Skip to content

Monthly Archives: Julie 2011

Minnie Muis, Buzz Lightyear en die Space Mountain

Dis ‘n windstil Juliedag as ons die Vallee de Marne stasie
ingly vir ‘n besoek aan die Europese mekka van oorlede Walt Disney. Mense
stroom soos dun stroop by die stasie uit en oral drafstap ouers met kleintjies
vir die kortste ry van die park.  Rye vir
die wat nog kaartjies moet koop en rye vir die wat net hul voorafbespreekte
kaartjies moet wys. 

Hier by die hekke al begin die kammawereld met
kaartjiemeisies wat aangetrek is soos Mary Poppins,  lang wye rompe, toeryg hoehakskoentjies en ‘n
getaileerde kort baadjie.  Die
vriendelike groet en “have a nice day” laat jou egter gou besef dis  Amerikaans ingevoerde gasvryheid.  Die Franse sal jou definitief nie so breed
beglimlag 10uur in die oggend nie.

By ‘n lang straatjie af met die mooiste kammawinkels, regte
winkels en lamppale wat vol blommandjies en foto’s van Disneysterre hang –
Doringrosie, Die Prins van Persie en Lilo 
loer op jou af, tussen perfek gemanikuurde malvas en grasangeliere.

Ek en die twee seuns is skoon verbyster deur die  gesig van die reuse kasteel wat in die middel
van die park staan.  Die kasteel is
ligpienk en blou en sy torinkies skiet die hemel in terwyl die paadjie daarna
kronkel oor ‘n lieflike hangbrug. Ek verbeel my selfs ek sien vir Raponsie loer
deur een van die vensters.   Ons het ‘n kaart (alweer) en weet nie op wat
om eerste af te peil nie. Frontierland, Adventureland, Fantasyland of Spaceland?  Oral in die lug klou die opgewondenheid van
kinders soos taai “candyfloss” in die lug.

Space Mountain is ons eerste rollercoaster rit en as die
meisie die sware ysterharnas oor my laat sak en my vra om my handsak tussen my
voete vas te klou weet ek hier kom probleme. 
Ons vlieg weg in stikdonkerte en stop dan skielik.  ‘n Onheilspellende gerammel volg en ons begin
stadig weer spoed optel, al vinniger en vinniger tot die volmaan bo die
“heuweltjie” verskyn.  Van hier af is dit
afdraend, skuinsdraend en gat-oor-kop. Meteoriete vlieg verby jou, stikdonkerte
omhul jou en hier en daar val ‘n maanrots langs jou.  Sterre verskiet (of dalk was dit maar net ek
wat so hard gegil het ) en dan stop jy weer.  Dankie tog vir asemskep, maar nee, dan vlieg
jou karretjie-trein weer weg en met suisende wind in die ore hang jy soos  Batman aan jou ysterharnas – die enigste ding
tussen jou en die dood.  Skielik pyl ons
deur die helder lig en karplaks – daar stop ons.  Alles oor. 
Ek waggel soos ‘n ou alkie oor die plaveisel en met suisende ore en ‘n
naarkol op die maag steier ek die helder sonskyndag in.  Het ek regtig geld betaal hiervoor?

Die seuns is so opgepsyche dat hul dadelik weer wil gaan
Space Mountain, maar ek boender hulle na die Video spelonk waar Cars 2 se
voorskou salige lafenis bied op baie groot skerms.  My bene herstel ietwat en ons kan aanbeweeg.

Die rye is so lank dat jy soms meer as ‘n uur moet toustaan,
maar ons ontdek the Fast Pass kiosks en hier 
bespreek jy ‘n tyd vir ‘n rit en kan dan later terugkom as dit jou tyd
is.  Dit beteken jy kan tussenin rondloop
en vergaap. 

