Hermientjie – Die res van alles.

Julie 1, 2010 in Sonder kategorie

Naand vriende,

 

Ek het vanaand soos ‘n fokken besete mens gesit en tik. Die storie is klaar en hier is die missing dele. Dis nogals ‘n fokken lywige lees, maar at least is dit kopleet.

 

Hierdie was een van die moeilikste en maklikste stories wat ek nog oorvertel het.

 

Ek hoop genuine dat julle dit soveel geniet het om te lees as wat ek het om dit te pen.

 

Verskoon my nou maar, ek is fokken moeg en voel skoon drained nou dat Hermientjie haar tassies gepak en uit my fokken kop uit getrek het.

 

Groetnis my skapies,

 

Bert.

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 6

 

Vroegdag het Kromruggens se werf bekruip met die belofte van ‘n vroeë lente. Die son het oor die opstal en buitegeboue se dakke gebreek met ‘n passie wat Gert Dippenaar nie so vroeg in die jaar verwag het nie. ‘n Kort winter sou beteken dat hy vroeër moet begin met die lande, en die vooruitsig van meer werk het hom nie regtig aangestaan nie.

 

Voor die skuur se deur het sy ou brak, Bliksem van naam, gelê en grom. “Die Here was ook maar suinig met verstand uitdeel toe daardie brak in die ry gestaan het” brom Gert hardop en sluk die laaste bietjie koffie wat staan en koud word het in sy blikbeker af. Sy leë hand grou rond in sy gatsak en kom te voorskyn met ‘n plat botteljie perske mampoer. Die beker word halfvol gemaak met ‘n bewende hand. Twee slukke stuur die selfgestookte soop maag toe en hy ril effens teen die warm gloed wat in sy maag vlamvat.

 

“Bliksem! Kom weg daar!” Die hond gee hom net ‘n agterdogtige kyk en draai weer terug na die skuur, maak lae gromgeluide en krap met een poot teen die groot houtdeur. “Ja nee, moedige moer…” kla Gert weer hardop en tel die handsambok op van die stoepmuur waar dit gewoonlik gereed lê om aasdier, vreemdeling en halstarrige hond die pad mee te wys.

 

Bliksem, die ou rifrug baster, sou teen die tyd al lankal pad gevat het maar vandag lê en grom hy net en krap hou aan om aan die skuur se die deur te krap. “Luiperd” dink Gert skielik. Hy het ‘n week terug twee rooibokke geskiet en die biltong was nog nat op die drade. Twee dae van tevore het hy die dier se spore op sy werf gesien, en hy besluit om eerder die sambok te ruil vir die haelgeweer wat langs die voordeur staan.

 

Sy vrou, toe sy nog kans gesien het om uit te hou met Gert en sy maniere, het gereeld daaroor gekla. “Wat gebeur nou as een van die kinders met die ding speel, my man?” Hy het net sy halfdronk kom stadig heen en weer geskud. “Dan sal ek hulle gatvelle aftrek! Hulle weet om my donderse goed uit te los!” Op die ou end het sy haar drie oorblywende kinders saam met haar gevat en by haar ouers in Pretoria gaan bly waar sy nou as tikster by die een of ander staatsdepartement gaan werk het.

 

Die dood van hulle jongste kind, Andries, was die laaste strooi. Dit was darem nie die haelgeweer se skuld nie, het hy homself gereeld getroos wanneer die drank weer die pyn staan en oopwas het. Hy het nooit aan homself erken dat die oop put agter die Perskeboord die oorsaak van die kleinding se einde was nie. Ook het hy hard probeer vergeet hoeveel keer Susan hom gevra het om die gat toe te maak voor een van die kleintjies seer kry.

 

Natuurlik het Gert sy ouerlike plig nagekom en hulle die dood voor die oë gesweer as hulle ooit sou dink om naby die put te speel. Almal was bang vir hulle pa met sy vinnge humeur en vinniger sambok, maar Andries was net drie jaar oud en het nog nie so mooi verstaan nie. Susan het kort daarna opgehou probeer verstaan en die dag van die begrafnis saam met haar pa en haar kinders Kromruggens se afdraai verby gery, groot stad toe. Dit was amper twee jaar gelede en Gert het nie weer ‘n woord, nie eens ‘n poskaart, van haar af gekry nie.

