Skip to content

Monthly Archives: September 2012

‘n Byderwetse bruid en die trekklavierorkes in Makarska

 

Trogir naby Split, Kroasie

 

Ons eerste dag van die trippie begin in Trogir, sowat 30 km van Split.  Na ‘n luilekker koffietjie en rondslenter in die varsproduktemark val ons in die pad. 

Die pad slinger heen en weer om die berge al langs die blou van die Adriatiese see en as jy nie wydsbeen oor die wit streep ry nie voel dit asof jy enige oomblik oor ‘n afgrond gaan peil en onverhoeds op ‘n paar baaiers kan beland.  Gelukkig het ons ‘n klein karretjie en wanneer ‘n ‘n bus of lorrie van voor af op jou afjaag systap jy netjies na jou eie kant toe – hier regs.

Die dorpies le soos krale ingeryg en om elke hoek wil jy stop om ‘n nog beter foto van ‘n nog beter baai te neem.  Omis met die Cetinarivier wat  deur die klowe sy voete in die seewaters steek.  ‘n Lang valerige strandjie, maar die Kroate se “pride & joy”, want hier is sand maar skaars en meeste strande is eintlike rotsplate of klein ronde klippies.  As jy so ‘n uur gele het lyk jy soos jou Sub B maselfoto – vol kolletjies gedruk van die klippies en skerp punte.

 

Die eerste oornagplek is Makarska – ‘n groterige vakansiedorp met rye onvanpaste palmbome teen die Riva, talle “made in China” stalletjies vol lelike yskasmagnete,  “bright” sonbrille en ‘n rakke vol swemskoene (vir die klippe). ‘n Draai by die naaste reisagent verseker ‘n woonstel vir die aand en op die foto’s lyk dit kort duskant vyfster.  Die agent vergeet egter om te noem dat dit op die derde vloer is en geen hyser het nie.   

 

Makarska Riva oppad na Dubrovnik

Die woonstelgebou is ingedruk in ‘n hoekie van die ou oorspronklike dorp en onder is ‘n Cafe/bar  vir die locals.  Binne is ons oornagplek  getooi in skakerings van herfs en kantdoilies, maar die balkon het ‘n pragtige uitsig op die hawe en die beddegoed is ten minste kraakvars en skoon.    Onder die televisie skuil ‘n kleibeeld van ‘n baie vet tannie in ‘n swembroek – so dus die regte plek vir my en my vriendin wat albei  hou van die lekker in die lewe  en gereeld sukkel  om rekbandbroeke te vind.

Onder ons venster kuier mans in vessies en pt-broeke op die cafe/bar se stoep en dit is baie duidelik dat die bier al ‘n hele rukkie lank hier bedien word.  Dit sing, swaai arms en klap mekaar op die blaaie tussen sigaretrookwolke en Oliver se musieknote.

Die gesing word skielik meer luidrigtig en ‘n trekklavier trek los met twee kitare as ondersteuning.  Ons leun oor die balkonmuur en onder het die skare nou versamel.  ‘n Troupaartjie en al hul gaste staan buite die Cafe/bar en  sing Kroatiese volksliedjies.  

Ons boeremeisies is gesoute bruilofsgaste en sit dadelik af na die gloria.  Onder skink die bruidegom vir almal bier uit ‘n vaatjie en die bruid swaai haar rooi rose-ruiker hoog bo haar kop – al op maat van die musiek.  Die bruid se hare is kort/ blond en weggeskeer teen die ore.  Sy dra ‘n sy, ivoorkleurige katpak met wye pype wat uitklok oor fyn puntskoene.  Die gaste dans ingehaak op die plein in enigiets van jeans tot satyn en lurex.

