Skip to content

Monthly Archives: Junie 2013

Wilde Kerriebos, heuning, laventel en tafelwyn: ‘n Veldblomfees in Kroasie

Op die vooraand van Kroasie se troue met die Europese Unie is hul  vanjaar genooi om deel te neem aan ‘n Europese Veldblomfees.  Slovenie, Skotland, Romenië en  Kroasie is  aktief betrokke by hierdie projek en verteenwoordigers en kultuurkgroepe  besoek die verskillende feeste in elke land en daar word geëet, vervaardig, geskou en natuurlik ook gedans en gesing.

Ons ou kleine dorpie, Stari Grad hier in ‘n seestegie van Hvar-eiland is gekies as die dorpie in Kroasie, want dit is die oudste dorp in die land en het  velde en heuwels wat oorloop van fauna en flora waarvan mense hier vir eeue geleef en gedokter het .

Agter in die buurman se tuin – wat in 20 jaar nie ‘n graaf of skoffel gesien het nie – groei die wilde  kerriebos en roosmaryn skouerhoogte.  Die buurvrou verskaf oreganum aan my geliefkoosde restaurant (Jorin Podrum) en dit is tans blomtyd en oestyd vir  laventel  op die eiland.   Laasgenoemde gaan amptelik gevier word komende naweek met ‘n groot opskop in Velo Grablje – ‘n klein gehuggie waar die eerste laventel gevind is op die eiland en die somtotaal van 7 gesinne nou woon.  Dit sit bo-op ‘n berg vanwaar jy die buitelyne van die eiland kan sien en almal van oor die eiland trek op soontoe om te help feesvier, want hier word dinge behoorlik gedoen.

Maandagoggend het die Veldblomfees afgeskop met baie formele openingsrede – vlae de lot.  Die burgemeester (nogal ‘n vrou) het bladgeskud met die ander lande, die klapa het gesing en toe is daar wyn  gedrink.

Deur die dag is daar blommerangskikkingdemonstrasies  en in die plaaslike museum  is die geskiedenis medisinale  plante  uitgeskryf en uitgestal.  Daar is ook kanthekelwerk en kinderkuns – so ietsie vir almal.

Saans skud die dorp sy hittejas van die dag af en daar word boules gespeel naby die Sokol Cafe/bar, die vroue en mannekore sing en ‘n balletgroepie van Bled, Slovenie doen die mooiste pirouette naby restaurant Antika op Skor-plein.  Gisteraand het Jelsa se dansers polkas, majurkas en griekse hakklappe gedoen as weerspieeling van die land se dansgeskiedenis.   Die “Brass Band”  (almal vrywilligers) het gespeel: die prokureur op die fagot, burgemeester op die groot drom en  haarkapper baie handig (fluitig) op die trompet.  Dit alles terwyl die kinders tougestaan het by die byeboer se groot vat heuning waar jy jou lepeltjie onder die kraan kan hou vir ‘n lekker mond vol soet.  Tafels vol handgemaakte ware word uitgestal vir proe en koop – alles met ‘n veldblomtema.  Die bokmelkkaas met stukkies oreganum sit nou veilig in my yskas en die heuning het ook vanoggend oor my broodjie gedrup.

 Geborduurde sakkies met droë laventel en ‘n pop-klein bottel laventelolie word verkoop vir vismotplae of sommer net lekker ruik en goeie nagrus.  Olyfolie, olyfolieseep en ingelegde olywe is hoofsaaklik vir toeriste om te koop, want hier het elke huis hul eie lappie grond waar hul druiwe pluk vir huiswynmaak en olywe pluk vir inlê en aanry na die olyfdrukker in Vrsenik.

Meeste van die restaurantjies, maak nie saak of daar drie of dertien tafels is nie, het ook ‘n spesiale spyskaart vir die week om die geleentheid te vier bv.  Jurin Podrum –  Vinkelsop, Ruccolaslaai met bokmelkkaas en okkerneute en vir poeding, Pannacotta met laventel

So le daar nog ‘n week van proe, lesings en musiek voor – dis nou eers Woensdag….