By Frontierland stap jy deur ‘n poort gebou van dryfhout,
afvalstukke en word verwelkom deur kopbene, bokhorings en verweerde waens wat
jou dadelik in die Wilde Weste bui sit.  
Hier staan lewensgrootte skeepswrakke en hangbrue en erens in ‘n hoek
wag nog ‘n lang tou vir die Tarzan show om te begin.  Die seuns mik vir die volgende rollercoaster
– Indiana Jones se tog deur die tempel van verdoemenis.  Ek laat my wragtag weer ompraat en skuifel
sleepvoet tussen al die toue deur na die voorkant.  Oppad daarheen hang Indiana se wasgoed oor ‘n
draad en is sy Jeep is geparkeer tussen ‘n klomp bosse.  Sy tent staan gereed met al sy aparaat en
beddegoed en jy verwag enige tyd die man homself aangestap kom tussen die
struike deur.  As ek sien klim ek alweer
‘n treintjie en woerrr daar gaat ons. 
Die keer loop die spoor buite oor berge en dale, maar nie te lank of ons
hang weer  kop onderstebo. Die trein kort
definitief ‘n goeie diens, want dit kraak en raas so dat elke nou en dan loer
of my medepassassiers se waentjie nog voor my is.  Hierdie treintjie spesialiseer  in die afpyl op baie skerp, klein onmoontlik
draaitjies en lig dan skoon uit die spore om halfskuins na die afgrond te hel.  Ek gil so hard dat my stem skoon wegraak en
as ons op die derde rivierpoel afduik ,teen dolle vaart, maak ek maar die oe
toe en wag vir die einde – wat dit ookal mag beteken.   Dit is eintlik so lekker dat ons sommer weer
tweemaal gaan toustaan!

Die park is vol winkeltjies wat al die karakters verkoop,
hetsy op bekers, strooitjies, as sagte speelgoed of in
videospeletjieformaat.  Daar is  klomp stalletjies met kostuums en gou is die
strate vol Sneeuwitjies, prinse, Peter Pans en Dr Hook’s.  Kleintjies leef in ‘n wereld van die
verbeelding hier en ouers swaai die kredietkaarte om hierdie wereld vir ‘n dag
lank te help skep.

As ek op ‘n bankie gaan sit om koeldrank te drink,
plons  Minnie Muis haar langs my
neer,  met ore-haarband, rooi polkadot
broekie en swart kruisbande.  Sy lyk soos
‘n sprokie, maar as sy begin skree oor haar roomys wat geval het weet ek
sprokies het ook soms voete van klei.

Die Buzz Lightyear-rit raak my en die seuns se
hoogtepunt.  Dit is eintlik bedoel vir
kleiner kinders en die treintjie beweeg maar rustig in vergelyking met oom
Indiana se kopaftrein, maar die lasergewere is net wat ons nodig het en al drie
van ons mik, skiet en skree vir die obstacles soos gesoute
speelgoedland-soldate.  Ons oorwin die vyand
en kry elk ‘n medalje vir ons pogings.

Die son sit hoog as die straatparade om 19h00
plaasvind.  Ek gaan kyk alleen, want die
seuns is vir die vyfde keer op die Space Mountain-rit.  

Die wonderwereld van reuse en ek bedoel reuse vlotte vol
karakters seil deur die skare.  Dis Big
Ben, bome, blomtuine,  teepotte, prinse
en prinsesse en Winnie the Pooh met haar heuningpot wat gevolg word deur
straatdansers, reenfeetjies en die aaklikge Dr Hook.  Kinders word uit die skare genooi om saam te
dans en Goofy knip selfs vir my oog. Ek neem foto’s tot my vinger seer is en as
die vlotte om die laaste draai verdwyn stroom die skare nog vir oulaas agterna.

Ons eet Meksikaanse chips en drink Coke deur Buzz Lightyear
strooitjies.  Ons koop yskasmagnete en
skiet mekaar nog ‘n keer met die lasergewere in speelgoedwinkel.  Francois sien ‘n Mickey Muis-rugsak en
spandeer helfte van sy sakgeld vir Frankryk daarop.

Die son sak uiteindelik 22h15 en vyf minute later begin die
finale vlotoptog van die aand.  Hierdie
keer is alle waens  in reenboogliggies
gedoop.  Skoonlief en Ondier dans tussen
die vuurvliegies en Sneeuwitjie en haar Prins soen onder ‘n reuse
kandelaar.  Dit is pragtig en die skare
staan begogeld en kyk hoe een wa na die ander ‘n wonderwereld nog verder
omtower in liggies en neonkleure.

Die aand word afgesluit met ‘n vuurwerkvertoning wat
georkestreer word met beelde van blomme en patrone wat al langs die groot
sprokiespaleis afgly.  Vuurpyle suis die
lug in en ontplof in ‘n reenboog sterre doer ver bo in die lug – alles saam met
die bekendse temaliedjies van Disneyflieks. Dit hou vir meer as ‘n halfuur aan
en as jy dink die laaste vuurspatsels is nou gesien, ontplof daar net nog ‘n
groter vonkkrans bo jou kop.   Hier en
daar was die opwinding van die dag te veel en slaap ‘n mini-prinses of baba
Buzz Lightyear op Pa se skouers, maar Pa bly staan, want vir hom was die dag
eintlik nog lekkerder as vir boeta of sus!

