Jy blaai in die argief vir 2009 Junie.

Een van die geraamtes uit my eie kas

Junie 30, 2009 in Sonder kategorie

Daar is ‘n stukkie grondpad wat êrens tussen Nelspruit en Wit Rivier loop, so skuins langs ‘n spruit sonder naam, daar waar die gras en die bome nog ryg staan en mens dink dat Afrika seker nie so ‘n kak plek is nie.

Ek sou weer in later jare daar verby ry, en stop om te kyk of ek hom weer daar sien sit. En soo ook, na ek meer in touch geraak het met die meer digterlike kant van my menswees, sou die stukkie stofpad my laat dink aan daai een reël in ‘n N.P. van Wyk Louw gedig. Die een wat praat van “ ‘n laaste kuil van stilte tussen riet”. 

Maar ek moet seker ook tog erken dat ek nie regtig enigiets romaties gedink het toe ek die eerste keer daardie padjie gestap het nie. Nee, my ou hart was ‘n moordkuil en al waaran ek kon dink was my seer, kaal voete en hoe goed dit gepas het by my ewe seer en ewe kaal ou lyf. Ja dit, en die gedagtes aan geweldadige dinge wat ek graag wou doen aan die fokken doos wat my in die posisie gesit het.

En so, terwyl die sonbesies treuer oor my toestand en die son my bleek liggaam straf vir al my sondes, strompel ek die pad af. Plaas toe. Kar en klere en bad toe. Wraak toe. 

My voete slaan ‘n ritme op die sagte sanderige skouer van die pad, en na ‘n tyd roep elke voetslag sy naam uit. Met die neersit van voethak in stof hoor ek sy voornaam en met die lig van my tone, sy van. Jan… Beukes, Jan… Beukes.

Meteens is daar ‘n stem langs my en ek dag eers dis die sonsteek wat ook nou met my opgevang het. “Klein-baas…” Die stem is oud en krakerig en ek kyk vinnig na links van waar die stem vandaan gekom het. “Ek sien jou, klein-baas” herhaal die stokou man wat onder ‘n doringboom, ‘n effe van die pad se skouer af, sit en pyp rook. Langs hom, teen die boom rus ‘n ou dikwel trapfiets wat seker eers aan Moses behoort het, kompleet met side mirrors en sambok wat aan die raam vasgemaak is met bloudraad.

“Klein-baas, ek sien jou, maar die klein-baas hy is kaalgat!” Sy Afrikaans is maar gebroke, maar ek figure dat my gebrek aan klere seker maar opmaak vir sy taalkundige tekortkominge. “Ja” antwoord ek half kortaf en probeer om nie te selfbewus te lyk nie.

“A-a-a” klik hy en skud sy kop stadig heen en weer. “Die son hy is te hard hierrie dag. Die klein-baas hy moet nie so-so hier kom nie. Die son hy gaan die klein-baas shaya so by die mielie…” Sy gesig is ene doods-êrns terwyl hy beduie na my ontblote blok-en-tackle, en ek wonder of hy gaan verstaan as ek hom probeer verduidelik dat ek nie volgens keuse in my geboortepakkie hier rondsleep in die gatkant van fokken nêrens nie. 

Ek oorweeg dit om hom te vertel van Jan Apteek se dronkgat verraad en hoe hy en Boomies terug gefokof het plaas toe met my klere. Hou hulle my kaalgat langs die swemgat gelos het waar ons almal in ons dronkenskap gaan skinny dip het, half-ses die oggend, na ‘n legendariese suipsessie saam met die locals.

“My klere is gesteel” sê ek toe maar eenvoudig en begin verder stap, nie regtig in die bui vir verduidelikings nie. “Uh-huh” knik hy stemmig. “Ek het vir die klein-baas die hoed vir by die klein-baas se kop. Die son hy is te strong hierrie dag. Hy gaan kom by die klein-baas se kop en die klein-baas banja siek maak!” Met die krap hy rond in ‘n vuil knapsak wat langs hom lê, en trek ‘n verslete ou army boshoed uit en hou dit uit na my. 

Sonder om te dink stap ek na hom toe, deur die gras langs die pad, net te dankbaar om die son van my nuut geskeerde kop af te kry. Halfpad na hom toe herhinder ‘n kameeldoring in my regter poot my dat ek nie skoene aan het nie. “Fok!” skree ek en hop-hop op een voet na hom toe om met een hand teen die boom te rus en soos ‘n flamink te staan terwyl ek die skerp ding uit my voet probeer grou. 

“Waar hy gaan nou, die klein-baas?” vra hy na ek half mank langs hom staan en die vuil pet op my alreeds rooigebrande kop druk. “Af in die pad” sê ek en besef watse fokken dom antwoord dit nou eintlik is. “Na Baas Beukes se plaas toe” verklaar ek toe maar en beduie so in die algemene rigting van waar ek reken die plek lê.