 

Mettertyd het drank sy baas geword en Gert het strawwe oortyd begin werk.

 

“Net nog een vir die pad. Dis vêr skuur toe…” Hy het die kwart-pint botteltjie weer uitgehaal, die bodem dak toe gedraai en die oorblywende gif vinnig gekelder. Daar was nog baie in die spens. Gert het self gestook.

 

Met ‘n nuwe vonk in sy stap het hy die haelgeweer opgetel en die vyftig treë tussen voordeur en waenhuis moedig angepak. Die son was teen die tyd goed op en die ryp het begin smelt. Kaalvoet het hy sy pad gevind deur die koue en nat, en met elke tree het hy ‘n ander straf vir arme Bliksem bedink.

 

Bliksem het hom ingewag, ‘n sekere teken dat iets nie pluis was in die skuur nie. Gewoonlik het die hond homself vinnig uit die voete gemaak sodra Gert naby gekom het. Sy baas se aksies was eenvoudig te onvoorspelbaar vir die ou brak se senuwees.

 

“Jammer Jan is nie hier nie” sê Gert aan Bliksem. “Dan het ek jou saam met hom en sy knopkierrie hier ingejaag…” Maar Jan het ook sy kraal afgebreek na die laaste pak slae wat sy voormalige werkgewer hom gegee het toe hy vir sy maand se twak en mampoer kom vra het. Bliksem het net op sy hurke gaan sit en aangehou grom vir die skuur se deur.

 

Gert het die deur saggies oopgemaak en met geweerloop eerste die groot, leë struktuur binne gestap. “As die luiperd hier is, dan sien ek hom nie” het gert gedink en die skuur verder met versigtige treë verken. In die hoek, onder die houttrap wat ook lankal enige vorm van veiligheid vir verweer verruil het, lê ‘n vreemde voorwerp. Sy drank-deurweekte verstand het ‘n oomblik of twee geneem om die snaakse kontoer te plaas.

 

“Maar… nee… kan nie…” het hy saggies gefluister en nader beweeg. Onder ‘n vervlenterde stuk seildoek het twee stelle voete uitgesteek. Een stel fyn en kaal, die ander groot en toegewoel in kouse wat meer gate as materiaal bevat het. “Inbrekers” het Gert gedink en die haelgeweer stywer vasgehou. “Of dalk swerwers. Dagga rokers…” Vir een wat met die grootste vreugde ‘n gallon mampoer voor aandete sou injaag, was Gert Dippenaar baie gesteld op die rook van dagga. Christen mense doen net nie sulke dinge nie, het hy altyd gesê vir wie ookal wou luister.

 

Versigtig het hy nader getree en met die punt van die haelpomp se loop die vuil stuk seil opgelig. Daar op die grond, bo-op ‘n gemufde hoop ou strooi, het ‘n jong man van omtrent twintig gelê. In sy arms was ‘n meisie wat seker nie ouer as sestien kon wees nie. Haar rok was besmeer met wat vir hom soos bloed gelyk het en haar gesig was vir die groter gedeelte geswel en gekneus. Die jong man het ‘n lelike kopwond gehad wat haastig verbind was met wat eens moontlik ‘n hempsmou was.

 

“Goed meneertjie” het Gert hardop gesê en die haelgeweer se loop onder Piet-Broekies se neus gedruk. “Opstaan, maar baie donders stadig, of ek maak ‘n gat net daar in jou mombakkies!”

 

Piet se oë het oopgevlieg en met groot skok het hy orent gekom, net om sy kop teen die onderkant van die houttrap te stamp. Hermientjie, salig onbewus van die drama wat hom reg langs haar afspeel, het net saggies gekreun en haar knieë teen haar bors opgetrek. Die uitputting van die vorige twee dae het met haar opgevang en haar rus was meer ‘n koma as diepe slaap.