 

Die orkes begin af beweeg na die hawe en almal stap sing-sing saam deur die nou straatjies, verby die weduwee met die swart klere,  tot voor die stadsaal ‘n blok of wat verder.  Hier word nog gesing en die bruid dans nou met ‘n klein dogtertjie in ‘n rooi-en-wit blomrokkie.  Die bruidegom is ingehaak by sy vrinne en het ‘n klein seuntjie op sy skouers.  Iemand gee vir die moderne bruid ‘n sigaret aan en sy teug smeulend  agter haar Ray Ban sonbril. 

Die orkes beweeg by die saal in en gaste (of liewer almal wat wil saamkom) volg die bruidspaar na binne.  Die bruilof gaan nou EERS begin.

Sononder dwaal ons verby bote, hoor die bruilofsgaste lag en eet bolle roomys voor aandete.  Die son sit laag en drie kinders is swart silhoeete op ‘n bankie by die strand.  Ons eet cevapcici (vleisvingers) en drink tuisgemaakte wyn en weet dat vanaand is daar nog ‘n getroude paartjie meer op aarde.

Nou straatjies, prosek en swart risotto

Die lewe op ‘n eiland in Kroasie is lig, maklik en gesaai met dinge wat na vakansie voel.

Selfs al werk jy hier is alles in vakansie-“mode”.  Die skool het reeds ‘n week terug begin, maar middae teen 1uur stroom kinders huiswaarts – al met die Riva langs.

Alle winkeltjies en besighede sluit tussen 1 en 5nm en geen siel roer nie.  Hier en daar miskien ‘n misplaaste toeris, maar die locals neem hul middagslapie baie ernstig op.

As jy maalvleis wil he, sny die slagter vir jou die stuk vleis af wat jy verkies en maal dit daar op die plek fyn.  Tamaties, kropslaai, groenpepers en aartappels koop jy by jou buurvrou uit haar tuin. Terwyl jy wag gooi haar man vir jou ‘n knertsie Pelinkovac (kruie-witblits) wat hy self gestook het.

Straatjies dateer uit 500+ jaar terug en  as jy mooi gemiddelde size is kan drie langs mekaar stap en ‘n fiets of twee sal ook kan doen, maar motors moet rondom die dorp ry, parkeer en speel regtig nie ‘n groot rol hier nie.  

Laatnamiddag sleur jy al met die waterfront langs na die dowe omie se Vino-plekkie vir ‘n glasie prosek en daar voor die ou kliphuisie sit jy op sy houtbankie en “watch the world go by” terwyl jy die soet rosyntjiesmaak van die wyn op jou tong voel kielie.

Skemeraand is roomystyd en elkeen loop lek-lek al met die water langs.  Kokosneut, kersie en spanspekroomys drup kolle op die blinkgeloopte plaveistene en taai vingers word afgespoel sommer daar by die vismark.

Antika maak die lekkerste swart risotto van inkvisrepies, uie, knoffel, rys en die inkvis se blouswart ink.  Jou mond is pikswart as jy klaar is, maar dit smaak na see en as jy laataand huistoe stap proe jy nog vir oulaas die Adriatiese See.

Die lewe op Hvar-eiland is lig, smaaklik en gesaai met versiersuiker vir die siel.

Toranaga San in sy eie Kroatiese Operette

Hier af in die straat, so drie kronkeldraaitjies en ‘n hobbelsteen verder sit die huis van Igor.  Of liewer Toranaga San, want hy lyk soos een van die groot helde in die epiese verhaal, Shogun.  Yl bokstertjie op die kop, groot van postuur en so ‘n effense afwaartse snorretjie.  Die oë het ook ‘n aweregse trekkie na ons Japanese held van die blockbuster.

Igor is gou om vir jou te vertel dat hy in sy hele lewe nog nooit ‘n loopbaan gehad het nie.  Wel al hard gewerk – in sy huis, wingerde buite die dorpie en ook om laventel te pluk, maar van kantoorwerk weet hy niks.  Ek sien hom elke oggend koffie drink – eers by Ploce Cafe, dan Cafe Xpresso en net voor twaalf ‘n knertsie raki voor sy eie deur.

