Boo, bliksems! Figure mos ek’s dood, huh?

Julie 21, 2022 in Uncategorized

Fokkit, hoe laat is dit al? Ek figure ek het seker met amper tien fokken jaaaaar verslaap.  

Vir die van julle wat my nie ken nie, lees die fokken name tag op my hemp. Wat? Jy sien nie die tag nie? Dis omdat jy ook nie die hemp kan sien nie, twat. Dis ‘n blog die, nie jou ma se sitkamer nie. Ek is nie hier om jou ouers se Frisco te drink en stinkvingertjie met jou te speel as jou pa nie kyk nie. Die naam is Bert Combrink. Onthou dit maar, want as jy jouself mooi gedra kan jy dit dalk later vir jou bure ook skree.

Ek verstaan dat julle my nie ken nie. Ek kyk na die wêreld wat ek vir julle gelos het en so mooi gevra het om nie op te fok nie, en ek verstaan julle het nie geluister nie. Fokken Covid en LGBXRTFDWYOP en ek weet nie watse kak nog als nie! Bliksem, maar julle was besig, huh?

En LITNET? Waddefok het hier gebeur? Ek sukkel steeds my gat af net om ietsie te post, my bra’s en tjommies wat bra’s dra.

Lekker deur die kak is wat die plek nou is, n’est ce pas? Leeeeekker kak. Ook maar fokken goed ek is hier. Nodge this frame, my mense. Hier kom baie dinge.

 Vir die van julle oud genoeg om my te onthou het ek net een ding om te sê. Hello, my skapies. It’s good to be back. Ons gaan hom kiellie tot hy in sy broek pis soos ‘n Graad Een’tjie wat te veel juice gesuip het en toe in die kermis se spookhuis gaan rondfok het. Lekker nuwe stories en musings en kakpraat. Raad vir die malles, eensames en raadloses. En, of course, ‘n kakhuis vol offense vir die easily offended fokken snowflakes tussen die ysters.

Alles net hier. Teen ‘n discount.

Ek sit vir julle ‘n ietsie op later. Fok, maar dis lekker om weer uit die basement uit te kom.

Julle moet lekker wees, my skapies. Julle moet lekker wees. En onthou girls, Bert Combrink gaan reguit na jou heupe toe. Maak daarmee wat jy wil.

Vrede vir julle

Bert

‘n Brief aan die bliksem in die rooi gown

Desember 13, 2012 in Uncategorized

Liewe Kersvader,

Jy is, jammer om te sê, nie een van my fokken favourite mense nie.

Elke jaar, vanaf ek kan onthou, bring jy die verkeerde kak vir my. Dis hoekom ek besluit het om die balju te vra om die fokken brief onder jou rooi bliksemse neus te kom stoot sodat jy vir die fokken ding kan teken en nie later daai hartseer stront staan en spin van hoeveel briewe jy kry en hoe jy partykeer deurmekaar raak oor wie wat moet kry nie.

Onthou jy toe ek omtrent so vyf jaar oud was en jy my op jou skoot laat sit het? Ek reken nie. As jy nie eers kon onthou wat jy later dieselfde maand vir my moes aflewer nie, dan kan jy seker nie onthou wat een klein seuntjie dertig jaar terug voor gevra het nie. Dimentia is ‘n bliksem. Ek verstaan.

In all fairness onthou ek ook nie regtig wat ek voor gevra het nie, maar ek onthou jou. Jy het destyds geruik na aftershave en cheap wyn. ‘n Pakkie dertig Lexingtons het uit jou jas se bosak gesteek en jou baard het gelyk soos ‘n kat wat twee weke vroeër doodgery was en daarna langs die pad in die reën gelê het.

Jou vingernaels was lank en vuil en jou hande dalk bietjie besiger as waarmee ek gemaklik sou wees.

Maar dis ou koeie.

Ek gaan ook nie weer staan en pisserig raak oor my vyftiende kersfees waar ek jou vergeefs gevra het om die bure se twintigjarige dogter met ‘n rooi lint vas te maak en vir my te kom aflaai nie.

