Skip to content

Monthly Archives: Januarie 2012

Die Water-Christen

Ek is mos nie allervreeslik kerkbanksitterig van aard nie.  ‘n Vriendin van my het haarself eenkeer  ‘n “waterslams”  genoem – dis blykbaar wat jy ‘n Moslem noem wat nie so getrou is met die onderhou van hul wette nie.  Nou ja, ek  is dan ‘n “water-christen”.

  • Ten minste een maal ‘n week “slip” ek op met een van die 10 Gebooie.
  • Raak vreeslik vaak by lang gebede en hoogdrawende retoriek oor die Hebreeuse uitleg van versies.
  • Psalms en Gesange is party so eentonig dat ek verlangend loer na die Kinderkerk waar hul lekker “cool” gospelliedjies mag sing.
  • Broeders en Susters (aanspreekvorm) klink vir my soos ‘n outydse verhoogstuk wat in die 70’s deur Kruik by ons skool opgevoer is. Wag enige oomblik vir die gepoeierde pruike en strikdasse om uit te spring.
  • Party mense se 7 Bybelversies ‘n dag (Facebook) maak my ongemaklik en ek voel die heeltyd of hul vir my vinger wys.
  • Sondae sukkel ek om 9uur by die kerk uit te kom en verslaap gereeld.  
  • Ek ken nie ten minste 10 versies om aan te haal soos geleenthede hul voordoen nie.  Om die waarheid te se… die enigste een wat ek onthou is die een wat eenmaal by die spietkop, in ons buurt, se hek opgeplak was:  Hulle skuil op die hoeke van die strate om die ongelukkiges te vang.
  • Ek hou nie van Bybelstudie-groepies nie, want ek vra altyd vrae wat mense ongemaklik maak en kry nooit die antwoord wat my tevrede stel nie.  Die geteedrinkery onder die skuilnaam “Bybelstudie” laat hang ‘n geur van vroomheid en ordentlikheid in menige sitkamer en ek staan uit soos ‘n samoosa. 
  • As jy my wil kwaad maak moet jy die “Christen-kaart” uithaal bv Christene praat nie so met mekaar nie of Mevrou, ek is mos ‘n Christen.   Moet ook nie by my bedel en dan dankie se met “die Here seen u” nie. 
  • Ek het geen begeerte om in ‘n swembad gedoop te word nie en nog minder om vir Joyce Meyer te ontmoet
  • ‘n Besoek aan Israel het my net kwaad gemaak, want die Israeliete is ongeskik en het geen erg aan die geskiedkundige plekke wat vir Christene van waarde is nie.  Dit is meestal verwaarloos en ‘n goeie “money spinner”. 

Daar is darem ‘n paar goed wat ek love!

  • Laatmiddag Bybel te lees onder my geliefde koelteboom in die tuin.
  • Hallelujaliedjies van my kindertyd kliphard te sing deur die huis.
  • Lande soos Turkye te besoek en te sien waar die berg Ararat is, Efese – die stad te besoek (nou net ruines) en by elke Rooms Katolieke kerk  (in Europa) in te stap en na die skilderye van heiliges te kyk.  Steek selfs ‘n kersie aan vir familie en vriende.
  • Die Psalms en gelykennisse is vir my pragtig en o ja, ek ken darem Ps 23 – het al baie handig te pas gekom in benoude situasies.
  • God se sin van humor – kyk maar rondom jou.
  • Ons kerk se kommunikasie-kanale sonder blokkasies te hou dmv nuusbrief, webwerf en Facebook-bladsy.
  • In my eie badwater te le en gesels met God  – Water-Christen of te “not”.

Tretchikoff en ander terterige “trinkets”

Laat ek nou maar uitkom daarmee… ek het ‘n vreeslike kitcsh/ cheap streep weg.  Kan dit nou eenmaal nie help nie.  Sal verby al die ontwerperswinkels warrel na die hospice-stalletjie, motorkattebakverkopings, huisraadveilings van ou tannies en vir ure rondsnuffel  Crazy Stores.

‘n Turkoois glaslekkergoedbakkie met ‘n steeltjie en deksel maak my meer opgewonde as enige Jenni Buttonrok.

Blompotte van cheap gekleurde glas laat my visioene kry van lang tafels met krismisrose en agapanthusblomme daarin.

‘n  Glasbak vol gekleurde draad-en-krale verkleurmannetjies versier die trap en langsaan hang ikone van enige prysklas.

Die voordeur word mooi oopgehou met ‘n ronde sandkussing wat oorgetrek is met vreeslike blink materiaal en drie mooie nog blinker materiaalrose bo-op.

In die studeerkamer hou twee seepsteen Transkeikoppe oor my rekenaar wag en op dieselfde rakkie staan ‘n klein Eiffeltoring wat goud gesprei is en ‘n klein miniatuur seilskippie oppad na nowhere.

In die slaapkamers gaan dit nie veel beter nie:-

Gastekamer is versier met twee reuse ou tasse wat as pakplek dien (okay, weet hierdie is eintlik nou weer “in”, dankie tog!),

Seunskamer het ‘n groot prent van Elvis op die muur (darem geraam, hello!)