 

Piet het agteruit geskuif en sy rug teen die muur agter hom gedruk. “Ons het net hier geslaap, oom! Ek belowe! Ons het niks gesteel of gebreek nie!” Sy woorde het so vinnig oor mekaar geval dat Gert eers ‘n oomblik moes neem om dit alles te laat sin maak. “Hou jou bêk, jy!” het hy op die verskrikte vreemdeling geskree. “Ek vra die vrae hier! Jy antwoord net as ek jou sê jy moet, gehoor?” Piet-Broekies, wat steeds in die skerpkant van ‘n baie groot geweer vasgestaar het, het net stom geknik.

 

“Wie is jy en wat de moer maak jy in my skuur? En wie is die kind? Het jy haar gaan staan en steel op ‘n plek? Hoekom lyk sy so? Het jy dit aan haar gedoen?” Die laaste vraag was gevolg deur ‘n dreigende steek met die vuurwapen se loop wat Piet se bo-lip teen sy voortande laat sny het. Die smaak van sy eie bloed was souterig en bitter op sy tong. Dit het niks gedoen om die suur smaak van vrees te verbeter nie.

 

Vir ‘n lang minuut het die twee in stilte na mekaar gestaar terwyl Piet-Broekies probeer het om sy storie mooi agter mekaar te kry. Hy het geen idee gehad waar om te begin of hoe om te verduidelik dat hy nooit in ‘n honderd leeftye sy hande sal lig teenoor die vrou wat sy lewe met soveel fors binne gestorm het en hom weer soos ‘n man laat voel het nie.

 

“Ek, sy…” het hy probeer en net sy kop geskud. “Haar pa…”

 

“Ja nee, ek het so gedink!” Gert Dippenaar, van nature ‘n agterdogtige mens, het sy eie afleidings gemaak en die haelgeweer se kolf diep in sy skouer getrek. “Staan jy maar net rustig op en kom saam met my” het hy beveel in ‘n stem wat gesleep het en gesukkel het om die woorde te vorm. Piet het gehoorsaam en met stywe bene en ‘n seer rug onder die trap uitgekruip.

 

Hermientjie het haar oë oopgemaak en die toneel in een vreeslike sekonde ingeneem, opgesom en begin skree. Gert het geskrik en die geweer se loop in haar rigting geruk. Piet het met afgryse gekyk hoe die man se vinger instinktief stywer om die sneller begin trek het. Sonder om te dink het hy vorentoe geduik en die loop in die dak se rigting gestamp. Die dubbelloop het uit Gert se hande gegly en kolf eerste op die grondvloer geland.

 

Dit was ‘n vreeslike ongeluk. ‘n Een uit ‘n duisend gebeurtenis. Die kolf het grond gevat en die oorgehaalde haan het oorgeslaan. Die klank van die skoot was oorverdowend in die groot oopte van die ou waenhuis. Bokhael het deur Gert Dippenaar se hemp en baard gekloof. Hy was dood voor hy grond gevat het. In die hoek, onder die trap het Hermientjie histeries begin gil. “Daar is net soveel bloed” het sy gedink deur die angs wat haar hart gegryp en wn gedreig het om haar te verwurg.

 

“Ons moet hier weg” het Piet se stem van iewers vêr weg gekom. “Hermientjie, ons moet hier weg. Kom, toe kom nou, engel. Ons moet hier weg…” Hy het haar hand gegryp en haar vinnig opgetrek. In die deur van die skuur het Bliksem, die getroue en onwaardeerde waghond egter steeds gestaan. Sy rug was korm getrek, sy bo-lip opgekrul in ‘n duiwelse grom. Piet het die haelgeweer met stadige bewegings opgetel en op die hond gerig.

 

‘n Lewe op die platteland as ‘n deeglike leerskool vir die natuur en die gedrag van diere. Die hond wou storm en byt. Hermientjie. “Ek wil jou nie seermaak nie, oubaas” het Piet-Broekies die rifrug probeer paai.

 

Bliksem het een benoude blaf gegee en die lengte van die skuur met verbasende spoed gekruis. Die twede skoot was net so hard soos die eerste en Hermientjie het haar hande oor haar ore geslaan. Met ‘n laaste tjank het die hond langs sy dooie baas geland. Sy kop het langs die man se oop hand geval. In die dood het hulle vreemd gepas gelyk. Hy, die hond aan sy meester se sy. Hy, die goeie baas wat vir oulaas sy brak se kop wil vryf.