Of laas jaar, toe ek staan en besluit het dat ek nou groot is en net twee dinge graag wil hê. Vrede en voorspoed. Soos jy goed weet,  is al waarmee ek beloon was ‘n soap-on-a-rope, ‘n moerse lot skuld en ‘n jaar vol dose wat almal beurte gemaak het om op my tietspiere te werk. En net toe ek reken dinge kan seker nie veel erger nie, staan en stuur jy vir my ‘n nuwe buurman. ‘n Regte fokken poepol met ‘n blink nuwe BMW en ‘n moerse chip op sy kortgat skouertjie.

So die jaar gaan ek jou maar probeer oorreed om die regte ding te doen deur die regte ding af te lewer.  Kyk, ek weet ek’s nie naastenby so oortuigend soos jy nie. Jy redenasie vermoeëns het selfs vir my verbaas daai keer toe ek jou en daai jong krismis-elf meisietjie afgeluister het na julle in die kartonhuisie agter jou stoel in verdwyn het.

Ek weet nie wat jy haar gevra het nie, maar sy kon nie vinnig genoeg ja, ja, ja sê nie.

So hier’s die deal, jou vetgat ou moer. Ek wil die jaar net een ding hê. Dit begin met ‘n “C” en eindig met ‘n  “aptain Morgain”.

Bring dit vir my of ek sien jou weer volgende jaar met ‘n pressie van my eie, spesiaal vir jou. Dit begin met ‘n “P” en eindig met ‘n “oesklap”!

Ag jouself gewaarsku.

Liefde-groete,

Bert.

Waarheid

Mei 26, 2012 in Sonder kategorie

Dis amper half-twee in die oggend.

Insomnia het lankal op my skoot aan die slaap geraak. Depressie het verder gaan suip sonder my.

Ek is semi fokken moeg en half dronk se driekwart gesuip.

Maandag is dit weer Dokter toe. Nog toetse. Nog scans. Nog ‘n doos in ‘n wit fokken jas.

Maar Maandag is vêr.

Dis naweek. En dit was pay day.

McDonalds papiere lê die gang vol.

Headlines en deadlines

Mei 25, 2012 in Sonder kategorie

Nuus van die week! Een of ander verwarde bliksem het ’n prentjie geteken van Jacob Zuma se tros wat uithang.

Die hele land is nou gewikkel in debat oor freedom of speech and expression. Die storie het hof toe gegaan vir ’n dringende indaba oor waardigheid, gelykheid en die beweerde rassisme agter die ou skribbel.

Niemand weet regtig wat om te maak oor die saak nie en dis glo so erg dat selfs die ANC se geleerde advokaat ’n traan of twee moes pik daaroor.

Of hy nou gehuil het oor die grootte van Zuma se verleentheid (sic) of oor die feit dat hy sy naam met ’n plank gebliksem het voor die regter, weet ons ook nou nie so mooi nie.

Al te vreeslik, die hele ding. Die hele land moes hiervoor tot stilstand ruk…

En in ander nuus, nog ’n baba is vermoor. Die een was net vyf maande oud. Die brokkie het darem ‘n byline op gisteraand se e-tv sewe-uur bulletin gekry.

Quo vadis, my skapies?

Quo vadis?

Ta-daaaaa!

Mei 11, 2011 in Sonder kategorie

Dag my skapies, Pappa is weer tuis en hy is honger.

Maar hier is eers solank ietsie vir julle om aan te kou.

Dit was oorspronklik die inleiding van ‘’n nuwe boek waaraan ek werk en online gaan publiseer. Hoekom? Want uitgewers is faktap, dis hoekom.

Ek sal bietjie netnou weer iets opsit.

Groetnis,

Bert.

Ps.) Wat de fok het ooit van Martino die kul-jou-hier-en-kul-jou-daar-en siedaar fokken towerdude geword? My troetelhaas reken sy oupagrootjie het saam met die seun gewerk.

Pretoria brand:

My sigaret lê en uitbrand in die oorvol asbak. Cat Stevens kreun saggies in die agtergrond. Die kaal gloeilamp bo my kop is besig om ‘n flikker-dood te sterf terwyl ek, in alle erkenning alleen, probeer onthou hoekom ek hier sit en wat werklik gebeur het.

My verstand soek die regte woorde, maar my vingers jag eiewillig letters oral op die keyboard en stadig aan onthou ek die vrede van wegkruip in skryf, of dit nou is vir plesier of profyt.

Die opsteek van nog ‘n sigaret lê weer die vlekke op my hande bloot. Sonder skroom of aversie kry my vingers my mond, ly die Chesterfield na sy rusplek tussen droë en seer lippe. Twee diep trekke en my hande dans ‘n bietjie minder.

