Hermientjie – Deel die Eerste

Junie 22, 2010 in Sonder kategorie

 

 

Jis, jis!

 

Wel, ek is weer in die skrywery van dinge in. Die simpel ou storietjie pla my nou al ‘n hele ruk en ek het besluit om dit te begin pen.

 

Sal dit hier neersit soos ek dit staan en optel. Laat weet maar of dit naais of kakkerig is. Een vir die taalpuriste.

 

Groetnis en goodness,

 

Bert.

 

 

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 1

 

Gee my nou eers ‘n bietjie kans dat ek eers ‘n sigaret brandmaak en dalk nog ‘n koppie koffie kry, dan vertel ek jou die hele ding. Ja, reg van die begin af. Nie net die dele wat jy in die koerant gelees het oor die dinge wat die twee aangevang het nie. Nie net die lelike of slegte dinge wat hulle jou wil laat glo nie, maar die hele bondel wasgoed. Kompleet met bra en kruisbande.

 

Sien, mense wat nie altyd alles weet nie is geneig om maar die dele wat kortkom op te maak, of nog erger, die ander ou self die dele in te vul wat hy nie gedruk sien in swart en wit nie.

 

Ek dink in elke geval nie enigiemand ken die hele storie agter Hermientjie en Piet-Broekies se tydjie saam nie. Miskien het net hulle die hele waarheid, maar ek hoop steeds dat die dele wat ek ken miskien jou bedenkinge oor hulle laat oor bedink. En dalk verstaan jy dan beter hoekom dinge so uitgeloop het soos dit het.

 

Maar wag, voor ek nou weer staan en kar voor die perde inspan. Die beste plek om te begin is seker nie by Hermientjie of by Piet-Broekies nie, maar eerder by Sannies Herberg, ‘n Godsverlate klein plekkie op die vlaktes, presies geleë tussen niks en nêrens. En ook by meneer Beukes, skoolhoof van die algemene skool op Sannies Herberg.

 

Kyk, ek reken nie vir een oogknip lank dat dit lekker of maklik is om groot te word op ‘n plattelandse dorpie skuins anderkant die aarde se rant nie. Ons mense wat in die stad bly dink dalk daaraan met ‘n tipe nostalgie wat dit nie regtig toekom nie. Seker maar oor ons droom oor ‘n plek waar jy binne drie minute by jou werksplek kan wees, en waar almal mekaar op straat groet. Min van ons oorweeg die ander kant van die saak, die deel waar almal jou groet op straat omdat almal jou ken. En ek bedoel nie net weet wat jou naam is nie, maar weet van al jou suksesse en foute. Al jou regkom en al jou aansukkel, al jou liefde, al jou haat asook alles tussenin.

 

Net so het almal Hermientjie ook geken. Miskien selfs beter as wat hulle die dorpie se ander kinders geken het, omrede sy die skoolhoof en burgermeester, sy edele raadslid Meneer Beukes se enigste kind was.

 

Almal wat Hermientjie geken het, en soos ek vroeër probeer verduidelik het was dit maar die hele ou dorpie, het geweet sy was nou maar eenmaal net anders.

 

Sy het in haar ‘n dwarstrekkerige streek gehad. Stroom-op.

 

Want dit was mos Hermientjie Beukes gewees wat die dominee gevra het hoekom babas gedoop moet raak en nie wanneer hulle grootmense is wat dan sal verstaan hoekom hulle koppe natgegooi moet raak nie.

 

En was dit dan nie ook Hermientjie wat ou Horowitz die jood wat die winkeltjie in Kerkstraat gaan staan en vra het hoekom hy nie na die dorp se krismispartytjie toe wou kom nie? En wat van daai slag toe sy vir Danie Vermaak, hotel eienaar en bottelstoor baas gevra het hoekom hy nie goed genoeg is om diaken te wees nie, al is hy goed genoeg om almal in die kontrei se dorste te les?

 

Ja, die kind was maar net anders. Eiewys, soos soveel van die selfbelangrike henne op die dorp van haar geskinder het. Baie soos haar oorlede moeder, sou hulle oor teekoppies en koeksusters byvoeg. Maar by Annemarie Beukes sal ons wel later uitkom. Alles op sy tyd.

 

Ek reken vandag dit was seker maar daardie juiste dwarsheid wat Hermientjie laat besluit het om maar self vir Piet-Broekies te vra of hy saam met haar wil gaan na die nuwejaars dans toe. ‘n Ding wat sy dalk gedoen het uit jammerte vir die knaap, maar dalk ook om haar pa goed die verkeerde kant toe te staan en opvryf.

