Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Ta-daaaaa!

Mei 11, 2011 in Sonder kategorie

Dag my skapies, Pappa is weer tuis en hy is honger.

Maar hier is eers solank ietsie vir julle om aan te kou.

Dit was oorspronklik die inleiding van ‘’n nuwe boek waaraan ek werk en online gaan publiseer. Hoekom? Want uitgewers is faktap, dis hoekom.

Ek sal bietjie netnou weer iets opsit.

Groetnis,

Bert.

Ps.) Wat de fok het ooit van Martino die kul-jou-hier-en-kul-jou-daar-en siedaar fokken towerdude geword? My troetelhaas reken sy oupagrootjie het saam met die seun gewerk.

Pretoria brand:

My sigaret lê en uitbrand in die oorvol asbak. Cat Stevens kreun saggies in die agtergrond. Die kaal gloeilamp bo my kop is besig om ‘n flikker-dood te sterf terwyl ek, in alle erkenning alleen, probeer onthou hoekom ek hier sit en wat werklik gebeur het.

My verstand soek die regte woorde, maar my vingers jag eiewillig letters oral op die keyboard en stadig aan onthou ek die vrede van wegkruip in skryf, of dit nou is vir plesier of profyt.

Die opsteek van nog ‘n sigaret lê weer die vlekke op my hande bloot. Sonder skroom of aversie kry my vingers my mond, ly die Chesterfield na sy rusplek tussen droë en seer lippe. Twee diep trekke en my hande dans ‘n bietjie minder.

Wat het gebeur en dra dit nog belang? My linkerhand tel weer my senuwees se ritme op. Die regterhand, gevlek en vervloek, werk beter saam. Seker maar omdat hy ook sy trots en selfliefde moes verpand.

Ek onthou ‘n winkelsentrum en ‘n vrou met ‘n kind aan hand. Die verbygang van vreemdes. Ek onthou die jong verliefdes se soen voor die Wimpy, asook die rye mense voor die Ster Kinekor se toonbanke. Die reuk van vloerpolitoer en mensdom. Van hamburgers en Kentucky.

Ek onthou die flits, die dowwe plofslag. Die stof en die geknars van my droom-loop oor gebreekte glas. Die geraas van ander se angs. Die smaak van bloed en die onsekerheid of dit my eie is.

Cat Stevens maak beurt vir Johnny Cash. Ek onthou die vrou met haar ligblou rok, die klein seuntjie aan haar hand besmeer met roomys.

Nog ‘n trek van die sigaret en die gloeilamp verruil uiteindelik die tydelike vir die ewige. Net die skerm smeer nou skaduwees teen die mure. Ek dink aan my eie vrou, my eie kinders.

Twee weke terug was ek ‘n boekhouer met ‘n drankprobleem. Die gedagte hamer my siel uit soos ‘n stil warm yster, net om iets koud en hard te vorm.

My hand vind die AK-47 wat langs die tafel staan. My eie hand hou op bewe wanneer ek dink aan die koue hand waar uit ek die geweer gehaal het.

Dit is tyd om te gaan werk.