Wat het gebeur en dra dit nog belang? My linkerhand tel weer my senuwees se ritme op. Die regterhand, gevlek en vervloek, werk beter saam. Seker maar omdat hy ook sy trots en selfliefde moes verpand.

Ek onthou ‘n winkelsentrum en ‘n vrou met ‘n kind aan hand. Die verbygang van vreemdes. Ek onthou die jong verliefdes se soen voor die Wimpy, asook die rye mense voor die Ster Kinekor se toonbanke. Die reuk van vloerpolitoer en mensdom. Van hamburgers en Kentucky.

Ek onthou die flits, die dowwe plofslag. Die stof en die geknars van my droom-loop oor gebreekte glas. Die geraas van ander se angs. Die smaak van bloed en die onsekerheid of dit my eie is.

Cat Stevens maak beurt vir Johnny Cash. Ek onthou die vrou met haar ligblou rok, die klein seuntjie aan haar hand besmeer met roomys.

Nog ‘n trek van die sigaret en die gloeilamp verruil uiteindelik die tydelike vir die ewige. Net die skerm smeer nou skaduwees teen die mure. Ek dink aan my eie vrou, my eie kinders.

Twee weke terug was ek ‘n boekhouer met ‘n drankprobleem. Die gedagte hamer my siel uit soos ‘n stil warm yster, net om iets koud en hard te vorm.

My hand vind die AK-47 wat langs die tafel staan. My eie hand hou op bewe wanneer ek dink aan die koue hand waar uit ek die geweer gehaal het.

Dit is tyd om te gaan werk.

My hartjie, my Bertjie, die son sak weg…

Augustus 31, 2010 in Sonder kategorie

Jis jis!

Oor die afgelope paar jaar het ek dit moerse geniet om hier te kom kak tune en mense se fokken hare op end te laat staan met die vrylike gebruik van woorde soos fok, etter, bliksem, doos, osdoos, moegpoes, werf-etter en ander gepaste Afrikaanse woordjies.

Dit was lekker.

Maar ‘n donker wolk skuif oor die dak van my kaya en vir redes persoonlik het ek besluit om vir eers hier te fokkof. Ek moet seker eerder eerlik wees en sê dat die ander deel van my, die regte deel, besluit het om Bert vir eers af te tree.

Moerse thanks vir almal se good vibes en jolly fokken jolliness. En aan die een of twee konte wat my bestaan probeer versuur het met hulle preutse stront, fok julle. Want julle verdien nie beter nie. Fokken kluite.

Vir al die chommas, sweetness vir julle.

Any case my skapies…

Hierde is my laaste groetnis en goodness,

Bert. 

Amandla more phusa!

Augustus 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek het besluit om nie agter gelos te raak deur die nuwe fokken fashion trends in ons mooie ou banana republic nie.

Die ettikét met Emsie keuse vir die week is “Strike”, nes almal in die koerante en radio en TV vir ons vertel.

Dis ‘n befokte plan. Van nou af gaan ek probeer om meer te strike.

– Strike a pose as die warm dingetjie by reception verby stap.

– Strike ‘n poot innie rigting van die bottelstoor om die brannas goed op te stock teen die oorlog wat kom.

– Strike daai doos buurman van my met ‘n vuis, net omdat hy ‘n doos is EN nog steeds langs my bly.

– Strike a match, net nadat ons Boomies se Friday Flyday delivery gerol het. Maak brand die ou love herb. Puff-puff, hug-hug.

Vier uitstekende fokken redes om te strike. Is seker ook maar goed die fokken kluite het nie besluit om te slow-go nie. Fok weet, ‘n man kan ook net solank aanhou voor hy moet opstaan om ‘n bier te gaan drink.

Sweetness vir die weekend, my skapies.

Bert.

Vinnige joke

Augustus 3, 2010 in Sonder kategorie

So oor lunch tyd. Net om die fokken boredom te breek.

Q: What’s the difference between Elton John and a mallard with a cold?

A: The second one is a sick duck.

Ja, ek weet. Dis net snaaks as jy getrek is en jy vang hom dan.

Groetnis mense,

Bert.

Why is a raven like a writing desk?

