Mickey Mouse T-Shirt

Julie 24, 2010 in Sonder kategorie

Ek loer nou die dag in jou kas. Daar waar jy gesê het ek moet soek vir band-aids, na ek per ongeluk my vinger amper ‘n lit korter gemaak het. Dis daar wat ek weer daardie Mickey Mouse t-shirt gesien het wat jy daai aand gedra het. Onthou jy nog? Die slag toe jou sussie die tweede keer man gevat het.

“Kom nou!” Het jy geroep en jou t-shirt oor jou kop getrek. In bra en denims het jy langs die vakansieoord se swembad gestaan. “Ek het nie geweet jy’s bang vir ‘n bietjie fokken watertjies nie, Bertie…” Die woorde het om jou tong geval en jy het na my aangestap gekom met so ‘n lastige sy-stappie wat mens seker maar na ‘n handvol shooters en ‘n gallon cheap champagne moet ontwikkel.

Ek het toe net gelag. My eie tong wou lankal nie meer saamwerk nie. My voete ook nie, soos die knop op my voorkop van waar ek per ongeluk die rand van die tafel ontmoet het sou getuig.

Daai aand was ons meer as net ‘n effe aangeklam, ek en jy. Ons was doosdronk en roekeloos. Laf en mal en jonk.

Jou bra het langs jou hemp geland en jou borste was baie wit in die lig van die maan. Die wind het saggies om jou lyf kom speel en hoendervleis om die rondinge van jou vrouwees gelos. Jy het gelag en jou arms bo jou kop uitgestoot. Ek het nog ‘n sluk van die bottel Tas gevat wat ons vroeër by die onthaal gesteel het en myself uit my klere probeer beur.

As gevolg van daardie aand weet ek vandag hoe moeilik dit is om ‘n denim uit te trek as jy nie eerste jou Cats afskop nie. Jy’s dan geneig om te val. En saam te lag oor jou eie simpelgeit.

Die water was verskriklik fokken koud teen ons kaal lywe, en toe ek dit noem het jy onder die water begin rondvroetel en my vertel ek moenie staan en verskonings soek nie. Jou mond was warm en het na Archers geproe. Jou hande was vlytig en jou gemoed gretig. Ek was self daai tyd nooit bang of lui nie.

“Dink jy ons sal altyd so fokken lekker wees?” Die maan het wag gestaan oor ons en ons het ‘n sigaret heen en weer gestuur terwyl ons sterre gelê en tel het. “Dink jy ons gaan ooit staan en fokken anners raak?”

Van die wilde passie wat ons vroeër gedryf het tot kaalgat swem en mekaar deel agter ‘n graswal langs ‘n vakansieoord se swembad was daar nou nie veel oor nie. Net die rustigheid van ‘n duiwel gebind en ‘n vuur geblus. Jou lyf was sag en warm teen my eie. Die krieke het aangehou vertel van alleen wees en iewers het mense gelag. Die musiek was te vêr om uit te maak wat speel.

Jy het jou kop teen my nek gedruk en saggies aan my oor begin kou. Ek het net gegiggel en nog ‘n sigaret opgesteek. “Ek hoop regtig so, Bertie” het jy na ‘n rukkie geantwoord. “Dit sal ‘n pity wees as jy ooit moes ophou om jy te wees. Of as ek moes besluit ek is gatvol vir my. Of vir jou. Of vir my en jou. Jy weet?”

Die bottel is weer oopgeskroef en onder die lig van sterre het ons ‘n onbekende oesjaar in stilte gedeel, sonder glase. Sonder skrome.

Maar dit was ‘n tydjie gelede en ek het daardie t-shirt weer opgevou en gebêre voor ek na jou gaan soek het met ‘n hart vol herhinderinge en ‘n broek vol planne. En daar, tussen jou rose het ek my hand op jou skouer gesit en iets vir jou gefluister. Jy het my daardie plat kyk gegee wat jy bêre vir stout kinders en dom mense.

“Moenie so common wees nie, Bert” was al wat jy gesê het voor jy my alleen daar gelos het en die huis in is, snoeiskêrtjie in die hand.

Later sou jy vra wat my pla. En ek sou jou nie antwoord nie.

6 antwoorde op Mickey Mouse T-Shirt

  1. loudavisi het gesê op Julie 24, 2010

    Ek weet ook nie hoekom alles nie altyd so kan wees nie. Mens dink dit gaan vir ewig net maanskyn en rose wees, en dan word jy wakker…

    Baie, baie goed geskryf.

  2. Is nie dat ek sinies wil wees nie. Soms moet mense dinge in retrospect vat, net om seker te maak hoekom ons nog voorentoe wil aanfok, jy weet?

  3. Ek figure nie dis soveel oor ontnugtering as wat dit is oor ons wat toelaat dat ons jaded raak met wat ons het nie.

    Dis fokken verbasend hoe vinnig die novelty van enigiemand se uniek-wees afslyp onder daaglikse gebruik.

    Eens was jy die rede en mettertyd raak jy die verskoning, as jy nou optel wat ek neersit.

    B.

  4. Thanks Tronkie.

    En thanks dat jy die langer goed ook van tyd tot tyd lees.

    B.

  5. loudavisi het gesê op Julie 25, 2010

    Ek tel op wat jy neersit…ek sien.
    Dis lekker om te weet jong mense soos jy is bewus hiervan..

  6. Jonger as sommiges, ouer as ander. Ek wens party dae my ID boek het met my hart saamgestem.

    Ek’s nou depressed. Dis weer tyd vir bietjie drink, bietjie huil…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.