 

“O, liewe Here…” Piet het die haelgeweer neergesit teen ‘n ou trekker wat voor die depressie laas enige nut gehad het. “Hermientjie, ons moet hier weg. Voor iemand hier aankom. Voor iemand ons hier kry…” Gert Dippenaar se kluisenaars bestaan was vir Piet onbekend en hy was bang dat daar nog mense buite die skuur wag met oorgehaalde wapens, net reg om hom saam met die dronk man, sy hond en die treinduiwel onder die kluite te pak.

 

Versigtig het hy die deur oopgestoot en met sy geliefde aan sy hand die vroeë oggend ingestap. Die werf was verlate en stil. Daar was nie eens ‘n bries om die blare van die ou bloekom langs die huis te roer nie. Onder die boom was ‘n ou Chevrolet bakkie. Na ‘n oomblik se oorweging het Piet vir Hermientjie daarheen gely en die bestuurder se deur oopgemaak. Die sleutels was binne. “Klim in” het hy vinnig gesê en haar gehelp om die voertuig te bestuig.

 

“Maar dis steel” het sy protes gemaak. Hy het self ingeklim en die enjin oorgedraai. Die trokkie het geruk en geproes. Na die derde slag het die enjin gevat en statig begin klop. “Ons sal dit êrens langs die pad los” het hy haar geantwoord. “Maar nou moet ons hier weg voor iemand hier aankom…”

 

Min het hy geweet dat daar reeds iemand oppad was. Sersant Meintjies was al van vroeg af besig om die kontrei plat te ry opsoek na ‘n hedendaagse Aspoestertjie wat haar skoene in ‘n treintrok vergeet het. Die groot verskil is dat sy saam met haar skoene ook ‘n vermoorde voortvlugtende agter gelaat het. Die dood van Clyde Greeff, veroordeelde verkragter, gewapende rower en ontsnapte gevangene, het nie te swaar op die sersant se gewete gerus nie.

 

“Maar die wet is die wet en my werk is my werk” het hy vir sy vrou gesê voor hy haar gesoen het en sy dag begin het. Sy twede stop vir die oggend sou Gert Dippenaar se plaas wees. “Ek wonder of die ou dronkgat sou weet as iemand op sy plek oorstaan” het hy hardop gewonder.

 

“Nee wat, ek dink hy sou net agter kom as die lot sy bottel gesteel het” antwoord die sersant homself en glimlag vir sy eie grappie, min wetende dat die bankrot boer en graswewenaar sy laaste dop gemaak het net na die polisieman vir Mevrou Meintjies gegroet het.

 

 

 

Deel 7

 

Drie maande het verbygegaan vanaf daardie aand wat Piet-Broekies sy geliefde deur haar kamervenster gehelp het en dinge het nou vinnig begin gebeur. Paul Beukes het reeds ‘n saak van ontvoering by die streek se polisiekantoor aanhangig gemaak en die lyke van twee mans was reeds verbind aan die twee jongmense.

 

Die koerante het die storie vinnig opgetel en berugte van die “klerekas minnaars” het die land oorkruis van Kaap Stad tot Johannesburg. Die joernalis wat met die naam vorendag gekom het sou later die jaar ‘n toekenning verwerf vir sy werk aan die storie. Ek sou verkies het as iemand hom ‘n tou gegee het om homself mee te gaan hang en sodoende die samelewing ‘n guns gedoen het.

 

Die benaming “klerekas minnaars” het nie net verwys na Piet-Broekies se aardige bynaam nie, maar ook na Hermientjie se skoene wat op die eerste moord toneel en ‘n tas vol klere, kompleet met rewolwer, langs die liggaam van ‘n boer gevind was. ‘n Boer wat volgens die verslaggewer “koelbloedig om die lewe gebring was met sy eie vuurwapen”.

 

‘n Landswye soektog is geloods en die Chevrolet bakkie was mettertyd opgemerk waar dit in Sabie se hoofstraat voor ‘n apteek geparkeer was. Later daardie dag het ‘n inwoner ‘n klag van voertuig diefstal by die polisiestasie aangemeld. Piet en Hermientjie was op vlug. Die sensasie wat hulle vandag nog omring was aangeblaas deur die koerante en radiostasies.

