Boeke, baie boeke!

August 18, 2021 in Uncategorized

HOE LAAT ’N BOEKWINKEL JOU VOEL?

Wanneer ek in ’n groot boekwinkel instap, wens ek heimlik ek word per ongeluk daarin toegesluit vir die nag. Dit mag ongemaklik en koud wees, maar ek sal baie lank en lekker kan snuffel (as dit nie te donker is nie).

Ander mense voel dalk asof hulle net wil omdraai en die berge in vlug omdat daar so baiebaiebaie boeke en voorblaaie en titels en kategorieë en keuse is – selfs ’n kleinerige boekwinkel kan jou oorweldig.

Tweedehandseboekwinkels ontlok oor verskillende emosies: as die boeke te deeglik georden is (alfabeties volgens skrywer), kom jou teleurstelling gouer as die boek wat jy soek, nie daar is nie. Is die chaos te groot, mag dit jou dalk afskrik omdat jy nie in ’n snuffelbui is nie, of gril vir die stof, of bang is ’n rak of ’n stapel bedek jou soos die Bybelse berge of heuwels. Party soek slegs kraakvars eksemplare; ander soek weer ’n kosbare juweel, al het dit ook ’n patina van ouderdom op die oppervlak.

As jy nou maar net vir jouself iets te lees soek, is die probleem groot genoeg – om daardie presiese / juiste / perfekte boek uit die aanbod te sif.

As jy nou ’n taalonderwyser is en jy moet ’n voorgeskrewe boek kies, een waarmee jy jou studente moet inspireer om te lees, moet stig en uitdaag en opvoed en help om volwassenheid te bereik, dan is die verantwoordelikheid en die perke soveel groter.

As jy skielik gevra word om boeke vir voorskryf voor te stel, is jy dalk so oorlaai met nasienwerk, administrasie en voorbereiding dat jy nie genoeg tyd het om rustig te lees en weldeurdagte besluite te neem nie.

WAT IS DIE DOEL VAN HIERDIE BLOG?

Daarom wil ek graag ’n klein bydrae lewer deur Afrikaanse boeke wat vir voorskryf oorweeg kan word, hier te noem en enkele opmerkings daaroor te deel. As dit onderwysers help om meer ingeligte keuses te maak, sal ek bly wees; as kollegas hul eie siening en ervaring wil deel, sal dit nog beter wees. Een stem kan ’n skeefgetrekte fokus tot gevolg hê – as meer mense saampraat, kan dinge helderder wees vir almal.

Dus: in kort – die doel van hierdie blog is om onderwysers te help om Afrikaanse boeke te kies wat hulle as voorgeskrewe tekste kan gebruik.