Hermientjie – Deel Vier

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Howzit,

Vanaand is nie ‘n goeie aand vir my nie. Die fokken wasmasjien se pyp het besluit om sy greep op die lewe te verloor en ek het vir twee ure gestaan en ys fokken koue water uit die kombuis ge-squeegee.

Kaalvoet.

In die winter.

My voete lyk soos blouerige pruime en my moer is goed fokken suur.

In any case, hier is die vierde aflewering in wat uitdraai om ‘n baie tragiese fokken verhaaltjie te wees.

Julle sal my verskoon, ek gaan kyk of ek die tone wat afgebliksem het van die frostbite kan gaan optel voor die brak die fokken goed staan try en vreet.

Once,

Bert.

 

Ps) Ja ek weet my spelling is up to shit. Net vir die rekord. Ek maak darem op daarvoor op anner maniere.

 

B.

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

Deel 4

 

 

Ek weet. Ek antwoord nie al jou vrae soos jy graag wou gehad het nie. Dis ook nou eintlik nie my skuld dat jy nou met meer vrae as antwoorde staan en stoei nie. Reg aan die begin van die ding het ek gesê ek sal jou die hele ding vertel. Die waarheid. Nie een of ander koerantman se idee van wat gebeur het nie.

 

Soms los die waarheid ons maar eenvoudig net met meer vrae as antwoorde. Ek is nou al ‘n ou man en as ek in my eie lewe niks anders geleer nie, weet ek darem een ding. Die waarheid maak jou nie altyd vry nie.

 

Vir party is die waarheid meer ‘n kruis as ‘n toevlug. Hoe dit ookal sy, dit het vir Hermientjie en Piet-Broekies nie veel gehelp nie.

 

Verkrag en verniel deur ‘n duiwel in ‘n treintrok, steeds in skok, het Piet-Broekies vir Hermientjie in sy arms geneem en vir amper tien myl gedra. Alhoewel sy moedig van die trok afgespring het toe die trein stadig ‘n stasie iewers oppad Nelspruit toe ingestoom het, was dit vinnig duidelik dat sy nie veel verder sou kon gaan op eie krag nie.

 

Langs ‘n stofpad het hulle gestop. Haar bene het onder haar pad gegee en sy het gaan sit op die skouer van die pad. Piet het die forseerde ruskans gebruik om die drie tasse se inhoud oor te pak in die grootste van die versameling, waarna hy sy kruisbande afgehaal het en so ‘n rugsak van die koffer prakseer het. Die leë bagasiestukke is in die langgras weggesteek en met die bonkige ding op sy rug het hy Hermientjie se hand geneem en haar opgehelp.

 

“Kom, ek dra jou” het hy stilweg gesê en haar in sy arms getel. Elke twintig minute het hy haar neergesit en gerus vir tien. Deurentyd het Piet-Broekies vir Hermientjie vertel van hulle toekoms en hoe hulle eendag ‘n groot vrugteplaas in die laeveld sal besit. Soms het sy gesnik, soms net stil voor haar uitgestaar. Piet het aangehou om haar te dra, selfs na die pyn in sy bene, rug en arms hom na sy asem laat snak het.

 

Na vier ure het hulle op ‘n afdraaipad afgekom wat te kenne gegee het dat daar wel lewe in hierdie vreemde dorheid was. “Kromruggens” het Piet die plaas se naam hardop gelees. Alhoewel hy nie vreeslik geskool was nie en die idee van ironie vir hom vreemd was, het hy steeds ‘n skewe glimlag gegee en gedink aan sy eie rug wat seker ook nooit weer na dese reguit sou wees nie.

 

“Ons sal hier êrens moet stop vir vandag” het hy vir Hermientjie gesê en haar weer neergesit sodat hy sy stram ledemate ‘n rukkie kon rus. Piet het langs haar in die sand gaan sit en ‘n pak Springbok sigarette en ‘n dosie vuurhoutjies uit sy hempsak getrek. Die eerste trek van die sigaret het hom effens laat hoes en trane na sy oë gebring. Hy kon nie onthou wanneer laas hy gerook het nie. Seker omtrent twee dae gelede, het hy probeer onthou. Op die voorstoep, daar waar pa sy pyp gesit en uitkrap het en hom uitgevra het oor die hele ding met die burgermeester en die se dogter.

 

“Ek is lief vir haar, pa” het hy toe gesê en elke woord bedoel. Die ou man was stil vir ‘n rukkie en het verby die erf se heining, straat-af gestaar na waar Horowitz besig was om sy winkel se stoep te vee. Na ‘n tyd het hy sy hand op sy enigste seun se knieg laat rus. “Laat staan eerder, Pieta” het hy toe gesê en die hartseer in sy oë was iets wat die jong man nooit van tevore gesien het nie.

