The more things change…

April 25, 2010 in Sonder kategorie

(‘n cut-n-paste storie oor ‘n cut-n-paste lewe)

 

 

“So dis dan nou maar dit?” Die vraag was onnodig. Ons altwee het die waarheid geken sonder om dit te staan en opjaag uit die lang gras van te veel sê en te min bedoel.

“Mens word mos maar anders” het jy gesê.

“Ja, seker maar” het ek gesmile en nog ‘n sluk gevat.

“Help nie mens staan en stry teen dinge wat jy nie kan reg stry nie. Maak nie saak hoe hard jy dit wil reguit hê nie, party dinge staan en trek in elke geval maar net skeef…” Miskien was die blink wat ek daar gesien het wel ‘n traan, of dalk was dit net die lig wat staan en reguit dinge skeef trek het in my eie kop.

“Ek het gister aan die plaasdam gedink” sê ek meer vir myself as vir jou, en skud nog ‘n sigaret uit die gekreukelde pakkie op die toonbank. Jy stop en kyk vinnig om voor jy deur toe stap.

Die beeld speel weer voor my af. Die eerste keer toe ek jou gesien het was op daai stoep gewees. Vêr weg van waar ek en jy vanaand gesit en skerwe probeer optel het.

Jy was jonk en seker maar mooi op jou eie manier. Jy het ‘n sonrok aangehad en trailbuster boots met rooi in veters gedra. ‘n Blom agter jou oor ingesteek. ‘n Plattelandse Prinses in Pep Stores chique.

Ek het daar gesit op die punt van die winkelstoep, lyntjiesboek en pen in die hand. Besig om los verse te soek in die bleek godsverlate niks wat anderkant die draadheining, oorkant die stofpad, gelê en bak het onder ‘n genadelose son.

“Kry jy nie warm nie?” Jou stem was effens te diep vir jou skraal bou. Ek het omgekyk en die eerste keer jou glimlag beleef. Jou hare het effens om jou gesig gewaai en jy het dit met ‘n sagte laggie weggevee. “Ek gaan swem. In die dam. Sommer hier agter die winkel.” Jy het jou rug op my gedraai en begin wegstap. “Kom jy saam?” het jy oor jou skouer gevra. Ek het.

Op die rand van die sement plaasdam, waarvan die water groen en slymerig was, het jy netjies gaan sit en skoene losmaak. Ek het eenkant gaan sit, nog ‘n sigaret opgesteek en nie mooi geweet van my verwag word nie. “Daai goed is nie gesond nie” het jy toe gesê, feitlik en sonder kritiek.

Jy het opgestaan, jou rok oor jou kop getrek en kaal op die rant van die dam geballanseer. Jou lyf was baie wit waar die son jou nie geraak het nie. “Kom jy?” het jy weer gevra en in die water geklim.

Die water was koud teen my lyf. Jy het gelag en my natgespat. Jou hare was nat en het geruik na geelperskes. Jou mond het my herhinder aan die wilde heuning wat ons as kinders op die plaas uit klipskeure gehaal het.

“Tertia” het jy kortliks gedeel voor ons lippe mekaar weer gevind het. “Bert” het ek tussendeur aangebied. Jy het net weer gesmile en ek het gewonder oor hoe maklik dit was om jou te soen.

“Waarvoor is die boekie?” wou jy weet terwyl jou hand saggies om my nek gegly en jou vingers in my hare begin dans het.

“Ek… uh… ek skryf. Probeer skryf, eintlik” het ek skaamteloos my foute aan jou bely.

Jy het net weer diep in my oë gekyk. Deur my gekyk en geglimlag. Breed, sonder om te tart. Na aan perfek. Selfs met die effense gaping tussen jou voortande.

“Soos ‘n storie of iets? Soos daais in die Huisgenoot?”

Dit was my beurt om te glimlag. Die Huisgenoot was nie hoog op my lys van mense vir wie ek destyds geskryf het nie.

Nie omdat ek myself beter gereken het as Huisgenoot stories nie. Ek het net gedink aan die brief  wat voor in die kar gelê het onder die kaartboek en soortgelyke briewe van ander tydskrifte, uitgewers en ander fok u dokumente.

Die een van die Huisgenoot se redaksie wat my mooi laat weet het dat my stories nou nie eintlik binne hulle teikengroep val nie. En dat ek asseblief nie weer iets hoef te stuur nie.

“Nee” het ek stil geantwoord. “Gedigte.”

Jy het jou oë toegemaak. “Lees vir my…” het jy stilweg gesê.

My gedigte was aalwyn op my tong. Vir my het die hartseer van die strofes die oomblik verkrag en die leuen van ‘n onvervulde lewe teen jou onskuldige vreugde vasgegooi.

Na ‘n tyd het jou oë weer oopgegaan, maar daar was iets anders in die grys dieptes van jou siel. Amper soos ‘n hartseer wat mens het vir iemand anders se pyn. Of die simpatie wat mens het vir ‘n dier se seer.

“Ek is jammer” het ek probeer verduidelik. “Dis dalk ‘n bietjie swaar… Jy weet, dalk ‘n effe te veel…”

“Nee, man.” Jy het weggeswem en uitgeklim. Die son het diamante in die water teen jou lyf wakker gemaak.  “Een van die dae, dan skryf jy iets mooi. Iets oor die mooi, jy weet? Mens word mos maar anders” het jy toe gesê.

“Ja, seker maar” het ek destyd ook gesmile voor ek nog ‘n sigaret opgesteek het.

3 antwoorde op The more things change…

  1. plankloper het gesê op April 26, 2010

    Mooi geskryf. Kan daai prentjie sien!

  2. En toe skryf jy iets moois. My man het my al baie van jou inskrywings gelees. Hy het ook op ‘n tyd sulke huisgenoot briefies ontvang. Maar hy sal weer probeer se hy. Hierdie is pragtig geskryg. Jou talent moenie onder ‘n klip gelos word nie.

  3. n cut en paste storie se jy….as daar dalk nog cut en pastes is vir ons soos die ene, gooi dit gerus!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.