“Ja, ek ken hom die plaas” stem hy saam, maar stuk weer sy kop heen en weer. “Hy is banja vêr daardie een. Die klein-baas hy gaan banja lank moet loop en ek dênk die klein-baas hy gaan nie so mooi-mooi loop met die dôrrông by die voet nie…” Hy trek weer aan sy pyp en oorweeg die probleem in stilte terwyl ek weer probeer om gewig op die seer poot te sit. 

“Miskien die klein-baas, hy kan vat my bicycle. Dan die klein-baas hy kom vinnig daar by die plaas…” 

Ek kort nie twee uitnodigings nie en met ‘n vinnige dankie bestyg ek die ou gatsaag, maar my sensitiewe dele is nie te gelukkig op die swart leer seat wat ‘n ruk lank in die son gestaan het nie. Ek haal die hoed van my kop af en trek dit oor die seat. 

“Ek sal hom netnou weer vir jou bring met die bakkie” belowe ek vinnig en maak reg om te pedal plaas toe. “Dankie” sê ek eenvoudig, en die ouman knik net sy kop. 

“Wat is jou naam, oudste?” Ek sien hy hoor die vraag, maar dit vat hom ‘n rukkie om te antwoord. “My naam hy is Joseph, klein-baas. Soos by die bible…” Hy klop sy pyp uit en spoeg in die gras voor hom. “Wel, dankie Joseph. Wanneer ek weer kom bring ek vir jou ‘n brood en twak.”

“Dis reg, klein-baas” sê hy sonder veel oortuiging. Ek besluit dis beste om maar eerder aan te beweeg en begin trap. Die stofpad krimp onder my en die ou fiets se breë wiele sing deur die stof. Die wind jaag trane uit my ooghoeke en brand my bolyf en arms. In die spieëltjies sien ek hoe die groot doringboom ‘n klein groen kolletjie word net voor ek deur die dippie trek, en dan bult oor reguit plaas toe.

Twintig minute later stop ek uitasem voor die plaashuis se stoep. Marinda gee my ‘n snaakse kyk van waar sy in die koelte sit en boek lees. Ek gryp vinnig die ou hoed van die seat af en gebruik dit om my talente mee weg te steek. “En nou Bertie?” Ek kan sien sy wil lag, maar tot haar krediet probeer sy hard om nie in te gee tot haar eie natuur nie. 

“Waar’s Jan?” my stem is hard en kwaai in my eie ore. “Dorp toe” antwoord sy kortaf. “Hy het die kombi gevat om jou te gaan soek. Hy en Boomies het jou glo misgedrink gisteraand en hy’s moerse bekommerd oor jou…” 

“Fokken tipies” gooi ek oor my skouer terwyl ek verby haar stap na my kamer. Die klank van haar gelag volg my die gang af en dit verbeter nie regtig my sin vir humor nie. 

‘n Stort en skoon klere later sien my agter die wiel van my bakkie, die ou Volstruis-raam fiets agterop, oppad om Joseph te gaan soek. 

Na twee ure se op en af ry en soek na die ou man, kom Jan Apteek se stukkende VW bussie die pad af. “Waar de fok was jy?” roep hy by die venster uit nadat hy langs my stilhou. ‘n Sigaret hang van sy lip af en sy oë is rooi. Boomies sit langs hom en grinnik vir my soos ‘n mal donkie voor hy nog ‘n sluk Black Label vat. “Ons was moerse worried oor jou. En waar de fok het jy die bicycle gesteel?”

“Ek was waar jy my gelos het, doos.” Hy kyk my verward aan en ek reken dis nie die beste tyd om hom op te fok oor iets wat hy nie eers gaan onthou nie. Dit sou later kom. “Sê my, het jy dalk ‘n ou flappie gesien stap dorp se kant toe?” 

“Nee, ou maat. Net vanoggend vroeg een gesien wat ‘n bicycle getrap het. Ek het die simpel bliksem amper omgery. Staan en swaai oor die pad. Seker dronk gewees…”

“Ek sien jou by die plaas” sê ek styf en ry weg, op soek na Joseph.

Na ‘n hele ruk se soek, sou ek hom op die ou einde nie kry nie.

Ek en Jan Apteek het later weer vrede gemaak en het pêlle gebly. Marinda is later van tyd getroud en toe weer geskei. Boomies het ‘n dokter geword. 

Die ou bicycle het eers in ‘n skuur en later op ‘n ashoop opeindig. 

En die hoed? Die hoed is weggepak in ‘n boks in my studeerkamer. Want binne in die hoed se rand is daar ‘n opgerolde stukkie papier wat ek eers na daardie naweek sou ontdek toe ek die ding wou weggooi. 

