Skip to content

Monthly Archives: Desember 2013

Oudword is erg, maar sonder ‘n skeet – nog erger.

Een maal ‘n jaar, so as my skoonpa se verjaarsdag nader, besluit hy dat hy definitief by hierdie tyd al iets ernstig moet makeer en dink dan ‘n skeet uit wat ons hele familie in alle rigtings laat spaander.

Kyk die man is 88 jaar oud en makeer net mooi boggerol, maar ek verstaan sy vrese.  Om na 90 to oppad te wees en niks ernstig te makeer is genoeg om enige mens hond se gedagte te laat kry.

Verlede jaar kon hy skaars van die vliegtuig afklim weens die vreeslike steek hier net onder die pankreas/ of lewer of bo-op die maag.  Elke tree was ‘n meesterstuk van kreune en sy-houvas.  Ouma, nou self 80, hiperaktief en ineengekrimp soos ‘n droe pruimpie,  trippel bysiende saam en lewer elke halfuur die ergste uitsprake van siektes wat jy nog ooit gehoor het.

Gelukkig is my skoonsus ‘n dokter en sommer binne die eerste week is Oupa se bloeddruk geneem (normaal), bloedsuiker getoets (normaal), hart getoets (normaal) en het hy ‘n kolonoskopie ondergaan om die oorsaak van die vreeslike pyn te vind. Na vyf liter veselrige drankies is die kolon skoon genoeg bevind vir die kameratjie en die het elke hoek en gaatjie beloer.  Drie dae later kom die uitslae oor die foon:  daar kon niks fout gevind word met die maag, derms, kolon, pankreas of selfs lewer nie.  Binne minute na die nuus verneem is, het die pyn ook verdwyn om nog nooit weer sy verskyning te maak nie. Die stap was skielik weer fier en die steekpyn was helaas ‘n hersingskim.

Begin November vanjaar, natuurlik weer ‘n paar weke voor Oupa se 90ste verjaardag, kom die noodoproep weer.  Oupa se waterwerke het gaan staan en hy moet dadelik ‘n spesialis te sien kry.  Sy prostaat is al voorheen “getune”, maar hierdie keer is hy doodseker dis kanker.

Met groot gestoei – bussie van Port Alfred na Port Elizabeth; by suster wat self 84 is oorgeslaap en vroegmore op die vliegtuig Kaap toe – land die twee weer moeg gestres op die lughawe.  Ouma is nou nog kleiner as ‘n jaar terug, nog meer bedrywig en blinder as ooit. Sy kan nie eens vir my se wat se patroon is op haar bloesie nie, maar skreeu wild en wakker vir motors wat sonder flikkerligte ry.

Twee dae later is dit die afspraak met die uroloog.  Ouma pyl op hom af en bekyk hom mooi van nader (soort van neus teen neus).  Oupa was vroegoggend drie maal badkamer toe – seker om al die simptome te gaan “check”. Dr Spesialis kondig aan dat Oupa by die hospitaal moet inboek vir ‘n “scope” (ai alweer die kameratjie) en dat hy ook die nag gaan oorslaap.  Dit veroorsaak eers ‘n jong relletjie, want Oupa kan nie dink dat hy van 7 in die oggend tot die aand 7uur sonder kos en tee sal moet klaarkom nie.  LW dis nou ‘n “siek” man wat hom meer bekommer oor sy etes as die kameratjie!

Die volgende oggend halfsewe bel Oupa om te se daar is absoluut niks met hom fout (net ‘n ligte infeksie) en dat ek hom dadelik moet kom haal.  Nee, die dr Spesialis het hom nog nie ontslaan nie, maar hy gaan sommer nou aantrek en na sy praktyk stap.  Met groot mooipraat oortuig ek hom om maar rustig te le tot saalrondtes klaar is.  Teen 10:00 gaan haal ons hom en hy sit kiertsregop in die voorportaal, oornagtassie langs die stoel.

Toe ons weer sien is Oupa weg!  Hy het besluit om gou die dr te gaan betaal en dan die apteek te gaan soek.  Wel dit neem ons 72 minute om hom weer te vind waar hy erens in ‘n vreemde gang heen en weer loop, op soek na die hyser.

Ons kom almal natgesweet by die huis aan en het nog skaars ‘n koppie tee in die hande toe Oupa aankondig sy waterwerke wil alweer nie werk nie.  Hy is seker dit sal werk sodra sy voorskrif afgehaal is by die apteek.  Dus jaag ek apteek toe en net voor ek wegstap verneem en terloops die doel van die lewensbelangrike voorskrif… “Nee Mevrou, dis sommer net ‘n natuurlike kruiepilletjie wat sal help as daar dalk infeksie mag opduik in die toekoms”.

Drie minute na Oupa die pilletjie gedrink het storm hy toilet toe en kondig kort daarna, met groot genoegdoening, aan dat die probleem nou opgelos is.

Wel opgelos tot volgende jaar net voor sy verjaardag…

Gaan direk na nutsbalk.