 

Hoe dit ookal sy, die ou man was minder genoeë met die idee. Inteendeel, sy edele was in ‘n woord goed de bliksem in oor sy dogter se sletterige voorbarigheid. En wanneer sy edele Meneer Beukes kwaad geraak het vir sy kinders, sy eie én die distrik s’n wat op sy skool se banke gesit het, dit gevoel. Die merke van sy regssinnigheid was gereeld op Hermientjie se bene te sien nadat haar vader die bybelse roede ingelê het.

 

Die vra van Piet-Broekies na die dans toe was dan ook nie anders nie, en selfs al het hy haar drie keer laat deurloop en vier keer verbied, het sy geweier om die idee te laat staan. Was dit nie vir Juffrou Cornelius van die sondagskool wat by Dominee Verster gaan kla het en hy met die ou man gaan praat het nie, sou hy sekerlik ook nooit toegegee het nie.

 

“Maar dominee, ek het nie ‘n probleem dat hy die kind voeter nie. Ek het net ‘n probleem dat hy haar soos ‘n staatsdonkie staan en bliksem!” Juffrou Cornelius, ‘n oujongnooi van amper twee-en-veertig, wat nooit gevloek het nie en die toonbeeld van kalmte was het gelyk of sy dalk beroerte gaan kry.

 

“Suster!” Die dominee was baie duidelik tot in die diepte van sy baie diepe siel geskok om haar woorde in die kerk se kantoor te hoor. “Sit ‘n wag voor jou mond!” Juffrou Cornelius het net haar kop laat hang en ‘n verskoning gepreuwel. “Maar jy het gelyk, suster. Die kind skuifel heel preek lank rond op haar gekneusde fondament. Niemand kan so aandag gee aan wat die Here hulle wil leer nie…”

 

Sy hande, wat besig was om pyp te stop, het vuur tot twak gelig en na ‘n paar trekke het hy die rookstuk in die hoek van sy mond geprop, sy hoed op sy kop gedruk en deur die deur gekoes. Buite het hy sy neus in die rigting van die stadsaal gedraai en met sy burgermeester gaan gesêls.

 

Wat in daardie gesprek gesê was weet ook niemand, behalwe miskien vir mevrou Niemand, die stadsraad se teedame wat na sy koppies ingedra het besluit het om die boekrak reg buite die hoof raadslid se kantoor af te stof. Selfs al het sy geweet wat gesê was en of die twee regtig op mekaar geskree het of nie, het sy nooit oorvertel nie. Amper veertig jaar na haar afstorwe is dit ook maar een van daardie dele van die storie wat jy vir jouself moet invul.

 

Maar hoe dit ookal sy, Hermientjie se pa het na daardie gesprek met die dorp se leraar toegegee. Sy is toe na die nuwejaars dans toe saam met Pieter De Bruyn, beter bekens as Piet-Broekies. Al was dit in ‘n ou rok en sonder skoene en heeltemaal teen sy sin, het sy toe tog gegaan.

 

Van die geneukery, familietwis en dominee se ingrype sou arme Piet eers heelwat later uitvind. Ek reken dit sou seker beter gewees het as hy dit, en ander dinge, dalk eerder nooit gehoor het nie. Ek reken ook meeste ander mense sal vandag, na alles wat gebeur het, met my saamstem. Maar moet nou nie die storie vir jouself staan en klaarmaak nie. Wag laat ek jou eers ‘n bietjie meer van Piet ook vertel. Dis belangrik dat mens al die kante van die storie eers goed bekyk voor jy staan en oordeel oor wie en wat en hoeveel en waarom.

 

Soos Hermientjie Beukes dag was, so was Pieter De Bruyn nag. Soos wat Hermientjie die onverwagste suur van ‘n wildeperske was, so was Piet-Broekies die alledaagse, bekende room bo-in die melkemmer. Skaam en teruggetrokke sal seker nie verkeerd wees om hom mee te beskryf nie, maar dan weer ook nie heeltemaal reg nie. Nie regtig genoeg nie. Mens-sku is dalk nader aan die waarheid, maar dan weer dalk ook te oordrewe. Piet was maar net wat Piet was. Stil. Skaam. Altyd in die agtergrond. Altyd in die kerk. Altyd by die skool. Altyd reg om te help, sonder om ooit hulp aan te bied.

 

Dalk is die beste manier om hom te beskryf as mens hom vanselfsprekend noem. Die tipe mens wat jy maar elke dag net sien maar nie spesifieke aandag aan skenk nie. Jy weet alles van hom, maar daar is nie regtig veel om te weet nie. Hy is maar net daar, soos ou Phinias se dikwiel fiets wat altyd voor Horowitz se winkel gestaan het, tensy hy gaan aflewerings doen het.

 

Miskien is die enigste interesante ding wat mens van Piet-broekies kan vertel, is hoe hy sy bynaam gekry het.

