Delvillebos

Julie 6, 2010 in Sonder kategorie

14 Julie tot 3 September, 1916

‘n kortverhaal – opgedra aan beide kante

Die reën het twee weke gelede begin en het sovêr nie veel tekens getoon van opklaar nie. Sy dag en nag bestaan het verval in ‘n eindelose roetine van skoffel met die kortsteël grafie en wag staan. Deurentyd het die geluide van die veldslag om hom voortgeduur. Kanonkoeëls het aanhou bars en geweerskote het aanhou klap, soms naby en soms verder weg na die suide waar hulle lyne begin of geëindig het.

Na twee maande in die loopgrawe was hy self nie meer seker of hulle voor of agter die vyand gelê het tussen rotte en luise en modder nie. Van tyd tot tyd het hy die geskree van soldate gehoor en soms het hy saam geskree, saam geskiet en deurentyd gebid.

Twee weke gelede, toe hulle hierdie loopgraaf gewen het en die niemandsland met vyftig meter vorentoe geskuif het, was hy net so bang as wat hy elke dag was vandat hy sy tuisland verlaat het om hier te kom baklei in die koue hartjie van Europa. Om hier te kom sterf, het hy gedink en met bewende hande probeer om sy pyp te stop.

Die groot stormloop waarin sy regiment die paar treë nader aan die vyand beweeg het sou ook nie sonder sy eie prys kom nie. Driehonderd man is dood, party aan vlarde geruk deur die barbaarse geblaf van ‘n masjiengeweer en ander deur die stille geel wolke van die gas wat hulle almal geleer het om te vrees en te verag.

Die vuurhoutjie wat dof geglim het in die donker hoek van sy oopdak drukgang was versigtig verskuil onder sy wol jas wat lankal hard en styf geraak het van die modder en bloed waardeur hy moes kruip en seil soos die slang van ouds nadat dié besluit het om onskuld te verpand vir ‘n appel of ‘n ui.

Veraf het hy ‘n offisier se fluitjie hoor blaas en ‘n vinnige gebed gesê vir die wat hulleself teen ‘n muur van warm lood en giftige lug moes gooi om weereens ‘n meter of twee te wen vir die roem en ryk van die groter vryheidsideaal.

“Het ek dit op ‘n tyd geglo?” het hy homself hardop gevra terwyl hy aan sy pyp begin suig het. “Het ek ook die stories geglo dat ons Gods wil kom doen, hier in die vêrte?” Die weeklaag van ‘n gewonde soldaat het hom terug geruk na die werklikheid van sy situasie. Binnekort sal hy moet help om die gewondes te versorg, die sterwendes te vertroos en vir sy moeë kamerade tee aan te dra.

Die volgende dag sou sy beurt wees om weer die vyand te probeer terugdryf. Dit was drie dae voor sy verjaardag, twee jaar in die stryd in en steeds was daar geen hoop op vrede of oorwinning te bespeur nie.

Vir ‘n oomblik het hy homself toegelaat om terug te dink aan sy ouers se plaas aan die suidekant van Afrika. Die bos en die rooi stof wat so diep in sy eie are geloop het dat hy skaars kon glo sy mense was oorspronklik van die streek afkomstig. Daar, op die voorstoep van die ou opstal het hy en sy pa die oggend vroeg gesêls voor hulle hom met die perdekar dorp toe gevat het na die trein wat gewag het om hom weg te voer van sy lewe van vrede en rustigheid.

Hy was ‘n ander mens gewees, het hy besêf en sy pyp stadig begin smoor. Tabak was ‘n luukse wat nie gemors moes word nie. Elke pyp was ‘n viering van nog ‘n dag se oorlewing. Nog ‘n dag nader aan huis toe gaan. Hy was anders gewees gedurende daardie leeftyd, so lank al agter hom gesit. Hy was jonk en braaf en vol idealistiese vuur. Reg om sy deel te doen vir vryheid en die heil van ‘n vrye wêreld.

Die modderige hel waarin hy moes grafgrawer en moordenaar wees het van hom ‘n ou man van twee-en-twintig gemaak, geknak en verwyderd van die lewe se mooi.

Maar daar, op die stoep met die vroeg-oggend son op sy gesig het die wêreld anders gelyk. Avontuur en heldhaftigheid net om die draai. Hy sou sy manlikheid bewys aan almal wat hom ken en as ‘n held van helde terug keur na die plek van sy geboorte, na sy moeder wat hom altyd probeer beskerm het teen elke vorm van gevaar en na sy vader wat self as jonger man die roep van patriotisme beantwoord het.

