Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Hermientjie – Deel Vyf

Junie 30, 2010 in Sonder kategorie

Naand almal,

 

Ek is bly om te report ek het nie vanaand ‘n fokken rubberduck nodig om by my fridge uit te kom nie.

  

Nou ja toe, weer sulke tyd. Die volgende aflewering in die storie wat ook nou moet begin end kry.

 

Vanaand se hoofstuk is spesiaal vir Maankind en Tronkie.

Maankind… Ek is bly ons is nou pêlle en dat jy my gevind het, boesems of nie.

Tronkie… Hello, Tronkie. Sorry ek groet nie meer gereeld nie. Ek is maar daai tipe suur fokken kluit meeste van die tyd.

 

In any case, hier is hy my skapies.  Fresh and organic. Geniet hom.

Hy lees so lekker, want hy skryf so lekker.

 

Groetnis en goodness,

Bert.

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 5

 

 

Maar wat nou van hulle ouers? Ek weet wel Hermientjie se pa het byna stuipe gekry toe hy vroeg oggend agterkom sy dogter is weg. Dit het hom ook omtrent die beter deel van vyf minute geneem om af te ly dat sy vort was met tas, klere en badgoed.

 

Die klein fototjie van haar oorlede moeder wat altyd op haar wastafel oorkant haar bed gestaan het was ook weg. In plek daarvan was daar ‘n eenvoudige stuk papier, geskeur uit ‘n skoolskrif en netjies die middel af gevou. Een woord, Pa, was voor-op gepen in haar kenmerkende grootletter skrif.

 

Met hande wat geruk het van woede en angs het hy die goedkoop folio oopgeslaan. Weer, en toe ‘n derde keer het hy die eenvoudige inhoud daarvan gelees.

 

Pa.

  

Ek is lief vir Pieter. Hy vat my vanaand weg van hierdie plek met sy spoke en leuens en seer.

 

Ek weet dit is nie maklik om te lewe sonder foute nie.

 

Ek hoort te weet, want ek probeer pa vergewe, maar ek kan nie. Nie vir myself nie en ook nie vir ma nie.

 

Hermien.

 

‘n Halfuur later het Paul Beukes voor Piet-Broekies se ouerhuis gestaan, sy rooi-blou gesig getuienis van ‘n man vêr verlate deur sinlikheid.

 

“Waar is die klein wetter?” het hy gebulder en die tuinhek oopgeruk. ‘n Basterbrak het hom halfhartig gestorm en het ‘n skoen in die ribbes gekry vir sy dapperheid. Op die voorstoep het Vaal-Piet De Bruyn net sy kop geskud en probeer verduidelik het dat hy ook sy telg vermis. Mevrou De Bruyn het in die voordeur gestaan, haar oë met die punt van haar voorskoot afgevee en hardop begin bid vir haar enigste seun se veiligheid.

 

Beukes het begin swets, die sterkste en vuilste taal wat seker tot vandag toe nog op Sannies Herberg gespreek was. Sonder om enige verwarring oor die saak te skep het hy vir Meneer De Bruyn vertel dat sy seun se veiligheid al die gebed gaan kort wat dit kan kry wanneer hy sy hande op die klein wetter sou lê.

 

Vir Piet se pa was dit alles eenvoudig meer as wat enige selfrespekterende man kon vat en het hy vir Paul Beukes, raadslid, ouderling en skoolhoof tegemoed gekom met ‘n gebalde vuis en hom voor die stoep in die stof laat sit. Paul Beukes, glad nie links nie, het opgespring en Vaal-Piet sy kant van die argument met hand- en voetgebare verduidelik.

 

Mevrou De Bruyn het van vooraf begin huil en terwyl sy trane afgevee het met die haar vuil voorskoot. Honde het geblaf en bure het gestaar. Selfs Phinias, die ou mak-volk wat vir Horowitz die jood gewerk het, het sy dikwiel gestop om eers te kyk na die twee mans wat mekaar probeer uitwis.

 

Dominee Verster, wat oppad terug was huis toe na sy oggendstappie, het nader gedraf gekom en die petalje met groot oë ingeneem. Op die grond voor broeder De Bruyn se huis was twee mans besig om mekaar te pak met vuis en voet, hand en tand. Die een se hemp was geskeur, die ander skaars nog in sy broek. In al die verwarring het dit hom ‘n oomblik geneem om die twee vuisgooiers te herken.

 

“Hemelse Vader, Phinias!” het hy gesnak en die ou man met die trapfiets aan die arm gevat. “Wat op dees aarde gaan hier aan?”

 

Phinias, ‘n praktiese siel van geaardheid, het dominee Verster ‘n lang kyk gegee so asof hy nie kon verstaan hoe so ‘n geleerde man dan nie self kan sien wat voor hom gebeur nie. “Die grootbaas Beukes, morêna, hy dônnôr vir hom baas Vaal-Piet…” het Phinias sy beskeie mening gelig. So besluit die goeie leraar toe om ‘n einde te maak aan die barbaarse vertoning en storm nader om die twee mans uit mekaar te probeer maak.

 

“Broers! Broers!” roep hy en gryp Vaal-Piet aan die sy broek se naat. Met moeite en lankvergete krag trek hy Piet-Broekies se pa van die raadslid af. “Skaam julle! Wat gaan hier aan dat julle soos Kain en Abel stry en bloed vergiet?”

 

Paul Beukes kom orent en vee met die agterkant van sy hand die bloed van sy neus en mond af. Sy kneukels is stukkend en geswel, een oog alreeds half toe. “Dit het niks met jou te doen nie!” Met ‘n kreet van wraak, woede en frustrasie duik hy weer in Vaal-Piet se rigting, reg om hom verder langboompies toe te help.

 

Dominee Verster, verseker op sy stand in die gemeenskap en die Goeie Vader se beskerming, plaas homself egter op daardie tydstip tussen die twee mans. Sy goeie opinie van homself is egter kortsigtig en die volgende wilde hou vang hom reg onder die kakebeen. Sterre ontplof voor sy oë en hy stort neer soos die spreekwoordelike sak patats, buiteweste gelê deur sy eie burgermeester se hand.

 

“Ja, jou eenvoudige bliksem!” skree Vaal-piet verby stukkende lippe en ‘n geswelde neus. “Kyk wat maak jou geite nou! Dis sonde om ‘n dominee te moer! Groot sonde!” Meteens draai hy sy rug op Beukes en strompel stoep toe. “Vrou! Bring water! Phinias! Gaan soek Baas Geyer! Sê hy moet kom help, die oubaas hy het seer!” hy wys met ‘n bewende vinger na dominee Verster wat steeds doodstil lê langs die paadjie wat tussen tuinhek en voorstoep loop. ‘n Paadjie wat die dominee al gereeld gedurende huisbesoek gestap het en intiem ken.

 

Paul Beukes, wat weer ‘n vorm van beheer oor homself gekry het, moes sy pad deur ‘n skare van omtrent agt toeskouers stoot. “Dis nie verby nie, De Bruyn!” het hy geskree en homself in die rigting van die raadsaal gedraai. “Ek sal nog klaarspeel met jou! Met jou en daai dowwekop kind van jou!” Die profetiese waarde van sy woorde sou die mense wat dit gehoor het later geskok laat wonder oor die teenstrydigheid van die mens se wil en die noodlot se nukke.

 

Maar soos stories nou gaan sou die storie ook met elke vertelling oor die volgende paar weke, maande en jare ‘n nuwe stertjie kry. Mettertyd sou meeste mense glo dat dominee Verster in die Hospitaal geland het en daar gebly het vir vier maande.

