Skip to content

Monthly Archives: Julie 2013

Natazha – ‘n buurvrou in Kroasie

En so draai die vrolike vakansiegees van Hvar-eiland toe ook hierdie week sy hartseer kant vir my.

My buurvrou, Natazha is twee weke gelede gediagnoseer met pankreaskanker en Sondag oorlede.

By my jaarlikse aankoms bring sy ‘n bakkie soet vye, ‘n paar aartappels of ‘n sakkie roketslaai – wat ookal beskikbaar is in haar tuin.  Sy het ‘n sleutel van ons huis en as die elektriese mense die meter moet lees gaan klop hul net af in die straat, want sy sal oopsluit. Sy sal ook sodra die son kop uitsteek, na ‘n koue nat winter, die vensters kom oopmaak en die “house air” sodat alles vars kan ruik wanneer die somer aanbreek.

Ek en sy kon vir ‘n uur-en-half lank koffie drink en gesels – sy in Kroaties en ek in Engels – sonder dat ons ‘n woord van mekaar verstaan, maar tog te vrolik met handgebare, ‘n paar Duitse invoegsels en hier en daar ‘n praktiese demonstrasie.

Sy het my gewys hoe ‘n jy  bakalar voorberei vir Paastyd.  ‘n Gedroogde, sout vi s wat vir ‘n dag lank in water geweek word en dan saam met aartappels, uie en kruie gestowe word vir Goeie Vrydag.

Natazha se prosek is legendaries.  Die soet wyn gemaak van rosyne val goed op die tong en met ‘n ysie en suurlemoenskyf vergryp jy jou maklik tot hoenderkopstatus.

Een aand nadat ek moes vlug vir die vorige huiseienaar – wat dronkverdriet gekry het oor sy huisverkope – was dit Natazha wat my op die boonste vloer van haar huis geherberg het sodat die volgende ligdag soberheid kon bring.

Ek is jaarliks oor die kole gehaal omdat ek nog steeds nie Kroaties kan praat nie, maar as die munisipale man met my in redenasie wou gaan oor diensfooie het sy gou afgedraf na die winkel waar die eienaar goed kan Engels praat.  Die summier van sy winkel gelok om my en die stadsraad se probleme te kom vertaal.

Haar grootste deug en taak was om vir 32 jaar haar erg gestremde dogter te versorg wat in ‘n rystoel sit en niks vir haarself kan doen.  Sy sou haar elke dag uit die bed haal, bad soos ‘n baba,  aantrek en met die grootste geduld voer .

Die aand voor haar dood het ek gaan inloer en nog gedreig omdat sy nie haar kos wou eet.  Daar was amper ‘n hulpelose smeking in haar oë, maar ek het dit nie verstaan.

Gister het ons haar begrawe.  Hier kom almal by die begraafplaas bymekaar.  In die kerkie  staan Louis haar man, Luiza haar dogter en skoonseun Igor, verdwaas voor die kis.  Almal stap in ‘n ry om eers die louriertakkie in die water te doop, die kruis te maak en dan na hulle toe om met hul te simpatiseer. As Louis my sien, gooi hy sy hande in die lug, want ek neem aan hy dink aan die aand tevore toe sy nog saam met ons aan tafel gesit het.

Later stap ons in ‘n lang optog na die graf – kis op ‘n karretjie wat getrek word, die priester met sy ligpienk toga en ons tros agterna.  Niemand praat, want die dood het so skielik oorval.  Die kis sak af en almal staan verslae.  Sy was dan nog gister hier.

Hvar-eiland: ‘n Fotobeeld 1

Die van julle wat my blog al paar maal gesien het sal weet dat ek ‘n bietjie subjektief is oor Kroasie en veral my harts-eiland Hvar.  My plekkie in die son so eenmaal ‘n jaar vir die afgelope 10 jaar.  Kuier nou juis weer hier en deel sommer ‘n paar van my geliefkoosde plekke met julle.  Enjoy!

Gaan direk na nutsbalk.