Hermientjie – Deel die Twede

Junie 27, 2010 in Sonder kategorie

Dag mense,

 

Hier is die twede deel van die vervolgverhaal waaraan ek sit en tik.

 

Die storie vloei omtrent so maklik soos melasse in die winter, so as daar foute en dinge is, be nice en ignoreer dit maar net. Ek kon op skool ook nie spel nie, and the more things change…

 

So hier is deel twee. Hoop julle smaak dit darem ‘n effe.

 

Groetnis en goodness,

 

Bert.

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 2:

 

So het Hermientjie regtig daardie man vermoor het? Die antwoord daarop is nie so eenvoudig nie. Dis meer ‘n nee as ‘n ja, maar dan weer is dit ook meer ‘n ja as ‘n nee.

 

Ja, ek weet dit klink deurmekaar en sonder veel sin, maar gee my nou eers kans om terug te kom by hoe die twee van hulle by daardie verskriklike dag uitgekom het. Die oordeel van enige daad kan net ordentlik gemaak word na mens al die oorsake daarvan goed beloer het.

 

Was Hermientjie en Piet-Broekies die koudbloedige skurke wat die koerante en radio ons van vertel het? Hierop kan ek verseker sê ek weet nie. Wat ek wel weet is dat die twee van hulle jonk en verlief was. Bloedjonk en smoorverlief.

 

Nou toe dan. Soos meeste jong verliefdes op klein dorpies was die twee se romanse ook passievol, stormagtig en so vêr as moontlik ‘n baie geheime ding. Snags uit die huis sluip wanneer hulle ouers slaap het ‘n vasgestelde roetine vir die twee geword en onder die sterre, langs die stroompie wat skuins deur die dorp geloop het, was die planne van enige jong paartjie gesmee en geslyp. Briewe en skelm gebaartjies was in vlugtige verbygang gedeel. Soene is gesteel agter die skoolsaal en stadsaal. Agter die kerk en selfs in die kerkhof.

 

Dit het ook dan nie baie lank gevat voor die twee begin planne maak het om die stof van Sannies Herberg van hulle skoene af te skud en ‘n eie lewe êrens vêr weg te begin nie.

 

“Ek dink ons moet Nelspruit se rigting gaan” het hy haar een aand laat vertel terwyl hulle hand aan hand deur die veld gestap het. “Ek kan daar op een van die plase gaan werk en jy kan dalk vrugte pluk of pak. Dan kan ons elke dag saam wees, sonder om so hoef rond te sluip…”

 

Haar oë was groot in die sterrelig toe sy opkyk na hom. “Sal jy, Pieter?” Haar arms het om sy nek gevou. “Sal jy my hier wegvat? Weg van die skool en die kerk en die stofstrate en die… die… en my pa?” ‘n traan het teen haar wang afrgerol. Daar was iets agter haar oë wat hom laat dink het aan die hond wat hy die slag moes skiet na die trekker oor sy onderlyf gery het. Rou pyn en vrees, gemeng met ‘n stille pleit vir genade en verlossing.

 

“Natuurlik!” Sy lyf het weer daardie trotse houding aangeneem wat haar altyd verbaas het. Dit was soos een wat sy oorbaadjie uittrek en lyk soos ‘n ander mens. “Jy’s mos myne” het hy stilweg geantwoord en sy gesig na die hemel gedraai. “Vir altyd, nês die sterre…” Sy het arms om sy nêk gevou en hom gesoen. In die donker, langs die stroom, met die ou wilgerboom as getuie het hy haar terug gesoen, salig onbewus van die paar judas-oë wat die twee van hulle goed onder blik gehou het.

 

As sy edele, Meneer Beukes enigiets van die ontmoeting geweet het, het hy dit nie voor die einde van Maandag se skooldag te kenne gegee nie. Nie eens gedurende gebed en opening het hy enigiets laat val wat Hermientjie snuf in die neus sou gee nie.

 

Soos tradisie en roetine bepaal, was elke skooldag afgesluit met aankondigings en gebed, net voor die tweedosyn helsems van wisselende ouderdomme vrygelaat was op Sannies Herberg se inwoners. Die Maandag was egter anders. Meneer Beukes het vir Johannes Vos, ‘n niksbeduidende lat omtrent ses maande jonger as Hermientjie, na vore geroep waar die seun ‘n verhaal so reg uit enige goedkoop hyg-roman sou staan en vertel.

 

“Jongeheer Vos, kan u asseblief na vore tree?” Meneer Beukes het die rol van aanklaer gereeld ingeneem en die hele klas het reggeskuif. Die skuldiges reg om straf te ontvang, die onskuldiges reg om die opwinding en sensasie van die verhoor te geniet. Hierdie moes regtig ‘n groot sonde gewees het, het meeste van hulle gereken. Verhore word gewoonlik vir Vrydae gebêre, en was amper ongehoord op ‘n Maandag waar ‘n hele week van spot en skande vir die arme bandiet sou voorlê.

 

Johannes Vos, seun van ‘n volksverraaier, het opgestaan en sy bril reggeskuif voor hy met ‘n selfbelangrike stappie na die voorkant van die klas gestap het.

