Skip to content

Monthly Archives: Julie 2012

Bosveld Bewerasie nee Bosveld Bambi

Laat ek nou maar uitkom daarmee… Ek is nie eintlik ‘n bosveld-bambi nie. 

Die droee wintergrasse en kaal bome wat gewoonlik ‘n wintervakansie in die Bosveld versier maak my half melancholies.   Ek voel hoe die vaaltes deurstoot tot in my siel en die pendorings gee my selfmoordgedagtes.

Verder gee die stof en grasdakhutte my hooikoors wat weer lei tot kooikoors – ja ek voel permanent vaak en lamlywig – seker maar die oordosis neusspuite, hooikoorspille en Vicks-om-die-neus.

My idee van pret is ook nie  daelange gesuiker teen 30km per uur in die hoop om die agterkant van ‘n olifant deur ‘n verkyker te verken nie. Diere kom nie “on demand” te voorskyn nie en gewoonlik oorvleuel hul rustye glad nie met ons s’n nie.

Nouja, dit was my idee tot onlangs in elk geval. Dis nou tot ‘n vriendin my en  my seun saamgenooi het vir ‘n week  se tyddeel by Mabula Lodge. ‘n Goedkoop vakansie is nooit te versmaai nie en ‘n “bargain” in die Bosveld is beter as geen voels in die hand, of hoe gaan daardie idioom nou weer?

Ons vierslaapkamerhuis in die ruigtes is toe ‘n aangename verrassing van ruimte, groot wye stoep en ‘n leefvertrek groot genoeg vir ‘n langarm-marathon.  Dit sit weggesteek tussen die bome (nou wel sonder blare..) en die ander huise is nie een te sien of hore nie.  Skaars 500m van ons is die lieflikste turkooisblou swembad omring met rotse en ‘n paar nuuskierige vlakvarke wat sowaar sonder ‘n verkyker bekyk kan word.

Saans sak die son pienk/ blou en pers kwasstrepe agter die horison en met ‘n glasie soetes, ysblokkies en ‘n skyfie suurlemoen raak dit harsoomblikke.  Ons braaivleisvuur word besoek deur ‘n museljaatkat (is dit die spelling?) wat geen vrees ken en saans as die maan se lig kompeteer met die sterre dink mens aan mense wat jy nie eens ken nie.

Soggens word die stoep besoek deur Vaatjie die dassie,  ‘n string geelstert grond-eekhorings en ‘n hoogmoedige horingneusvoel wat haar glad nie verwerdig om vir ‘n paar broodkrummels van haar tak te wyk.  Die voor-op-die-wa ape besoek ook daagliks en breek selfs ‘n glas in een van die kamers. Gelukkig skrik hy so groot dat hy nie verder huisbesoek gedoen het nie.  Die  vaal bosveldloeries kom kuier ook gereeld en as daar gesnyde appelstukkies uitgesit word sluk hul dit heel in.  Ek oorweeg om ook Rennies vir hul neer te sit.

Die kinders en dierbare vriendin Sonja, kry geleentheid om pyl-en-boog te skiet, ‘n quad bike-wildrit te doen en ook ‘n paar slange te streel in die reptielpark. 

Die lodge het daagliks wildritte en ons spring ‘n paar keer op die Jeeps vir die groot wildsoeksessies.  Ja en ons suiker wel met elk van die ritte teen 30km/h oor sandpaaie, deur molsgate en in bitter oggendkoue (sonder kombersies), maar word beloon daarvoor. 

Ons sien ‘n hele klompie kameelperde hul wimpers wapper en een kou selfs vir ure aan ‘n been (ons het twee maal verby hom gery en vir uur en half het hy op dieselfde plek staan en kou aan die been!)  By ‘n groot oop vlakte staan vyf renosters mooi in gelid en ‘n entjie verder wei ‘n ma met haar drie weke oue baba-snoster agterdogtig op die uitkyk vir enige onbekende beweging.

Daar is gemsbokke met hul eie ingeboude verkoelingstelsel wat deur die neusare werk, monogame duikertjies en heelwat zebras  met wit velle en swart strepe of is dit nou swart velle met wit strepe?

Op die laaste rit vra ons vir Frans, ons Jeep-drywer, vir olifante – amper soos mens sal bestel by ‘n “drive-thru”.  Hy se niks en begin ry in die rigting van ‘n paar koppies, oor die koppies en in ‘n mooie vallei amper teen die plaas se grensdraad.

Hy en nog twee ander wildritdrywers begin die spoor van die trop olifante vat en as ons weer sien wei ‘n eensame ou reus tussen die miniatuur doringboompies.  Ons ry verder om die res van die trop te soek, maar dis waar dinge bietjie begin verkeerd loop, want die ander olifante sien ons en begin verwoed trompetter en bome omhardloop.  Hulle is duidelik verergd dat ons tussen hulle en die ander mannetjie inbeweeg het ons spin so ‘n bietjie sand om uit die pad te kom.  Ons bestelling was suksesvol en boonop met ‘n bietjie aksie en spesiale effekte ook!

Naby Mabula le Zebula lodge met die mooiste gholfbaan waar Francois my tweemaal heen sleep, maar ek ontdek die klein krokodilletjies, leeuwelpies en twee bengaalse baba-tiere en vergeet skoon dat ek eintlik nie lus was vir die uitstappies nie.

Een namiddag gaan ons in die leeuwelpies se hok in en speel vir ‘n rukkie met hul bal, sleep ‘n bos sleutels deur die sand wat enetjie jaag en ek kry twee geniepsige knypbytjies op my arm. Die hooikoorspil vir die leeuhare was sommer niks – dit was alles die moeite werd.