 

Maar iewers teen ‘n berghang, weggesteek vir die wêreld en die wat daarin dwaal, was ‘n ou houthuis wat jare tevore deur ‘n prospekteerder gebou was. Daar was nog goud in Sabie se berge en die man het daarna gesoek tot elke laaste sent opgedroog het en hy gevlug het Durban en see toe om sy skuld-eisers te ontduik. Hier het Piet en Hermientjie hulle eie herberg gevind. Bedags het Piet strikke gestel en heuning gesoek in ou klipskeure.

 

Op geleentheid het Pieter snags dorp toe gegaan waar hy by huise moes inbreek om kos te steel. Hulle moes oorleef en ‘n bietjie kos steel het nie veel vergelyk met twee moordklagtes nie, het hy homself en Hermientjie gerus gestel.

 

Na een van hierdie uitstappies het hy met sonsopkoms terug gekeer na hulle skuilplek, ‘n sak aartappels en ‘n gepekelde ham in sy arms. “Ons het weer vleis, liefste” het hy geglimlag en na haar toe gestap waar sy voor die huis gesit het. Die son het gebreek oor die denne klowe en haar geraam in goud en koper. Haar oë was rooi en die strepe wat vars trane oor haar wange gelos het was duidelik te sien.

 

“Wat’s fout, my engel?” Die kommer in sy stem het haar laat omdraai. Met haar rug na hom toe het hy gesien hoe haar skouers stadig op en af ruk in stille erkenning van die trane wat sy hom nie wou wys nie. Piet-Broekies het die geplunderde eetgoed op die selfgemaakte stoeptafel gesit en na haar gestap. Sy arm het om haar skouers gaan lê en sy het oudergewoonte haar kop teen sy skouer gerus. Vir ‘n oomblik wat vir hom soos ‘n ewigheid gevoel het, het sy niks gesê nie.

 

Hy wou weer vra wat haar pla, maar sy het hom voorgespring en stadig begin praat oor haar pa en haar ou lewe op Sannies Herberg. Sy het net die goeie dinge, so skaars as wat hulle was, uitgewys en met ‘n intieme nostalgie na hom gedraai en sy wang met haar hand gestreel.

 

“Daar was ‘n tyd, so lank gelede, wat jy nie geweet het watter tipe man jy is nie, Pieter. Ek was toe die sterk een vir ons twee, en al was dit nie my plek nie, het ekaltyd probeer om sterk te wees vir jou. Dinge het nou verander en jy moet altyd vir my sterk wees, selfs al is dit nie altyd moontlik nie.” Hy het terug gedink aan sy optrede in die skuur op Kromruggens en net stilweg geknik.

 

“Ek is nie meer myself nie, en ek dink ook nie ek sal ooit regtig weer wees nie. As ek ooit was om mee te begin.” Hermientjie het ‘n stadige traan van haar wang gevee en met ‘n gebroke stem aangegaan.

 

“Ons liefde, Pieter, was iets helders. Iets skoon en mooi in ‘n plek van vuil geheime en verborge hartseer. My pa, die dinge wat hy gedoen het aan my na my ma se dood. Die manier wat hy alles toegesmeer het en my gevange gehou het binne myself. Ek dink nie ek was ooit regtig ek nie, maar steeds het jy my lief gehad. En toe daardie man op die trein ons drome kom steel het, was jy die een wat my opgetel het en weggedra het van die pyn en skande van daardie aand…”

 

Piet-Broekies wou protesteer, aan haar verduidelik dat sy niks verkeerd gedoen het nie en dat hy haar meer lief het as sy eie lewe. Hy wou haar vertel van sy pa se woorde van hoe die liefde mens partykeer kom soek en het toe ook besef dat dieselfde geld vir teespoed en hartseer.

 

“Pieter, hierdie plek, hierdie wêreld het vir ons ‘n snaakse en onregverdige hand kaarte gegee om mee te speel. Ek weet dinge het nie uitgewerk soos dit moes nie en dat ons drome nie regtig ooit gaan waar word nie. Net soos ek nooit regtig ek was nie. Ek soek net iets beter vir ons kind. Jou kind, en myne…” Die woorde het tussen hulle gaan lê soos ‘n breë rivier. Haar trane het weer begin val en op haar rok gedrip. ‘n Skraal hand het oor haar maag gevryf en sy het deur hom gekyk met haar groot groen sielsvensters.