 

Meneer Beukes het met gevoude arms voor die klas begin op en af loop, baie soos die tier wat Hermientjie gedurende die enigste skooluistappie van haar lewe by die dieretuin in die stad gesien het. Sy het ‘n simpatie vir daardie groot, gevaarlike dier gehad wat sy nooit haar pa kon toeskryf nie. Vir haar het die tier ‘n soort hartseer met hom saamgedra wat hom minder gevaarlik en meer tragies gemaak het. Haar pa aan die anderkant het geen hartseer of selfverwyt of enige ander emosie wat hom swakker sou laat lyk het, vertoon nie. Hy was alles wat die gestreepte kat in die hok was, maar ook nie was nie. Hy was net gevaarlik, sterk, gewetenloos en brutaal.

 

“Vertel die klas wat jy Saterdagaand langs die spruit gesien het!” skree Meneer Beukes so skielik dat die hele klas in hulle banke hop van skok. Hermientjie voel hoe haar knieë begin bewe en ’n koue straal water teen haar rug afloop. Hulle weet, het sy gedink. HY weet.

 

 

“Meneer Beukes, klasmaats…” Klein Johannes, wat van kleins af ‘n streek vir drama gehad het, het sy kop laat sak en dit stadig heen en weer geskud. “Ek is nie seker of ek julle moet skok met ‘n vertelling van die sonde van die vlees wat ek Saterdagaand langs die vlei gesien het nie.” Party van die ouer meisies agter in die klas het begin bloos en agter hulle hande gegiggel. Meeste van hulle kon getuig dat Johannes Vos geen vreemdeling was met die sondes van die vlees nie. In ‘n klein dorpie is daar maar min keuse vir afleiding en ‘n jong man met ‘n gladde tong en oop beursie het nie te sleg vir homself gedoen nie.

 

“Stil!” Die woord het van Meneer Beukes se mond ontplof en selfs die voëltjies wat in die ou maroelaboom buite die sinkgeboutjie gesit het, het besluit dis dalk beter om pad te vat. “Gaan voort, jongeheer Vos” het Meneer Beukes in ‘n sarkastiese stemtoon gesê. “Vertel die klas wat dan op die spesifieke Saterdagaand gesien het langs die vlei.”

 

“EK het vir Piet-Broekies gesien stap saam met iemand” het Vos gesê. “Daar langs die spruit onder die wilgers, waar die water ‘n draai maak in die rigting van Oom Krom-Klaas se plaas.” Hy het weer met sy bril se raam gelol voor hy aangegaan het met sy vertelling. “Ek het toe gewonder hoekom Piet-Broekies so laat die aand saam met iemand langs die vlei sou gaan stap en het besluit om hom te gaan vra of alles pluis is, of dan nie…”

 

Hermientjie, wat sovêr goed daarin geslaag het om haar emosies onder beheer te hou, het stadig haar kop in die rigting van haar pa gedraai, ‘n stille pleit in haar oë. Die ou man het geen erkenning gegee dat hy haar gebaar gesien het nie en het eenvoudig terug gedraai na haar klasmaat wat in tussentyd stil geraak het. “En was alles toe pluis met jong Pieter en sy geheimsinnige metgesel?”

 

“Nee, Meneer Beukes” antwoord die seun met ‘n swak verborge glimlag. “So op ‘n afstand het ek gesien hoe Piet en die vreemdeling staan en vryerig raak onder die bome. Van waar ek kon sien was die vent se hande aan’t vroetel op plekke wat ek nie regtig name voor het nie. Ek weet ook nie so mooi hoekom almal hom Piet-Broekies noem nie, want van waar ek gestaan het kon mens net kaal boude in die maanlig sien blink!” Met die laaste opmerking het absolute chaos losgebars in die skoolklas en Meneer Beukes moes herhaaldelik met sy rottang op die blad van sy lessenaar slaan om weer orde te kry.

 

“Is jy seker dit was Pieter De Bruyn wat jy gewaar het?” Meneer Beukes se uitdrukking was streng, sy rottang steeds in sy hand. “Ja meneer” antwoord Vos hom sonder om ‘n oog te knip. “En ek weet ook wie saam met hom daar was…” Die skelm glimlag is terug terwyl hy na die klas draai, sy arm uitgesteek, wysvinger reg om oordeel te vêl. Die vinger beweeg stadig oor ‘n groep meisies wat ook nie regtig met skoon gewete eendag in vlekkelose wit voor die kansel sou staan nie. Na ‘n paar benoude kyke beweeg sy vinger aan, verby die seuns in die middel van die klas en kom tot ruste voor Hermientjie se tafel.

 

“Dit spyt my meneer, maar dit was Hermientjie wat saam met Piet gesondig het langs die vlei.” Die grinnik wat oor sy gesig gesmeer was het haar herhinder aan sy woorde, drie maande gelede, nadat hy vir haar lekkers by die jood se winkel gekoop het en sy geweier het om saam met hom in Oubaas Wiese se skuur te gaan kuier. “Ek sal jou kry, Hermientjie. Al vat dit my vir ewig. Ek belowe ek sal jou kry hiervoor.” Vir haar het die tyd aangebreek, en drie maande het van waar sy gesit het soos ‘n kort ewigheid gelyk.