Op die nota was daar nie ‘n naam of adres of foon nommer nie. Dit was net ‘n gooedkoop stukkie drukwerk vol engeltjies en mooierige blomme, met ‘n paar versies in die middel. 

“And Jesus answering said, A certain man went down from Jerusalem to Jericho, and fell among thieves, which stripped him of his raiment, and wounded him, and departed, leaving him half dead. 

And by chance there came down a certain priest that way: and when he saw him, he passed by on the other side. 

And likewise a Levite, when he was at the place, came and looked on him, and passed by on the other side. 

But a certain Samaritan, as he journeyed, came where he was: and when he saw him, he had compassion on him, 

And went to him, and bound up his wounds, pouring in oil and wine, and set him on his own beast, and brought him to an inn, and took care of him. 

And on the morrow when he departed, he took out two pence, and gave them to the host, and said unto him, Take care of him; and whatsoever thou spendest more, when I come again, I will repay thee.”

En elke keer as ek die hoed sien of verby daardie doringboom ry, dan dink ek aan ou Joseph wat nooit gevra het hoekom ek kaalgat die stofpad moes afmoer nie.

En elke keer as ek die hoed sien of verby daardie doringboom ry, dan brand die trane van my eie skaamte my oë, en ek sukkel vir ‘n rukkie om te sluk.


300 Tribute

Junie 29, 2009 in Sonder kategorie

Sorry, maar die was net te fokken snaaks om nie te post nie.

Hiers ‘n tribute aan een van die kakste movies wat ek nog moes deur wurg.

300 se ma se moer.

Figure mos ek tune stront, huh?

Junie 29, 2009 in Sonder kategorie

Kyk, ek is so goed soos my woord. Al dink my ma, my pa, die grooter extended fokken deel van my familie, die NG dominee, die AGS pastoor, en amper die hele SARS nie so nie.

Soos ek belowe het, hier is ‘n stukkie uit Stoep Travels, die boek wat ek laasjaar klaar gemaak het. Van julle mag dit dalk onthou van die ou blog af, en vir party van julle is die storie nog virgin.

Hoe die saak ookal staan, hier is die boek se intro. 

Sal so oor die loop van tyd nog snippets post. Net sulke ou maak-my-lus-maar-gee-my-niks stukkies. Amper soos hoërskool se heavy petting agter die rugby stands.

Enjoy, it’s organic. 

Bert.

Inleiding:

Sit ek toe mos en dink. As ek nou terug kyk op alles wat gebeur het is dit seker maar die beste plek om te begin. Daardie oggend, vroeg in Maart toe die weer al klaar begin draai het en dit eintlik al te koud begin raak het om vroeg die oggend buite op die stoep te sit en dink. Nou moet ‘n mens onderskeid tref tussen die goeie manier van dink en die ander manier van dinge oorweeg. Die goeie dink is wat gebeur as jy laat middag huis toe ry na ‘n paar biere en jy sit en herkou aan al die dinge en mense wat was. Dis daai warm gevoel wat mens kry, nie veel anders as die gevoel wat ‘n hamburger en coke jou so reg om die hart gee nie, as jy dinge onthou wat die tyd so dof gemaak het dat dit legendaries is.

Die ander dink is die kak manier waarop mens jouself mos staan en met klippe gooi oor die dinge wat nou nie regtig gedraai het soos jy dit wou hê nie. Al die fokken dinge wat nie regtig ‘n plek het in jou kop se hangkas nie, maar wat jy net te bliksems lui is om uit te gooi. Moes ek die, moes ek daai. As ek maar net so gemaak het in plaas van anders om. Ja nee, die dinge wat mens dink as jy alleen is. Die dinge wat jou vreet soos kanker.

Daar is seker ‘n klomp dinge erger as dink, soos om jou zip te vinnig op te trek by die krip, net sodat jy alles wat meeste saak maak kan vastrek in ‘n klassieke half-nelson. Wakker word met ‘n moerse babalaas en ‘n nuwe duik in jou kar. Wakker word, half dronk, met ‘n ou vriendin in jou bed. Veral as jy saam met haar en haar ou gaan drink het die vorige aand.

Verseker is daar dinge erger as om te sit en dink. Vigs. Dronkverdriet. ‘n Ontsteekte puisie op jou gat wat maak dat jy moet skeef sit. ‘n Onderbroek met ‘n té skyf rêk.