Wildflower Festival programme:

24th of June 2013, Monday

09.30 FESTIVAL OPENING, Stari Grad Museum
Stari Grad History Lecture by prof. Aldo Čavić
Flower Exhibition opening in Stari Grad Theatre:
“Patchwork”, Stari Grad Museum
Exhibition of lace, flower photo and children’s drawings
Stari Grad guided city Tour
19.00 Flavors of Stari Grad Plain Festival on Tvrdalj Square
22.00 Klapa Concert on Tvrdalj Square

25th of June 2013, Tuesday
09.00 Wildflower Lecture by prof. Jasmin Deraković in Remete vrt.
Stari Grad Plain guided Tour
19.00 Honey Festival on Ploča Square

26th of June 2013, Wednesday
18:00 Wildflower Workshops on Škor Square
Evening program on Stari Grad waterfront: Flavors of Stari Grad Plain, Stari Grad Brass Band concert…

27th of June 2013, Thursday 
09.00 HUMAC and Grapčeva Cave TOUR
20.00 Promotion of the book “Herbs of the island of Hvar”
21. 00 Evening program on Stari Grad waterfront: Flavours of Stari Grad Plain.

28th of June 2013, Friday
09.00 Lavender , olive and grape Lecture in Andro Tomić vinery, Jelsa ( Lecturer: Mario Carić)
17.00 Lavender Festival in Velo Grablje

29th of June 2013, Saturday
09.30 Flower arranging Workshop on the Škor Square
19.00 Evening program on Stari Grad Waterfront

30th of June 2013, Sunday
20.00 Hvar Wine Tasting on Škor square

Fiets-rikshas, kleurvolle saris en heilige koeie

Fiets-rikshas, kleurvolle saris en heilige koeie  

Die woord Indië  het twee soorte reaksies by mense:  “Wonderlike land, wanneer gaan jy?” of “O nee, dis die laaste plek wat ek ooit wil besoek – hoor dis vreeslik vuil en deurmekaar daar.”

Laasgenoemde verbaas my elke keer, want as jy in Afrika bly is jy alles gewoond – dis nou nie asof ons strate met goud beslaan is nie.  In die Oos-Kaap kan jy ‘n ‘n Getz  verloor in een van die vele dongas en net so ‘n draaitjie deur  een van die informele woongebiede  bied ‘n klassieke voorbeeld van kraaines- elektriese drade wat oral in die lug hang, oor die pad le of sommer net halflyf tussen die plakkershutte hang. Om dus Indie te besoek voel vir ‘n Afrika-boorling vreemd, maar tog ook baie bekend.

Dis middel Maart as ons land op New Delhi se lughawe.  ‘n Krans “marigolds” word om my en die vriendinne se nekke gehang en as die taxi wegspring  hotel toe begin die groot avontuur.  Ja, enige rit hier is gratis vermaak vir enige adrenalien junkie, want jy glip voor ander motors in, druk “auto-rikshas” (soortgelyk aan die tuk-tuks in Thailand) van die pad af en leer vinnig dat enige wit streep eintlik nog ‘n baan is.

Ons toer van 8 dae, Delhi – Jaipur- Agra- Delhi,  sluit ‘n persoonlike taxi en sy bestuurder in wat jou  oral heen neem en vir die volle duur van die tyd soos ‘n werfhaan oor ons waghou. Sohan lul Shwami is dan ook een van die onverwagse hoogtepunte van die toer.  Hy praat goed Engels en het ‘n wonderlike sin vir humor.  Nog ‘n bonus is dat hy die god Ganesh op sy “dashboard” het en dit ons, volgens hom, verseker van sorgvrye veilige ritte.

Delhi is in twee verdeel  nl die ou gedeelte en  die nuwe gedeelte (New Delhi) en ‘n dagtoer deur die unieke stad is die beste inisiasie wat mens kan kry.

Ons eerste afklimplek is die Jama Masjid moskee waar elkeen summier in ‘n baie lelike,  geblomde oorjurk gedrapeer word en ‘n paar insteek pantoffels aangebied word.  Al wat ek nog nodig gehad het was ‘n  kruller in die kuif en sigaret in die hand en ek sou met vlieende vaandels ant Stienie van Agter Elke Man se skoene kon vul. Gelukkig lyk die res van die besoekers nie veel beter nie en ons “blend” mooi in – die foto’s van ons besoek is natuurlik ‘n ander storie.  Die hele kompleks is pragtig – een van Mogul koning Shah Jahan se laaste argitektoniese opdragte en met sy 3 hekke, 4 torings en 2 minarette van 40 meter elk kan dit tot 25 000 mense huisves in die binnehof.  My hoogtepunt is die stapels Korans wat in gekleurde lap toegedraai le en ‘n ou Moslem wat gehurk vir ure sit en bid teen een van die mure. Daar is ‘n aparte gedeelte waar verwagtende vroue en vroue met maandstonde moet aanbid en die lyk vir my heelwat meer knus  – mens kan mos maar altyd ‘n wit leuentjie vertel of hoe?