 

Franse oondkoek, ridders en ‘n ystersmid

Vanoggend vroeg is ek en die seuns uit by die deur met die
soveelste halfwas-kaart , warmgoed en ‘n sambreel.   Ja dit sous hier in die Loire-vallei.  Van die Franse somer sien ek net op die
weerkaart  – daar na Nice se kant
toe. 

Die mikpunt is ‘n dorpie so 24km van Samur (ons het
natuurlik ‘n paar kwinkslae uitgedink oor hierdie naam) met die naam van
Allonnes en meer spesifiek  Brian-sur-Allonnes,
‘n argeologiese “site”  waar elke jaar ‘n
Middeleeuse fees gehou word. 

Bo verwagting verstaan ons die padkaart perfek en kom binne ‘n
halfuur by die bestemming. Al tussen rye bome deur tot diep in ‘n woud.  Dis waar die fees vandag is.   Dit het ‘n groot houtboogingang tussen twee
dubbelverdieping houtgeboue en twee tannies met lang rokke en “medieval”, met
die klem meer op “evil” koptoga’s  verkoop
die kaartjies, bonjour en roep ‘n Engelse gids nader.  Hy maak half verskoning dat dit ‘n regte “village”
fees is en nie ‘n professionele gedoente nie. 
Ons kan nie blyer wees nie en neem dadelik ‘n foto saam met hom.  Sy kortbroek steek so half uit onder sy
bruinerige kaki-oorjurkie. 

Die fees word amptelik geopen met ‘n feesbestuurder in
gestreepte sokkies en puntleerskoene wat onder sy kopduik sukkel om die bril in
posisie te hou vir die toespraak se lees. 
Hy word luid toegejuig en swaai 
swierig ‘n swaard rondom sy ronde magie.

Oral in die woud staan opslaan houtgehuggies met tipiese handwerk
uit die middeleeue.  Mandjievleggers, houtsneewerkers,
ystersmede, ‘n kruiekwak en selfs ‘n vrou wat die kinders leer om daardie
eienaardige ketting “outfits” te maak wat die soldate op ‘n stadium so graag
gedra het.

By een stalletjie staan ‘n man in opkrul-leersandale met ‘n
groot skaapvel om sy skouers  en sy
vriend die soldaat het al sy leerborsstuk en skild ook gereed.  Oral stap vroue in kostuums en mans maak ook
gereed vir die optog.  Dan is dit sulke
tyd en beervelle, skaapvelle, kettingharnasse en ysterskilde staan in gelid vir
die straatvertoon.  Heel agter loop so
vyfstuks musikante wat sekerlik gereeld ‘n zol of twee rook.  Hulle maak die mooiste musiek met antieke
instruments – een is ‘n skaap se pensvel wat toegebind is en wat vol wind is,
hy druk op die sak en dan kom daar klanke uit die fluit – of soiets, maar baie
interessant.

Die seuns geniet al die antieke speletjies soos pyl en
boogskiet, bylgooi en spiesgooi en die 2 Euro-stukke vlieg vir elke
poging.  Maar wie kla – ons het “fun”.
Die omie wat help by die pyl-en-boogskietery lyk soos een van die karakters in
Braveheart wat sommer al heel aan die begin van die fliek afgemaai is. Terwyl
hul skiet en gooi “pose” ek saam met ‘n soldaat of twee en maak sommer vir fun
die grote met die rooi “outfit” bietjie skrik en word beloon met ‘n bylswaai in
my rigting.

Middagete is roosterkoeke wat in pizza-oonde (lyk altans so)
gaargemaak word en dan met Nutella (sekerlik nie baie middeleeus),
roomkaas,  gerookte worsies of vark van
die spit gestop word.  Dit smaak heerlik
en die sous drup sulke strepe oor ons kenne. 
Dit word afgesluk met  heerlike
Rose wyn van die omgewing en verder vasgestamp met ‘n soetigheidjie.  Die poeding van die dag is iets tussen ‘n
pannekoek en ‘n roosterkoek – goudbruin gebak en dan in strooisuiker
gedoop.  Dit word verder bedrup met
aarbei of sjokoladesous of as jy nog dapperder wil wees, met rum wat ge-flambe
word.  Net om seker te maak ek verloor
nie ‘n gram nie, kies ek aarbeisous en rum.