Maar nie een van die dinge is so dodelik soos die ander manier van dink nie. Die rede? Jy weet dadelik jy is in die kak wanneer enige een van die ander dinge met jou gebeur. Veral die broekzip-tot-balsak doodsgreep. Nee wat, dié dink, kom ons noem dit maar die drink-dink want dis waar dit gewoonlik opeindig, is baie subtiel. Dit sluip af op jou soos ‘n dronk dominee, en probeer vir jou vertel presies hoe kak dinge nou eintlik is en hoe ‘n hele reeks van jou eie tos besluite jou tot die punt gebring het. Lekker fucked up is ek, sit jy mos dan en dink.

Sucks to be me. Jammergat. Poesbedroef. 

Vat mos altyd net één ding. Jou hare is minder vandag as wat dit gister was. Jou pens is groter. Jou job is kakker. Petrol is duurder. Jou vrou is kouer. Fanta Apple gaan van die mark af. Sit nou bietjie en tob daaroor en voor jy kan sê “o, doos” is jy so af soos eergister se kouse.

En dis juis met daai tipe van dink waar al die kak toe ook begin het. 

My naam is Bert. Bertus Ignatius Combrink, en hierdie is my storie…


Nuus.

Junie 29, 2009 in Sonder kategorie

Groot nuus, my skapies.

Ek het begin edit. 

Nou mag jy dalk vra wat de fok dit nou eintlik vir jou beteken? Wel, in die eerste plek beteken dit dat jy ‘n selfsugtige doos is wat net aan jouself dink. En in die tweede plek beteken dit dat ek besluit het om ‘n boek te publish.

Dit sal ‘n samestelling van kortverhale, gedigte, comics, ou blog entries, foto’s, drank resepte, ou girlfriends se foon nommers en allerhande ander bruikbare nonsies wees. Maar dit sal ook die volle “Stoep Travels” novel wat ek laas jaar geskryf het, insluit. 

Ten-to-one gaan ek moet self publish, want meeste publishers is maar vol kak.

Maar, ek sal stukkies hier post soos ek weer deur die ding gaan, en iets sien wat my aandag gryp. Net so om julle te wys waarvan ek praat.

Tune maar as julle scheme van dis kief.

Strongs!

Bert.


‘n Lang blog, want ek gaan fokol post die naweek nie. Sorry.

Junie 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek het vandag net mooi fokol om te sê nie. Verstaan nou mooi, it’s not due to a lack of trying. Elke ding wat ek die laaste uur van my lewe probeer pen het, het vinnig en genadeloos die backspace knoppie raakgeloop. En elke selfrespekteerende woord weet jy fok nie rond met die backspace knoppie nie.

So, toe besluit ek om te cheat. 

In plaas van iets unieks en eiesoortigs aan Vrydag te skryf, moer ek julle met die eerste deel van die nuwe boek. Vat so! Kie-jaaai!

Groete,

Bert.

Ps) Aan die doos met die Merc. Ek wag nog steeds, papa! Die fietspomp ook…

B.
Die Avonture van Nick West,
 P.I.



Hoofstuk 1:

Die gees is gewillig, en soms die vlees ook…


“Meneer West” die piesangboer stap die stoep op en af soos een wat buite ‘n kraamsaal staan en wag vir nuus. “Ek is seker jy het al van tevore die tipe saak teëgekom.” Hy grou in sy hempsak rond en trek ‘n pakkie Gunston uit, bied my een aan, en steek dan albei sigarette op. 

“Ja” antwoord ek en loer na die fotos van die jongerige vrou wat hy vir my aangegee het. Sy is aantreklik, op ‘n snaakse plaaserige manier. Haar hare is los en windverwaaid en sy staan met ‘n tros piesangs in elke hand. Haar smile lyk genuine genoeg, maar haar oë vertel my dat die girl ‘n wilde streep het wat ek nie dink die boepens piesangboer sal kan stil maak nie.

“Sy’s nogals mooi” is al wat ek sê voor ek die sigaret-as wat op die foto gemors het afborsel met ‘n vinnige hand.

“Ja, meneer West, sy is.” Die hartseer lê vlak in die groot man se oë en ek vat vinnig ‘n sluk van my koffie sodat ek hom nie in die gesig hoef te kyk nie. “Kan jy my help meneer West?” vra die man stil. 

“Net om seker te maak, jy wil weet of jou vrou rondloop, meneer Jooste?” Die vraag klink half kras en ek probeer weer. “Jy wil weet of jou vrou op jou verneuk?”

“Ja” sê die man eenvoudig. Hy trek ‘n dik koevert uit sy gatsak en plak dit neer op die koffietafel. “Hier is die fooi waarop ons ooreengekom het.” Ek ignoreer die koevert en vat eerder nog ‘n sluk van my oorsoet koffie. “Verskoon my, asseblief” sê hy meteens en draai in die rigting van die voordeur. “Ek moet gaan kyk na die dam wat so lêk.” En sonder ‘n verdere woord is hy weg en ek staan alleen op sy voorstoep. ‘n Vinnige kyk na links en regs bevestig dat ek werklik alleen is. 

