Skip to content

Monthly Archives: Maart 2012

Paasfees op Hvar-Eiland

Paastyd in Kroasie is een van die spesiale familie-, vriende- en toeristegeleenthede wat uitstaan op Hvar-eiland se kalender. Kinders, broers, susters en tantes keer terug na hul geboortedorpe in hierdie tyd en op die eiland beteken dit ook om deel te wees van die bekende Za Krizem (Agter die Kruis) staptog.

Ek besoek reeds die afgelope ag jaar Kroasië en was al twee maal bevoorreg om die Paastyd daar deur te bring. Die land is omtrent 90% Rooms-Katoliek en die mense neem hul godsdiens baie ernstig op. Die kerk speel ‘n baie belangrike rol in hul alledaagse lewe. Paastyd is een van die belangrikste godsdiensfeeste hier, selfs meer as Kersfees.

Die Donderdagaand voor Goeie Vrydag begin ‘n  prosessie wat bekend staan as Za Krizem (Behind the Cross). Dit is ‘n deurnag -staptog deur die dorpies Jelsa, Pitve, Vrisnik, Svirce, Vrbanj en Vrboska. Dit is eintlik ses verskillende prosessies wat almal gelyktydig begin in elke dorpie, by ‘n gekose kerk. Elke kerk kies ‘n kleurtema en die vroue van die gemeentes maak die kerke op met blomme, doringkranse en kerse wat pas by hul kleurskema.

Die roete is ongeveer 22km en elke groep stap kloksgewys na die volgende dorpie se kerk. Die verskillende groepe se roetes moet so uitgewerk word dat niemand mekaar raakloop in die nag nie. Vooraan die groep is lanterndraers om die pad aan te dui vir die kruisdraer en die res van die groep. Die kruis is tussen 10 en 18kg en die draer stap die hele roete kaalvoet. By elke dorp se kerkie word gebede en sang gedoen en dan weer aangestap na die volgende punt. Elke groep eindig die volgende oggend by sy eie dorp se kerk waar die vorige aand begin is.

Om die kruisdraer te wees is ‘n groot eer en daar is ‘n waglys vir hierdie voorreg. ‘n Persoon wat in 2007 aansoek gedoen het vir die posisie het verneem hy sal eers in 2033 die eer te beurt val. Die gekose persoon vertoon ‘n maand voor en ‘n maand na die tog ‘n verligte kruis voor sy deur. Daar is nie ‘n ouderdomsbeperking nie, maar jy moet redelik fiks en gesond wees vir hierdie taak. Die arme kruisdraer is gewoonlik so moeg na die staptog, dat hy dikwels die laaste paar meter hardloop om die kruis oor te gee aan die plaaslike priester. Die hele staptog eindig om 7uur die volgende oggend. Hier en daar bly ‘n kafee oop, maar oor die algemeen is versnaperings langs die pad maar skaars. Dit is werklik nie ‘n staptog vir iemand met min deursettingsvermoë nie! Tog stap van die kleiner kinders, “hipste” tieners en kromste grysaards almal saam.  Dwarsdeur die nag klink die gewyde liedere op terwyl kaalvoete sag val op die vrugbare grond van Hvar. Vroegoggend eindig die staptog met ‘n Mis en almal spandeer die naweek gesellig saam met familie en vriende.

Gaan direk na nutsbalk.