Jy blaai in die argief vir 2014 Januarie.

by Bruggie

Gilding the lily.

Januarie 31, 2014 in Uncategorized

Wat beteken dit ? Onnodig verfraai van iets moois ? Alewig sukkel om die hond se agterent te bedoilie ?

Dis my kwaal. Bv. Sonder tande ontdek ek bly dat as ek spinasie pap mikrogolf, Engelse komkommer rasper, n halwe blik backed beans, n stewige skep KOO beet en fyngekapte koue hoener alles met n Magic Wand verpulp, dan het ek n voedsame wye verskeidenheid , slukbare pappery wat ek dik oor n sny bruin brood kan smeer. Alles deeglik gesout en peper.

Maar nou word die lily gegild. Geen botter of marge op die brood nie. Systap  daarmee die gesonde vet debat. Nee, smeer die brood eers dik met Mrs. Balls.

Heel smaaklik.

Maar wat van die mikro organismes in die derms. Lyk my hulle het handdoek ingegooi. Ek vermoed Mrs Balls het die kameel se rug gebreek, want n dag later plons dieselfde skynbaar onverteerde rooigroen  pappery in die spoelbak.

Ek gaan nou eksperimenteer sonder Mev Balls. Tensy julle mooi vra, sal ek in groot detail verslag doen

 

by Bruggie

Churchill

Januarie 29, 2014 in Uncategorized

is bekend vir sy kwinkslae. Hoe’s hierrie….

Die Britse voetsoldate rapporteer dat n kondoom n geweer se loop droog hou. Durex stuur gratis voorraad vir volk en vaderland.

Die grofgeskut ouens kla gewone kondome pas nie lekker oor die 18 duim kanonlope nie. Durex gryp die geleentheid en maak reuse kondome , verpak met die opskrif : For use of British soldiers. Size ?

Churchill , wat vermoed die besending gaan in Duitse besit kom, dring aan dat size moet aandui :”Small”.

Grinnik ou Bulldog. “That will show them who is the master race !

 

by Bruggie

Dis nou lekker

Januarie 26, 2014 in Uncategorized

Ek kom af op n site (webtuiste ?) getitteld Cartoons from the New Yorker. Dit ly tot n lekker diens. Daars drie kolomme soos:

1.Desert Isle        2. owl          3. Knight .

Jy mag n skep-n- Cartoon knoppie druk.

Binne sekondes  teken blikbrein  die tradisionele verlate eiland. Daar staan die onwaarskynlike ridder en n uil met die onderskrif. “Trust head-office to cheap out on the wrong bird !”

Die uitdaging is jy gooi die moeilikste kombinasie vir blikbrein en staan dan verstom hoe hy ongepla skreeusnaakse cartoons en onderskrifte skep.

Lekker!

 

 

 

by Bruggie

Te stigtelik ?

Januarie 24, 2014 in Uncategorized

Die blogs deesdae in vergelyking met die faaits van  jare gelede. Te stigtelik ?

Die onstigtelikes wat ek hier gekry het was Anha en Doom Donkie. Ou Francois Williams se woedes. Die golf vrou/prokureur. Die hatige ateiste, met hul grootste verwyt dat so en so tog nie met die opvoeding van kinders vertrou moet word nie. Eksi se gespartel teen die goddeloses. Voorheen was daar glo n vuilbek meubelverkoper wat later getoffiestalletjie het. Die dom en haar rooi boudjies.n Oom wat  “wetenskaplik” sekskennis verbreed het, en toe moes vlug.

Deesdae is dit ordentlik. Verslaande sout ?

by Bruggie

Is daar hoop ?

Januarie 21, 2014 in Uncategorized

Seker n biljoen mense se lewens is erg ontwrig deur godsiensgeweld, van die Philipyne, Cambodja, Shri Lanka, Pakistan, Afganistan, Iran , Irak, Syrie”, Egipte , die hele Afrika noord van die ekwator.

Mense wat in Moskees , Sinagoges en Kerke opgesweep word. Heilige boeke wat selfmoordbommers 72 maagde beloof.  Jode wat in hul boek lees dat dat hulle uitverkore is en dat dit Godswil is dat hulle Palestyne moet verjaag.

Ooral in Sub-Sahara Afrika moet soldate van elders plaaslikes probeer ontwapen om slagting te verminder. Bang vroue en kinders kruip in die oerwoud weg. Hongersnood heers want boerderye staan verwaarloos.

Politici buit godsdiensverskille uit .

Ek moet veg teen die drang om godsdiens te verwens want dis wensdenkery dat godsdiens oornag gaan verdwyn. Ek besef dat slegs gelowiges hul gelowe kan moderniseer en n verskil kan maak.

Hopelik beny hierdie geteisterde gelowiges die voorspoed en vrede van die sekulêre wêreld en temper hul godsdienstigheid . Opponeer tog die opswepers driftig.

Ek verpes mense wat met godsdiens spot . Miskien is dit malligheid om te bid en geborge te voel, maar dis skadeloos. Praat gerus met n liefdevolle, onsigbare vader , al bestaan hy nie. Veel beter as om te glo dat jou god wil hê jy moet vyande uit delg.

 

 

 

 

by Bruggie

Wors IK 150

Januarie 16, 2014 in Uncategorized

Die huurders se Wors se maat is dood en die ander een het saam met sy mies getrek.  Ek bly oor as Wors se hoof geselskap en getroue balgooier.