 

Die waarheid is egter nooit so fantasties nie. Oubaas Geyer, wat tydens die oorlog menigde soldaat se skete versorg het, moes help om die dominee by te bring. Na ‘n deeglike ondersoek op die De Bruyns se voorstoep het hy sy opinie dat die leraar sal leef bekend gemaak tot die groot verligting van almal teenwoordig.

 

Die leraar het later die middag met ‘n skeelhoofpyn gaan rus en vir die volgende paar dae gesukkel om te eet of te praat. Baie van die inwoners van die Sannies Herberg distrik het skelm gedink die verandering was ‘n definitiewe verbetering.

Hermientjie – Deel Vier

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Howzit,

Vanaand is nie ‘n goeie aand vir my nie. Die fokken wasmasjien se pyp het besluit om sy greep op die lewe te verloor en ek het vir twee ure gestaan en ys fokken koue water uit die kombuis ge-squeegee.

Kaalvoet.

In die winter.

My voete lyk soos blouerige pruime en my moer is goed fokken suur.

In any case, hier is die vierde aflewering in wat uitdraai om ‘n baie tragiese fokken verhaaltjie te wees.

Julle sal my verskoon, ek gaan kyk of ek die tone wat afgebliksem het van die frostbite kan gaan optel voor die brak die fokken goed staan try en vreet.

Once,

Bert.

 

Ps) Ja ek weet my spelling is up to shit. Net vir die rekord. Ek maak darem op daarvoor op anner maniere.

 

B.

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

Deel 4

 

 

Ek weet. Ek antwoord nie al jou vrae soos jy graag wou gehad het nie. Dis ook nou eintlik nie my skuld dat jy nou met meer vrae as antwoorde staan en stoei nie. Reg aan die begin van die ding het ek gesê ek sal jou die hele ding vertel. Die waarheid. Nie een of ander koerantman se idee van wat gebeur het nie.

 

Soms los die waarheid ons maar eenvoudig net met meer vrae as antwoorde. Ek is nou al ‘n ou man en as ek in my eie lewe niks anders geleer nie, weet ek darem een ding. Die waarheid maak jou nie altyd vry nie.

 

Vir party is die waarheid meer ‘n kruis as ‘n toevlug. Hoe dit ookal sy, dit het vir Hermientjie en Piet-Broekies nie veel gehelp nie.

 

Verkrag en verniel deur ‘n duiwel in ‘n treintrok, steeds in skok, het Piet-Broekies vir Hermientjie in sy arms geneem en vir amper tien myl gedra. Alhoewel sy moedig van die trok afgespring het toe die trein stadig ‘n stasie iewers oppad Nelspruit toe ingestoom het, was dit vinnig duidelik dat sy nie veel verder sou kon gaan op eie krag nie.

 

Langs ‘n stofpad het hulle gestop. Haar bene het onder haar pad gegee en sy het gaan sit op die skouer van die pad. Piet het die forseerde ruskans gebruik om die drie tasse se inhoud oor te pak in die grootste van die versameling, waarna hy sy kruisbande afgehaal het en so ‘n rugsak van die koffer prakseer het. Die leë bagasiestukke is in die langgras weggesteek en met die bonkige ding op sy rug het hy Hermientjie se hand geneem en haar opgehelp.

 

“Kom, ek dra jou” het hy stilweg gesê en haar in sy arms getel. Elke twintig minute het hy haar neergesit en gerus vir tien. Deurentyd het Piet-Broekies vir Hermientjie vertel van hulle toekoms en hoe hulle eendag ‘n groot vrugteplaas in die laeveld sal besit. Soms het sy gesnik, soms net stil voor haar uitgestaar. Piet het aangehou om haar te dra, selfs na die pyn in sy bene, rug en arms hom na sy asem laat snak het.

 

Na vier ure het hulle op ‘n afdraaipad afgekom wat te kenne gegee het dat daar wel lewe in hierdie vreemde dorheid was. “Kromruggens” het Piet die plaas se naam hardop gelees. Alhoewel hy nie vreeslik geskool was nie en die idee van ironie vir hom vreemd was, het hy steeds ‘n skewe glimlag gegee en gedink aan sy eie rug wat seker ook nooit weer na dese reguit sou wees nie.

 

“Ons sal hier êrens moet stop vir vandag” het hy vir Hermientjie gesê en haar weer neergesit sodat hy sy stram ledemate ‘n rukkie kon rus. Piet het langs haar in die sand gaan sit en ‘n pak Springbok sigarette en ‘n dosie vuurhoutjies uit sy hempsak getrek. Die eerste trek van die sigaret het hom effens laat hoes en trane na sy oë gebring. Hy kon nie onthou wanneer laas hy gerook het nie. Seker omtrent twee dae gelede, het hy probeer onthou. Op die voorstoep, daar waar pa sy pyp gesit en uitkrap het en hom uitgevra het oor die hele ding met die burgermeester en die se dogter.

 

“Ek is lief vir haar, pa” het hy toe gesê en elke woord bedoel. Die ou man was stil vir ‘n rukkie en het verby die erf se heining, straat-af gestaar na waar Horowitz besig was om sy winkel se stoep te vee. Na ‘n tyd het hy sy hand op sy enigste seun se knieg laat rus. “Laat staan eerder, Pieta” het hy toe gesê en die hartseer in sy oë was iets wat die jong man nooit van tevore gesien het nie.

 

“Ek en jou ma was ook so gewees, weet jy. So… so teen die grein in. Op die ou end het dit ons meer gekos as wat enige mens moet betaal. Netta, jou ma, het haar pa gaan begrawe sonder om ooit met hom vrede te maak.” Hy het sy pyp uitgeklop en weer stadig begin stop. “Dis ‘n pyn wat mens nie moet dra nie, seun. Laat staan eerder…”

 

Piet-Broekies het toe ‘n sigaret opgesteek en in die stilte tussen pa en seun die stelling sit en oorweeg. “Sou pa dinge vandag anders gedoen het?” Die vraag was skielik en direk. Piet senior het vir ‘n oomblik niks gesê nie en dit het gelyk asof hy die vraag nie gehoor het nie. Net toe sy seun die vraag wou herhaal, draai hy sy kop na hom toe en knip sy oog stadig. ‘n Duiwelse glimlag het hom weer jonk en sonder sorge laat lyk. “Nie vir al die Mielies in Krom-Klaas se lande nie, my seun. Vir niks nie.”

 

Hy het saggies gelag en opgestaan. “Die liefde is ‘n snaakse ding, boetman” het hy oor sy skouer gesê terwyl hy voordeur se kant toe begin stap het. “Jy hoef hom nie altyd te staan en soek nie, want soms kom soek hy jou.”

 

Dit was moeilik om te dink dat dit net twee dae gelede was. Piet se hele wêreld, sy hele lewe het verander in ‘n saak van ‘n paar uur. Dat hy haar steeds liefgehad het, daaraan het hy nie getwyfel nie. Dit was die res van alles waroor hy gewonder het.

 

“Piet” het haar stem hom skielik terug gebring na die hede en die stofpad voor hulle. Dit het begin skemer word en hy was nie eens seker waar in die wye land hulle was nie. Skuins neffens Kromruggens, het hy homself herhinder en vir Hermientjie ‘n glimlag gebied.

 

“Dankie, Piet” het sy gesê en sy gesig tussen haar hande geneem. Haar lip was geswel en die soen wat hulle gedeel het was stadig en versigtig. Haar hand het oor die sny op sy kopvel geskuif en hy het ‘n vinnige asem ingetrek. “Jy lyk vreeslik” het sy toe gesê en probeer glimlag.