 

Dit was met sy aanneming in die kerk, en hy het saam met sy klasmaats voor die kansel gestaan, geskrop en en geskuur soos ‘n nuwe pennie. Aangetrek in een van sy pa se ou pakke, hulle was nie regtig die rykste familie op die dorp nie, sy deurgeskuurde skoene gepoets tot hy sy eie onmerkwaardige gesig in die glans kon sien. En so gaan die dominee toe ook deur die lyste vrae waarop elke katkesant om die beurt moes antwoord.

 

“Hoe antwoord jy, Pieter Johannes De Bruyn?” het dominee Verster hom voor verantwoording geroep op een van die ernstiger stellings van die kerk se leëringe, en soos die duiwel of noodlot of dalk die Liewe Vader self beskik het besluit sy oorstyf gordel net daar en dan besluit om sy laaste greep op bruikbaarheid te laat vaar.

 

Daar staan Piet toe voor die hele gemeente met sy pa se broek om sy enkels, sy gesig bloedrooi en sy stem krakerig. “Ek… uh… ek moet broek optrek, dominee…” Die stilte in die kerk was ‘n swaar ding wat van daardie dag af Piet-Broekies se skouers laat kromtrek en sy kop geboë gehou het. En van daardie dag af het Piet sy bynaam gedra saam met die gordel en kruisbande wat hy gebruik het om sy broek ‘n half-duim onder sy ribbekas in plek te hou.

 

Nou ja dis hoe hy sy naam gekry het en hoekom Hermientjie, wat maar altyd ‘n snaakse nuk gehad het, hom dans toe gevra het. Nie net omdat sy haar pa wou kwaad maak of om Piet-Broekies te verneder nie, maar eerder omdat sy altyd ‘n jammerte in haar gedra het vir ander wat seer het. Soos wat mens sou hê vir ‘n vreemde brak met ‘n seer poot, of ‘n wilde voël met ‘n gebreekte vlerk.

 

‘n Snaakser paartjie het die nuwejaars dans seker nooit van tevore of ooit weer daarna gesien nie. Die lang rooikop meisie met die groe oë, gesonde jong lyf en die duiwel agter haar glimlag, en saam met haar die vaalseun met sy krom skouertjies en hang kop, sy broek elmboog hoogte vasgetrek en toegespan.

 

“Jy lyk mooi, Hermientjie” het hy vir haar gesê na die tweede dans, net na sy tong weer besluit het om te begin werk. Sy het vir hom ‘n warm glimlag gegee en sy hand ‘n vinnige druk gegee voor iemand anders die gebaar kon sien. Die uitwerking wat dit op Piet-Broekies gehad het was heeltemaal die teenoorgestelde van wat sy verwag het. In plaas daarvan dat hy rooier geraak het as wat hy klaar was en sy kop nog laer laat sak het, het sy skouers vir ‘n oomblik reguit getrek en sy kop gelig tot skuins bo haar eie. Vir ‘n oomblik was hy ‘n man en in daardie oomblik het sy die trotse lig in sy oë gesien en verlief geraak op hom. Op die man wat later so ‘n groot deel van haar toekoms sou bepaal.

 

Na die vyfde dans het sy oppad na die vrugtepons emmer vlugtig nader aan hom beweeg en vir hom die ses woorde gefluister wat sy lewe vir altyd sou verander. “Kry my oor vyftien minute buite…” En daarmee het sy van hom af weggedraai om met haar pa te gaan dans.

 

Wat later buite gebeur het sal ook net die twee van hulle weet, en die sal mens seker ook maar weereens moet raai. Ek verkies om te dink hulle het hande vasgehou en dalk onder die sterre hulle eerste soen gedeel, maar ek is ook al ‘n ou man wat maklik die vuur van die jeug se passie vergeet. Ek hou maar net stoor by Hermientjie en Piet-Broekies se ouers, en die kerklike opvoeding wat hulle altwee gehad het.

 

 

Word Vervolg…

4 antwoorde op Hermientjie – Deel die Eerste

  1. pasella het gesê op Junie 22, 2010

    Dis naais, niks kakkerig nie.

    (Ek wil nie pedanties wees nie, maar foeter is met ‘n f, soos fok!)

  2. Ag vok. Ek meen, fok. Suzie het nie vir my ge-spell check nie.

    Wys jou net. Nog ‘n handige gebruik vir die langhaar kombuisdier.

    Thanks ou maat. Sal later regmaak.

  3. adoonsie het gesê op Junie 23, 2010

    Jis Bert , Dis naais. Nou beter jy skryf , want ek is nou hooked.

    Ek hou van jou skryfstyl.

    Skryf nog , seblief.

  4. HeavyHenry het gesê op Junie 26, 2010

    “Word Vervolg…”

    No Pressure, No Pressure… NOT!

    Roer jou, ek wil lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.