by

‘n Briljante man en ‘n paar moorde

Oktober 14, 2009 in Sonder kategorie

Hè? Hierdie vragie het ek aanmekaar bly vra terwyl ek emeritus-professor Ockie Geyser se resensie in Maandag se Volksblad lees oor Die lang generaal: Die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika. Die titel van hierdie boek deur Alan Elsdon laat mens vermoed dit hoort tot die genre nie-fiksie, dus ‘n publikasie van feite.

Maar hoe verder mens lees, hoe meer groei jou ongemak. En dan, in die voorlaaste paragraaf, weet jy skielik hoekom. Dié paragraaf lui: “As u lus het om ’n riller te lees beveel ek hierdie boek sterk aan. U sal dit geniet.”

‘n Riller is fiksie, wat mens kan geniet. ‘n Relaas van ‘n immorele moordenaar se loopbaan kan mens nie geniet nie. Jy kan dit alleen absorbeer, ter stigting, soos die leraar in ons gemeente altyd sê.

Dan lees jy die resensie weer. In die eerste paragraaf lees jy Lang Hendrik van den Bergh was “die briljante hoof van die veiligheidspolisie en ’n gerespekteerde persoonlikheid onder die Koue Oorlog-spioene”. Nou toe nou: vervang “briljant”  met “demonies” en jy is nader aan die kol.

Wie die Koue Oorlog-spioene was wat hom gerespekteer het, word nie gesê nie. Seker nie die mense wat die lys gesien het van Van den Bergh se immorele nalatenskap aan die Suid-Afrikaanse volk nie (vgl. die slot van die rolprent Cry, Freedom!) of sy spook sien loop het by die Waarheids- en Versoeningskommissie nie.

Prof. Geyser verwys na Alan Elsdon se agtergrond (voormalige veiligheidspolisieman) en drie ander boeke oor dieselfde onderwerp, naamlik adv. P.J. Pretorius se Volksverraad, Chris Steyn-Barlow se Publish and be damned en Mervyn Rees en Chris Day se Muldergate: The Story of the Info Scandal.

Mens kry die gevoel dat prof. Olckers nog nie gereed is om te erken dat Van den Bergh ‘n misdadiger was nie: “Oor hierdie gebeure is daar al jare lank maar net bespiegel. Dit is opvallend hoedat die feite van die drie voormelde outeurs ooreenstem. Uit ondervinding is Elsdon net meer in besonderhede.”

Wat probeer prof. Olckers sê? Dat daar “feite” is, en snaaks genoeg is die feite in drie boeke dieselfde, en nou ook in ‘n vierde? Of is dit sy manier om te sê nou weet ons die waarheid?

Hy verduidelik dan hoe Van den Bergh sy mag gekry het, en kom dan met hierdie bom: “Elsdon verbind Van den Bergh met ’n groot aantal moorde, verskeie daarvan tot vandag toe nog opspraakwekkend: eerste minister dr. H.F. Verwoerd, staatspresident Nic Diederichs, Steve Biko, Anton Lubowski, NG teoloog prof. Johan Heyns, NP-kandidaat en monetêre ekspert dr. Robert Smit en prof. Johannes Bruwer.”

Hè?

Hy verduidelik dan in breë trekke van die Smit-moord, Bruwer en Heyns se dood, maar sprak g’n sprook oor dié op Verwoerd, Diederichs, Steve Biko of Anton Lubowski nie.  Het hy net vrot geformuleer of het ek hom verkeerd verstaan? Die resensent moet mos vir sy leser verduidelik wat in ‘n boek aan die gang is. Ek is seker nie alleen in my behoefte om te wil weet hoe Van den Bergh by dr. Verwoerd en Nic Diederichs se dood betrek word nie – genoeg rede om die boek te koop, sou ek sê, maar prof. Geyser maak dit nie vir mens makliker om te besluit nie.

Hy verwys ook na die Inligting-skandaal en Eschel Rhoodie, waaraan ‘n groot deel van die intrige in die verhaal afgestaan word, aldus prof. Geyser. ‘n Intrige in ‘n nie-fiksie boek? Hè?

Met prof. Geyser se uiteindelike insig kan mens nie fout vind nie: “As jy die boek toeslaan, besef jy hoe skrikwekkend dit werklik is as ’n ideologie ’n bewind se agente hul moraliteit oorboord kan laat gooi om bisarre doelwitte te bereik. Vreesaanjaend as jy daaraan dink dat fanatici beskermd in uitvoerende kernposte kan beland.” Ek vermoed die laaste sin is doelbewus dubbelsinnig en slaan ook op die hede.

Presies hoe hy dan in die paragraaf daarna die boek aanbeveel vir mense wat lus het om ‘n riller te lees, weet ek nie.

Hè?

 

 

 

5 antwoorde op ‘n Briljante man en ‘n paar moorde

  1. Ou-Top het gesê op Oktober 14, 2009

    Nee my vriend, die agente het nie hul moraliteit verloor nie, hulle het bevele uitgevoer.Al het hulle soms geweet dis moreel verkeerd. Die bevel was in die naam van Volk en Vaderland, in daardie dae was verontagsaming van n bevel van bo, gelykstaande aan Hooogverraad.

  2. Vetjan het gesê op Oktober 14, 2009

    My oupa het vir Lang Hendrik skool gegee. Hy het altyd gewonder hoe Hendrik ‘n generaal geword het, want Hendrik was maar dof op skool.

  3. crito het gesê op Oktober 15, 2009

    Petrus Pap: Hy het seker net laat ontdooi!

    Die Ou Top: Was hy nie een van die bevelvoerders nie, die top-man waar dit by staatsveiligheid gekom het? Jy het reg dat teenpraat destyds as hoogverraad beskou is veral uit Afrikaner-geledere. Maar vir my gaan dit hier or ‘n vreemde soort onnetheid in die resensie. Mens sal seker die boek moet gaan lees om te sien hoe Verwoerd en Diederichs se afsterwes met Van den Bergh verbind kan word, indien enigsins.

  4. dinkweer het gesê op Oktober 16, 2009

    Maar die boek word dan tog immers duidelik aangedui as fiksie. “Hierdie werk is fiksie gebaseer op historiese feite en gebeure…en uistsprake wat aan alle karakters toegeskryf word denkbeeldig.”

  5. crito het gesê op Oktober 21, 2009

    Dis interessant – ek het nie boek voor my gehad nie, maar die titel alleen is nie van die soort wat mens met fiksie assosieer nie. Het dit dan hoof- en newekarakters wat met al hierdie mense (Van den Bergh, Vorster, Diederichs en so vele meer) omgaan? En hoekom sou iemand wat nuwe lig op ou vraagstukke wil werp dit by wyse van fiksie doen? Ek ruik ‘n rot!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.