Augustus 2, 2010 in Sonder kategorie

Ek voel ek moet nou eers bieg, want dit raak laat en bier wil my nie bed toe stuur met dieselfde dispatch was wat dit gewoonlik doen nie. Boonop is ek nou weer op nuwe mal-pilletjies die maand en die goed hou my uit die slaap uit. Dis seker maar beter, want die ander wat ek eers moes drink het net daarin geslaag om my fokken jimpel te maak. En ja, jimpel is ‘n woord. Dit word gebruik om daai bui tussen jags en simpel te beskryf. Gaan check maar die HAT.

Any case, ek voel ek moet bieg. Ek het vanaand ‘n kinderfliek gekyk. Of so het ons gedink, tot ons dit begin kyk het. Sien, Maandag aand is DVD night by die Combrink homestead en vanaand was dit Suzie se beurt om te kies, God help ons.

Die laaste film wat sy aan my gedoen het was een of ander arty farty fokken ding van die arme moer in ‘n rolstoel wat gedroom het hy kan vlieg. Sonder vlerke of kulula.com of enigiets. Die hele fokken movie deur het ek gesit en wag dat iemand hom by ‘n venster uit slet en aan hom bewys hy kan nie. Maar ek figure niemand het verstaan wat hy gesê het nie, want die hele tyd het hy in Spaans of Romeens of Grieks of iets aangehou fokken monologue en ek moes net subtitles lees. Ja, een van daais. Suzie het aan die einde gehuil. Ek wou ook, maar dit was meer as gevolg van die pyn wat die fliek my in die prostaat gegee het as enigiets anders.

My fok, wat ons nie sal doen vir die mense wat ons bed en liefhet nie.

Vanaand se keuse was Alice in Wonderland. Die nuwe een. Met Johnny Depp. Want sy like hom. Selfs wanneer hy aantrek soos ‘n fokken closet queen en hy ‘n oranje pruik dra wat vir Liberace sou nagmerries gee.

Laat my soms wonder wie die pille meer nodig het, maar ons los dit eerder daar.

So nou sit ons op die couch, ek met my bier en sy met haar bak ice cream. Hagen Dasz. Fokken duur, maar gangbaar as jy hou van kinder pudding.

Die fliek begin en ek maak bier nommer vier oop. Ek verkies om myself te medicate voor ons haar smaak in flieks aanpak.

Met die kyk van hierdie ding let ek op iets wat my die hele tyd krap, maar ek kan nie regtig my vinger daarop sit nie. Dis nou nie teenstaande die feit dat die hele movie my laat dink het aan die keer toe Jan Apteek my brannas gespike het en die security op Hatfield Square my wou toesluit omdat ek snaakse goed aan ‘n potplant begin doen het.

Later val dit my op wat my pla. Almal in die fliek het sulke pienk fokken heroin ogies. Lyk of die lot van hulle needle riders is. Maak seker sin, want dis amper twee ure van die mees surreal kak wat ek in ‘n lang tyd raakgeloop het.

En glo my, ek en die konsep van fokken weird is very well acquainted. Ek meen, vat nou byvoorbeeld die keer toe die oorgewig girl in die tanktop my gevra het of sy my laat dink aan Lara Croft. Al haar pelle het glo gedink sy lyk so. Veral die een met die vermiste voortand. Miss Toothy se naam was Gina en sy het glo die tand verloor toe sy die verkeerde mense goed afgepis het, of so het sy my in detail beduie. Kompleet met hand- en voetgebare van hoe hulle sewe kleure uit haar gemoer het.

Van daardie naweek onthou ek nie veel nie, maar ek onthou dit, en die feit dat Vatjie die aand moes steke kry by ‘n veearts, want daar was nie ‘n dokter op die dorp waar ons ten tye was nie. Ek gaan nie die dorp se naam noem nie. Laat ons maar net sê die Vrystaatse platteland is nie die beste fokken plek vir ‘n road trip nie.

“Ek weet nie hoe mense kan sê hierdie is ‘n vermaaklike familie film nie” laat Suzie my weet om ‘n mondvol Macadamia Nut roomys.

Op die skerm is Alice besig om afgekapte koppe, wat in ‘n kasteel se grag dryf, te gebruik as ‘n brug. Dis nou na die fokken Bandersnatch, so half hyena en half fokken pitbull tipe ding amper haar arm afgeruk het en in die proses sy een oog verloor het. En nadat Alice ten minste drie keer gerek en gekrimp het, net om elke keer ten voorskuin te kom met ‘n nuwe en elke keer meer eccentric outfit.