 

Korans in alle kleure lap toegedraai

Ons kry elkeen ‘n persoonlike fiets-riksha (so ‘n waentjie met ‘n fiets vooraan wat iemand verwoed trap) om die strate van Ou Delhi te verken.  Dis rye en rye winkels met versierings, klere, krale, armbande en materiaal in strate so nou dat dit voel of jy jou arms kan uitsteek en alkant aan iets raak.  Jy en jou riksa kompeteer met voetgangers, nog ander riksas met dieselfde idée as ons en waentjies vol vrugte, kerriepoeiers, geregte en sap. Die trapper het hom misgis met ons gesonde eetgewoontes en kyk kort-kort swetend om en wys dan bekommerd ‘n stel bruin tande. Oral om jou wapper die helderkleurige pante van sari’s agterop motorfietse en die kakofonie van toeters sorg vir agtergrondmusiek van ‘n ander aard.

Die middag besoek ons die pragtige Outub Minar wat die begin van die Moslemregeringsjare verteenwoordig.   Dit is die eerste Moslem moskee wat gebou is in Indie. Daar is ‘n beskrywing van die imposante bouwerk en selfs ‘n trotse verwysing na die 27 “afgodstempels” (bedoelende Hindu) wat afgebreek is en die materiaal  is gebruik om hierdie kompleks te bou.  Die imposante toring spits 73 meter in die lug op en is gebou van  rooi sandsteen, marmer en ander sandsteen.  Binne-in krul die trappe in ‘n duiselende  spiraal – nou gesluit vir besoekers. Die kompleks  vertel die  verhaal van lank vervloe tye Moslemheerskappy  en ingewikkelde leefwyses.

Ons maak ook ‘n draai by die Lotus Tempel – ‘n Bahaï geloofstruktuur, maar  kan net deur die heining loer aangesien dit gesluit is vir die dag.  Volgens die geloof moet daar 9 sirkelvormige kante wees in hul tempels en vandaar die slim ontwerp van ‘n lotusblom wat besig is om oop te gaan. Enige geloof mag dit besoek en die enigste voorwaardes is dat geen musiekinstrumente gespeel  word of seremonies hier gehou mag word nie.

                                                             Lotus Tempel

 Ons laaste stop vir die dag, is ‘n “ cottage industries” winkel waar allerhande Indiese ware aan toeriste verkoop word teen belaglike pryse.  My vriendin koop haar eerste van vele lappe, ek ‘n pashmina en ander vriendin ‘n sari.  Delhi het ook sy spatsel groot winkelsentrums, maar hier kyk jy net, want dis almal internasionale ontwerpersname wat jy enige ander plek in die wereld kan vind.

Sohan leer al op dag drie dat hy altyd sy opteltyd soggens ‘n halfuur vroeer moet gee as wanneer hy regtig wil ry, want drie vrouens, drie tasse en een haardroer is ‘n lelike ding.

Dit is sowat 6 ure se ry Jaipur toe  – dit is maar tweehonderd en iets kilometers, maar in Indie reken jy ‘n rit volgens hoe lank jy ry, want daar is kameelperde, donkies, vragmotors, mense, optogte en plaastrekkers op elke pad en almal het die reg om erens te kom – al beteken dit ook soms party ry  stroomop, in die verkeerde rigting.  Een van my grootste “treats” is die vragmotors wat versier is van koplig tot agter-modderskerm.  Geverf met die wildste kleure, gesegdes en wapperende tossels om die spieels.  Party se metaaldeure is uitgesny – metaalsneewerk en binne in die bestuurskajuit kan jy skaars deur die plastiekblomme en diskoligte sien.   Een swierige wa het ‘n ou skoen vasgespyker aan die modderskerm – baie belangrik vir goeie geluk.   Daar is selfs stalletjies langs die hoofpad wat vragmotorversierings verkoop en ek dwing Sohan om by een stil te hou vir foto’s.   So moet hy  ook stilhou vir foto’s by die wa wat deur ‘n kameel getrek word, ‘n vrou wat op ‘n sandhoop sifwerk doen en by twee verskillende matplekke – die ses ure raak dus nader na sewe.