Die koevert is nie toegeplak nie, en my duim fluit oor die note terwyl my kop vinnig somme doen. Daar is meer as wat ek voor gevra het, en ek besluit dat ‘n motivational bonus mens altyd harder laat werk. Twee duisend Rand kry koers na my beursie en die koevert met die res word vinnig in my binneste baadjiesak gebêre.

“Nou maar goed, Nick” praat ek met myself terwyl ek nog ‘n koeksuster in my kuus prop. “Tyd om te sien of Fanie Jooste rede het om te worry.”

Ampie wag vir my langs die kar en ek let op die klein bergie stompies langs hom op die grond. “Jy rook te veel, Ampie” sê ek in my beste ouboet stem, en klap hom liggies agter die kop. “Ja, ek weet” antwoord hy my skuldig. “Maar net as ek nervous raak.” Ek smile en probeer sonder sukses dink aan enigiets wat Ampie Bruwer nie nervous maak nie. My eie sigaret sluit aan by sy dwergheuwel van stompies voor ek agter die breë stuurwiel van my Chev Impala inskuif. Die leer seats het bietjie te lank in die son gestaan en ek voel hoe my gat toast deur my stywe denims.

“Lus vir ‘n bier?” Die vraag is puntloos want Ampie is al klaar besig om tussen die ys in die coolbox rond te krap opsoek na ‘n koue skuimkop. “Los nou eers daar” sê ek en hy kyk my verbaas aan. “Ons gaan na die bar op die dorp toe. Tyd om te werk.” 

Ampie lyk half dikbêk, maar soos gewoonlik smile hy weer breed voor ons vyf kilometer gery het met die dakkie afgeslaan. Ampie is ook maar ‘n basiese mens, besluit ek weer terwyl ek nog ‘n sigaret opsteek. Dit vat nou wragtag nie baie om hom gelukkig te maak nie. Dis ‘n warm somersdag en ek raak lui agter die stuurwiel. Kort-kort neuk my gedagtes terug na die foto in my baadjiesak en ek besluit om dit uit te haal. “Kyk hier, Ampie” gebruik ek dit as verskoning om weer na die foto te kyk. “Is sy die boer se squeeze?” vra hy en ek merk die lig van wellus in sy oog. “Ja jong” antwoord ek. “Dis vir haar wat ons innie bar moet gaan soek. Sy maak glo ‘n stop daar elke keer as sy dorp toe gaan.”

“O” antwoord Ampie voor hy weer al sy aandag aan die rooikop vrou in die foto skenk. Die res van die trip dorp toe verloop in stilte en ek kry kans om weer te dink aan my vorige lewe. Die tyd voor ek Nick West, suksesvolle P.I. was. Die tyd voor die Chevy, die smokes, die bars, die vroue en die alewige geluister na Ampie se kak praat. Toe ek nog common ou Nico Wessels van First Savings and Loans was. Voor Sandra en daai aand op die Witbank highway. Beelde van daardie aand flits voor my verby, en ek sien weer die bloed en Sandra wat in my arms lê. “Pasop vir hom” was haar laaste woorde aan my. “Pasop…”

“Pasop, baas!” gil Ampie in ‘n klein dogtertjie stemmetjie langs my en ek ruk terug na die hede, net betyds om die voorkant van ‘n moerse piesangtrok reg voor my in die pad te sien. Met reflekse en bestuursvernuf wat Michael Schumacher soos ‘n busbestuurder laat lyk, skiet ek om die trok en dodge om ‘n ander kar wat doodluiters sestig kilometer per uur ry. Ek sien die die ander bestuurder se gesig vlugtig in die verbygang, en dit lyk asof hy homself so pas bevuil het.

“Liewe fok” grinnik Ampie en gryp na sy pakkie Chesterfields. Sy hande bewe terwyl hy vir ons opsteek. “Liewe fok” herhaal hy, stoot ‘n hand deur sy hare en lag dan weer.

“Ja toe, bang-gat.” Ek probeer hard voorgee dat my eie derms nie besig is om oorrtyd te werk en ek vreeslik moet knyp om alles onder beheer te bring nie. “Ook maar goed ons is hier” sê ek en gee hom ‘n vuil kyk. “Dis baie moeilik om die reuk van pis uit ‘n leer seat te kry.” Ons stop voor die plek en my bene voel bewerig toe ek uitklim en my cowboy boots knars op die stof en gruis wat die parkeer area opmaak. Daar is twee slote langs my kar waar iemand duidelik vol bier en bravado belsuit het om sy tyres te spin voor hy wegjaag na God weet waarheen.