 

“En jy lyk net so mooi soos altyd” het hy geantwoord. Die swelling om haar oog het begin sak en hy was seker dit sou nie toeswel nie, alhoewel dit verseker blou en gekneus sou bly vir ‘n geruime tyd. Haar hande het instinktief na haar hare gegaan en sy het probeer om die wilde bos rooi reg te druk.

 

Op die horison kon hulle sien hoe tyd die skemer vir aand begin verruil en Piet het weer opgestaan, die tas met kruisbande en al weer op sy rug geskuif en sonder ‘n woord sy hand na haar uitgesteek. Sy het haar eie in syne geplaas en met ‘n langmoedige steun het hy haar opgetel en begin dra in die rigting van Kromruggens se opstal.

 

Hulle sou die aand in ‘n skuur deurbring. Daar sou Gert Dippenaar hulle die volgende oggend vind, half verkluim en baie styf en seer. Dit sou vir hulle almal, veral vir Gert Dippenaar, beter gewees het as Piet en Hermientjie daardie aand net daar langs die stofpad kamp gemaak het.

 

Maar daardie aand het Hermientjie in sy arms aan die slaap geraak en haar hare het vir hom soos somer en son geryk. Koud, honger en seer soos hy was het Pieter De Bruyn gesukkel om enige tyd te onthou waarin hy gelukkiger was.

Hermientjie – Deel die Derde (Graphic)

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

Naand vriende,

 

Ek post maar vanaand bietjie later want ek weet party mense het kinners en huffels en suffels. Die derde deel van Hermientjie se storie is nie so mooi nie, en party mense mag dalk upset raak en such.

 

Dis definitief nie vir kiddies nie.

 

Ek is jammer dit moes so uitloop, maar dis glo wat gebeur het.

 

Groetnis julle,

 

‘n Hartseer Bert.

 

 

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 3

 

Dominee Verster het probeer om ten alle tye ‘n regverdige man te wees. ‘n Dienaar van God en medemens in woord en daad. ‘n Kenner van die mens se siel en die kruis van sy sonde. Met die sonde was Dominee Verster dan ook noodwendig baie bekend.

 

Hy was die seun van ‘n polisie sersant op die Rand se goudvelde. ‘n Man wat bedags wet en geregdigheid onderhou het en snags te veel gedrink en dan sy vrou, ‘n sieklike mensie wat jonk oud geword het, rondgeklap en eenmaal selfs in die maag geskop het toe sy swanger was met wat jong Dirkie Verster se kleinsus moes geword het.

 

Toe sy ma gedurende die kraam die lewe verlaat het, en sy pa besluit het om sy eie nuttelose bestaan in die polisiestasie se perdestalle met behulp van ‘n stuk tou te beëindig, het die kerk klein Dirkie ingeneem. In die weeshuis waar hy groot geword het, sou hy alles van God die perfekte Vader leer en sodoende sy lewe aan die kerk wy.

 

Al hierdie feite was algemene kennis in die groter Sannies Herberg distrik, siende dat Dominee Verster gereeld gedurende sy preke terugverwys het na sy eie gebrekkige kindertye. Soms was dit gedoen om die sondaars te laat weet dat hy hulle sonde verstaan, soms om die ryk lidmate te herhinder aan watter goeie werk die kerk doen en soms om aan die ontevrede lidmate uit te wys hoeveel erger hulle bestaan kon gewees het.

 

Dominee Verster was ‘n man vir alle seisoene en ‘n geliefde leraar in die distrik.

 

Daarom was dit ook nie regtig verbasend dat dit juis hy was wat besluit het om Hermientjie weg te stuur na die skool vir meisies in Pretoria nie. Sy edele Meneer Beukes het eers sware protes teen die voorstel gelewer, maar is vinnig deur Dominee Verster stil gemaak.

 

Dit sou beter wees vir almal, het die leraar aan sy burgermeester verduidelik. Die kind sou na ‘n goeie skool sonder seuns en weg van Pieter De Bruyn gaan, Dominee Verster sal nie nodig hê om na Juffrou Cornelius of enigiemand anders se gesanik oor die kind se nuutste wonde te luister nie en haar pa, sy edele Meneer Beukes, sal nie aand Sersant Meyer hoef te verduidelik hoekom sy kind nie kan sit en sukkel om te loop nie.

 

Die laaste punt het Paul Beukes tot nuwe insigte geroep en hy het langsaam ingestem om Hermientjie stad toe te stuur om daar haar laaste jaar van skool te voltooi.

 

Min het die twee egter geweet dat Hermientjie en Piet-Broekies ander planne gehad het vir hulle toekoms.

 

So het dit toe ook gebeur dat Piet weer een nag, skuins na twaalf, skelmpies aan haar kamervenster kom timmer het. Die ruit het oopgeskuif en sonder woorde het Hermientjie twee tasse vir hom aangegee voor sy self met moeite deur die oopte na vryheid gevlug het. Die klim en klouter het die wonde op haar boude weer laat bloei en haar nagrok het vasgeplak teen die klam oppervlakte. Sy het ‘n effense gesig getrek, maar in die maanlig was Piet onbewus van haar ongemak en het haar saggies aangemoedig om gou te maak.

 

Soos twee spoke het die twee die hoofstraat af gestap in die rigting van die treinstasie sowat twee myl buite die dorpie, reg langs Oom Krom-Klaas se meule. Toe die koue te veel begin pla het Piet sy baadjie, gelap soos dit was, oor Hermientjie se skouers gegooi en moedig voort gestap. Sonder enige woorde of onnodige geraas het hulle die dorp met sy erfies en honde agtergelaat en langsaam die stasie se werf betree.

 

Piet-Broekies, wat al een maal van tevore skelm trein gevang het saam met sy oom toe die se vrou siek was, het sy plan vlugtig aan Hermientjie verduidelik.

 

“Die stasiemeester ondersoek nie elke trok nie. Nie hierdie tyd van die aand nie. Veral nie in hierdie koue nie. Ons sal in die derde trok van agter gaan wegkruip onder een van die bokseile. Ek het klaar uitgevind. Hierdie trein word eers op nelspruit se stasie afgelaai, maar hy stop in Waterval Boven, seker om water of kool te laai. Ons sal daar afspring…”

 

Die idee van spring het Hermientjie effens gepla en sy het ‘n onsekere hand oor haar stukkende boud laat gly. Piet het haar hand ander hand liggies in syne geneem en dit styf vasgehou. “Jy weet ek is lief vir jou, Hermientjie” het hy die onnodige belydenis afgelê. Sy het net stil geknik en sy hand ‘n bietjie stywer vasgehou. Vyf minute later het hulle binne-in die treintrok gevind, versteek agter ‘n stapel kratte.

 

Teen die tyd wat sy edele raadslid Paul Beukes oor die wasbak in sy kamer gebuk het om die nag se stoppel van sy gesig te krap was die paartjie al vêr weg van Sannies Herberg en die hartseer wat daar gewoon het.

 

Teen sewe uur die oggend het Piet sy koffer oopgeslaan en met biltong en kaas vorendag gekom. ‘n Meer romantiese ete sou die twee nooit weer deel as daar op die ruwe houtvloer, in die halflig van die treintrok en hulle vryheidsvlug nie. Halfpad om ‘n mondvol kaas en droë vleis het Hermientjie na die dowwe glans wat sy in die hoek van Piet se koffer opgemerk het gewys. “Is dit ‘n geweer?” het sy half verbaas gevra.

 

“Jy kan seker so sê” het Piet-Broekies net gegrinnik. “Dis ‘n rewolwer wat my oorlede oupa vir my gelos het in sy testament. Ek dra sy naam, jy sien…” Hy het die hoek van ‘n hemp oor die skiet-yster getrek en haar liggies op die wang gesoen. “Ons moet seker probeer om ‘n rukkie te slaap. Dit gaan ‘n lang dag wees…” Met die woorde het hy opgestaan en na die vêr kant van die trok beweeg, opsoek na iets sag om mee bed te maak.