Later is dit tyd vir die vegters/soldate op perde om hul
vegterskuns te wys.  Almal gallop in ‘n
lang baan af en moet verskillende take uitvoer. 
Die eerste een is om soveel skilde (op pale) as moontlik om te slaan met
die lans.  Die volgende vaardigheid is om
die ringe, wat bo aan ‘n houtbalk hang, af te haak met die lans en laastens
moet elke vegter kyk hoeveel koppe hy kan afslaan van elke paal.  Gelukkig is dit net haarkapperkoppe met
pruike op wat staangemaak is op foamolite stutte.  Pierre de Br’ien (by ons sommer Pierre de
Bruyn) is die ster van die dag en doen al die toertjies perfek en baie
pronkerig.

Na ‘n lang gesoek vind ek die seuns weer by die ystersmid se
“winkel” – tussen ‘n skare mense wat hul net so fassinerend vind.  Francois koop ‘n ystermessie vir sy Pa en
Paultjie se pa kry ‘n ysterslang wat om ‘n droe houttak krul. 

Ek het soos gewoonlik ‘n oorbelstalletjie raakgeloop en
alhoewel  dit te veel “bling” vir die
middeleeue wys, gooi ek alle finansiele bekommernisse oorboord en koop ‘n mooie
paar met turkooisblomme en blink steentjies. 

Laatmiddag drentel ons traag uitgang se kant toe en loer nog
vir oulaas by elke stalletjie of werkswinkel in.  Die son loer watering deur die hoe bome en dis
tyd vir huistoegaan.  Vir ‘n hele dag
lank was ons drie deel van die middeleeuse mense, kos en dinge  en was die werklikheid net ‘n vae skim.

Franse Verversings en Fieterjasies

Ons is so bietjie meer as ‘n week in die Loire-vallei en
anders as Parys (wat die snobsuster van die platteland is) , is die lewe hier
vol van die dinge wat ons tuis ook elke dag doen en tog…

Franse TV klink soos babatjietaal sjie-wie-shu-wie, maar
die advertensies lyk amper pornographies. 
Die nasie het regtig die vermoe om selfs Veet onthaarmiddel na seks te
laat lyk.  Daar is sensualtiteit in die
beweging van hul monde, hande en dan natuurlik die wegstap – al is dit ook met ‘n
baguette onder die arm (wat wie weet wanneer laas gewas is).

Ek soek oral vir die stylvolle Franse , maar moet se dit
lyk of hul heelaas ook verval het in die Amerikaanse epidemie.  So hier en daar is ‘n Louis Vuitton serpie
non-chalant saam met ‘n Tshirt gedrapeer, maar ek sien hier  baie plastiekskoene, supermarkrokke en  H & M klere (eintlik Engels van
oorsprong). Verder dat al wat mond het rook! 
So eienaardig, want hul is fanaties oor organise kos, gebruik amper geen
plastieksakke, herwin alles (5 dromme by elke huis) maar vul dan die longe met
die een rookbol na die ander.  Oh well,
ten minste sal Frankryk gered word al vergaan die nasie …

Franse vrugte, groente en brood word ook daagliks deur
honderde hande gevoel, gedruk en geruik tot die “regte” een tot hul
spreek.  Teen die tyd dat jy jou baguette
koop het baie, baie vingers dit al ge”squeeze” en ge”poke”.  Dit lyk egter nie of dit enige iemand pla nie.  Dalk is dit deel van die brood se smaak
uiteindelik, wie weet?

Kase is die Franse se ander passie.  In die Carrefoure of die Lidl le yskaste vol
kase van enige kleur, geur, grootte en substansie.  Die word ook geruik, gedruk en soms vies
teruggegooi vir ‘n ander een. 

Tot my groot vreugde is die wyn nogal nie duur in die supermark
nie.  ‘n 
Goeie bottel Pinot Gris sal so R45 kos en die Bordeaux rooi so tussen R50
en R60.  Niks bokant dit gesien – so om
hier te drink is ‘n plesier.  Ek hou
vandag ‘n vrou dop wat wyn koop en die plesier waarmee sy elke bottel bekyk (en
wraggies ook bevoel!) laat my mond oophang. 
Sy soek uiteindelik drie bottles uit – let wel, heel agter uitgehaal al
is dit dieselfde soort as die wat voor staan en tevrede “till” toe
aangestap.  Het haar onmiddellik nagemaak
en ook agter begin grawe. Toe maar met my powere een botteltjie ook in die ry
gaan staan.