“Onthou, my seun” het die ou man hom meegedeel terwyl hulle koffie gedrink en beskuit geëet het, “as jy ooit bang word, dink aan jou huis. Dink aan die mense wat jou lief het en aan die plaas waar jy hoort.” Sy vader het ‘n skelm traan weggevee met die agterkant van sy werksharde hand. “Hou dit in jou hart. Jou ma se roostuine en ou Hans-Korreltjie se kraal. Dit sal jou deurdra…”

Dagbreek het met bedrieglike spoed nader gekruip. Dit was moeilik om die dag en nag in hierdie gryse land, waar bomme en fakkels alles verlig, te onderskei. Die boodskapper het aan hom en die manskappe om hom die nuus gebring en hulle het gewere begin nagaan, maskers se glas venstertjies met vuil lappe probeer skoonvee en vinnig ‘n koue hap blikkiesvleis geëet voor die offisier soos ‘n laksman hulle midde betree het.

Die taktiek was eenvoudig en het omtrent twee minute se verduideliking regverdig. Storm! Skiet! Bly laag! Verby, of oor, of selfs onder deur die drade. Keer die vyand vas. Vat sy grond.

Maar wag vir die bevel. Wag vir die fluitjie. Probeer om nie dood te gaan of ammunisie te mors nie.

Die skril oordeel van die offisier se fluit is gevolg deur die waansinnige geskree van jong mans wat hulle vrees en woede aan die hemele verkondig het. In groepe is hulle oor die wal, meeste van hulle het in die eerste paar treë geval en bly lê.

Daar was flitse en geraas. Die gille van gewonde mans wat soos kinders na hulle moeders geroep het. Die afgryslike dans van ‘n jong soldaat wat in die doringdraad vasgehardloop het en as teiken vir die vyand gedien het. Bloed en reënwater en modder en koue en pyn. Alles het tot een uitbeelding van die ewige straf saamgesmelt. Iewers regs van hom het hy ‘n ontploffig gehoor, sagter as die ander wat veel verder van hom gebars het.

Die lug het die kleur van sy ma se gunsteling rok aangeneem. Vir ‘n paar oomblike het hy probeer regop bly en aanstoot, maar sy bene het swaar geword onder hom asof die hande van gevalle soldate hom om die enkels gegryp het en probeer het om hom terug te hou. Hy was bang. Daar was ‘n oertydse vrees wat sy hart omklem het met die koue hand van die graf.

Sy bene het onder hom padgegee en hy het neergeslaan in die koue nat wat oor alles gelê het. Met oë wat nie wou fokus nie het hy ‘n hand gesien uitsteek na syne. Uit instink het hy daarna gegryp. Die stem en die taal wat hy gehoor het was so naby aan sy eie dat hy vir ‘n oomblik gewonder het waar hy is. “Betet für mich, bitte” was die laaste woorde wat die jong vyand kon baas raak. Sy hand het styf om die jong man s’n gespan en saggies het hy vir hom gebid.

En daar, net so skielik as wat die paniek hom oorval het, het dit hom weer verlaat. Die koue winter was verby en hy het weer voor hom die afdraaipad na die ou opstal gesien.

Met ‘n drafstap het hy die afstand afgelê. Daar, onder die ou sinkdak, het sy vader gesit en pyp rook. Eenkant was Hans-Korreltjie doenig met hout kap en langs die huis het sy moeder haar rose versorg. Sy het haar gunsteling rok aangehad en vir hom gewaai, net voor alles om hom donker geraak het.

5 antwoorde op Delvillebos

  1. DallaSePa het gesê op Julie 6, 2010

    Is dit jy Bert?!
    (Nie eers eenkeer gevloek nie … :-)) )

    Puik gedoen …

  2. Dankie Dalla. Jy nee fok jong, mens probeer maar mos elke nou en dan iets anners.

    Bly jy het dit genioet, al was dit net so effe heavy.

  3. HeavyHenry het gesê op Julie 13, 2010

    Nice geskryf – Daai was seker die kakste oorlog ooit.

  4. Amen.

    Ek herken oorlog as ‘n nodige ding, maar dit bly net jammer hoe mense steeds nuwe en kreatiewe maniere vind om mekaar mee op te fok.

  5. HeavyHenry het gesê op Julie 17, 2010

    Gelukkig het die ouens nou opgehou om te probeer “continent smashers” te bou.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.