 

Hermientjie was nog besig om ‘n stuk biltong te kou toe sy Piet se verbaasde kreet hoor gevolg deur ‘n harde geluid hoor, soos ‘n swaar sak wat op die lanke van die trok land, bo die rammel klank van die wiele op die spoor. In die skemer het sy haar pad probeer vind na waar hy om die stapel kratte verdwyn het om te kyk of hy dalk per ongeluk iets omgestamp het.

 

“Pieta, is alles reg?” In die lig wat deur ‘n kraak in een van die houtmure geskyn het, het sy Piet gesien lê. Daar was ‘n stuk plank langs hom op die vloer en ‘n donker kol het stadig om sy kop begin vorm. “Piet! Liefie!” het sy verskrik uitgeroep net voor die growwe hande om haar middel geval het en haar terug geruk het teen een van die kratte agter haar.

 

Die man wat haar in sy greep gehad het was sterk en sy vingers het in haar vlees ingeboor soos ‘n ystersmit se tange. “Eina! Jy maak my seer! Los my!” Sy het probeer stoei maar het net ‘n vuishou teen die kant van haar gesig gekry vir haar moeite. Stuierend het sy probeer regop bly, maar die skok om Piet-Broekies op die vloer in sy eie bloed te sien lê, saam met die skielike verskyning van die vreemdeling en die hou teen die kop was te veel vir haar. Haar bene het begin wankel en sy het self vloer toe gesteier.

 

Die vreemde man se hand het haar hare beetgekry en haar gesleep na ‘n wye paadjie tussen die vraghouers. Daar het hy haar op die vloer neergegooi en haar bene oopgedruk. “Ja, lekker jonk, nê” het hy gegryns. Sy asem het na suur wyn en vullis geruik en selfs in haar beswyming het sy geproe hoe die bitter gal agter in haar keel begin opstoot. “Ek hou van hulle jonk” het die man saggies gegiggel terwyl hy sy gordel haastig losgemaak het en een hand onder haar dun nagrok, wat sy steeds gedra het, opgestoot.

 

Die bekendheid van die vuur en pyn wat haar sekondes later gevul het, het haar weer gedeeltelik tot haar sinne gebring. Weer het sy probeer stoei om onder haar aanvaller uit te kom. “Lê stil, jou slet!” het die man bo haar gekreun en haar moeite beloon met ‘n plathand teen die wang voor hy die voorkant van haar nagrok oopgeskeur het.

 

Dit het vir Hermientjie gevoel asof haar aanvaller haar van binne af stukkend ruk. Sy hande was skurf teen die gesonde vlees van haar jong borste. “Nee, papp! Asseblief nie weer nie!” Die histerie in haar stem was verlore tussen die geraas van die lopende trein. “Ek is jammer, papa!” het sy gegil. “Ek sal nie weer nie, ek belowe…” Haar rou snikke het die man net lank genoeg laat stop op een vuil hand oor haar mond en neus te druk.

 

“Ek is nie jou pa nie, jou klein teef!”

 

Die stamp teen haar onderlyf, deur haar siel, het weer met erns begin en die man se gekreun het al hoe harder geword. Sonder suurstof en vlou van skok en angs het die wêreld om haar begin swart word. Die laaste ding wat sy sou onthou is Piet-Broekies, sy oupa se rewolwer in die hand, wat uit nêrens langs die man te voorskyn gekom het. Deur die gebreekte lig van die hortjiesdeur kon sy die sny teen sy kop sien waar die plank hom laat val het. Die bloed wat oor sy gesig gesmeer was het haar herhinder aan die prentjie van ‘n demoon wat sy eens in ‘n boek gesien het.

 

“Jou vuil bliksem” het hy in ‘n droë stem gepreuwel. Die man bo haar het verbaas sy kop na hom gedraai. Daar was die plat en amper onbelangrike knal van die skoot, die skielike flits helder lig en die reuk van swael en bloed. Die onmiddelike gewig van die man se lyf bo-op hare. Daarna, net duisternis.

 

Sy het later wakker geword in Piet se arms, die sonrokkie waarmee hy haar aangetrek het besmeer met bloed. “Ek moes dit doen, my engel” het hy eenvoudig gesê. Sy het verby hom gekyk na waar die duiwel se voete van uit die paadjie tussen die kratte gesteek het. Sy een skoen was nie meer aan sy voet nie, en sy het na die voorwerp gestaar asof die antwoord vir wat met haar gebeur het dalk op die deurgeloopte sool geskryf was.

 

“Ek is lief vir jou” het Piet eenvoudig en herhaaldelik gesê terwyl hy haar heen en weer gesus het. Die trane het eers stadig gekom, die snikke stil-stil. Toe die damwal bars het al die jare se pyn en smart uit haar geloop soos uit ‘n abses wat stukkend gemaak was. Sy het Pieter alles vertel, en in die donkerte van die treintrok oppad laeveld toe het sy oë vreeslik geraak.

 

En daarmee was die twee van hulle vort, met ‘n paar tasse, ‘n ou rewolwer, dertien pond se spaargeld en ‘n dooie boemelaar wat die spoorweg polisie later sou vind. Soveel het die koerante ons ook later vertel, en daaroor was hulle ten minste reg.

 

Wat die koerante nie gedeel het nie, is dat Hermientjie weg is uit Sannies Herberg met meer as net ‘n klompie klere en die man wat sy liefgehad het. Sy het ook ‘n vreeslike geheim saam met haar gevat.

 

As ek nou oor die hele storie terug dink, dan wonder ek of dit nie die geheim was wat die twee se doodsteek was nie. Want sien, in ‘n plek waar almal alles van jou weet is daar niks wat iemand nie sal doen om sy geheime vir homself te hou nie. Sy edele, raadslid Paul Beukes, was ook geen uitsondering op die reël nie.

 

 

 

Hermientjie – Deel die Twede

Junie 27, 2010 in Sonder kategorie

Dag mense,

 

Hier is die twede deel van die vervolgverhaal waaraan ek sit en tik.

 

Die storie vloei omtrent so maklik soos melasse in die winter, so as daar foute en dinge is, be nice en ignoreer dit maar net. Ek kon op skool ook nie spel nie, and the more things change…

 

So hier is deel twee. Hoop julle smaak dit darem ‘n effe.

 

Groetnis en goodness,

 

Bert.

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 2:

 

So het Hermientjie regtig daardie man vermoor het? Die antwoord daarop is nie so eenvoudig nie. Dis meer ‘n nee as ‘n ja, maar dan weer is dit ook meer ‘n ja as ‘n nee.

 

Ja, ek weet dit klink deurmekaar en sonder veel sin, maar gee my nou eers kans om terug te kom by hoe die twee van hulle by daardie verskriklike dag uitgekom het. Die oordeel van enige daad kan net ordentlik gemaak word na mens al die oorsake daarvan goed beloer het.

 

Was Hermientjie en Piet-Broekies die koudbloedige skurke wat die koerante en radio ons van vertel het? Hierop kan ek verseker sê ek weet nie. Wat ek wel weet is dat die twee van hulle jonk en verlief was. Bloedjonk en smoorverlief.

 

Nou toe dan. Soos meeste jong verliefdes op klein dorpies was die twee se romanse ook passievol, stormagtig en so vêr as moontlik ‘n baie geheime ding. Snags uit die huis sluip wanneer hulle ouers slaap het ‘n vasgestelde roetine vir die twee geword en onder die sterre, langs die stroompie wat skuins deur die dorp geloop het, was die planne van enige jong paartjie gesmee en geslyp. Briewe en skelm gebaartjies was in vlugtige verbygang gedeel. Soene is gesteel agter die skoolsaal en stadsaal. Agter die kerk en selfs in die kerkhof.

