Hermientjie – Deel Vyf

Junie 30, 2010 in Sonder kategorie

Naand almal,

 

Ek is bly om te report ek het nie vanaand ‘n fokken rubberduck nodig om by my fridge uit te kom nie.

  

Nou ja toe, weer sulke tyd. Die volgende aflewering in die storie wat ook nou moet begin end kry.

 

Vanaand se hoofstuk is spesiaal vir Maankind en Tronkie.

Maankind… Ek is bly ons is nou pêlle en dat jy my gevind het, boesems of nie.

Tronkie… Hello, Tronkie. Sorry ek groet nie meer gereeld nie. Ek is maar daai tipe suur fokken kluit meeste van die tyd.

 

In any case, hier is hy my skapies.  Fresh and organic. Geniet hom.

Hy lees so lekker, want hy skryf so lekker.

 

Groetnis en goodness,

Bert.

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 5

 

 

Maar wat nou van hulle ouers? Ek weet wel Hermientjie se pa het byna stuipe gekry toe hy vroeg oggend agterkom sy dogter is weg. Dit het hom ook omtrent die beter deel van vyf minute geneem om af te ly dat sy vort was met tas, klere en badgoed.

 

Die klein fototjie van haar oorlede moeder wat altyd op haar wastafel oorkant haar bed gestaan het was ook weg. In plek daarvan was daar ‘n eenvoudige stuk papier, geskeur uit ‘n skoolskrif en netjies die middel af gevou. Een woord, Pa, was voor-op gepen in haar kenmerkende grootletter skrif.

 

Met hande wat geruk het van woede en angs het hy die goedkoop folio oopgeslaan. Weer, en toe ‘n derde keer het hy die eenvoudige inhoud daarvan gelees.

 

Pa.

  

Ek is lief vir Pieter. Hy vat my vanaand weg van hierdie plek met sy spoke en leuens en seer.

 

Ek weet dit is nie maklik om te lewe sonder foute nie.

 

Ek hoort te weet, want ek probeer pa vergewe, maar ek kan nie. Nie vir myself nie en ook nie vir ma nie.

 

Hermien.

 

‘n Halfuur later het Paul Beukes voor Piet-Broekies se ouerhuis gestaan, sy rooi-blou gesig getuienis van ‘n man vêr verlate deur sinlikheid.

 

“Waar is die klein wetter?” het hy gebulder en die tuinhek oopgeruk. ‘n Basterbrak het hom halfhartig gestorm en het ‘n skoen in die ribbes gekry vir sy dapperheid. Op die voorstoep het Vaal-Piet De Bruyn net sy kop geskud en probeer verduidelik het dat hy ook sy telg vermis. Mevrou De Bruyn het in die voordeur gestaan, haar oë met die punt van haar voorskoot afgevee en hardop begin bid vir haar enigste seun se veiligheid.

 

Beukes het begin swets, die sterkste en vuilste taal wat seker tot vandag toe nog op Sannies Herberg gespreek was. Sonder om enige verwarring oor die saak te skep het hy vir Meneer De Bruyn vertel dat sy seun se veiligheid al die gebed gaan kort wat dit kan kry wanneer hy sy hande op die klein wetter sou lê.

 

Vir Piet se pa was dit alles eenvoudig meer as wat enige selfrespekterende man kon vat en het hy vir Paul Beukes, raadslid, ouderling en skoolhoof tegemoed gekom met ‘n gebalde vuis en hom voor die stoep in die stof laat sit. Paul Beukes, glad nie links nie, het opgespring en Vaal-Piet sy kant van die argument met hand- en voetgebare verduidelik.

 

Mevrou De Bruyn het van vooraf begin huil en terwyl sy trane afgevee het met die haar vuil voorskoot. Honde het geblaf en bure het gestaar. Selfs Phinias, die ou mak-volk wat vir Horowitz die jood gewerk het, het sy dikwiel gestop om eers te kyk na die twee mans wat mekaar probeer uitwis.

 

Dominee Verster, wat oppad terug was huis toe na sy oggendstappie, het nader gedraf gekom en die petalje met groot oë ingeneem. Op die grond voor broeder De Bruyn se huis was twee mans besig om mekaar te pak met vuis en voet, hand en tand. Die een se hemp was geskeur, die ander skaars nog in sy broek. In al die verwarring het dit hom ‘n oomblik geneem om die twee vuisgooiers te herken.