  Versierde vragmotor

Net buite Jaipur pryk die Amber Fort op een van die hoogste koppies en aan die onderpunt laai ons ‘n toergids op. Die olifante, geverf soos baldadige blombeddings,  dra jou al met ‘n nou paadjie langs tot bo.

Die  een binnehof van die fort het die mooiste mosaiekwerk van marmer,  ingelegde edelgesteentes en klein spieeltjies en jy kan jou nie eens indink hoe lank die werk moes neem nie.  Oral op die hoeke is klein uitkyktorings waar elk van die Moghul se vroue saans verskyn het wanneer dit haar  beurt was om hom te vermaak.  Behalwe die talle vroue was daar ook rye kamers vir ander houvroue.  Die man moes definitief op iets sterker as die gewone tabakrolletjie gewees het om vir soveel kans te sien.  Ons gids vertel dat die  vroue en meisies altyd voor baie helder ligte moes dans sodat hul rokke kon deurskyn.  “Men will be men….”

    Olifante vir vervoer                      

          As ons laatmiddag Jaipur inry staan gedroogde beesmiskoeke oral teen die pad toringhoog.  Dit is die vooraand van die Holi-fees en hierdie koeke word gebrand as simbool van die slegte wat vernietig word en more, die eerste dag van Holi ,is die begin van die lente hier – ‘n nuwe begin en ‘n fees van kleur en geur.  Ons stop by een van die talle stalletjies wat die helderste, gegeurde poeierverf verkoop en elkeen kies sy sakkie vol verf vir die volgende dag se feestelikheid.

Die pragtige Windpaleis in Jaipur asook die vele stadspoorte is iets ouwerelds wat jou op ‘n reis na ‘n ander tyd neem.  Die bree hoofstraat het ‘n laning bome in die middel en oral langs die straat word van hoenders tot kamme verkoop.  Om een van die sirkels pyl ‘n motorfiets reg op my kant van die motor af en terwyl ek gereedmaak vir die slag, swenk ons bestuurder swierig uit en sorg dat ‘n ander motor onverwags tot stilstand gedwing word – nie een van die bestuurders knip ‘n oog nie en almal ry voort asof niks gebeur het nie.

Die eerste dag van Holi breek aan en almal trek tradisioneel spierwit aan.  Ons drywer en sy vriend stap saam met ons deur die strate.  Jy word bestook met gekleurde poeierverf, skote water uit speelgoed-watergewere en al wat ‘n man is het vandag ook die toestemming om jou gelukkige Holi toe te wens met ‘n druk en ‘n soen. Jy leer sommer gou om ‘n wye draai te loop om die vuil ou omies en hul nog vuiler planne. By die poloklub word ‘n spesiale program aangebied vir toeriste met toutrek, olifant-polo en mense wat aangetrek is soos die verskilende gode, Shiva, Hanuman en Ganesh. Teen laatmiddag steek net ons oë  tussen die verfblertse uit, maar dit keer ons geensins om by ‘n mathandelaar langs te gaan en meer as ‘n uur lank te redekawel oor matpryse nie. As ons later probeer om dit alles af te was  tref die werklikheid jou in die spieel.  Poeierverf, water en blonde hare werk glad nie saam nie.  Weke daarna was ek nog blertse groen uit my kuif en die res van die hare het ‘n   helder pienk skynsel.