“Ja nee, fok” antwoord ek toe nou maar en gaan haal nog ‘n bier.

“En ek weet ook nie hoekom jy so baie suip nie!” roep sy agter my aan terwyl ek die pad badkamer toe in die donker aandurf. Enige mens wat weet hoe dit voel om met ‘n kaal poot op ‘n fokken Lego blokkie te trap sal verstaan hoekom jy dit net na ‘n paar biere waag.

“My fok, mens” roep ek toe terug. “Kyk jy nie dieselfde fliek as ek nie? Mens sal dink jy verstaan hoekom…”

En nou praat sy nie met my nie. Sy dink ek het haat smaak afgekraak en ek is faktap. Ek het probeer verduidelik dat die fliek so vêr verwyderd is van die oorspronklike storie soos my gat van my elmboog, maar sy weier om te luister. Want ek het haar afgekraak en daarom is ek faktap. Sela. Amen.

Snaaks hoe mens partykeer dinge sê en dit anders bedoel as wat dit opgeneem word. Soos die Lara Croft wannabe wat meer na ‘n sleg gestopte salami as na Angelina Jolie gelyk het in haar tanktop en ski-pants. Sy het ook nie verstaan hoekom ek Weight Watchers se nommer vir haar uitgewys het in die yellow pages wat hulle ten tye wou rol en rook nie. (Vrystaat… Uh-uh).

Die hele episode het egter ‘n vêr afgeleë herhindering by my wakker gemaak en ek het my boekrak gaan plunder, op soek na my eie kopie van Alice in Wonderland wat ek as kind in ‘n opstel skryf kompetisie gewen het. Die oorspronklike een deur Lewis Caroll.

Na ‘n paar minute se roondblaai kry ek dit toe ook, en besluit ek om dit met julle te deel …

‘Of course not,’ said the Mock Turtle: ‘why, if a fish came to me, and told me he was going a journey, I should say “With what porpoise?”’

 

‘Don’t you mean “purpose”?’ said Alice.

 

‘I mean what I say,’ the Mock Turtle replied in an offended tone.

 

 

Wyse fokken woorde. Die boek lê nou op Suzie se bedkassie, die boekmerk strategies by hierdie bladsy ingedruk.

Van Kinder-krans en kop skeer

Augustus 2, 2010 in Sonder kategorie

Naand vriende,

Jammer ek was so lank stil, but needs must when the devil drives. Dinge is besig, al is dit net besig om my na sterk drank en vinnige vroue te dryf. At least is dit nie veel van ‘n dryf nie, en die trip soontoe is ook nie so onaangenaam as wat ek gefigure het dit sou wees nie.

My ouma het altyd gesê in die lewe kry mens ses pond kak en ‘n een-pond sak. En alles moet in. Sy was reg.

Any case, ek het gister my hare ge-skin head. Nommer 1 knipper deur die lokke gejaag. Ek lyk nou soos ‘n ball bearing en ek figure dis ‘n redelike sexy verandering. Grrrrrr.

Maar daar het vandag ‘n ou song van my onskuldiger dae in my newly sand blasted kop vasgesit. Daai ou kinder-krans een van “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels…”

Nou toe. Soos die skryf van dinge mos maar gaan het ek net weer alles wat ek op een slag aan dink en oor voel bymekaar gelas. Die kombinasie van my sexy-romantiese bui en die ou kerk koortjie was redelik verbasend. Selfs vir my.

So hier is hy. Een vir die taalsuiwer mense onder ons. Vars uit die oond.

So by the way, ek het nie eers een keer gevloek in die skryf van die ding nie, so laat ek dit sommer nou reg stel. Net vir ballans. Fok, fokkit, fokker, fokkof.

Daar’s hy. Dis beter.

Lekker slaap my skapies,

Bert.

Al Sy pêrels:

 

“Daar is ‘n wonderlike verskil tussen spring en val” het jy gegrinnik en weer die afgrond bestorm. Meteens was jy in die lug, en met die swier van ‘n voël in vlug het jy geseil deur die niks tussen krans en kuil. Die water het pad gemaak vir jou, en teen die lig van laatmiddag se goud het jy reënboë nagelaat vir my om na te staar.

