Skip to content

Monthly Archives: Maart 2014

Roadtripping: Van Barrydale tot Prins Albert

Om te ry, verken, snuffel en veral  kuier-kuier tee te drink op allerhande klein dorpies is lekkerder as lekker.

Op ‘n Lekker Vrydag-vakansiedag vat ons die pad deur die tonnel en as die geelgoud wingerde van Rawsonville opduik dan weet ek:  die langpad vol beloftes le voor. By Rooiberg staan een m…rse rooi stoel vlak teen die pad en dis al aanmoediging wat ons nodig het om hul heuning-en-kaas botterbroodjies (lekkerste) te bestel en weer te bestel.  Ons koop rooi muskadel, cabernet sauvignon en skielik klink  kaggelvuur en koue winterwinde nie meer na ‘n slegte idee nie.

Dis die naweek van die “Buff” en oral zoer motorfietse met manne en hul leerbelaaide doedies verby op soek na ‘n skeutjie onheil en jonkwees.  Die enigste verskil is almal is al oor 50. Op Barrydale loop ons juis so ‘n groep raak by Diesel & Creme. Dis heerlikste skuur-met-attitude restaurantjie wat so pas deure oopgemaak het.  Van gehekelde teepotoortreksels tot lewensgrootte Coke tekens en ‘n geroeste kar-enjinkap oor die  kroegtoonbank nooi jou uit om ‘n bietjie te vertoef.  As die eienares ‘n varsgebakte stuk wortelkoek voor my neersit vergeet ek vir ‘n klein rukkie om my te vergaap aan die ingemesselde kerkvensters en muur vol “vintage” advertensieborde. Vader Krismis en ‘n pop met ‘n bling kroontjie sit tjoepstil langs ‘n geblomde enamelbak vol suurlemoene en rooiuie en in een van die vensters is Lucky Star sardyne in rye uitgestal.

Oudtshoorn is ‘n skone plesier sonder die geroesmoes van KKNK (gelukkig eers volgende naweek).  Ons slaap oor by Hlangana Lodge en verneem dat hul 95% oorsese gaste ontvang. Ons is dus kroonwild en word aan al wat uitlander is bekendgestel vir raad oor besienswaardighede in SA. Vroegoggend ry ons deur die natgedoude straatjies en koop ‘n koerant by Smit se Kafee wat lyk soos ‘n foto uit my ouma se album.  Skuins bokant, hoog op ‘n koppie, sit drie groterige bote, honderde kilometers ver van die naaste see. Oppad deur die hoofstraat word ons tot stilstand gedwing deur ‘n groep dromproppies en ‘n rumoerige lekker brass band.  Iemand prop ‘n traktaatjie oor TB deur ons motorvenster en ek wil skielik hoes.

As ek weer kyk duik die afdraand-hoofstraat van De Rust voor ons op.  Die dorpie bestaan uit snuffelwinkeltjies, ‘n paar kafees en ‘n restaurant met vintage klere te koop. Ant Dora se Spens is buite versier met koekblikdeksels, geroeste plaasimplemente en ‘n paar droe dierkopbene in die tuin.  Daar is twee geboue en een dien as ‘n glasstudio. Jy lui ‘n klokkie as jy wil inloer en as die eienares nie elders besig is nie sal sy oopmaak. Hier is oop- en toemaaktye eie keuse. Laer af in die straat verf ‘n rastaman ‘n teken wat lees Klapperbos en agter hom is ‘n bloedrooi muur met ‘n ou ingeboude koolstoofoondjie vir buitebrode of dalk sommer net koue aande. Teen die kant van die gebou hou ‘n kordate sementhoenderhaan wag oor die woorde: ” Na al die jare maak ek weer ‘n plaashek oop. Waar het my paaie tog nie geloop.” Uys Krige

Dis Saterdag in De Rust en erens in die verlede het ‘n baie orige dwergieman onder die vroue gesaai, want oral oor die straat strompel klein verrimpelde mannetjies en meidjies gevul met vroegoggend se bottelstoorvoggies doelloos op soek na nog.

Vroegmiddag ry ons deur Meiringspoort.  Eerste tol, tweede tol en derde tol is almal bakens van ‘n tyd toe padwerke geld gekos het vir die reisiger.  Die rivierklippe is blink van die goeie reens en die groengeilbossies van die Klein Karoo klou verbete aan oorhellende rotsformasies. Jy wens die pad wil nooit ophou kronkel nie, want lekker en mooi gaan tog so gou verby.