Die swaaideurtjies kraak oop voor my aanslag en ons stap die vertrek binne. Daar is niks wonderlik opmerklik aan die bar nie. Dit is maar net dit. ‘n Kroeg. ‘n Plek waar mens dronk word saam met jou pêlle, of dronk word op jou eie, afhangende van hoe jy die dag benader.  

Die plek is skemerig, rokerig en vuilerig. Al drie net binne die perke van wat aanvaarbaar is vir opgevoede mense. Die hout counter waar ek en Ampie gaan sit is blinkgevryf deur verskeie generasies verveelde bar tenders met baie tyd en min kliënte om hulle mee besig te hou. Agter die counter staan ‘n jong vrou van omgeveer dertig en glase skoonvee. Op die vêr hoek van die counter staan een van daai mini pokermasjiene waarin dronk tannies gewoonlik hulle melkgeld kom uitspeel. Die masjien raas, maar ek kan nie sien wie agter die ding sit nie. Die res van die bar is leeg, en die bar lady kyk ons vraend aan.

“Twee Amstels” help ek haar. “En sommer twee shooters ook. Springbokkies.” Sy knik en draai in die rigting van die yskas. Bottels klink teen mekaar en my keel trek skielik saam wanneer ek aan die yskoue bitter smaak van die bier dink. 

Gewapen met bier en shots draai die vrou terug na ons toe. “Dis veertig rand” Se sy kortaf en sit alles voor ons neer. “Happy hour begin oor ‘n rukkie, dan is alles halfprys” voeg sy by voor sy weer wegdraai en stap in die rigting van die dobbelmasjien. “Nog ‘n glas wyn vir jou, Minette?” hoor ek haar vra. Skielik maak die bier nie meer saak nie en ek probeer so ongesiens moontlik loer na die vêr punt van die toonbank. 

“Ja wat, dankie sus” antwoord ‘n warm vroue stem, en al kan ek haar gesig nie sien nie, gewaar ek die diep rooi skynsel van haar hare. 
“Bingo” sê ek saggies en stuur die springbokkie pens toe in een vinnige sluk. 



============




“O, Nick” sy rol op haar sy en sit ‘n arm om my gespierde borskas. “Jy was amazing…” Ek smile liggies en loer uit die hoek van my oog na my spiere wat blink van die sweet. Ek kan nie help as om weer te dink hoe goed ek lyk vir my ouderdom nie. Nie almal is nog so aanmekaar gesit op vyf-en-dertig nie. 

Die rooikop maak haarself tuis in die vou van my my bo-arm. Haar oë is vol bewondering en daar is ‘n half wulpse trek aan haar vol mond. 

“Ja, ek reken ek was” kom die enigste logiese antwoord automaties na my lippe. Sy gee my ‘n vreemde kyk voor sy my ‘n klapsoen op die wang gee en saggies giggel. Ek het gewoonlik die tipe uitwerking op chicks, so haar snaakse gedrag hinder my nie te veel nie. My kop draai na die bed se kant tafeltjie waar ek my Casio horlosie en my skywe gelos het. Ek bewe ‘n Camel filter uit sy karton huisie uit en gee hom vlam met die Zippo wat Ampie vir my gegee het vir my laaste verjaardag. Die James Bond 007 ontwerp voorop die Zippo maak die ding ‘n collectors item. Ook maar goed dat ek sulke goeie smaak in vriende het, reken ek voor ek dit terug sit op die tafeltjie. 

Sy staan op en stap badkamer toe. Ek kyk haar agterna en dink dat haar gat dalk ‘n bietjie laer hang as wat hy moes en dat sy seker van daai spesiale panties moet dra om die saalsakke bo te hou. Vanity is seker die een ding wat my die meeste afpis en ek kyk na die TV wat klankloos in die hoek van die hotelkamer flikker. Daar is ‘n musiekvideo op en ek erken nie die blonde stukkie wat gatswaai vir die kamera nie.

Oor die algemeen sou dit nou my aandag mooi bepaal het, maar teen die tyd was ek al goed gatvol vir dye-job terte en die misbruik van my seksuele gawes. Ek lê en luister na die klein geluidjies wat uit die badkamer kom en hoor hoe sy die plastiek van ‘n weggooi tandeborsel aftrek en begin bêk skrop. My sigaret maak rook ringetjies wat stadig boontoe dryf, oppad ceiling toe.  

Ek voel skielik vuil en begin wonder of ‘n shower die moontlike misverstand wat kan lei tot nog sekskapades regtig regverdig. My tweestryd oor of ek haar in die badkamer moet join word onderbreek deur ‘n sagte klop aan die kamerdeur, gevolg deur ‘n benoude fluistering.