Gerehabiliteer vir die Bosveld? Ja definitief – solank my hooikoorspille net hou en die wildbewaarders mooi luister na ons diereversoeke.

Voetvissies en ‘n wiks of twee

Die dekadente aanbiedinge in Thailand is baie en oral te kry.

Dit is nie net geurige Thai-disse en mega-groot mengeldrankies wat jou van die pad af kan dryf nie. Dit is ook nie nie verskeidenheid biere wat jou hoenderkop laat rondslinger voor 12uur in die middag nie, o nee, hierdie is maar die punt van die vulkaan van vergrype.

Die strate – stof of teer – is gesprinkel met die geure van olies om jou voete, bene, rug, nek, kop of sommer hele lyf in te baai. Letterlik elke derde of vierde winkeltjie het ‘n versameling Thaise meisies wat jou van die sypaadjie af naderwink vir een of ander bederf van die ligaamlike. Die “spyskaart” is in geradbraakte Engels op advertensieborde uitgeskryf en as jy verby al die spelfoute kan kyk wag daar ‘n smorgasbord van “treats”.

My eerste pamperlang is ‘n groterige visbak vol klein deurskynende vissies wat gierig op my voete afpyl. Hulle het sekerlik nie rekening gehou met die hakskene van ‘n Afrika-vrou wat graag kaalvoet rondloop nie en na tien minute gaan swem hul daar ver onder op die bodem. Ek hoor al hoe hul onder mekaar kla oor die oormaat en galaanval-raad uitdeel. ‘n Jong Thaise meisie bring ‘n pot vol frangipaniroom nader en masseer my voete sodat elke lid kraak, steun en protesteer. Dan kom die onderbene aan die beurt. Ek het natuurlik vergeet om beenhare te skeer, maar sy laat haar nie onderkry nie en beur seepglad deur die stoppels. Die klein benerige vingertjies werk behendig en are wat in jare nie bloed toevoer gehad het nie kry lewe. Dan gryp sy die voetskuurder en na ‘n paar minute voel my hakskene so sag soos bababoudjies. Die toonnaels word met lekker “cheap” rooi naellak geverf (wat skaars ‘n dag gehou het, maar toemaar) en ek stap uit met ‘n wip in my stap en bene wat onverwagse lewe toon. Koste vir een-en-‘n-halfuur: R80

Twee dae later ontdek ek stoppelbaard op my bolip en swenk sierlik in by die eerste deurtjie in waarin ek gewink word. Hulle gebruik nie waks nie, maar ‘n mengsel van suiker en suurlemoensap wat tot ‘n caramel gekook word. Die toffee word op op jou bolip gesmeer en met ‘n flentertjie ou laken afgeruk. Die oge traan en ek is seker my botande sit nou heeltemaal kaal, maar by nadere ondersoek vind ek die bolip op ou plek en sowaar geen snorbaarde in sig! Koste vir 15 minute: R10

Een middag verken ons die enigste groot winkelsentrum in Patong . Skaars het ons ‘n handsakverkoper of twee ontduik of voor in die “mall”-pad wink nie een nie, maar twee skoonheidsalonne. Die woord salon is hier ‘n wye term, want hierdie twee lyk meer na twee reuse hospitaalsale met sowat 30+ beddens elk en net soveel terapeute – elk besig met ‘n klient. Dit pommel, knie, stoom en masseer en is vir almal wat verbystap om te sien. Geen benoude kamertjies met blink pienk gordyne en walvismusiek hier nie. Dit is massawerk en deeglike werk waarvoor niemand hul skaam nie – nie die terapeut of klient gee om dat verbygangers hul beloer deur die groot glasmure nie.

‘n Groot advertensiebord bied die dag se “special” aan en dit is nie enige kitsbehandeling nie! Dit is ‘n 75min gesigbehandeling en massering met egte goud as masker en “gold leaf” in al die pomades wat moontlik op jou gesmeer kan word. Nouja, ek wou nog altyd met goud oorgetrek word en dit kos nie veel om my op een van die vele beddens te laat wip nie. Die gesigmassering self duur ‘n volle 30 minute – salig is ‘n “understatement” en daarna gloei my vel pure sirulasie uit. Die goue masker word opgesit – so ‘n koue klipharde een wat mens lekker by ‘n Venesiese bal sal kan gebruik! Die word vir 15 min aangelos en dan word goue rome aangetik voordat ‘n verfrissende lagie komkommerrepe oor my hele gesig gepak word. Dit kom vars uit die vrieskas en ek kan voel hoe poriee die aftog blaas. Laastens is dit tyd vir nog ‘n room van goudelike proporsies en dan vra die terapeut dat ek regop sit. Ek dog dit is om nou af te klim, maar nee, sy gryp my aan die skouers en masseer de laaste knop uit my nekspiere en middeljarige rug. Met ‘n laaste klap agter die blaaie is ek uiteindelik klaar. R90 vir al die weelde.

Ja die natuurskoon is asemwegslaan in Thailand. Jy kan nie weggaan sonder om die sjokoladeboksprentjie van Phi-Phi Don eiland te sien nie; jy kan nie vertrek sonder om perels te koop by James Bond eiland nie en jy kan nie huistoe gaan sonder om die Fantasea Show, die tempels of die paleis in Bangkok te sien nie. Jy kan egter ook nie huistoe gaan sonder om jouself gereeld te pamperlang met masserings, wakse, wikse en tropiese vissies nie. Die vakansie sal nie volledig wees sonder ‘n goue pomade, komkommermasker of “cheap” rooi naellak nie.

Gaan direk na nutsbalk.