 

Dit het ook dan nie baie lank gevat voor die twee begin planne maak het om die stof van Sannies Herberg van hulle skoene af te skud en ‘n eie lewe êrens vêr weg te begin nie.

 

“Ek dink ons moet Nelspruit se rigting gaan” het hy haar een aand laat vertel terwyl hulle hand aan hand deur die veld gestap het. “Ek kan daar op een van die plase gaan werk en jy kan dalk vrugte pluk of pak. Dan kan ons elke dag saam wees, sonder om so hoef rond te sluip…”

 

Haar oë was groot in die sterrelig toe sy opkyk na hom. “Sal jy, Pieter?” Haar arms het om sy nek gevou. “Sal jy my hier wegvat? Weg van die skool en die kerk en die stofstrate en die… die… en my pa?” ‘n traan het teen haar wang afrgerol. Daar was iets agter haar oë wat hom laat dink het aan die hond wat hy die slag moes skiet na die trekker oor sy onderlyf gery het. Rou pyn en vrees, gemeng met ‘n stille pleit vir genade en verlossing.

 

“Natuurlik!” Sy lyf het weer daardie trotse houding aangeneem wat haar altyd verbaas het. Dit was soos een wat sy oorbaadjie uittrek en lyk soos ‘n ander mens. “Jy’s mos myne” het hy stilweg geantwoord en sy gesig na die hemel gedraai. “Vir altyd, nês die sterre…” Sy het arms om sy nêk gevou en hom gesoen. In die donker, langs die stroom, met die ou wilgerboom as getuie het hy haar terug gesoen, salig onbewus van die paar judas-oë wat die twee van hulle goed onder blik gehou het.

 

As sy edele, Meneer Beukes enigiets van die ontmoeting geweet het, het hy dit nie voor die einde van Maandag se skooldag te kenne gegee nie. Nie eens gedurende gebed en opening het hy enigiets laat val wat Hermientjie snuf in die neus sou gee nie.

 

Soos tradisie en roetine bepaal, was elke skooldag afgesluit met aankondigings en gebed, net voor die tweedosyn helsems van wisselende ouderdomme vrygelaat was op Sannies Herberg se inwoners. Die Maandag was egter anders. Meneer Beukes het vir Johannes Vos, ‘n niksbeduidende lat omtrent ses maande jonger as Hermientjie, na vore geroep waar die seun ‘n verhaal so reg uit enige goedkoop hyg-roman sou staan en vertel.

 

“Jongeheer Vos, kan u asseblief na vore tree?” Meneer Beukes het die rol van aanklaer gereeld ingeneem en die hele klas het reggeskuif. Die skuldiges reg om straf te ontvang, die onskuldiges reg om die opwinding en sensasie van die verhoor te geniet. Hierdie moes regtig ‘n groot sonde gewees het, het meeste van hulle gereken. Verhore word gewoonlik vir Vrydae gebêre, en was amper ongehoord op ‘n Maandag waar ‘n hele week van spot en skande vir die arme bandiet sou voorlê.

 

Johannes Vos, seun van ‘n volksverraaier, het opgestaan en sy bril reggeskuif voor hy met ‘n selfbelangrike stappie na die voorkant van die klas gestap het.

 

Meneer Beukes het met gevoude arms voor die klas begin op en af loop, baie soos die tier wat Hermientjie gedurende die enigste skooluistappie van haar lewe by die dieretuin in die stad gesien het. Sy het ‘n simpatie vir daardie groot, gevaarlike dier gehad wat sy nooit haar pa kon toeskryf nie. Vir haar het die tier ‘n soort hartseer met hom saamgedra wat hom minder gevaarlik en meer tragies gemaak het. Haar pa aan die anderkant het geen hartseer of selfverwyt of enige ander emosie wat hom swakker sou laat lyk het, vertoon nie. Hy was alles wat die gestreepte kat in die hok was, maar ook nie was nie. Hy was net gevaarlik, sterk, gewetenloos en brutaal.

 

“Vertel die klas wat jy Saterdagaand langs die spruit gesien het!” skree Meneer Beukes so skielik dat die hele klas in hulle banke hop van skok. Hermientjie voel hoe haar knieë begin bewe en ’n koue straal water teen haar rug afloop. Hulle weet, het sy gedink. HY weet.

 

 

“Meneer Beukes, klasmaats…” Klein Johannes, wat van kleins af ‘n streek vir drama gehad het, het sy kop laat sak en dit stadig heen en weer geskud. “Ek is nie seker of ek julle moet skok met ‘n vertelling van die sonde van die vlees wat ek Saterdagaand langs die vlei gesien het nie.” Party van die ouer meisies agter in die klas het begin bloos en agter hulle hande gegiggel. Meeste van hulle kon getuig dat Johannes Vos geen vreemdeling was met die sondes van die vlees nie. In ‘n klein dorpie is daar maar min keuse vir afleiding en ‘n jong man met ‘n gladde tong en oop beursie het nie te sleg vir homself gedoen nie.

 

“Stil!” Die woord het van Meneer Beukes se mond ontplof en selfs die voëltjies wat in die ou maroelaboom buite die sinkgeboutjie gesit het, het besluit dis dalk beter om pad te vat. “Gaan voort, jongeheer Vos” het Meneer Beukes in ‘n sarkastiese stemtoon gesê. “Vertel die klas wat dan op die spesifieke Saterdagaand gesien het langs die vlei.”

 

“EK het vir Piet-Broekies gesien stap saam met iemand” het Vos gesê. “Daar langs die spruit onder die wilgers, waar die water ‘n draai maak in die rigting van Oom Krom-Klaas se plaas.” Hy het weer met sy bril se raam gelol voor hy aangegaan het met sy vertelling. “Ek het toe gewonder hoekom Piet-Broekies so laat die aand saam met iemand langs die vlei sou gaan stap en het besluit om hom te gaan vra of alles pluis is, of dan nie…”

 

Hermientjie, wat sovêr goed daarin geslaag het om haar emosies onder beheer te hou, het stadig haar kop in die rigting van haar pa gedraai, ‘n stille pleit in haar oë. Die ou man het geen erkenning gegee dat hy haar gebaar gesien het nie en het eenvoudig terug gedraai na haar klasmaat wat in tussentyd stil geraak het. “En was alles toe pluis met jong Pieter en sy geheimsinnige metgesel?”

 

“Nee, Meneer Beukes” antwoord die seun met ‘n swak verborge glimlag. “So op ‘n afstand het ek gesien hoe Piet en die vreemdeling staan en vryerig raak onder die bome. Van waar ek kon sien was die vent se hande aan’t vroetel op plekke wat ek nie regtig name voor het nie. Ek weet ook nie so mooi hoekom almal hom Piet-Broekies noem nie, want van waar ek gestaan het kon mens net kaal boude in die maanlig sien blink!” Met die laaste opmerking het absolute chaos losgebars in die skoolklas en Meneer Beukes moes herhaaldelik met sy rottang op die blad van sy lessenaar slaan om weer orde te kry.

 

“Is jy seker dit was Pieter De Bruyn wat jy gewaar het?” Meneer Beukes se uitdrukking was streng, sy rottang steeds in sy hand. “Ja meneer” antwoord Vos hom sonder om ‘n oog te knip. “En ek weet ook wie saam met hom daar was…” Die skelm glimlag is terug terwyl hy na die klas draai, sy arm uitgesteek, wysvinger reg om oordeel te vêl. Die vinger beweeg stadig oor ‘n groep meisies wat ook nie regtig met skoon gewete eendag in vlekkelose wit voor die kansel sou staan nie. Na ‘n paar benoude kyke beweeg sy vinger aan, verby die seuns in die middel van die klas en kom tot ruste voor Hermientjie se tafel.