 

“Ek en jou ma was ook so gewees, weet jy. So… so teen die grein in. Op die ou end het dit ons meer gekos as wat enige mens moet betaal. Netta, jou ma, het haar pa gaan begrawe sonder om ooit met hom vrede te maak.” Hy het sy pyp uitgeklop en weer stadig begin stop. “Dis ‘n pyn wat mens nie moet dra nie, seun. Laat staan eerder…”

 

Piet-Broekies het toe ‘n sigaret opgesteek en in die stilte tussen pa en seun die stelling sit en oorweeg. “Sou pa dinge vandag anders gedoen het?” Die vraag was skielik en direk. Piet senior het vir ‘n oomblik niks gesê nie en dit het gelyk asof hy die vraag nie gehoor het nie. Net toe sy seun die vraag wou herhaal, draai hy sy kop na hom toe en knip sy oog stadig. ‘n Duiwelse glimlag het hom weer jonk en sonder sorge laat lyk. “Nie vir al die Mielies in Krom-Klaas se lande nie, my seun. Vir niks nie.”

 

Hy het saggies gelag en opgestaan. “Die liefde is ‘n snaakse ding, boetman” het hy oor sy skouer gesê terwyl hy voordeur se kant toe begin stap het. “Jy hoef hom nie altyd te staan en soek nie, want soms kom soek hy jou.”

 

Dit was moeilik om te dink dat dit net twee dae gelede was. Piet se hele wêreld, sy hele lewe het verander in ‘n saak van ‘n paar uur. Dat hy haar steeds liefgehad het, daaraan het hy nie getwyfel nie. Dit was die res van alles waroor hy gewonder het.

 

“Piet” het haar stem hom skielik terug gebring na die hede en die stofpad voor hulle. Dit het begin skemer word en hy was nie eens seker waar in die wye land hulle was nie. Skuins neffens Kromruggens, het hy homself herhinder en vir Hermientjie ‘n glimlag gebied.

 

“Dankie, Piet” het sy gesê en sy gesig tussen haar hande geneem. Haar lip was geswel en die soen wat hulle gedeel het was stadig en versigtig. Haar hand het oor die sny op sy kopvel geskuif en hy het ‘n vinnige asem ingetrek. “Jy lyk vreeslik” het sy toe gesê en probeer glimlag.

 

“En jy lyk net so mooi soos altyd” het hy geantwoord. Die swelling om haar oog het begin sak en hy was seker dit sou nie toeswel nie, alhoewel dit verseker blou en gekneus sou bly vir ‘n geruime tyd. Haar hande het instinktief na haar hare gegaan en sy het probeer om die wilde bos rooi reg te druk.

 

Op die horison kon hulle sien hoe tyd die skemer vir aand begin verruil en Piet het weer opgestaan, die tas met kruisbande en al weer op sy rug geskuif en sonder ‘n woord sy hand na haar uitgesteek. Sy het haar eie in syne geplaas en met ‘n langmoedige steun het hy haar opgetel en begin dra in die rigting van Kromruggens se opstal.

 

Hulle sou die aand in ‘n skuur deurbring. Daar sou Gert Dippenaar hulle die volgende oggend vind, half verkluim en baie styf en seer. Dit sou vir hulle almal, veral vir Gert Dippenaar, beter gewees het as Piet en Hermientjie daardie aand net daar langs die stofpad kamp gemaak het.

 

Maar daardie aand het Hermientjie in sy arms aan die slaap geraak en haar hare het vir hom soos somer en son geryk. Koud, honger en seer soos hy was het Pieter De Bruyn gesukkel om enige tyd te onthou waarin hy gelukkiger was.

6 antwoorde op Hermientjie – Deel Vier

  1. daa lag ek lekkerder vir jou as vir Bert se frostbite tone Tronkie 🙂

  2. Sorry chomma. Dag tronkie, hoe lyk dinge aan jou kant van die selblok?

  3. HeavyHenry het gesê op Junie 30, 2010

    Gou opgevang. Wag virrie res.

    Kak vannie water en goed – maak mens se tiete lam.

  4. Ja dis maar lekker faktap. Maar at least gaan die lot by die versekering nou vir Suzie nuwe kombuiskaste gee. So dis nice. Vir haar, at least.

  5. Thanks vir die spelling up-‘n-up. Dit pis Suzie vreeslik af dat ek nie kan spel nie, want sy moet gewoonlik die goeters spellcheck. So ek sit maar gewoonlik en wag vir die anner fokken skoen om te val, jy weet?

    Die ding met Hermientjie is bietjie weird. Dis nie regtig ‘n storie wat ek wil skryf nie. Maar ek kan niks anders, en ek meen nie eers directions wimpy toe skryf nie.

    Ek probeer, maar kom net nie reg nie. Is soos om te probeer piepie teen die wind. Dit klink na ‘n goeie idee, maar jy eindig net met nat skoene.

    So nou pen ek maar die ding sodat ons almal se lewens kan aangaan en ek weer kan terugval op ‘n harde lewe van sterk drank en vinnige vroue.

    By the way, ek het nie veel van ‘n boesem nie, maar ek figure ons kan any case pelle wees, huh?

    Thanks virrie strongs.

    Bert.

  6. HeavyHenry het gesê op Julie 1, 2010

    o hel – en die weke se kak terwyl die ouens dit insit. Ek beny jou nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.