 Reenboog van poeierverf, dansers en heilige manne by Holi-fees

Die landskap tussen Jaipur en Agra is half-woestynagtig , maar is besaai met mostertvelde.  Die mostert is aangeplant soos koring en staan omtrent dieselfde hoogte voordat dit ge-oes word.  Sohan vertel dat as jy ‘n jongman is, is dit die plek waar jy jou geliefde skelm ontmoet! Hier is die gesegde seker “mostert voor die maal…”

Hy draai ook af van die pad na ‘n paar huise  onder ‘n brug. Hier woon kinderprostitute en as hul die motor sien spring almal in aksie – hulle stroom na die motor, meeste nie ouer as 16 jaar.  Die hartseerste is ‘n klein seuntjie van 10 jaar of jonger wat ook sy liggaam daar verkoop terwyl talle kinder-ma’s met baba’s op die heup loop.  Een van die jong meisietjies vra vir my sonbril, maar as ek vir haar ‘n pakkie bindi’s aanbied klap sy die fyn handjies vrolik.  Sohan vertel dat hierdie groepe prostitute elke maand na die volgende “werkplek” skuif , verder af met die hoofpad – ‘n soort van sirkulasieprogram.  Meeste van hierdie meisies (kinders) kom van Kolkatta, een van die armste gebiede in die land. Hul inkomste hou hele families aan die lewe elders.

Agra is ‘n hoogtepunt waarna ons almal uitsien op die “Golden Triangle” toer as gevolg van die Taj Mahal.   Maar voor dit besoek ons eers Fatepur Sikri.  Die naam rol so lekker om mens se tong – jy wild it aanmekaar oefen.  Dit is ‘n blitstoer en al wat ek onthou is dat hier ook ‘n Moghul gewoon het met vier vroue – een Hindu, een Christen, een Moslem en een ….  Elkeen het haar eie kombuis gehad waar haar en haar gevolg se kos voorberei is volgens elke geloof se wette.  Een van die geboue (‘n tipe raadsaal) het ‘n uiters ongewone boustyl waar die owerstes op die boonste vlak op houtbalke plaasgeneem het vir vergaderings.  Dit gee natuurlik nuwe betekenis aan die gesegde “hoog en droog”.

Laatmiddag nader ons die Taj Mahal.  Dis ‘n vakansiedag in Indie en die mense ryg soos stringe krale deur die groot poort.   Eers as jy in die poort self staan sien jy die perfekte simmetrie van die Taj Mal voor jou met sy pragtige tuine, identiese geboue alkant (een ‘n moskee en ‘n ander een wat presies so lyk, maar ingerig was as ‘n gastehuis)   en die lang, dun dam voor die gebou waarin die ode aan ewige liefde  identies  reflekteer.  Jy het al soveel  foto’s van die Taj Mahal gesien, maar niks kan jou voorberei op die onvergeetlike gesig van prag, simmetrie en grootsheid nie.  Die Mogul Sha Jahan het hierdie kompleks vir sy derde en mees geliefde vrou gebou na haar dood. Die gestoei om die self graf te sien  is ‘n bietjie mors van tyd, want dit is eintlik onder die grond begrawe en ‘n vals graf bo-op gebou binne in die Taj Mahal. Almal sweet en stoom om rondom die marmertraliewerk te stap en sien net mooi niks.  Tog is die inlegwerk in die marmer ongelooflik mooi en die gids vertel dat die rede waarom die kompleks elke Vrydag gesluit is, is sodat die juweliers van die omgewing gratis restourasiewerk kan kom doen waar edelgesteentes met die tyd uit die insetsels in marmer geval het.

Ek en my twee vriendinne het in Jaipur vir ons sari’s gekoop en drapeer dit dan ook  net daar in die  beroemde tuin om ‘n foto te laat neem –  ons in die sari’s en die Taj Mahal op die agtergrond.  Ons staan ook geduldig saam met die menigtes in die ry vir ‘n beurt  op Prinses Diana se bankie en verneem dat dit Shah Jahan se geliefde bankie was waarop hy elke dag gesit het en na sy pragtige handewerk gekyk het.  Ongelukkig het hy so obsessief geraak oor die plek dat sy seun hom moes laat opsluit voordat hy die volk se geld verder gebruik het om ook vir homself ‘n soortgelyke mausoleum te bou.

Die aand neem Sohan ons uit vir ete en aldrie trek splinternuwe hemde aan wat in Jaipur in twee uur se tyd vir ons gemaak en afgelewer is by die hotel. Om liries te raak oor Indie se kos, speserye en geure klink soos ‘n cliché.  Die eenvoudige naanbrood met  komynsaad en ghie smelt in jou mond en elke gereg se geure ontplof op jou tong.