 

Sonder woorde het Pieter haar opgetel, die huis binne gedra en daar op hulle tuisgemaakte bed haar herhinder hoe lief hy vir haar is.

 

Later die middag het sy op haar sy gedraai en met haar vingers deur sy hare gespeel. “Daar is iemand wat ek moet gaan sien” het sy eenvoudig gesê, opgestaan en aangetrek.

 

Oppad terug van hulle bestemming het hulle in ‘n padblokkade vasgery. Sersant Meintjies was eerste om sy diensrewolwer te trek en ‘n waarskuwingskoot te vuur om die voertuig tot stilstand te roep. Die ander polisiemanne, jonk en onervare, het losgebrand op die voertuig.

 

Op ‘n enkel paadjie tussen Sabie en Nelspruit het die twee, nee die drie van hulle gesterf. Sersant Meintjies wat so lank al na hulle gesoek het was eerste by die voertuig. Albei was herhaaldelik getref. Haar hand was steeds in syne.

 

 

Deel 8

 

Hoe weet ek al hierdie dinge? Stukke daarvan is later aan my vertel deur die mense wat deel was van die verhaal. Die res het Hermientjie my self vertel, in dieselfde kombuis wat ek en jy nou sit en koffie drink. By hierdie selfde tafel.

 

Ek het die kind jare laas gesien en ek was geskok toe ek die voordeur oopmaak en haar daar sien staan saam met ‘n aardige jong man wat sy broek met gordel en kruisbande bo probeer hou het.

 

“Middag oom” het sy gesê in daardie stem wat ek uit my jonger dae onthou het. “Ek is…” Met ‘n hand gelig na bo, die palm na haar gedraai het ek haar woorde daar voor my deur gestop. “Ek weet wie jy is” het ek saggies gesê. “Kom in, kinders…”

 

In die kombuis, oor koffie en die buurvrou se beskuit het sy my vertel van wat alles gebeur het voor en na hulle vlug van Sannies Herberg. Ek het geluister en ‘n sakdoek vir haar angegee na sy die deel vertel het van hoe haar pa haar met die rottang voor die res van die skool aangerand het en hoe die dominee besluit het om haar eerder weg te stuur voor hy haar kreupel kon los met sy sin van strafreg.

 

Piet, wat my as ‘n sensitiewe jong man opgeval het, het homself verskoon en iets van die kar se enjin gepreuwel voor hy by die agterdeur uit is om ons ‘n paar minute alleen te gee.

 

Daar was ‘n stilte tussen ons na die jong man die vertrek verlaat het. Sy het effens rondgeskuif op haar stoel, ‘n trek van ongemak onsuksesvol vir my probeer wegsteek en toe die stilte verbreek met die een stelling wat my lewe vir altyd sou verander. “Ek mis my ma” het sy eenvoudig gesê en met haar regterhand oor haar maag gestreel. Die waarheid was in haar oë, net agter die trane.

 

“Jy weet” het ek na ‘n rukkie geantwoord terwyl ek ‘n sigaret opgesteek het. “Jy weet, jy lyk nes Annemarie. Nes jou ma.”

 

Annemarie.

 

Dis nogals snaaks hoe mense en stories paaie kruis op die mees onverwagste maniere.

 

As ek aan Annemarie dink, dan proe ek steeds geelperskes en wilde heuning. Haar hare, met die reuk van vars bloeisels en haar mond… o, haar mond het die smaak van aarbeie gedra.

 

Ek het haar in haar jong jare lief gehad.

 

Nee, wag.

 

Ek het jou die waarheid belowe, en ek sal vir myself ook lieg as ek dit nie vir jou gee nie. Ek het haar altyd lief gehad. Dit skaam my ook nie om te sê dat ek haar steeds lief gehad het na sy met Paul staan en trou het nie. Ek het haar van altyd af lief gehad, en was steeds lief vir haar toe die dood haar so skielik weg gevat het van ons almal af.

 

Miskien het ek haar vandag nog lief, as ‘n gekkige ou man nog in staat is tot liefde. Of die waarheid.

