Skip to content

Monthly Archives: Februarie 2012

Die modderige onderwereld van huiswerk vir kinders en hul moeders

Die smarte van ‘n moeder en huiswerk en skooltake is aangrypend, eindeloos en ‘n bodemlose put.

Kan my altyd so verluister aan ma’s wie se kinders al hul take alles self doen/ huiswerk klaarmaak sonder enige aanporring of lang mondelinge uitdink sonder enige insette van ma of pa.

In ons huis is ‘n ernstige tekort aan innerlike motivering as dit kom by enige van bogenoemde – ja, selfs my seun sukkel ook hiermee.

Erens in my eie skooljare moes daar iets traumaties gebeur het, want by die aanhoor van ‘n taak, mondeling of huiswerk waarmee ek moet help begin die sweet op die bo-lip versamel en ek is sommer op die plek kwaad.  Ja, heeltemal moerig en kortasem. 

Juffrouens stuur opsommings saam van wat verwag word, maar hierdie uiteensettings maak my so deurmekaar dat ek na ‘n papiersak moet gryp vir hiperventilering. Partykeer wonder ek hoe dit voel om jouself te versmoor in ‘n bruinpapiersak. Dit moet baie beter wees as om deur ‘n taak te worstel – ek is doodseker.

Die internet maak dinge ook nie juis makliker nie  –  soveel inligting, grafieke, prente en goed wat wip dat dit my oorweldig en ek drie ink “cartridges” opgebruik voor ‘n enkele woord opgesom is.

Hierdie week worstel ons deur die volgende:

‘n Besigheidsplan vir ‘n klein onderneming

“Wie de hel begin in hierdie ekonomie ‘n klein besigheid”

Die ontwerp van ‘n kamer met teels, vloere, mure, deure en meubels en alles moet asb vergesel word van drie kwotasies

Meneer die onderwyser, hierdie huis van ons is nie die staatsdiens nie, hier  vra ‘n argitek om die kamer te ontwerp, kry die bouer om Brights toe te ry en koop alles in een slag – kwotasies se *&^%%”

‘n Plakaat oor die bewusmaking van mense met “disability” (gebreke klink darem so af).

Ek het ‘n mooi plakaat ontwerp wat mense met gebreke verbied om te dobbel. By die Grandwest Casino is altesaam 40 parkeerplekke vir gestremdes, hallo!

‘n Plakaat en aanbieding oor dansstyle van die 70’s

Hierdie een was darem lekker – het sommer ‘n aand om gedans en vir Boeta gewys hoe lyk “The Hustle”  John Travolta se “moves” en my katpak met die 4 gate langs die kante opgediep vir die nodige effek.

Navorsingsprojek vir die Wetenskap Ekspo – enige onderwerp, huh?

Boeta is “clueless” en my voorstel is om navorsing te doen oor die psige van die gemiddelde onderwyser wat bogenoemde take uitdink.

Wish me luck, die week le nog voor!

Storm in ‘n Swembroek Cup

Ek weet elke vrou, maer, middelmatig of volrond soos Cremora, vrees die swembroekgange van afdelingswinkels. Dit is seker die mees verlate deel van enige modewinkel en tog wissel die voorraad gedurig. Dalk skuil my medesusters in die gang langsaan en gryp die stukke onderdeur of betaal hul kleuters om dit namens hulle af te haal van die miniatuurhangers.

Menige vreemde vrou het al my mening gevra omtrent ‘n rok, bloes of langbroek in die aantrekkamers, maar glo my, nog nooit oor ‘n swembroek nie. Nee swembroek-aanpas is ‘n geheime misssie waarvoor mens vooraf (soos vir Botox) ‘n Neurofen of Myprodol drink om die senuwees te verdoof.

So het die tragedie my ook gister te beurt geval. Ja, hier aan die einde van die somer soek ek nou swembroek. Dit nadat ek die hele Desember toegedraai in doeke (soos in die Kerskonserte..) onder die sambrele geskuil het van Port Alfred tot by Kraalbaai. Ek beplan egter ‘n vakansie na Phuket in Meimaand en daar ken g’n mens my nie! Ek gaan dus ‘n swembroek aantrek en rondwiegel-waggel in die blou waters van Asie.

