Skip to content

Die Photoshoot

Laat ek my mos sowaar ompraat vir ‘n “photo shoot” vir vandag wat in ‘n bekende tydskrif moet verskyn.  Die naam het te doen met Rooi en Rose.

Eintlik is die gekiekery vir my en Barbra, ons Zimbabwese huishoudster, maar aangesien sy nou die dag eers 30 geraak het sien ek geen sweempie van kommer oor haar wenkbroue luier.  Net ek slaan in wilde sweetgloede  uit dae voor die tyd en bid elke aand “Ag Liewe Jesus, laat ek tog moreoggend 20kg ligter opstaan, Amen. En o ja ek belowe om nie weer soveel koek te eet nie, weereens Amen”.

Maar… die Liewe Vader het ook al die lee beloftes ‘n hele paar keer in my leeftyd gehoor en vanoggend – groot dag van fotonemery – knel tot my pajamabroek se rek my meer as gewoonlik.  Eens in my prille jeug het ek mooi groot oe gehad, maar vanoggend is die een sommer baie kleiner as die ander klein een.  Sit ys op die slape en wange, maar opgepof is ‘n eufemisme vir die toestand..

My niggie stel voor ek vra die grimeerkunstenaar om rojaal met die bronser te verf, maar toe die  meisie instap met ‘n piepklein tassie weet ek sommer daar is nie genoeg bronser vir die golwinge van hierdie gesig en lyf.

Gelukkig is Barbra eerste aan die beurt en met ‘n lang pikswart “weave”, mooi plooilose gesiggie en vietse lyfie  lyk sy klaar soos ‘n model nog voor ‘n poeierkwas gelig is.  Ek eet dadelik ‘n cupcake om die senuwees te lawe.  Dit is die eerste keer in Barbra se lewe dat sy onder hande geneem word deur ‘n grimeerkunstenaar en sy geniet die getitteweit vreeslik.  Te pragtig met die goue oogskadu, rooi wange en swart strepies fyn getrek oor die ooglid.

Heeltemal te gou is dit my beurt.  Nou hier moet ek net eers bieg dat ek so ‘n bietjie “rescue” werk aan die gesig gedoen het VOOR die tyd.  Nie kans gesien dat die fotograaf en stilis hul winde uitskrik vir my vaal gesig.  ‘n Lipstiffie, wangrooisel en mascara helder enige modderkleurige kompleksie op.  Net sowel, want ten spyte van die “voorbereidingswerk” neem dit nog steeds 45 minute om my op te dollie.  Toe ek weer in die spieel kyk is daar glads wangbene en die oe het ook meer definisie.

Poseertyd vir die fotos:

Soos dit enige volronde figuur betaam is ek van kop-tot-tone in swart geklee.   Swart is veronderstel om verslankend te wees, maar glo my ‘n ronde lyf gedrapeer in swart lyk meer soos ‘n lykswa tussen ‘n klomp Kia’s.  Dis darem beter as ‘n geblomde nommertjie – ‘n lopende rusbank is ook nie mooi nie. Barbra is pragtig geklee in ‘n donkerblou “skinny jeans” , rooi hempie en ‘n kort swart baadjie en teen haar Kia-lyfie lyk die lykswa baie groot.

Eers laat sit die fotograaf my op die stoel en Barbra vlei haar mooi op die stoelleuning neer.  Skrik vir my boeglam toe ek agterkom hy gaan my hele lyf afneem.  Kruis die bene, trek die arms in, maar nes ek ontspan spring daar ‘n rolletjie erens uit, ai. Ek sien sommer in my geestesoog hoe die hele Afrikanervolk deur die tydskrif blaai en geskok vir mekaar wys wat alles kan skeefloop in ‘n foto as jy nie oppas nie.  Spring na paar klieke op en stel voor Barbra sit liewer en ek sal staan.  Gelukkig val die fotograaf vir die een en Dankie Vader ek kan nou so effens agter Barbra skuil.  Selfs die fotograaf knik instemmend  vir die nuwe “pose”.  Seker ook al benoud gedink oor sy reputasie in die stilligheid.

Ons het toe pragtig uitgekom op die fotos en as hul my nog bietjie photoshop gaan ek en my Zimbabwe Barbie soos hollywoodsterre lyk in daardie tydskrif.  Hou die rakke dop!

 

14 thoughts on “Die Photoshoot

  1. vega says:

    Dit klink na ‘n lekker ondervinding. Snaaks hoe mens so fokus op dinge wat ander mense nie eers raaksien nie, want elkeen worrie te veel oor hulle self:-)

    AntwoordReport user
  2. tina10 says:

    O ek sien uit … ek het ophou om die tydskrif te koop maar sal beslis uitkyk daarvoor.

    Ek lees altyd lekker hier

    AntwoordReport user
  3. lora2me says:

    Ek het nou so lekker gelag vir die “lykswa” en die “rusbank”. Ai, tog, ek loop maar heeldag met my begrafnisklere, want dit gee ten minste ‘n skoon lyn. Dollie dit maar op met lipstiffie en iets helderkleurigs. Ek sal op die uitkyk wees vir daardie RR.

    AntwoordReport user
  4. Sanet says:

    Beatrix – Bravo! Welgedaan aan die artikel en die fotos!

    Antwoord
  5. Mariandl Pelser says:

    Ek het kliphard gelag en dis middernag!! My man het glads wakker geword en gevra wat aangaan. Jy beskryf altyd goed so kostlik!!!

    Antwoord
  6. Friedel says:

    U I T S T E K E N D!!! dankie vir die lekker lag, jy maak my dag en gaan dadelik die Rooi Rose koop om die hele artikel te lees x

    Antwoord
  7. Mariette says:

    Ai Beatrix, jy skryf nou maar eenmaal so lekker. Het my sommer opgekikker!

    Antwoord

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.