“Baas! Baas, is jy daar?” Ampie se stem klink effe benoud en ek sien dadelik daars groot kak toe ek vir hom loer deur die skrefie oop deur. “Fok, baas! Ons moet skuif!” Hy beduie wild en wragtig in die rigting van die parkeer area.

“En nou, ou Ampie?” vra ek in my mees doodluiterse stem, terwyl ek voet deur onderbroek probeer hak. “Wat is dan so dringend?” Skielik is daar ‘n baalse rumoer vanaf die hoof straat. “Magda!” Die stem is hard en gevul met die belofte van moord en geweld. “Ek weet jy’s hier! Vandag punch ek jou ticket!” Ek voel hoe my pens los raak toe ek die piesangboer se stem erken. “O, fok” preuwel ek en Ampie knik simpatiek. 

“Fok, Ampie! Ons moet gou maak!” My voet haak deur die onderbroek teen ‘n spoed wat selfs my verbaas. “Start die kar! Ek’s nou daar!” Met die klap ek die deur toe, doen ‘n duikrol oor die bed en têkkel my skoene, langbroek en hemp. Met die wasgoed op die bed neergegooi ruk ek my watch aan en druk kouse, beursie, smokes en ligther in die regterskoen voor ek alles opraap en die badkamer in duik.
“Jammer, my eendjie” smile ek vinnig en skuif verby haar voor sy tyd het om vrae te begin vra. 

Vervolg…







Niks

Junie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ag fok.

Alweer vergeet om die fokken happy pills te drink. Nou al twee dae in ‘n ry, en ek begin nou die ou swart hond van depressie uit die hoek van my oog sien. 

Dis net een van daai dae. Ek het gisteraand ‘n kliënt wat my ‘n redelike moerse lot werk wil gee gaan wine and dine. Mind you, ons het actually net gewine en nie regtig gedine nie.

So vandag voel ek broos en Suzie dink ek het ‘n affair aan en Twakkie het op die stoep gekak. 

Ag fok.

Ek sit hier en probeer net sin maak, maar my koppie hang soos die van ‘n pet shop slang.


Count your blessings

Junie 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek figure mens moet partykeer seker maar net sit en dankie sê vir al die dinge wat mens het om voor dankbaar te wees. Vanoggend wil ek graag dankie sê vir geduld en swakheid van die vlees. 

Sien, ek het vir my ‘n mountain bike gekry, want nou dat ek hier in die fokken gopse bly het ek gefigure dit sal nice wees om vroegdag in die ou pseudo-bosveld natuurlikheite te staan en pedal. Dis mos ook nou goed vir die hart, lewer en long… 

Ja, ek weet. ‘n Kakker idee het ek nog nie gehad nie. Veral omdat ek gewoonlik gatsaag trap met ‘n skyf tussen my lippe en ‘n brandende begeerte vir koffie in my hart. Ek moet erken ek het nog nie die spandex moffie-suit en bypassende doosdoppie vir my skedel gekoop nie, but what the fuck. Die idee is daar, selfs al lyk ek kak in ‘n kortbroek.

In any case, ek trap toe vanoggend af in ‘n voetpad waar ek net nou die dag ‘n muishond, of dalk ‘n verweerde huiskat, gesien het. Na ‘n halfuur se gesoek draai dit toe uit dat ek toe net mooi fokol gesien het, anders as ‘n stuk plastic sak wat om ‘n boomstomp gedraai het nie, en met woede en teleurstelling klim ek maar weer op en trap aan.

Ja die natuur is wonderlik, dink ek toe ek die teerpad huistoe weer opklim en skuins voor ses die oggend terugfok beskawing in oppad na ‘n warm shower en dalk ‘n skelm knippie voor graft. 

En dis toe nou die dat Pietertjie Poesprop in sy blinkswart Merc SLK, headlights af, besluit dat die redelik ongebruikte stukkie pad nou sy eie fokken Daytona is. Met die vaart van ‘n gekonstipeerde fokken hoender tos hy die pad af en ry my amper moer toe! Ek gee hom toe maar die vinger en vloek sy ma, sy suster en sy ouma se onderdele sommer so in ‘n vyftig sekonde sin sonder om een woord twee keer te gebruik. Want sulke dinge is gepas in sulke omstandighede.

Hier slaan die doos toe brieke aan dat die fokken rook trek, druk die cow catcher in reverse en hang so half skeef by die ruit uit. “Wat sê jy, seuntjie?” gil hy vir my in sy beste kleinmannetjie stem. Ek is ook mos nou maar oordentlik grootgemaak en ek weet as iemand jou iets vra, dan moet jy hom mos antwoord, al dan nie? 

“Ek sê jy’s ‘n fokken doos!” lewer ek toe my beskeie opninie. “Waar de fok het jy jou licence gekry, pielkop? In ‘n fokken lucky packet?” 

