Toekoms van Afrikaanse resensies
November 29, 2008 in Sonder kategorie
Toekoms van die Boekeblaaie
In die afgelope week het joernaliste by Media24 gehoor dat hul getalle
verminder gaan word. Dit raak joernaliste by Die Burger, Beeld,
Volksblad en Rapport. My meegevoel aan almal wat nou in onsekerheid
lewe.
Volgens joernaliste is daar groot twyfel oor presies wat gaan gebeur met
die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Dit is
iets wat my werklik kwel.
Bekyk die saak só: As ek ‘n digbundel publiseer kan ek
reken daarop dat daar resensies sal verskyn in Die Burger, Beeld,
Volksblad, Rapport en Boeke-Insig. Dalk sal daar ook kennis geneem
word in die Mail & Guardian en met ‘n buitekans die Pretoria News.
Geen resensies in die tradisionele sin van die woord word geplaas in
Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose nie. Die Tydskrif vir Letterkunde is
deur Hein Willemse oorgegee aan besprekings van dinge wat vir die
Afrikaanse letterkunde absoluut geen waarde het nie.
Na dese lyk dit na ‘n sterk moontlikheid dat daar net een boekeblad
uit die Media24-stal van koerante sal wees. My digbundel sal dus een
behoorlike resensie kry (as ek gelukkig genoeg is dat die
boekeredakteur ‘n gepaste resensent kies) en moontlik een in Boeke-
Insig. Dis waarop ek kan reken. Die res is bonus.
Gestel my digbundel kry ‘n negatiewe resensie by Media24 se
gesamentlike boekeblad. Waar laat dit my? Al kom mense later tot hul
sinne en gee my die Hertzogprys vir die bundel, daardie een resensie
sal reeds sy uitwerking gehad het en die uitgewer sal al sit en planne
maak om die pakhuis se rakke leeg te kry en my bundeltjie te verpulp
of weg te gee teen die tyd wat die SA Akademie my salf.
Kry ek ‘n positiewe resensie, is alles natuurlik lekker en orraait.
Maar PG du Plessis en Deon Meyer sal jou vertel dat mens nie altyd
daarop kan reken nie.
Naspers het in die verlede gesorg dat sy koerante die aktiwiteite van
sy uitgewerye ondersteun. Publiseer jou boek by Naspers, en jy sal op
die hande gedra word by die koerante. Dinge het verander. Naspers is
‘n sambreel-organisasie, en Media24 huisves boeke en koerante. Is
Media24 besig om nou die rug te keer op Afrikaanse skrywers?
BruidvanChristus het gesê op November 29, 2008
EK wonder maar net wat die werklike doel van ‘n resensie is? Is dit om die skrywer se werke te adverteer (dus ‘n publisiteitsfoefie) of om die skrywer se werk op ‘n eerbare wyse te ontleed en die publiek van die nodige informasie verskaf sodat hulle ‘n ingeligde besluit kan neem rakende die aankoop van litere werke.
Daar is te veel nonsens in die mark, en ek verkies eerder ‘n eerlike resensie, voordat ek weereens ‘n gat in my sak koop.
Dit is nie die resensent se skuld dat daar nie genoegsame media is wat ander opinies en perspektiewe op skrywers se werke kan gee nie. Daardie resensent moet homself van sy taak kwyt, ongeag die eksterne faktore waaroor jy nou kla.
crito het gesê op November 29, 2008
Media24 se koerante, waaroor dit hier gaan, is Afrikaans-georiënteerd. Is tans nog …
Tina.Delgado het gesê op Desember 11, 2008
Hulle is nou nog Afrikaans. Maar dis nie eintlik die punt nie, nè. Waaroor dit eintlik gaan, is of daar na afloop van die gotterdämerung by Media24 een Boekeblad gaan oorbly, of vier.
As veteraan van twee kopperol-sessies by groot maatskappye in die private sektor, kan ek nou al voorspel dit gaan een Boekeblad wees wat oorbly.