Op Prins Albert is die strate bedrywig, want hier is drie troues aan die naweek.  Gastehuise se voorhekkies is versier met Kaapse motors en jong meisies met min grimering en somerrokkies drink lang glasies op die voorstoepe. Ons is ingeboek by die Swartberg Hotel.  Geen gastehuis kan kers vashou by die stories wat vasgetrap is in die houtvloere van ‘n dorpshotel nie.  Krakerige houttrappe na die tweede verdieping vertel van baie voete en vele gaste uit tye lank voor naweekuitstappies “fashionable” geword het.

Ons eet by The Galery en saam met die lamskenkel en Volstruis Carpaccio verlustig jy jou aan die mooiste kunswerke wat oral opgehang is.  Een toneel van ‘n wintervaal Karoodag is gemerk R55 000.

Vir oulaas drentel ek die hoofstraat af en neem foto’s van ‘n outydse houtkarring en bont enamelskottels by die Prins Albert Trading Post.  Agter in die tuin, langs die lang sementdam, word moerkoffie bedien wat ruik na plaas en tiemieblare.

Die Karoo Store is ‘n moderne kuns-cum-interiorwinkel met Drum Magazine-kussingslope, klein muurskilderytjies van neon en kantinsetsels en ‘n helder oranje art deco bank vol brighter strooikussings.  Die materiale is almal eg Suid Afrikaanse ikone en voor ek uitstap koop ek ‘n klein keramiekprentjie wat se “We will not move from here”.

Suid, Oos, Weskus die beste

Ek is ‘n Weskus girl.

Iets aan die Karoo-by-die-see “look”  stel my vreeslik gerus. Die reuk van die bamboese, fyn getrapde skulpies op die strand en donkerbruin rotse streel my gemoed.

My kinderdae Desembervakansies is spandeer by Skaapvlei, so ‘n kronkelpaadjie deur Koekenaap, met ‘n sandpad tot by Gert du Toit se Baai.  Hier was en is nog steeds geen toiletgeriewe, geen lopende water en nog minder elektrisiteit.  Soos my ouma sou se: net die kaivlakte.

Dan is daar die mense – ongopgesmuk en reguit op die man af.  Die erre rol van die tong af soos branders oor die strand en as jy as gas genooi word aan huis is alles wat hulle s’n is joune en nog meer.

Na ‘n baie slegte ondervinding van so paar jaar terug (waar ek ‘n projek moes van die grond af kry in Langebaan se wereld) was my reenboog bubble sleg gebars oor die mense van die Weskus (of dan nou Langebaan se wereld).  Ek het teen ‘n muur van agterdog en kleinlikheid vasgeloop en dit het gevoel of alles wat ek nog altyd bewonder het van hierdie Weskuswereld en sy mense ‘n klug was. Dit was so ‘n traumatiese ondervinding vir my dat ek ook my groot liefde vir Weskuskuier verloor het.  Alles daar het my herinner aan die slegste tyd van my lewe (wel amper slegste…)

So twee weke gelede het ek weer die pad gevat Weskus toe.  Langebaan, Velddrif, Dwarskersbos en Elandsbaai. Sommer so ‘n vinnige ry-ry-kuier van oorslaap, ry, eet, ry en koffie hier en daar.

En daar vind ek toe weer my MOJO vir die Weskus! Die Weskusbossies, lang eindelose strande en  visserbote wat luier in die Bergrivier.  Die skulpdiertjies van ‘n geskenkwinkel laat my hardop lag. Rye bokkoms laat my skielik verlang na Koos Kapsnor, my pa wat met sy knipmens ‘n bokkom kon eet dat net die skoon graat oorbly.

Op Elandsbaai ontdek ons Die Wit Mosselpot en hier is Cornell nie net eienaar nie, maar ook musikant, kelner en uithuurder van surfborde.  Sy vrou maak die heerlikste kos – alles proe na vanoggend-gevang. Later demonstreer Cornell selfs die tregtervoer-metode van drink. My Savanna Dry word  weer teruggespoeg in die glas, maar ek is ‘n ondervinding en baie lag ryker.

Oppad terug Kaap toe ry ‘n gehawende bakkie vol snoek voor ons en die bumper sticker lees: Wes fokken Kus.  Wel ek stem en sou net een woord wou invoeg… Wes fokken-lekker Kus.

Gaan direk na nutsbalk.