by

Geesdrif!

Oktober 6, 2009 in Sonder kategorie

Dit wys jou net, nè. Mens is nooit te oud om te leer nie. En wat ek vandeesweek geleer het, is dat sommige resensente  tóg groei in hul werk.

Jaybee Roux het my in die verlede erg geïrriteer omdat daar ‘n slordigheid in sy resensies inkruip, moontlik weens nalatigheid, moontlik weens haastigheid om die werk af te handel, moontlik omdat hy gewoon nie behoorlik lees wat hy self geskryf het nie.

Sy resensie van Chris Karsten se Seisoen van sonde is ‘n werklik knap stuk werk. Met net een uitsondering is dit ‘n resensie wat mens aan ander kan voorhou – veral aan diegene wat so lief is daarvoor om die uitgewers se reklamepamflette te herskryf.

Seisoen van sonde is ‘n hibried: gelyke dele speur- en spanningsverhaal, aangebied in dieselfde “procedural” styl wat Thomas Harris se werke kenmerk. Karsten het heel netjies sy skatpligtigheid teenoor Harris te kenne gegee deur die gebruik van ‘n skoenlapperpapie wat in slagoffers se monde gevind word.

Roux noem nie die verband tussen die twee skrywers nie, maar sy analise van die werk, en sy kontekstualisering daarvan is presies wat ‘n leser van die resensie nodig het.

Ook sy verwysing na die manier waarop Karsten woelig raak met die hantering van die vertel/wys-basis van narratiewe skryfwerk, is heeltemal in die kol.

En die uitsondering? Die slotparagraaf. Ek kan nie besluit of Roux ernstig is of camp nie. Besluit u maar self: “Om hierdie boek gering te skat of ongemerk by jou te laat verbygaan, is, die hemel hoor my, ‘n sonde wat geen regverdige god ongestraf sal laat bly nie.”

Dis in totaal ‘n ander toonaard as die res van die resensie. Mens lees dit met stomgeslane verbasing. Die probleem is net dat ek met hom saamstem!

***

Stoffel Cilliers het ‘n paar weke gelede Karsten se roman vir Die Volksblad bespreek, en vandeesweek tree hy in Beeld aan met ‘n resensie van Francois Bloemhof se Afspraak in Venisië.

Ek het die resensie verskeie kere herlees om vas te stel hoekom dit my so hinder. Die beeld (glad nie oorspronklik nie) het by my opgekom van ‘n bokserbrak wat pap probeer eet waarby daar té veel melk is. Dis ‘n morsige affêre en uiteindelik lek hy sy lippe af, smagtend na meer.

Die hinderlikheid: Cilliers is nie geesdriftig oor Bloemhof se Rooi Luiperd-boeke nie, en nou probeer hy rasionaliseer sonder om sy koudgelaatheid te erken.

Daarom skryf hy oor hoe moeilik hy aan die lees gekom het, en hoe baie die wissellende vertelhoeke en verskuiwende fokus hom gehinder het (‘n prosedure wat Chris Karsten ook gebruik, sonder pyn aan Cilliers se kant).

Uiteindelik besef hy skynbaar dat dit tog ‘n pakkende, goeie roman is, en gee hy toe dat dit teen die tweede helfte van die boek al baie beter gaan, dat dit selfs boeiend is, met tekens van grondige navorsing, baie drama en aksie.

Uiteindelik gee hy oor: “Maar wees gerus: Dit is ‘n Bloemhof-boek dié …” Daarna volg ‘n bewieroking van Bloemhof, en eindig die resensie op ‘n baie positiewe noot.

Wat sê die ander resensente daaroor? Tyd sal leer.

***

Die aardigste resensie wat in baie maande in ‘n Afrikaanse koerant verskyn het, is Johann P. Boshoff s’n oor Izak de Villiers se Strooidak en toring (Volksblad). Die resensent se strategie is skynbaar om almal wat vir hom gesê het dis ‘n swak boek, of wat aan hom te kenne gegee het dat hulle nie van Izak de Villiers hou nie, nou in die nadraai van ds. De Villiers se begrafnis aan te sê om die boek te móét koop.

Om talle redes, almal aangebied met die soort dawerende geesdrif wat ‘n mens gou laat wonder waar jy moet katkiseer voordat jy deelagtig aan hierdie leesvreugdes kan wees. Ek vermoed selfs ds. De Villiers sou ietwat verleë gewees het oor die jubelaris se aanslag.

Tog gee ek toe, mens moet Boshoff sy siening gun. Jy kan selfs vir lief neem met sy rasieleier-aanslag. En dit ís ‘n interessante boek wat hy onder oë het.

Maar as hy in die eerste paragraaf verklaar dat daar ‘n sinchronisiteit is tussen De Villiers en die resensent se lewe, maar nêrens verder verklaar hoekom hy dié opmerking maak nie, dan verloor hy my. Dis doodgewoon swak skryfwerk.

 

 

 

 

5 antwoorde op Geesdrif!

  1. louisna het gesê op Oktober 6, 2009

    Ek is nie hoog op in die letterkude nie, maar Thys Human is myns insiens die beste resensent

  2. crito het gesê op Oktober 7, 2009

    Ek het gedink Roux het sy nek baie ver uitgesteek met daardie opmerking, MaanKind, maar hy het ten minste gedeeltelik reg oor Brink (wie sal ooit “Voor ek vergeet” weer wil lees?) Van Heerden maak hom nie aan sulke dinge skuldig nie.
    Lo-Ammi: Ek stem saam. As ‘n resensent soos Boshoff dan nog open met ‘n opmerking oor die sinchronisiteit met sy lewe, begin al die rooi liggies vir my flits.
    Ouboet: Ek het ok ‘n hoë agting vir hom. Sou graag wou sien dat die koerante hom meer nader om resensies te skryf.

  3. h.dreyer het gesê op Oktober 7, 2009

    Ek sien ook dat jy glad nie noem dat daar ook in Rapport ‘n resensie van “Seisoen van sonde” was nie, deur Kerneels Breytenbach. Ek sien ‘n rokie, is daar ‘n vuurtjie?

  4. crito het gesê op Oktober 8, 2009

    Ek lees Rapport meestal op die internet. Daardie resensie, lyk my, het net die papier-Rapport gehaal. Dit is nie eens in Rapport se webargief nie.

    Miskien moet Breytenbach vuur maak onder Rapport!

  5. Ek dink dis tog ‘n goeie ding dat alle resensente (die met wie jy saamstem en die se skrywe wat jou hinder), jou laat dink. Iewers iets wakker maak en dat jy dan met dit kan maak wat jy wil.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.