 

“Hemelse Vader, Phinias!” het hy gesnak en die ou man met die trapfiets aan die arm gevat. “Wat op dees aarde gaan hier aan?”

 

Phinias, ‘n praktiese siel van geaardheid, het dominee Verster ‘n lang kyk gegee so asof hy nie kon verstaan hoe so ‘n geleerde man dan nie self kan sien wat voor hom gebeur nie. “Die grootbaas Beukes, morêna, hy dônnôr vir hom baas Vaal-Piet…” het Phinias sy beskeie mening gelig. So besluit die goeie leraar toe om ‘n einde te maak aan die barbaarse vertoning en storm nader om die twee mans uit mekaar te probeer maak.

 

“Broers! Broers!” roep hy en gryp Vaal-Piet aan die sy broek se naat. Met moeite en lankvergete krag trek hy Piet-Broekies se pa van die raadslid af. “Skaam julle! Wat gaan hier aan dat julle soos Kain en Abel stry en bloed vergiet?”

 

Paul Beukes kom orent en vee met die agterkant van sy hand die bloed van sy neus en mond af. Sy kneukels is stukkend en geswel, een oog alreeds half toe. “Dit het niks met jou te doen nie!” Met ‘n kreet van wraak, woede en frustrasie duik hy weer in Vaal-Piet se rigting, reg om hom verder langboompies toe te help.

 

Dominee Verster, verseker op sy stand in die gemeenskap en die Goeie Vader se beskerming, plaas homself egter op daardie tydstip tussen die twee mans. Sy goeie opinie van homself is egter kortsigtig en die volgende wilde hou vang hom reg onder die kakebeen. Sterre ontplof voor sy oë en hy stort neer soos die spreekwoordelike sak patats, buiteweste gelê deur sy eie burgermeester se hand.

 

“Ja, jou eenvoudige bliksem!” skree Vaal-piet verby stukkende lippe en ‘n geswelde neus. “Kyk wat maak jou geite nou! Dis sonde om ‘n dominee te moer! Groot sonde!” Meteens draai hy sy rug op Beukes en strompel stoep toe. “Vrou! Bring water! Phinias! Gaan soek Baas Geyer! Sê hy moet kom help, die oubaas hy het seer!” hy wys met ‘n bewende vinger na dominee Verster wat steeds doodstil lê langs die paadjie wat tussen tuinhek en voorstoep loop. ‘n Paadjie wat die dominee al gereeld gedurende huisbesoek gestap het en intiem ken.

 

Paul Beukes, wat weer ‘n vorm van beheer oor homself gekry het, moes sy pad deur ‘n skare van omtrent agt toeskouers stoot. “Dis nie verby nie, De Bruyn!” het hy geskree en homself in die rigting van die raadsaal gedraai. “Ek sal nog klaarspeel met jou! Met jou en daai dowwekop kind van jou!” Die profetiese waarde van sy woorde sou die mense wat dit gehoor het later geskok laat wonder oor die teenstrydigheid van die mens se wil en die noodlot se nukke.

 

Maar soos stories nou gaan sou die storie ook met elke vertelling oor die volgende paar weke, maande en jare ‘n nuwe stertjie kry. Mettertyd sou meeste mense glo dat dominee Verster in die Hospitaal geland het en daar gebly het vir vier maande.

 

Die waarheid is egter nooit so fantasties nie. Oubaas Geyer, wat tydens die oorlog menigde soldaat se skete versorg het, moes help om die dominee by te bring. Na ‘n deeglike ondersoek op die De Bruyns se voorstoep het hy sy opinie dat die leraar sal leef bekend gemaak tot die groot verligting van almal teenwoordig.

 

Die leraar het later die middag met ‘n skeelhoofpyn gaan rus en vir die volgende paar dae gesukkel om te eet of te praat. Baie van die inwoners van die Sannies Herberg distrik het skelm gedink die verandering was ‘n definitiewe verbetering.

2 antwoorde op Hermientjie – Deel Vyf

  1. adoonsie het gesê op Julie 1, 2010

    Ek lees elke dag getrou , en geniet dit baie. Jy skryf lekker gemaklik.

    Doen so voort!

  2. HeavyHenry het gesê op Julie 1, 2010

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.