Vir ‘n benoude minuut, wat ‘n uur na-aap het, moes ek vêr bo jou staan en soek na jou lyf onder die oppervlakte van die poel. In ‘n droom het ek jou van tevore hier gesien, maar jou kop het toe nie die oppervlakte gebreek en sy rooi-bruin sleep tussen oppervlak en diepte laat speel nie. In die droom het jy in die donker kelders van die kuil verdwyn en my alleen agter gelaat.

My trane en angs het my destyds terug geruk na waar jy langs my jou eie drome besweer het.

Maar nou het die silwer pêrels van jou asem die plek verraai waar jy weer deur die water sou breek. My gedagtes het onwillekeurig terug gegly na die dag wat ons op die strand gestap het en jy my gevra het hoeveel pêrels ‘n oester kan maak voor hy ook, soos alle dinge, die lewe moet verlaat en opeindig as net nog ‘n skulp op ‘n verlate strook sand.

Ek het toe maar net gelag, maar diep in my het die vraag bly vasklou en langsaam sou ek swoeg onder die gewig van jou navrae. “Pêrels is mos eintlik maar net sand wat staan en blink raak, so met die tyd aan” het ek losweg aangebied. Jy het toe gelag en gesê dat alles maar net iets is. Selfs goud en diamante. Alles is net dinge, maar dinge se waarde is ewig.

Jou liggaam het deur die water gesny en jy het uitgeklim en op ‘n klip gaan sit om my van daar dop te hou. “Kom nou” het jy geroep met net genoeg terging in jou stem om my ongemaklik te laat voel dat ek so lank al talm. “Spring!” Jou hand ek my nader gewink. My hoogtevrees het weereens in my keël begin opstoot en dit moeilik gemaak vir my om asem te haal. Met bewerige bene het ek nader aan die rand beweeg.

Met die dertiende wilde klop van my hart het my kneë gebuig en my bene my vêr oor die rand uitgestoot. Swaartekrag het sy wil oor my eie lyf bepleit. Die gevoel van tuimel deur die lug het ‘n naar kol op die krop van my maag gelaat. Die vreemde, bekende sensasie was die weefstof van elke droom en nagmerrie wat ek kon onthou. Die vryheid en die vrees van die oomblik was perfek geraam deur die beeld van jou wat opgespring en hande geklap het net voor die water oor my toegevou het in daardie ongemaklike oomblik van paniek en verwarring.

Ek het nie dadelik na bo geswem nie, maar het eers ‘n oomblik vasgehou aan die donker verlatenheid van die wêreld onder die oppervlak. Meeste van my kindervrese was hier tuis en ek, met wilde begeerte om my eie manlikheid te verkondig, was traag om hierdie woeste paradys van koue stilte en nat geraas te verlaat.

Met al die suurstof in my longe het ek toe geskree, en my woorde van bitterheid en bevryding het soos dertig silwer munte die werklikheid van ons bestaan buite swemkuile gaan opsoek. Ek het die pad wat hulle boontoe gebaan het ook gevolg en uitasem langs jou op die rots gaan sit.

“Is jy orraait?” Jy het met ‘n handdoek begin om jou hare droog te druk. “Ek verbeel my ek het jou hoor skree onder die water?”

Die kommer in jou oë het die diep groen poele van jou oë vertroebel en ek was verplig om weer net te glimlag. “Ja wat” het ek geantwoord. “Ek het net onthou my sigarette lê nog daar bo…” Jy het gelag en gesê dat dit die beste rede is om weer op te stap en af te spring. “Selfs al word my sigarette nat?” Jou lippe teen myne was vlutig, maar warm na die koue van die van die stroom. “Veral as jou sigarette nat word” het jy geantwoord, die duiwel in jou stem.

Jy het opgestaan en ‘n hand op my skouer gesit. Die son was agter jou en het jou met ‘n heilkrans van goud en koper gekroon.

Met die terug kyk op soveel water onder die brug besef ek dat daardie dag ‘n pêrel was. Net een van handevol pêrels wat jy uit gewone sand blink gemaak het en aan die goue ketting van jou menswees gehang het, sodat almal om jou dit kon bewonder. Die waarde van jou is vir my ook ewig, selfs al is alles, selfs al was jy en selfs al is almal van ons ook maar net dinge. Selfs al hunker my siel vanaand om ook een dag op dieselfde ewige strand uit te spoel.