My slaapkamer: Genoeg kussings op die bed om ‘n haremhoof van jaloesie te laat ween. Dis satynrose, proteas in katoen en gelapte blink indies gemeng.

Dis egter in die kombuis waar dinge die meeste skeefloop… teelepeltjies met kleirosies agteraan/ bottermessies wat lyk soos verskillende broodrolletjies en Pep Stores sakdoekies vir servette.

Die teepotversameling lyk ook nie veel stylvoller nie.

Een lyk soos ‘n outydse bad (het darem ‘n kaktus daarin geplant), die ander een se handvatsel ‘n voller-figuurvrou in ‘n bikini en die lemmetjiegroen kleintjie het ‘n blaardeksel met ‘n ladybird daarop.

As ek deur dekortydskrifte blaai dan val die “eklektiese” styl altyd byval.  Blaai juis deur die nuwe Conde Nast en van al die honderde soorte tafelligte wat hul voorstel love ek die versameling gemaak van ou kitcsh beelde die meeste – die prys is egter alles behalwe “cheap” so lyk my party duur goed kan ook maar lekker zef lyk….

Een van my beste geskenke Kersfees wat die boek van Tretchikoff se lewe en sy kunswerke.  Ek het gejil van plesier oor die inhoud en ook sommer weer ‘n ou herinnering of prent opgediep.

Die roos met die traandruppel is my lekker speeltye by Sarah en tannie Rykie se huis op Liebendal.  So mooi sentraal geplaas bokant die sitkamerbank – die heiligdom waar net die dominee en VLV vergaderings gehou is.

Die prent met die drie swart musikante staan in my skoonma se pakkamer en ek het my erf-sticker daarop geplak.

My volgende aankope?  Dringend op soek na drie eende wat teen die muur vlieg  – wil hul graag turkoois verf en in die gastekamer bo die tasse hang.  Ook daardie prent van “Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder” met die tinfoelie agter die uitgesnyde letters word dringend benodig vir die kombuis!

10 Reisidees vir 2012

Die nuwe jaar het sy kop uitgesteek en as dit vir jou na drank laat gryp is dit tyd om iets lekker te beplan om die gemoed te lig. Hier is ‘n paar idees en elkeen is so gekies om nie ‘n bankroof of verloofring-verpand in te sluit nie.

1. Ry die Alcan (Alaska/ Canada hoofweg) na Alaska. Dis meer as 1 200 myl, maar as jy op vakansie is “who cares?”

2. Doen “river rafting” in die Grand Canyon – nee, dis nie goed genoeg om op die glaspaneel te staan en die dieptes in te tuur nie!

3. Stap die Camino Santiago de Compostella in Spanje. Dit is al ‘n geruime tyd die “flavour” van die maand in SA, maar as jy dit nog nie gedoen het nie is jy een agter. Dis sielsverrykkend, mooi natuurskoon en jy kan jou rugsak per bussie aanstuur na die volgende dorp as jy wil.

4. Bespreek ‘n “all-inclusive” vakansieweek erens – Mauritius is die naaste, maar Cancun, Mexiko sal die kersie op die koek wees. Om te swem na die swembadkroeg en die een groot mengeldrankie na die ander te bestel/ te eet tot jy steun by die buffettafels en hand-en-voet bedien te word is een van die groot luukshede wat jy jouself eenmaal in ‘n leeftyd mee moet bederf.

5. Bly ‘n paar dae op ‘n drywende rivierhotel in Thailand en reis dan verder na Phuket, Krabi of Koh Samui. Dis goedkoop, anders en ‘n sintuiglike fees. Moenie vergeet om vir ‘n Thai massering te gaan, jou toonnaels op die strand te laat verf met blommetjies en krale in jou hare te laat vleg nie.

6. Besoek Lapland in die winter en sien waar Vader Kersfees vandaan kom.

7. Neem ‘n treinreis deur Indie en ervaar die land soos hy werklik is – nie deur die wasige tint van ‘n vierster hotel nie. Boek ‘n paar dae in by ‘n ashram – nee, jy sal nie onder sensuur geplaas word nie, dis net ‘n vredevolle ervaring, nie ‘n oorloop na die hel nie!

8. Besoek die Kersfeesmarkte van Wene, Munich, Praag en Budapest. Alles in een vakansie. Drink gluwein, eet warm wafels met stroop en ysskaats saam met die “locals” op die binnepleine van elke stad.

9. Spring van een eiland na die ander in Kroasie. Pag vir sy unieke kaas, Hvar vir wyn en seekos, Korcula vir nog wyn, seekos en naglewe en Mljet vir ‘n dagtoer op ‘n fiets deur die woude en ongerepte natuur.

10. Buenos Aires – jy moet eenmaal in jou lewe die Argentynse tango aanskou soos net die Argentyne dit kan doen! Nog beter sal wees om dit self te probeer. Stap deur die duisende antieke stalletjies van San Telmo en gaan eet saam met die “gauchos” (Argentynse cowboys) op ‘n beesplaas.

Gaan direk na nutsbalk.