 

“Dit spyt my meneer, maar dit was Hermientjie wat saam met Piet gesondig het langs die vlei.” Die grinnik wat oor sy gesig gesmeer was het haar herhinder aan sy woorde, drie maande gelede, nadat hy vir haar lekkers by die jood se winkel gekoop het en sy geweier het om saam met hom in Oubaas Wiese se skuur te gaan kuier. “Ek sal jou kry, Hermientjie. Al vat dit my vir ewig. Ek belowe ek sal jou kry hiervoor.” Vir haar het die tyd aangebreek, en drie maande het van waar sy gesit het soos ‘n kort ewigheid gelyk.

 

Meneer Beukes het nie geskok of ontsteld gelyk oor die openbaring wat die seun gemaak het nie. Hy het immers Sondag na kerk al gehoor van die storie, toe die seun saam met sy pa met hom kom gesels het. “Ouderling Beukes” het Vos die senior oor sy teekoppie se rand gesê. “Miskien moet die drie van ons ‘n draai gaan stap. My seun het iets wat hy u graag wil meedeel, en ek dink nie dit is vir ander se ore nie…”

 

Hermientjie se pa het die kennis in stilte verwerk, dit stadig omgeploeg en met die saad van woede beplant. Sterk van plan was hy om ‘n goeie oes te maak van die bedrog en leuens wat sy dogter aan hom voorgehou het.

 

Nou het hy eenvoudig ‘n vinger in haar rigting gedraai en haar nader gewink.

 

“Kom dogter” het hy aan haar voor die hele klas gesê. “Jy is skuldig en moet gestraf word.” Om haarself tee te sit sou net beteken dat sy meer gestraf sou word as wat die oubaas al reeds besluit het nodig was. Die les het sy geleer toe hy haar in die kombuis so hard met ‘n plathand geklap het dat haar een oor gebloei het en sy weke lank amper niks kon hoor met haar linker oor nie.

 

Hermientjie Beukes het daardie dag al haar moed en waardigheid om haar bymekaar gemaak en voor die klas, langs haar pa se lessenaar, gaan buk met haar hande op die lessenaar se blad.

 

Haar pa het eers met sy hand oor haar nek gestreel en iets in haar oor gefluister voor hy sy posisie langs haar ingeneem het en die rottang op haar boude laat val het. Twaalf houe later het haar hele liggaam geruk met teruggehoue trane. ‘n Dun rooi lyntjie het teen die agterkant van haar regterbeen afgeloop, tot waar dit agter haar knieg tot ruste gekom het.

 

 

Na die houe ophou val het, het sy na haar pa gedraai en ‘n bewende hand op sy wang gelê in ‘n openbare uitbeelding van emosie wat totaal onvanpas was op ‘n plek soos Sannies Herberg. “Ek is lief vir hom papa” het sy gesê, ‘n Traan wat teen haar wang afgeloop het, het voorop sy hemp gedrip. Dit was warm soos bloed, het hy gedink. “Nee jy is nie” het hy geantwoord. Die klas was stil. Die kinders het nog nooit so ‘n pak slae gesien of so ‘n drama beleef nie.

 

“Ek is” het sy saggies gesê en haar kop net hartseer heen en weer geskud.

 

Met vuur in haar oë het sy na Johannes Vos gedraai. “Jy het vandag gelieg, Johannnes” het sy eenvoudig gesê. “Ek en Pieter het gesoen. Maar dit was al en jy het gelieg. Jy sal jou beurt kry.”

 

Johannes Vos, wat net gejok het wanneer hy sy mond oopgemaak het, was onmiddelik in sy eer gekrenk en hoogs verontwaardig. “Ek lieg nie! Ek praat net die waarheid! Wat laat jou sê ek lieg?”

 

Sy het voor hom gaan staan en hom vierkantig in die oë gekyk. “Wat het jy dan Saterdagaand langs die vlei gaan soek, Johannes? Miskien vir Grieta Louw se skoene wat julle Vrydagaand daar laat lê het?”

 

Vos se oë was wyd met vrees. “Ek lieg nie, jou flerrie!” het hy benoud gegil. “Gaan haal vir Dominee Verster, dan sweer ek op die Bybel! Of is jy dalk te skaam om die kerk binne te gaan?”

 

Ek verstaan Johannes Vos het later ‘n advokaat geword en mettertyd selfmoord gepleeg weens sy aandeel in ‘n bedrogspul waarin die kerk van ‘n baie groot bedrag geld besteel was. Daar is maar altyd ‘n sekere hoeveelheid ironie in hoe die lewe se wiel staan en draai.

 

 

Word vervolg…

Hermientjie – Deel die Eerste

Junie 22, 2010 in Sonder kategorie

 

 

Jis, jis!

 

Wel, ek is weer in die skrywery van dinge in. Die simpel ou storietjie pla my nou al ‘n hele ruk en ek het besluit om dit te begin pen.

 

Sal dit hier neersit soos ek dit staan en optel. Laat weet maar of dit naais of kakkerig is. Een vir die taalpuriste.

 

Groetnis en goodness,

 

Bert.

 

 

 

 

Hermientjie – ‘n Vervolgverhaal

 

Deel 1

 

Gee my nou eers ‘n bietjie kans dat ek eers ‘n sigaret brandmaak en dalk nog ‘n koppie koffie kry, dan vertel ek jou die hele ding. Ja, reg van die begin af. Nie net die dele wat jy in die koerant gelees het oor die dinge wat die twee aangevang het nie. Nie net die lelike of slegte dinge wat hulle jou wil laat glo nie, maar die hele bondel wasgoed. Kompleet met bra en kruisbande.

 

Sien, mense wat nie altyd alles weet nie is geneig om maar die dele wat kortkom op te maak, of nog erger, die ander ou self die dele in te vul wat hy nie gedruk sien in swart en wit nie.

 

Ek dink in elke geval nie enigiemand ken die hele storie agter Hermientjie en Piet-Broekies se tydjie saam nie. Miskien het net hulle die hele waarheid, maar ek hoop steeds dat die dele wat ek ken miskien jou bedenkinge oor hulle laat oor bedink. En dalk verstaan jy dan beter hoekom dinge so uitgeloop het soos dit het.

 

Maar wag, voor ek nou weer staan en kar voor die perde inspan. Die beste plek om te begin is seker nie by Hermientjie of by Piet-Broekies nie, maar eerder by Sannies Herberg, ‘n Godsverlate klein plekkie op die vlaktes, presies geleë tussen niks en nêrens. En ook by meneer Beukes, skoolhoof van die algemene skool op Sannies Herberg.

 

Kyk, ek reken nie vir een oogknip lank dat dit lekker of maklik is om groot te word op ‘n plattelandse dorpie skuins anderkant die aarde se rant nie. Ons mense wat in die stad bly dink dalk daaraan met ‘n tipe nostalgie wat dit nie regtig toekom nie. Seker maar oor ons droom oor ‘n plek waar jy binne drie minute by jou werksplek kan wees, en waar almal mekaar op straat groet. Min van ons oorweeg die ander kant van die saak, die deel waar almal jou groet op straat omdat almal jou ken. En ek bedoel nie net weet wat jou naam is nie, maar weet van al jou suksesse en foute. Al jou regkom en al jou aansukkel, al jou liefde, al jou haat asook alles tussenin.

