Skip to content

Monthly Archives: Mei 2012

Een week voor Thailand (Who’s counting?)

Nouja die “to do list is opgestel” en tot volgende week sal elke dag se takies afgehandel moet word anders is daar groot tjollies.

Hier is ‘n paar handige dinge wat ek so langs die pad raakgeloop/ uitgevind en gehoor het wat my lewe al klaar heelwat plesieriger gemaak het:

  • Rennies Travel – jy bel jou naaste tak en bestel soveel buitelandse geld soos jy wil saamvat.  In my geval is dit Baht in kontant.  Dit neem 24 uur/ hulle bel jou as dit beskikbaar is en dan kan jy dit net gaan afhaal.   Neem saam:  ID boek/ paspoort/ bewys van adres en Rande wat jy wil omruil (obviously).
  • Het jy jou vliegkaartjie met ‘n kredietkaart betaal?  Skakel die kredietkaart-afdeling se reisversekeringsafdeling en neem “top-up” versekering uit.   Hul stuur dit per epos aan en jy betaal dit met die kredietkaart (telefonies). Dit is baie goedkoper as om ‘n heel nuwe reisversekeringspolis uit te neem.
  • So ‘n week voor jou vertrek:  drink ‘n Disprin elke dag om bloedklonte te voorkom agv lang vlugtyd.
  • Reisagent kan jou enige tyd na die kaartjie bespreek is  “pre-book” op ‘n lekker sitplek (ja ek weet jy kan dit self ook aanlyn doen, maar dis eers 24 uur voor vertrek en dis baie lekkerder om die frustrerende takie vir haar te gee!)
  • Moenie bekommerd wees as jou voete aan die mat vassit soos “velcro” en daar nie tyd is vir ‘n pedikuur nie. Thailand is bekend vir hul heerlike pedikure oral op straat en selfs op die strande.
  • Is jy op voorskrif-medikasie?  Neem ‘n afskrif van jou voorskrif saam.  Netnou sluit hul jou op vir dwelmhandel!
  • Die humiditeit is baie hoog in Thailand en ‘n krulkop soos ek het sommer vinnig ‘n slegte kroes.  Laat doen ‘n “Brazilian Blow dry” voor jy vertrek en spaar jouself baie frustrasies met die stryktang. Sit nogtans ‘n  klein bottel Marokkaanse olie of ander serum in vir die ekstra wip wat mag opduik.
  • Maak afskrifte van jou paspoort en reisdokumente en los dit tuis.  As jou dokumente gesteel word is dit baie makliker om alles uit te sorteer.
  • Los die adresse en telefoonnommers van hotelle waar jy gaan bly by familie wat agterbly.  “You never know….”
  • Selfoon:  maak seker jou nommers is op die sim en die foon se geheuekaart gespaar.  Koop dadelik ‘n plaaslike sim-kaart by die nuwe bestemming en vra die assistent om die foon vir jou gebruik-gereed te maak (vir bbm ens).  Dit is baie goedkoper en jy kan selfs huistoe bel! Baie dure lesse is al betaal vir fone wat op “roaming” gesit is…

‘n Paar handige dinge om saam te neem: 

  • verfrissende gesigsproei
  • “wet wipes” of handontsmettingsmiddel – klein botteljie
  • opblaas-kopkussing vir vliegtuig
  • naaldwerkstelletjie
  • stuk  nylon tou en wasgoedpennetjies (hotelle se wasgoeddiens is baie duur – jy kan self uitspoelwerk doen)
  • klein houer met waspoeier of koekie Sunglight seep
  • neem net genoeg sjampoe of haarbehandeling vir dag of drie.  Baie lekker om daar in die vreemde tussen die rakke rond te loop en van hul produkte te koop.
  • Noodhulpsakkie: pleister/ hoofpynpille/ muskietverwilderaar/ Valoid/ Buscopan/ salf vir byt- en steekplekke
  • In jou handbagasie: stel klere wat pas by die weer van jou bestemming.  Bagasie raak gereeld weg en kom dae later eers by jou uit. 
  • As twee of meer saamreis: neem net een van elk van bogenoemde saam – nie nodig vir elkeen om alles saam te piekel.
  • Gepraat van bagasie…. neem ‘n foto van jou tas en maak seker dit is gemerk met jou naam,adres en ‘n helder lint.  Nogal frusterend om daardie verlore-bagasie-vorm in te vul en al wat jy kan se is “dit is ‘n swart/ rooi/ donkerblou tas”.

Ek is besig om stadig maar seker deur my eie “idees” hierbo te werk.

 Wish me luck, wish me goodbye!

Twee weke voor Thailand

Dis alweer reistyd en oor twee weke gaan ek en my twee susters Thailand toe.

Ek was al eenmaal te vore daar, maar hierdie keer sien ek meer uit, want soos met meeste eerste besoeke aan ‘n plek is mens soms so vreemd, gedisorienteerd en benoud vir alle vreemde dinge dat jy soms van die lekkerste ondervindings misloop.

Het wel al die gewone toptoeriste dinge die vorige keer gedoen in Bangkok, Chang Mai en Phuket, maar hierdie keer is daar spesifieke ondervindings wat beleef moet word;

Wenslys:

Bangkok:

Blommemark in Bangkok  – wil hier vir my die grootste bos eksotiese blomme koop.  Sal nou wel net in die hotelkamer alleen rondstaan, maar darem daar om ons te verwelkom na ‘n dag se verken, proe en verwonder.

 

Grootste supermark in Bangkok (niks so lekker as om in ‘n ander land sek kosrye rond te snuffel en te kyk wat hul eet, hoe dit verpak word en wat hul aandag trek op die rakke nie).

Thai-kooklesse ( 1 dag):  Vroegoggend word jy na die plaaslike varsprodukte-mark geneem en daar leer jy wat die Thaise nasie geniet op hul borde. Jy koop die proviand vir die kooklesse aan en dan is dit terug vir die “real thing”. 

Thai Massering (was laaskeer te bang toe ek verby ‘n man stap wat die klient se knie agter sy oor probeer inwerk).  Hierdie keer gaan ek vasbyt.  As daardie masseerder my bene verby my maag kry is hy/sy blerrie goed!

Besoek die Kwai Rivier en oornag in Jungle Raft Hotel in die middel van die rivier.

Tyger Temple en Waterval en ook die brug oor die rivier wat die oorlogsgevangenes gebou het.

 

Phuket:

Lady Boy vertoning  – blykbaar sal niemand ooit raai die vroue is eintlik mans nie. 

Dagbesoek aan Phi-Phi eiland – ok ek was laaskeer ook daar, maar dit was voor die tsoenami en ek wil sien hoe die eilandjie herstel is.  Verder hoop ek die vars waatlemoensap-slush puppy-stalletjie het oorleef en is nog net daar waar ek dit laas gesien het.  Gaan definitief nie weer haai-steak eet nie.  Once is enough!

Swem in die oseaan – as jul reg onthou het ek mos ‘n swembroek gekoop so paar maande terug.  As dit  skielik  onverklaarbaar vreeslik hoogwater raak in die Kaap – wel dan weet julle hoekom.

As jy al in Thailand was en enige ander voorstelle het vir unieke ondervindings terwyl ons daar is – laat weet asb!

Gaan direk na nutsbalk.