 

Meneer Beukes het nie geskok of ontsteld gelyk oor die openbaring wat die seun gemaak het nie. Hy het immers Sondag na kerk al gehoor van die storie, toe die seun saam met sy pa met hom kom gesels het. “Ouderling Beukes” het Vos die senior oor sy teekoppie se rand gesê. “Miskien moet die drie van ons ‘n draai gaan stap. My seun het iets wat hy u graag wil meedeel, en ek dink nie dit is vir ander se ore nie…”

 

Hermientjie se pa het die kennis in stilte verwerk, dit stadig omgeploeg en met die saad van woede beplant. Sterk van plan was hy om ‘n goeie oes te maak van die bedrog en leuens wat sy dogter aan hom voorgehou het.

 

Nou het hy eenvoudig ‘n vinger in haar rigting gedraai en haar nader gewink.

 

“Kom dogter” het hy aan haar voor die hele klas gesê. “Jy is skuldig en moet gestraf word.” Om haarself tee te sit sou net beteken dat sy meer gestraf sou word as wat die oubaas al reeds besluit het nodig was. Die les het sy geleer toe hy haar in die kombuis so hard met ‘n plathand geklap het dat haar een oor gebloei het en sy weke lank amper niks kon hoor met haar linker oor nie.

 

Hermientjie Beukes het daardie dag al haar moed en waardigheid om haar bymekaar gemaak en voor die klas, langs haar pa se lessenaar, gaan buk met haar hande op die lessenaar se blad.

 

Haar pa het eers met sy hand oor haar nek gestreel en iets in haar oor gefluister voor hy sy posisie langs haar ingeneem het en die rottang op haar boude laat val het. Twaalf houe later het haar hele liggaam geruk met teruggehoue trane. ‘n Dun rooi lyntjie het teen die agterkant van haar regterbeen afgeloop, tot waar dit agter haar knieg tot ruste gekom het.

 

 

Na die houe ophou val het, het sy na haar pa gedraai en ‘n bewende hand op sy wang gelê in ‘n openbare uitbeelding van emosie wat totaal onvanpas was op ‘n plek soos Sannies Herberg. “Ek is lief vir hom papa” het sy gesê, ‘n Traan wat teen haar wang afgeloop het, het voorop sy hemp gedrip. Dit was warm soos bloed, het hy gedink. “Nee jy is nie” het hy geantwoord. Die klas was stil. Die kinders het nog nooit so ‘n pak slae gesien of so ‘n drama beleef nie.

 

“Ek is” het sy saggies gesê en haar kop net hartseer heen en weer geskud.

 

Met vuur in haar oë het sy na Johannes Vos gedraai. “Jy het vandag gelieg, Johannnes” het sy eenvoudig gesê. “Ek en Pieter het gesoen. Maar dit was al en jy het gelieg. Jy sal jou beurt kry.”

 

Johannes Vos, wat net gejok het wanneer hy sy mond oopgemaak het, was onmiddelik in sy eer gekrenk en hoogs verontwaardig. “Ek lieg nie! Ek praat net die waarheid! Wat laat jou sê ek lieg?”

 

Sy het voor hom gaan staan en hom vierkantig in die oë gekyk. “Wat het jy dan Saterdagaand langs die vlei gaan soek, Johannes? Miskien vir Grieta Louw se skoene wat julle Vrydagaand daar laat lê het?”

 

Vos se oë was wyd met vrees. “Ek lieg nie, jou flerrie!” het hy benoud gegil. “Gaan haal vir Dominee Verster, dan sweer ek op die Bybel! Of is jy dalk te skaam om die kerk binne te gaan?”

 

Ek verstaan Johannes Vos het later ‘n advokaat geword en mettertyd selfmoord gepleeg weens sy aandeel in ‘n bedrogspul waarin die kerk van ‘n baie groot bedrag geld besteel was. Daar is maar altyd ‘n sekere hoeveelheid ironie in hoe die lewe se wiel staan en draai.

 

 

Word vervolg…

2 antwoorde op Hermientjie – Deel die Twede

  1. Thanks vir die belangstelling en die comment.

    Om jou eerlik te sê weet ek self nog nie wat daai aand gebeur het nie. Hermientjie het my nog nie vertel nie, en Piet-Broekies, well… kom ons sê maar net hy’s die strong silent type.

    Die storie, soos meestes, sal seker maar ‘n draai gaan maak langs die paaie wat die karakters dit wil stuur.

    Sien self uit om te loer waarheen hulle met die ding oppad is. Al wat ek weet is dat iemand dood raak en dat dinge… well, ons sal sien.

    Omtrent die kappies en die hinders en huffels en suffels… Het jou gewaarsku oor die spelling. Hehe, hate to say I told you so.

    B.

  2. pasella het gesê op Junie 27, 2010

    So ‘n bliksem. Ek hoop nie jy gaan Hermientjie se pa so maklik laat loskom soos vir Johannes Vos nie, hy moet suffer!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.