 

Ek het hulle een maal op Sannies Herberg gaan besoek, net voor Annemarie se dood. Klein Hermientjie het perdjie gery op my knieg, terwyl my broer my vertel het van al die gebeure in die kontrei en sy planne om in die volgende verkiessing vir burgermeester te staan. Annemarie het tee uitgedra stoep toe en ek het vlugtig my hand op hare gerus terwyl sy vir my ‘n koppie aangegee het. Met die kind op my skoot en haar hand onder myne was ons al drie kompleet, al was dit net vir ‘n sekonde.

 

“Ek weet, pa” het sy my gedagtes se dwaalpad onderbreek. “Ek het vir pa ‘n foto van haar gebring.”

 

Ek sou later uitvind dit het altyd op haar wastafel gestaan. Dit staan nou in my slaapkamer, reg langs foto’s van Hermientjie en haar Piet-Broekies.

 

 

Slot

 

Na die stormloop wat hulle afsterwe gevolg het tot bedaring gekom het, het die lewe maar net voortgesleep op dieselfde ou trand.

 

Vaal-Piet De Bruyn het later jare kanker gekry en is oorlede voor sy geliefde Netta, vir wie hy soveel opgeoffer het deur al hulle jare saam. Die vergeetsiekte het later ook by haar kom intrek en voor haar dood het sy meeste mense wat vir haar kom kuier het gevra wanneer klein Pieter dan nou huis toe kom.

 

Paul Beukes was herverkies as burgermeester en het aangehou skool gee vir baie jare. Menigde kind het onder sy roede deurgeloop en al was daar op geleentheid sprake van ongeruimdhede tussen hom en van die meisies in sy klas, was daar nooit formele stappe geneem om agter die kap van die byl te kom nie. Die geheime van Hermientjie se molestering, die kind wat sy vrou by sy broer verwek het, is saam met hom graf toe. Hy is in sy laat sestiger jare in sy slaap aan ‘n beroerte oorlede.

 

Dominee Verster het Paul Beukes se begrafnis waargeneem. Gedurende die roudiens het hy die oud burgermeester se lof besing en hom geprys as ‘n steunpilaar van die gemeenskap. ‘n Man van durf en daad. ‘n Held vir die uur. Die goeie dominee is drie maande later oorlede aan ‘n skielike hartaanval tydens sy oggend staptog.

 

Sannies Herberg lê nog steeds daar waar hy altyd het. ‘n Godsverlate klein plekkie op die vlaktes, presies geleë tussen niks en nêrens. Nie veel het daar verander nie. Nuwe generasies het nuwe geheime en skandes gebring, ou generasies het ou geheime en skandes tot ruste gelê in die kerkhof waar ‘n jong meisie en haar skaam geliefde soms soene gesteel het.

 

 

Die Einde

 

 

9 antwoorde op Hermientjie – Die res van alles.

  1. erikavz het gesê op Julie 2, 2010

    Ek volg nie gewoontlik stories op die blogs nie, maar het jou storie regtig baie geniet.

  2. katrina het gesê op Julie 2, 2010

    Ek gaan nou lees, ek moet net eers smaail vir hoe jy voel ‘noudat Hermientjie haar tassies gepak het’

  3. katrina het gesê op Julie 2, 2010

    Goed geskryf!!

  4. Ek het dit oorweeg, maar om eerlik te wees is ek net te fokken lui om te staan en boeke skryf.

    Thanks virrie cudos.

    B.

  5. Thanks Tronkie.

    Happy endings is vir mense wat nog glo in sulke dinge.

    Die res van ons weet daar is nie regtig sulke goed nie. Soos Werewolves, vampires, faeries en virgins.

  6. *Bert maak ‘n buigie*

  7. Thanks erika.

    Dit was lekker om dit te skryf, so ek is bly om te hoor dit was lekker om te lees ook.

  8. pasella het gesê op Julie 3, 2010

    Lekker storie gewees, Jammer jy het Paul Beukes nie meer op sy moer gespeel nie, die bliksem!

  9. HeavyHenry het gesê op Julie 4, 2010

    Lekker gelees.

    Dankie hiervoor.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.