 

Net so het almal Hermientjie ook geken. Miskien selfs beter as wat hulle die dorpie se ander kinders geken het, omrede sy die skoolhoof en burgermeester, sy edele raadslid Meneer Beukes se enigste kind was.

 

Almal wat Hermientjie geken het, en soos ek vroeër probeer verduidelik het was dit maar die hele ou dorpie, het geweet sy was nou maar eenmaal net anders.

 

Sy het in haar ‘n dwarstrekkerige streek gehad. Stroom-op.

 

Want dit was mos Hermientjie Beukes gewees wat die dominee gevra het hoekom babas gedoop moet raak en nie wanneer hulle grootmense is wat dan sal verstaan hoekom hulle koppe natgegooi moet raak nie.

 

En was dit dan nie ook Hermientjie wat ou Horowitz die jood wat die winkeltjie in Kerkstraat gaan staan en vra het hoekom hy nie na die dorp se krismispartytjie toe wou kom nie? En wat van daai slag toe sy vir Danie Vermaak, hotel eienaar en bottelstoor baas gevra het hoekom hy nie goed genoeg is om diaken te wees nie, al is hy goed genoeg om almal in die kontrei se dorste te les?

 

Ja, die kind was maar net anders. Eiewys, soos soveel van die selfbelangrike henne op die dorp van haar geskinder het. Baie soos haar oorlede moeder, sou hulle oor teekoppies en koeksusters byvoeg. Maar by Annemarie Beukes sal ons wel later uitkom. Alles op sy tyd.

 

Ek reken vandag dit was seker maar daardie juiste dwarsheid wat Hermientjie laat besluit het om maar self vir Piet-Broekies te vra of hy saam met haar wil gaan na die nuwejaars dans toe. ‘n Ding wat sy dalk gedoen het uit jammerte vir die knaap, maar dalk ook om haar pa goed die verkeerde kant toe te staan en opvryf.

 

Hoe dit ookal sy, die ou man was minder genoeë met die idee. Inteendeel, sy edele was in ‘n woord goed de bliksem in oor sy dogter se sletterige voorbarigheid. En wanneer sy edele Meneer Beukes kwaad geraak het vir sy kinders, sy eie én die distrik s’n wat op sy skool se banke gesit het, dit gevoel. Die merke van sy regssinnigheid was gereeld op Hermientjie se bene te sien nadat haar vader die bybelse roede ingelê het.

 

Die vra van Piet-Broekies na die dans toe was dan ook nie anders nie, en selfs al het hy haar drie keer laat deurloop en vier keer verbied, het sy geweier om die idee te laat staan. Was dit nie vir Juffrou Cornelius van die sondagskool wat by Dominee Verster gaan kla het en hy met die ou man gaan praat het nie, sou hy sekerlik ook nooit toegegee het nie.

 

“Maar dominee, ek het nie ‘n probleem dat hy die kind voeter nie. Ek het net ‘n probleem dat hy haar soos ‘n staatsdonkie staan en bliksem!” Juffrou Cornelius, ‘n oujongnooi van amper twee-en-veertig, wat nooit gevloek het nie en die toonbeeld van kalmte was het gelyk of sy dalk beroerte gaan kry.

 

“Suster!” Die dominee was baie duidelik tot in die diepte van sy baie diepe siel geskok om haar woorde in die kerk se kantoor te hoor. “Sit ‘n wag voor jou mond!” Juffrou Cornelius het net haar kop laat hang en ‘n verskoning gepreuwel. “Maar jy het gelyk, suster. Die kind skuifel heel preek lank rond op haar gekneusde fondament. Niemand kan so aandag gee aan wat die Here hulle wil leer nie…”

 

Sy hande, wat besig was om pyp te stop, het vuur tot twak gelig en na ‘n paar trekke het hy die rookstuk in die hoek van sy mond geprop, sy hoed op sy kop gedruk en deur die deur gekoes. Buite het hy sy neus in die rigting van die stadsaal gedraai en met sy burgermeester gaan gesêls.

 

Wat in daardie gesprek gesê was weet ook niemand, behalwe miskien vir mevrou Niemand, die stadsraad se teedame wat na sy koppies ingedra het besluit het om die boekrak reg buite die hoof raadslid se kantoor af te stof. Selfs al het sy geweet wat gesê was en of die twee regtig op mekaar geskree het of nie, het sy nooit oorvertel nie. Amper veertig jaar na haar afstorwe is dit ook maar een van daardie dele van die storie wat jy vir jouself moet invul.

 

Maar hoe dit ookal sy, Hermientjie se pa het na daardie gesprek met die dorp se leraar toegegee. Sy is toe na die nuwejaars dans toe saam met Pieter De Bruyn, beter bekens as Piet-Broekies. Al was dit in ‘n ou rok en sonder skoene en heeltemaal teen sy sin, het sy toe tog gegaan.

 

Van die geneukery, familietwis en dominee se ingrype sou arme Piet eers heelwat later uitvind. Ek reken dit sou seker beter gewees het as hy dit, en ander dinge, dalk eerder nooit gehoor het nie. Ek reken ook meeste ander mense sal vandag, na alles wat gebeur het, met my saamstem. Maar moet nou nie die storie vir jouself staan en klaarmaak nie. Wag laat ek jou eers ‘n bietjie meer van Piet ook vertel. Dis belangrik dat mens al die kante van die storie eers goed bekyk voor jy staan en oordeel oor wie en wat en hoeveel en waarom.

 

Soos Hermientjie Beukes dag was, so was Pieter De Bruyn nag. Soos wat Hermientjie die onverwagste suur van ‘n wildeperske was, so was Piet-Broekies die alledaagse, bekende room bo-in die melkemmer. Skaam en teruggetrokke sal seker nie verkeerd wees om hom mee te beskryf nie, maar dan weer ook nie heeltemaal reg nie. Nie regtig genoeg nie. Mens-sku is dalk nader aan die waarheid, maar dan weer dalk ook te oordrewe. Piet was maar net wat Piet was. Stil. Skaam. Altyd in die agtergrond. Altyd in die kerk. Altyd by die skool. Altyd reg om te help, sonder om ooit hulp aan te bied.

 

Dalk is die beste manier om hom te beskryf as mens hom vanselfsprekend noem. Die tipe mens wat jy maar elke dag net sien maar nie spesifieke aandag aan skenk nie. Jy weet alles van hom, maar daar is nie regtig veel om te weet nie. Hy is maar net daar, soos ou Phinias se dikwiel fiets wat altyd voor Horowitz se winkel gestaan het, tensy hy gaan aflewerings doen het.

 

Miskien is die enigste interesante ding wat mens van Piet-broekies kan vertel, is hoe hy sy bynaam gekry het.

 

Dit was met sy aanneming in die kerk, en hy het saam met sy klasmaats voor die kansel gestaan, geskrop en en geskuur soos ‘n nuwe pennie. Aangetrek in een van sy pa se ou pakke, hulle was nie regtig die rykste familie op die dorp nie, sy deurgeskuurde skoene gepoets tot hy sy eie onmerkwaardige gesig in die glans kon sien. En so gaan die dominee toe ook deur die lyste vrae waarop elke katkesant om die beurt moes antwoord.

 

“Hoe antwoord jy, Pieter Johannes De Bruyn?” het dominee Verster hom voor verantwoording geroep op een van die ernstiger stellings van die kerk se leëringe, en soos die duiwel of noodlot of dalk die Liewe Vader self beskik het besluit sy oorstyf gordel net daar en dan besluit om sy laaste greep op bruikbaarheid te laat vaar.