Sy huis lyk soos ‘n museum – voor is twee vertrekke wat direk  straat toe uitkyk.  Die een het ‘n groot kroegtoonbank met rye vol tuisgemaakte alkohol van twyfelagtige herkoms en so skuins teen die afgedopte spieel staan ‘n lee Jack Daniels bottel.  Hy werk sy “till” uit ‘n houtboksie wat lyk of die eerste Grieke dit hier gelos het en as hy nie self agter die kroegtoonbank is nie, help jy jouself en los die geld in die Griekse skatkis.  Twee klein tafeltjies en ‘n langer een hou aand na somersaand die plaaslike vrinne bymekaar.  Een is die direkteur van ;n operahuis  van ‘n stad net oor die waters en hy kom kuier kastig vir Igor – die blaas egter gou sy “cover” en vertel ons luidkeels dat die jong  poppie wat hom so oral volg  eintlik sy skelm  is en hierdie is hul wegkruipplek. 
Die vertrek langsaan is die eetkamer en heelagter vanuit die vertrek loop die kombuis.  Op die deur is ‘n  bordjie in  wat lees “ Beware, workmen overhead” in Kroaties. Uit hierdie kombuis tower Igor die heerlikste geregte en as jy ‘n dag voor die tyd vir hom laat weet, kook hy net vir jou en jou geliefde. 

Ons eerste ete daar is ‘n  voorgereg van bruchetta  met plaaslike neute, olyfolie en kruie  tapenade  en nog  ander  met drie soorte kaas – onder andere die bekende bokmelkkaas van Pag-eiland.  Dan word die sop  van soetpepers, tamatie, roosmaryn en bief bedien. Dis so dik dat ons dit eers misgis vir bredie.  Een van ons eet dit met ‘n vurk en hy kom boos uit die skaduwees gestorm om te se hy het nie nog eetgerei nie, die vurk is vir later – gebruik die lepel!

Skuins teen die muur hang sewe verskillende wekkers  aan ‘n rakkie.  Almal se tyd staan op vyf oor drie. Die presiese tyd toe Tito dood is.   Die kraffies rooiwyn word uit ‘n ou vat getap en as jy vir prosek vra, klouter hy teen ‘n stowwerige trap uit om dit op die solder te gaan haal.

Die hoofgereg is ‘n stuk biefstuk  met geroosterde groente uit sy tuin.  Geen skyfies, aartappels of ander fieterjasies om die pronkstuk onnodig te kamoefleer.  Ons smul dat die vet by ons kenne afdrup en as die grootte ons oorval word ons weereens vermaan omdat  die kos vermors word.

Intussen het operabaas en nog drie Kroate in sang uitgebars langsaan in die kroegie.  Die note dawer teen die houtbalke van die dak en die jong dolla sit met sterre in die oë.  Vrinne sing in stemme en hul vessies van verlore liefdes, eensaam aande – of so dink ons maar.

Igor is die dirigent van sy eie lewensverhaal.  Hy beweeg soos ‘n man wat die lewe hier op Stari Grad tot meesterstuk verwerk het.  Sy vrou bly in Duitsland en kom twee maande ‘n jaar hiereen.  Verder maak Igor kos, drink raki en vermaak besoekers met verhale van bekendes wat al hier aangedoen het.   Hy haal ook graag tydskrifte uit wat hom al ge”interview” het en hy word selfs in een van Michael Palin se reisboeke genoem. 

 As jy vir hom vra of hy ‘n chef is, antwoord hy minagtend nee.  Vra jy of hy ‘n kroeg besit kyk hy jou aan of jy van lotjie getik is.  Vir Igor is sy huis net ‘n verlenging van wie hy is en die musiekblad waarop hy sy lewensverhaal komponeer.  As jy gelukkig is kan jy een of twee aande deel uitmaak van hierdie Adriatiese operette.

Gaan direk na nutsbalk.