Skip to content

Monthly Archives: November 2011

Die Nie-Huisvrou-se-Gat Ondersteuningsgroep

Die nuttige bestaan van huisvroue oor die wereld heen kry nuwe betekenis in my huis.

Lees onlangs die polimiek op Facebook oor ‘n man wat een van my vriendinne se “aktiwiteite” as huisvrou bevraagteken het. Dit het natuurlik die kat tussen die tarentale losgelaat. ‘n Babelse verwarring van verduidelikings oor dagtake en fluksegeit het amper die internet geblokkeer en hier en daar het ‘n vlytige huisvrou letterlik vuur gespoeg omdat mense nog steeds haar waarde ver onder die van korale en diamante onderverkoop.

Meeste van hierdie inskrywers bak koek, kook, maak kind groot, het (byna nooit) ‘n huishulp, skryf, skilder, verf eie toonnaels, kleur hare/ wenkbroue en werk vir die kerk en gemeenskap. Dan dans sy nog saans vrolik in haar nagkabaai kamer toe ook. Natuurlik ontken meeste dat hul ooit nutteloos in die winkelsentrum ronddwaal of ooit hul man se kredietkaart skreeuend deur die masjientjie trek. Soveel deugsaamheid en talente onder een dak. Ek het verstom gelees en net my kop verward geskud. Waar het ek agtergebly en watter gene van my het nooit ontwikkel nie?

Die beste manier, vir ‘n ontuislike huisvrou soos ek, om na vore te kom is om by die NHSG (Nie Huisvrou se Gat) ondersteuningsgroep aan te sluit. Dit verg baie selfondersoek, “guts”, trane en slaan-jouself-met-‘n-verestoffer om dit te erken en dan die eerste stap te neem tot aanvaarding (LW nie “redemption).

Hieronder volg die reels van die NHSG Ondersteuningsgroep:

  1. Jy mag nie voor almal opstaan en warm ontbyte voorsit vir die hele gesin/ almal se kosblikke pak of al die kinders 20 tree ver skooltoe ry nie.
  2. Jy mag onder geen omstandighede (nee nie eens as die baas oorkom vir ete) eksotiese disse optower wat Barbara Joubert na ‘n “rookie” laat lyk en koeke bak wat lyk soos Euro Disney-parke nie.
  3. Jy mag onder geen omstandighede almal se wasgoed sorteer en met die hand was by ‘n rivierstroompie of selfs in ‘n wasmasjien (sies) nie.
  4. Jy moet ten minste een maal ‘n maand jou naels LAAT doen, iemand betaal om jou wenkbroue te red en jou hare te “quaff”. Hierdie mense moet BETAAL word en aalmoese van goedgunstige vriendinne of familielede mag nie aanvaar word.
  5. Jy moet ten minste een maal ‘n week saam met ‘n vriendin of drie gaan koffie drink (natuurlik met ‘n stuk koek by) of ook aanvaarbaar is ‘n uitstappie na ‘n lekker dekor- of klerewinkel.
  6. Winkelsentrums is gebou vir huisvrouens en verveelde tieners en om hierdie instellings blatant te ignoreer (vir meer as twee weke) kan veroorsaak dat jy uit die NHSG Ondersteuningsgroep geskop word.
  7. Gemeenskaps- of kerkaktiwiteite is aanvaarbaar, maar dit mag nie die somtotaal van 2 projekte oorskry nie, want anders maak dit inbreuk op koffie- en winkelsentrumtyd. OK doen maar 3 as jy MOET…, maar dis absoluut die maksimum. Onthou ons gaan jou “opcheck”.
  8. Jy moet onder alle omstandighede gebruik maak van ‘n huishulp (char 2x per week ook aanvaarbaar). Mense dood van die honger in SA en jy is so selfsugtig dat jy nie eens kans sien om ‘n hele gesin te onderhou per maand nie. Skaam jou!
  9. Erekleure en ‘n benoeming op die Goue Rol van NHSG word gegee aan enige huisvrou wat ‘n voltydse huishulp het. As sy nog kan kook ook kwalifiseer jy outomaties vir Platinum Status.
  10. Jy mag geensins saam met jou man op dieselfde tyd gaan slaap nie – dit lei (ly?) tot allerhande aktiwiteite wat mens uit die slaap hou en jou man die indruk gee jy is verveeld, het nie genoeg om jou bedags besig te hou of buitemuurse belangstellings nie.

Vir meer inligting omtrent hierdie eksklusiewe klub kan jy Facebook dophou – almal wat gereeld aktief is daarop is definitief klaar lede. Kontak enige van hulle en begin vandag leef!

Gaan direk na nutsbalk.