Skip to content

Monthly Archives: Augustus 2012

‘n Storm in Stari Gradhawe

Kroasie, Hvar-eiland – Stari Grad, Augustus 2012

Die blinkgladde water in die hawe van ons klein Kroatiese dorpie, Stari Grad word weinig versteur.

Vroegsoggens prut ‘n paar visserbote terug na ‘n nag se vangs en hier en daar gly ‘n taksiboot tussen hotelle  en die besigheidsentrum.  Die water roer skaars, want branders is hier ongehoord en  brullende motorbote met  skiers  word glad nie toegelaat. 

Namiddae  teen die latenstyd wieg seiljagte met vlaggies vanoor die hele wereld  teen die vasmeerplekke en oral drink die vaarders en hul reisgenote glasies op nog ‘n dag se salige dobber op ‘n geruislose, turkooisblou Adriatiese See.

Wel, dit was nou tot vanmiddag.

Binne ‘n uur trek loodwolke saam en ‘n ongeskikte wind warrel vanuit elke rigting.  Dit is sommer die Bura en Maestral  (twee woeste winde van die Balkan) alles in een. Bote wat tot ‘n paar minute gelede rustig  oppad was na die hawe, vir die aand se vasanker, is skielik in rep in roer.  ‘n Storm soos laas op die see van Galilea bring benoude roepe en deurmekaar toue.  Daar is  dreigende  branders, rowwe seestrome  en ongedissiplineerde seiljagkapteins net waar jy kyk.

Die hawemeester en sy makkers jaag James Bondstyl op klein potsierlike rubberbote om die inkomende seiljagte bymekaar te skraap, te orden en mooi in gelid staan te maak.  Toue word gegooi, onervare “vakansievaarders” ry in mekaar vas  vir die beste “spot” en die hawemeester skree bevele op almal gelyk.  Meester is rooi van stres en sweetpoele slaat op sy rug en onder die arms uit.   Niemand verstaan sy Kroatiese bevele en hy weet nie waar om eerste te keer of laaste te los nie.

Nouja elke vaarder het gewoonlik ook ‘n mooi vrou in ‘n bikini om sy boot te versier, maar ongelukkig is hul van min nut in sulke krisissituasies.  Een Engelse langbeendolla skreeu op ‘n ander een “don’t bump into our yacht!”, maar minute tevore het haar einste seeman-pappie met goue- medalje-om-die-nek in ‘n ander boot vasgery.  Daar is selfs ‘n ongure oliestreep op dolla se wang en die grimering is nou geruineer.

In die verhaal van ontberinge stap die held van Suid-Afrika op die toneel.  Hy help toue gryp en vasmaak, bevele in Engels skreeu wat almal kan verstaan en soos ‘n wafferse treinrangeerder help parkeer hy sowat agt bote sonder moeite. 

By verdere ondersoek na die held se akkreditasie as seevaarder  moet ek tot my spyt verneem dat  hy nog nooit in sy lewe op ‘n seiljag was nie.  Hy erken wel dat hy as laerskoolseun saam met sy boesemvriend, Danie Baard,  eenmaal ‘n seiljag gebou het uit die dorp se biblioteekboek.    Tot hul stomme verbasing  het egter terstond gesink  toe dit te water gelaat is. 

Ek is seker die hawemeester drink vanaand ‘n stywe dop Pelinkovac en sal die verhaal van die hawestorm van Augustus 2012 en die Suid-Afrikaanse Wolraad Woltemade nog vir jare oorvertel. 

Gaan direk na nutsbalk.