Dis die laaste dag in Agra, is my vriendin Wilma se verjaardag, en vroegoggend bring Drywer vir haar ‘n ruiker hotel toe – met sy eie geld gekoop.  Sy motor is vandag met  stringe rissies en lemmetjies versier en  voor in die motor, om Ganesh se nek, hang ‘n krans van roosblare – net om  weer seker te maak alles gaan goed met ons reis. Ons is oppad terug New Delhi toe vir ‘n vlug na Goa, maar is hartseer om ons ondervindinge agter te laat in die Goue Driehoek van Indie.

Goa le aan die Weskus van Indie en omtrent twee uur se vlieg van New Delhi af.   Dit het ‘n – baie tropiese klimaat en plantegroei met ‘n sterk Portugese invloed te sien in die boustyle en  geregte wat bedien word.

Ons hotel is ongeveer 1 uur noordwaarts van Goa se lughawe en as jy al met die kus langs ry groet sjokoladebruin kinders jou al hardlopend langs die motor.  Ook hier staan villas, bouvalle en opslaanhutte styf teen mekaar.  Niemand is te goed om jou buurman te wees nie en elkeen leef sy lewe voluit op straat – vir almal om te sien en deel te he.  Die haarkapper se spieel staan skuins teen ‘n boomstam en ‘n klient is toe onder die skeerskuim vir ‘n opkikker en haarsny.  ‘n Entjie verder af in die pad is ‘n ou man besig om iemand se ore skoon te maak met ‘n dubbelgevoude draad en net langsaan wei een van die heilige koeie lustig aan ‘n plastieksak.

Ons hotel, Sonesta Inn, is in die dorpie Candolim en het ‘n koloniale boustyl. Dis weggesteek af in ‘n nou paadjie sowat 200 meter van die strand. Langs die skoonheidsalon is ‘n piepklein katolieke kerkie met ‘n baie groot kruis op die muur en oorkant dit is ‘n lieflike opelug restaurantjie met poeierblou tafels en die beste kalamari wat ek ooit geproe het – gestop met neute en garnale.  Ons eerste aand begin egter met waterige skemerkelkies by een van die vele grasdakstrandrestaurante op die strand en as die son sak brand die beeld, van drie mans wat in die water staan met opgerolde pype, in my geheue vas.

Elke dag verken ons die area met ‘n taxibestuurder wat ons self kies (tot groot konsternasie, want jy is veronderstel om die eerste in die ry te gebruik).  As ek terugkyk op my foto’s is dit 10 Hinduvroue op ‘n uitstappie by die Donna Paulo Jetty – waar die Mandovi en Zuari-riviere bymekaar vloei, ‘n antieke kassie by ‘n opelug winkeltjie erens in die middel van nerens en  die agterkant van ‘n taxi waarop staan “God is good”.   Ons besoek ook Die Basilika van Bon Jesus wat die liggaam van Xavier St Francis huisves. Sy liggaam het  sonder enige logiese verduidelikging nooit heeltemal gedisintegreer na sy dood nie al was dit op twee verskillende plekke begrawe en mense hier beskou hom as ‘n heilige. Xavier Francis was ‘n Portugese priester wat hier kom siele red het, kort van gestalte, maar verewig in die harte van Goa.

In die dorpies spandeer ons dae om snuisterye te koop, veelkleurige geboue af te neem en ek ontdek die allermooiste aandhandsakkies en ‘n paar “bling” sandale (of twee).  Te gou is ons tyd verby in Goa, en vir oulaas le ons op die strandstoele terwyl ‘n jong meisietjie ons voete masseer en vir elkeen ‘n enkelkettinkie omhang. Te gou is die soel aande net spookasem en die oggendontbyte in die tuin ‘n vae gedagte gegeur met frangipanis.

Indie is nie vir sissies nie, nee Indie is vir mense met ‘n passie vir die lewe, liefde vir die ongewone en vir mense wat nie omgee om geskud te word uit jou alledaagse bestaan van agt tot vyf werksure, McDonalds en die  kammawereld van groot winkelsentrums nie.  Gaan eenmaal in jou lewe en verryk jou sintuie, jou uitkyk op die lewe en skud die geykte denke van ‘n Westerling af – al is dit ook net vir ‘n paar dae. Toe, wees dapper.

Gaan direk na nutsbalk.