanvaar dat hy binne ‘n stelsel werk waar sake soos hierdie dadelik na die koerant se ombudsman verwys word. Die ombudsman is ook ‘n redaksielid van dieselfde koerant – wat nie altyd gesonde dinge afgee nie. Ek herinner my die groot blaps wat die ombudsman gemaak het destyds toe Die Burger foto’s van lyke op ‘n strand na die tsoenami in die Ooste gepubliseer het.
    Abrham = Ja, ongelukkig is dit so. Maar ek moet Kombuis ter ere gee dat hy al heelwat baie goeie resensies geskryf het waar mens geen fout kon vind nie. Al wat hy nou reggekry het, is om mens te dwing om sy volgende resensies meer as noukeurig en oorkrities te lees.

  5. crito het gesê op Oktober 28, 2009

    Baie geldige punt, Samuhr, maar daar is ‘n effense verskil. Daardie flieks wat deur Barry en Leon gepos word, is gewoonlik deel van ‘n groot internasionale verspreidingsnetwerk. Al skryf hulle die flieks heeltemal af, gaan dit nie werklik binne die groter geheel ‘n verskil maak nie. Maar Paul Miles is ‘n debuutskrywer in ‘n taal wat nie internasionaal kragtig staan nie. En daar is net vier koerante oor wat Afrikaanse boeke resenseer. Wat gaan gebeur as Beeld en Volksblad Kombuis se resensie net so oorneem? Glo my, dit kan gebeur. Dan het een skrywer ‘n lyfhou ontvang waarvan hy moeilik gaan herstel, en is Afrikaans die verloorder. Wat ook kan gebeur, is dat die ander koerante besluit om nie ruimte aan die boek af te staan nie, want kyk net hoe negatief is dit reeds in die Kaap ontvang.
    Ek moet jou ook net sê, ek wens dikwels dat Barry Ronge en Leon van Nierop boeke ook wil resenseer.

  6. Bebo het gesê op Oktober 28, 2009

    Nee, ek het nie die gewraakte resensie, die brief of die boeke gelees nie, maar ek wil ‘n eiertjie lê. Het julle Koos Kombuis gesien soos hy in laas jaar se Huisgenoot Skouspel verskyn het? Die oranje laphoed om die bles te verberg en die ander aansitterighede opgemerk? Hoe oud word hy nie! Wees tog genadig. Dit is immers nie sy skuld dat hy nog steeds genader word vir opinies en resensies nie!

  7. crito het gesê op Oktober 29, 2009

    Vat dit van ‘n vrou aan die verkeerde kant van vyftig, Bebo: Die jare bring gewoonlik wysheid.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.