Met die besluit stompgat dat dit is al was sy eer kan verdra, en dis tyd om uit die kar te klim. 

Nou, ek sal seker nooit weet wat die bliksemse kluit se idee was nie, maar ek kan net raai dat sy vuilsiek-verwarde brein gereken het almal op fietse is skoolkinders. Toe hy egter uitklim en sien ek stap rustig nader, fiets oor my skouer, besluit die bang bliksem om eerder sy ou debt-wagon in malle vaart te bestyg en met skreeuende tyres weg te jaag. Schumacher se moer.

Dis omtrent hier wat ek my eie fokken sin vir humor verloor en agter hom probeer aanjaag oppie ou draad-harley. Soos ‘n besete mens trap ek my knaters af agter hom aan, vuis in die lug, vinger wat beduie hy moet aftrek. Maar kortseun weet beter as om te stop, en teen hundred-and-plenty maak hy die eerste draai so amper op twee wiele en jaag weg. 

Dis nou die wat ek vanoggend moet dankie sê vir die geduld en die swakheid van die vlees. Hier waar ek uitasem voor die keyboard sit en my hamstrings vol deep heat pleister.

Sien, as my vlees nou sterker was, dan het ek hom dalk vanoggend gevang en gebliksem. Dan het ek weer onnodige kak en drama met mense wat by die fokken pote wil gaan tjank omdat hulle kak soek en dan nie hulle eie fights kan fight nie.

Maar dan ook is ek dankbaar vir die geduld. Want as dit nie vir die geduld was nie, dan sou ek nie more-oggend, en elke ander oggend daar langs die pad vir hom gesit en wag het in my kar nie.

Mag ek jou weer een oggend raakloop, ou maat. Ek het ‘n fietspomp onder die bakkie se seat ingegooi. Ek hoop om dit te gebruik om jou te leer hoekom mense op fietse ook die pad mag gebruik.  


Die hart se vers

Junie 22, 2009 in Sonder kategorie

Verlossing
(Vir Suzie)

Jy is die stilte vir kindsvrees,
haat en myself.

Ek wens, ek droom, ek smeek.
Ek bid, maar ek twyfel. 

Jy bly die stilte.
En vir jou is ek dankbaar.

-Bert-




Ook maar lekker fokken stupid

Junie 22, 2009 in Sonder kategorie

‘n Pêl van my loop nou net hier in met ‘n moerse blou oog. Ek vra toe nou maar die poepol waar die ding vandaan kom en hy tune my toe dat Sondagaand sy chick & ribs aand is.

Toe ek uitvra oor die hele chick & ribs ding, beduie hy my dat dit nou is wanneer jy eers gaan ribs chow by Casbah en dan ‘n chick gaan soek in een of ander dive. Verkieslik een Wes van die naaste treinspoor. 

Nou tot en met hier het ek gevolg en moet ek erken, sonder veel verbasing geluister. Die van julle wat die man ken, sal verstaan.

Hy vertel my toe dat dit ook toe so kom dat, na sy vyfde dubble wat-de-fok-ookal, die chicca oppie vêr ent van die bar na ‘n prospek begin te lyk. Nog twee dubbles later was sy glo heel cute en hy besluit hy gaan ‘n move maak. 

So gedreig is so gedoen en gewapen met sy favourite pickup line, A La Bellamy Brothers stap hy nader en tune die stukkie: “if I said you have a beautiful body, would you hold it against me?” Waarop sy reageer met “fokof, doos.”

Net daar besluit die slim seun toe dat g’n squeeze so met hom gaan praat nie en hy vra toe weer “I said… if I said you have a beautiful body, would you hold it against me?” waarop sy weer vir hom vertel hy moet in sy moer gaan. 

Soos ek verstaan was dit toe nou net daar wat die rum inskop en die devil besluit het om sy dues te kom haal. En voordat slimseun homself kon keer smile hy vir haar en vra “en what if I said you is ‘n dikgat teef? What would you tune me then, huh?” Draai toe uit dat die “girl” is een of anner arm wrestling (of was dit pig wrestling) champion, en hou oor die algemeen nie regtig baie van seuntjies om mee te begin nie.

Die res was glo baie bloederig en baie vinnig verby. En juis dan die laat hy hier instap met sy ray-ban rip-offs op, dik gedonner en heavy jammer vir homself.

Ek figure “ag shame” word gebêre vir iemand wat dit vandag bietjie meer nodig het.


‘n Gedig omdat dit koud is

Junie 20, 2009 in Sonder kategorie

Winter en sy wete vou
haar arms om jou

Want verlange en die soet, amper
ewige reuk van jasmyn is vergete

Want vergifnis was verpand vir dertig 
nuwe drome