 

Daar staan Piet toe voor die hele gemeente met sy pa se broek om sy enkels, sy gesig bloedrooi en sy stem krakerig. “Ek… uh… ek moet broek optrek, dominee…” Die stilte in die kerk was ‘n swaar ding wat van daardie dag af Piet-Broekies se skouers laat kromtrek en sy kop geboë gehou het. En van daardie dag af het Piet sy bynaam gedra saam met die gordel en kruisbande wat hy gebruik het om sy broek ‘n half-duim onder sy ribbekas in plek te hou.

 

Nou ja dis hoe hy sy naam gekry het en hoekom Hermientjie, wat maar altyd ‘n snaakse nuk gehad het, hom dans toe gevra het. Nie net omdat sy haar pa wou kwaad maak of om Piet-Broekies te verneder nie, maar eerder omdat sy altyd ‘n jammerte in haar gedra het vir ander wat seer het. Soos wat mens sou hê vir ‘n vreemde brak met ‘n seer poot, of ‘n wilde voël met ‘n gebreekte vlerk.

 

‘n Snaakser paartjie het die nuwejaars dans seker nooit van tevore of ooit weer daarna gesien nie. Die lang rooikop meisie met die groe oë, gesonde jong lyf en die duiwel agter haar glimlag, en saam met haar die vaalseun met sy krom skouertjies en hang kop, sy broek elmboog hoogte vasgetrek en toegespan.

 

“Jy lyk mooi, Hermientjie” het hy vir haar gesê na die tweede dans, net na sy tong weer besluit het om te begin werk. Sy het vir hom ‘n warm glimlag gegee en sy hand ‘n vinnige druk gegee voor iemand anders die gebaar kon sien. Die uitwerking wat dit op Piet-Broekies gehad het was heeltemaal die teenoorgestelde van wat sy verwag het. In plaas daarvan dat hy rooier geraak het as wat hy klaar was en sy kop nog laer laat sak het, het sy skouers vir ‘n oomblik reguit getrek en sy kop gelig tot skuins bo haar eie. Vir ‘n oomblik was hy ‘n man en in daardie oomblik het sy die trotse lig in sy oë gesien en verlief geraak op hom. Op die man wat later so ‘n groot deel van haar toekoms sou bepaal.

 

Na die vyfde dans het sy oppad na die vrugtepons emmer vlugtig nader aan hom beweeg en vir hom die ses woorde gefluister wat sy lewe vir altyd sou verander. “Kry my oor vyftien minute buite…” En daarmee het sy van hom af weggedraai om met haar pa te gaan dans.

 

Wat later buite gebeur het sal ook net die twee van hulle weet, en die sal mens seker ook maar weereens moet raai. Ek verkies om te dink hulle het hande vasgehou en dalk onder die sterre hulle eerste soen gedeel, maar ek is ook al ‘n ou man wat maklik die vuur van die jeug se passie vergeet. Ek hou maar net stoor by Hermientjie en Piet-Broekies se ouers, en die kerklike opvoeding wat hulle altwee gehad het.

 

 

Word Vervolg…

Fokken tourettes- Vir Maankind

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

Liewe Maankind,

Om jou vraag te antwoord, ja.

In ‘n woord, ja.

Sonder verduidelikings of verskonings of die toesmeer van feite, ja.

Ek reken ek praat dalk anders as jy. Dis seker maar my reg. Almal het mos maar regte, of hoe?

Ek sê “fok” en “fokken” en “fokker” en “fokkit” en “fokkof” hardop in amper elke sin. Ek gebruik ook ander woorde, sommige wat jy seker nie eens sal erken nie.

Bo-op die het ek ook reekse, volumes vol ander slegte gewoontes wat ‘n kort humeur en swak spelling insluit.

Laat dit my skuldig, sleg of onopgevoed voel? Nee.

Praat ek so met my ouma? Nee.

Ek figure daar is geen punt om langs ‘n grafsteen te staan en laster nie. Maar dankie vir die sensitiwiteit van jou navrae.

Miskien praat ek nie regtig so anders as jy nie.

Miskien donner, fok, etter, moerskont en bliksem jy ook maar, nes enige regte mens. Dalk doen jy dit net daar waar niemand jou sien nie. Is nie my besigheid om te staan en raai nie. Dit sal my net buig tot dieselfde fokken boggeltjie wat jy moet saam dra.

Want sien, as daar nou een ding is wat my moer regtig pluk, dan is dit self aangestelde kopdokters wat mens probeer psycho-analyze, dan weeg en meet, net om met jou kort te vind. So asof aan jou die fokken reg gegee is om op my te staan en pyl trek met jou genadelose maatstaf van selfgeregverdigde beterwete.

Die wêreld is vol selfaangestelde Dr Phil wannabe’s en jy hoef regtig nie daai pad te stap saam met die menigde nie. Nie dat ek dink enigiemand moet regtig te hard probeer om soos daai doos te wees nie. Dis klaar half verkeerd dat die mensdom met een van hulle opgeskeep moet sit.

Anger issues? Dit sou half fokken snaaks gewees het as dit nie net so pateties hartseer was nie. In watter fokken land bly jy? Enigiemand wat nie met ‘n goeie dosis woede in die plek oorleef nie, doen dit net as gevolg van ‘n goeie dosis denial.

Ek is regtig jammer dat jy nie balans kan vind in die ratio van vloek en pitkos wat ek met die massas deel nie. Maar dan weer, ‘n blog is ook nie ‘n fokken Xen Garden nie, is dit?

In any case… Pitkos? Wat de fok? Het jy my dalk verwar met Farmer Brown? Jy weet, daai ou balsak van die TV jare gelede? “Hulle smaak so lekker, want hulle eet so lekker…”

Miskien het die ou man ‘n punt gehad, so op sy eie manier. So van die tweedeligheid van dinge en hulle oorsake.

Dieselfde kan seker van mense gesê word wat sommer net besluit om ander te staan en fokken oordeel omdat hulle jou nie kan leer ken uit ‘n blog (van alle fokken dinge) wat hulle self al reeds met ‘n groot rooi o-ja-dis-daai-ou-wat-so-vreeslik-vloek stempel geslaan het.

Miskien moet mens die teenstrydigheid van so ‘n aanmerking mooi staan en ontleed, of dan nou nie?

Is dit nie net die ou storie van die boek en sy omslag nie? Of dalk die pot wat die ketel verwyt? Of miskien eenvoudig net die keiser se klere…

Besluit maar vir jouself.

Ek dink in elke geval die groot vraag hier is nie of ek altyd baie vloek en dus nie regtig die intelektuele en filosofiese waarde weergee waarna jy smag nie.

Die vraag wat ons onsself eerder moet afvra is die…

Wil jy my regtig leer ken, of wil jy net jou eie frustrasies staan en uithaal op ander mense met jou pedantic fokken aanmerkings? En gaan ek enige slaap daaroor verloor either fucking way?

‘n Tand vir ‘n tand

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

Jy wou mos.

Jy’t ook mos net nie fokken ore nie, het jy? Enige oordentlike fokken mens sou die eerste keer verstaan wat ek vir jou gesê het, reg voor jy met jou kak staan en begin het.

Dit moes seker nie so gebeur het nie. Die Here weet ek wou dit nie so gehad het nie, en ek dink diep binne in jou wou jy ook nie hê dinge moet so eindig nie.

Dinge kon dalk nog reg gepraat word of verduidelik word. Selfs in stilte bepleit raak. Met handgebare of ‘n eenvoudige “sorry” agter ons gesit word. Maar toe kies jy mos om te lag vir my pyn. My te vertel ek moet probeer om ‘n man te wees. My probeer wysmaak dinge kon nie anders nie.

Maar my belofte aan jou was duidelik genoeg. As jy my seer maak dan gaan ek jou ook seermaak.

Of jy nou ‘n tandarts is of nie.

Dalk sal jy volgende keer beter luister, tjomma.