Dis eintlik met my kwynende IK n groot voorreg. Hierdie Wors het n IK van 150.

Kinderspeletjies vir Wors om moeiteloos die regte afleidings te maak. Kom  ou Boepens uit die stortkamer gestap met n swart swembroek aan, is dit tyd vir gatswaai en ore flap want binne minute gaan daar n bal gegooi word. As ou Boepens aan die vlak kant is, loon dit die moeite om die bal langs hom  te laat plons. So twee of drie keer tops, sal die ou die bal uitgooi maar hy raak gou verveeld. Diep kant moet jy kom so vyf minute gee tussen gooie.

Speletjie staan ernstig einde se kant toe as hy op die grasperk staan en droog waai. Lees sy liggaamstaal versigtig. Probeer om die hoek glip met die bal, maar Boepens is te uitgeslape en roep dreigend. Draal is nou al genade. Gaan sit langer as nodig vir n kamtige pissie. Gooi dan maar die bal vir oulaas neer. Luister beleefd na Boepens se bababrabbeltroosrympie  All Finished. Wees getroos  dat ou gegroefde klokslag weer met sy swembroek aan gaan verskyn.

Boepens sluit sy fiets . Koop inkopies. Ontsluit fiets. Pak inkopies in fietsak. Sal hy nie wragig weer sy fiets sluit nie !Ewe verbaas as die wiel vashaak . Ja nee.

Wors 150 . Boepens 10.

 

by Bruggie

Dilemma ?

Januarie 14, 2014 in Uncategorized

Die Katolieke glo in n onfeilbare pous. Die nuwe ou trap op baie tone en vernuwe dramaties.

As die kardinale besef die man wat hulle verkies het, gaan te ver, kan hulle weer vergader en hom ontsetel ? Glo nie.

Of moet hulle hoop op n sluipmoord ? Hy is juis so onverskillig.

Hoe sien julle die vernuwende pous. Gaan hy die Kerk transformeer oor aborsie, kondome,gays, vroue regte, egskeiding, selibate priesters en nonne,versoening met ander Christelike kerke en met Islam ?

Ek kry die indruk 90% van Katolieke stem nie met hom saam nie, maar as onfeilbare woordvoerder en gesant van God plaas hy  hulle in n dilemma.

Ek dink sy volgelinge gaan nie bodder om hom te verstaan nie. Hulle gaan maar geduldig wag op sy natuurlike afsterwe en hul eie ding doen en dink oor al die moeilike kwessies . Soos hulle al eeu lank doen.

by Bruggie

Hekse

Januarie 13, 2014 in Uncategorized

Oor die afgelope 3000 jaar was bang gelowiges  maar te gretig om  hekse uit te delg.

Met die opkoms van wetenskaplike verklarings kon beskaafde lande hekse jagtery verbied.

Helaas, dis deesdae sonde om meerderwaardig te wees teenoor Voodoo en voorvadergeeste. Selfs in  kultuurkringe word die bonatuurlike fiksie  beswymel. Op TV gedy aliens. Harry Potter en towerstaf. Dom astrante jeug lol met satanisme.

Die Taliban loer. (Aits,  CM, jy’t kompetisie.)

 

by Bruggie

Tina

Januarie 8, 2014 in Uncategorized

weet jy dalk of n plaasskool so 20 km suid van Pietersburg nog bestaan ? Destyds het ons op laerskool kaalvoetrugby teen al die groot dorpe  (Nylstroom, Potties, Louis Trichardt, Naboomspruit) gespeel maar ons was die skrikkerigste vir die rowwe outjies van die plaasskool (op n proefplaas ,verbeel ek my.)

Danie vertel hoe jongetjies in Dubai ook rugby speel maar met boots aan! En dit op n pragtige stukkie groen gras (kuns?) Duidelik is die kinders nie gekonsulteer nie.Boots skaaf en trap seer. Kaalvoet is lekker.

Destyds teen die plaasskool was ons dorpsjapies meerderwaardig toe ons op n gestroopte mielieland moes speel. Op n kol was ons sneller op pad doellyn toe toe hy met sy kaal voete in n mynveld  dubbeltjies beland. “Eina, fok” (het ons so sterk gevloek ?) Bal in die lug gegooi . Gaan sit en dorings trek.

Tuisveld voordeel vir die rowwes.

by Bruggie

Perdebytjie

Januarie 4, 2014 in Uncategorized

skryf oor die wapens van diere , oor natuurwette , oorbevolking en die mens wat  slegs met  wapens in die natuur oorleef.

Sy kom nie by dierlike groepsgedrag uit nie. Leeutroppe met n territorium. Luiperds wat territorium afbaken. Die instintiewe doodmaak van indringers.

Nog n kenmerk van groepdiergedrag is hierargie. Die alfa mannetjie en die alfa wyfies en die gevegte tussen die manlikes van insek,  bok, perd, tot  bobbejaan.  Dikwels die rolle van manlikes wat verwek en vroulikes wat versorg.

Al hierdie eienskappe kry mens by die mens . Ons is diere.

Godsdiens is veronderstel om verdierliking teen te werk. Gee die swakkes n kans. Moenie groepe wat van jou  veskil wantrou nie. Wees liefdevol teenoor almal. Gevorderde godsdiens sê vrede op aarde.

Is dit werklik wat godsdiens doen ?