Die van julle wat my ken (veral my figuur ken) sal weet dit is nie ‘n taak vir ‘n “no 6” verkoopsdametjie van die gemiddelde kettingwinkel nie. Nee, ek het besluit om direk vir die groot koppe ( G cups) te gaan. Ek stap vol vertroue die winkel in, want mede-eters het my al vertel van hierdie plek wat spesialiseer in vroue met heupe soos polisieperde en “susters” wat enige koppie kant en wal kan volsit.

Ten aanskoue van die verkoopsdames kry ek opnuut moed, want albei is mooi mollig en vriendelik. Die een kry wel so ‘n effense siniese trek toe ek my beraamde grootte uitspel, maar ek steur my min ek weet mos ‘n swembroek is ‘n ding wat rek!

Die eerste een wat sy uithaal lyk soos ‘n stofoortreksel vir my Verso en no 2 sal ook twee Mini Coopers langs mekaar mooi kan toemaak. Ek dog dan die vrouens weet wat hulle doen? Ek stuur haar liggies in die rigting van die kleiner “groot” nommers, maar sy beur terug na die motor “covers” en ek laat haar maar begaan. Sal haar nou-nou wys sy het nie ‘n “clue” van my rondings nie. Dis maar net die bloes wat so wyd is.

Die eerste swembroek is heeltemal te kort vir my lyf – natgesweet gesukkel om die bandjies of liewer BANDE oor die skouers te trek. ‘n Roering by die gordyntjies en kort, ronde meisie met dun lippies gryp die rekkerige materiaal en beur die res van die plooie wat onder my boude sit opwaarts. Ok, daarso, nou is dit darem nie meer so kort nie, maar die drukking om die midrif maak my duiselig en buitendien was vaalgrys nog nooit my kleur nie.

Swembroek no 2 word ‘n “minimizer” genoem en dit is weliswaar ‘n uiters korrekte beskrywing. Die susters is almal in die middel platgedruk en lyk soos twee gesquasde spanspekke wat lug soek. Die driedubbele rekmateriaal oor die maag en boude prop alles so effektief in tussen die broekspype dat die blou aartjies op my voete begin bult en daar binne 30 sekondes ‘n slaperigheid rondom die bobene ontwikkel. Help nou nie die lyf is ge”minimize”, maar jy verloor jou bewussyn in die proses nie.

“Third time lucky?” Die swembroek het ‘n aaklige geblomde paneel in die middel af en dan alkant swart panele – alles om verslankend te lyk natuurlik. Wel, die klein madeliefies verander in “gerberas” na my gerek en rol op die vloer en die dun goue strepies tussen die blomme lyk skielik soos die voetoorgang in die hemel eendag behoort te lyk   – breed en beslaan met goud.

Dit kan sweerlik nie al wees in die winkel wat my dalk kan pas nie? Die mollige, dunlip, fronsende verkoopsdame kyk my beterwetig aan en ek besluit om self te gaan soek vir iets gemakliker, mooier en wat suurstoftoevoer sal aanmoedig. Nodeloos om te se daar was niks anders nie…

Die paar wat nog mooi materiaal gehad het is hoofsaaklik ontwerp vir no 8 tot 12 figure. Die lycra- tente in my nommer is onderskeidelik besaai met bont strepe en blomme – volgens die verkoopsdame: om die aandag van die figuurfoute af te lei.   So in die stilligheid dink ek by myself: “Girlie, jy moet oppas dat daar nie ‘n figuurfout by jou is as ek met jou klaar is nie!”.

So gee ek maar die stryd gewonne en neem die een met die bont en swart panele en die hemel se “zebra crossing”. Gelukkig is Phuket besaai met eksotiese blomme en bome. Sal maar probeer in “blend” met die plantegroei en so nou en dan ronddobber in die see – daar waar die groter bote anker.

Gaan direk na nutsbalk.