Hul liefde om voor jou in te druk, in ‘n ry, is
legendaries jy moet mooi kyk of jy bly heel agter vir ure.  Hul het die kuns amper so goed vervolmaak
soos die “pick pockets” op die Metro’s.

Dit is noodsaaklik dat jy ‘n Fransman/vrou benader met “bonjour”
– vir enige navraag, enige opmerking of enige kommentaar.  Die woordjie word te alle tye as sleutel tot
enige gesprek gebruik.  Moet ook nie “merci”
vergeet nie – die “r” moet so lekker gebry word en jy “merci” van die more tot
die aand – selfs al iemand hoor “merci” vir iemand anders se “merci”  aan hom. Weet nou waar ons Afrikaners se
ewige dankie sê vandaan kom – dankie vir dit, dankie vir dat, dankie vir die
dankie…

‘n Woord wat my vir dae “confuse” het is “caves”.  Kon glad nie verstaan wat se grotte oral
opduik nie.  Die aarde lyk dan so plat
hier en tog adverteer borde oral “caves” met ‘n bottel wyn daarby.  Eers gedink dis vir mense wat graag uit die
openbare oog, alleen erens wil gaan sit en drink, maar uiteindelik besef dis  wynkelders waar jy kan wynproe en sien hoe
alles in die bottel geland het. O, nou kon hulle nie so se nie?

Padaanwysings is ook definitief nie vir die “fainthearted”
nie.  Jy ry nog so lekker op ‘n
aanwysing, om die soveelste sirkel (duisende van hulle) dan wys ‘n bordjie  jy moet presies terugry soos jy nounet
aangekom het.  Die A10 (tolpad) loop hier
in die Loire-Vallei van Noord na Suid, maar volgens my breinkaart is die Wes na
Oos, maar wie is ek nou om te stry.  Dan
is daar die gewone paadjies tussen elke dorp wat, soos gese, gespikkel is met ‘n
sirkel elke 5km of so.  Regs om die
sirkel om links te gaan en dan suid om uiteindelik in jou dorpie uit te kom wat
eintlik wes le.

‘n Uitstappie in ‘n land met vreemde kosse, wyn, paaie en
tv-kanale is soos ‘n “bootcamp” vir die reisiger.  Jy het elke uur van elke dag ‘n “obstacle”,
maar as jy dit bemeester het voel jy lighoofdig van die plesier-adrenalien.

Vivre le France!

 

 

Savonnierres, sonneblomme en chateau’s

Die Franse Platteland-seisoen het vir my en die seuns aangebreek.

Ons het gister van Montparnasse na Tours gereis en ‘n 210km trippie in 1uur en 10 min gedoen – die wonder van vinnige treine.

By aankoms wag Pierre, die huisbaas se seun, ons in en as al 7 stukke bagasie in die Clio gestop is, kyk hy half benoud rond vir ‘n gaatjie om te kan bestuur.

Strate glip vinnig onder ons uit, want die eindpunt is Savonnierres, ‘n klein gehuggie, 15 km van Tours in die Loire-Vallei.

Op ‘n kronkelpad ry ons verby ‘n plaat sonneblomme, wat koppe skeefgedraai na die son toe kyk. Oral is koringstoppellande en akkerlanings en die een “village” na die ander.

Ons huis vir die volgende 10 dae is heerlik gerieflik, op die rand van die dorp met volop kamers, geriewe en ‘n reuse tuin. Dit het die mooiste uitsig op ‘n reuse kasteel wat verweg waghou op ‘n heuweltjie. Pierre is ‘n bakker en het vir ons ‘n kraakvars baguette op die kombuistafel gelos.

Laatmiddag ry ons deur Savonnierres self en ontdek die “Caves Petrified” met wegkruipgaatjies, klammerige muf mure en heerlikste wyn. Ons kruip deur die tonnels en verkyk ons aan die stalagtiete en mini-watervalletjies wat oral afstroom.

Dag 2:

Ek en die seuns pak toebroodjies en koeldrank vir ons eerste uitstappie na ‘n kasteel of twee. Hier in die Loire-vallei is meer as 50 kastele en ongeveer 20 is oop vir besoekers. Die naaste een aan ons is Chateau Villandry, maar ons wil graag Leonardo da Vinci se laaste aftree-kasteel gaan verken. Wel, erens tussen La Riche en Tours het ons toe die pad byster geraak en as ons weer sien is ons in die middel van Tours se sakekern. Dit gebeur natuurlik as ‘n mens in ‘n wildvreemde gebied wil ry sonder ‘n kaart, maar gelukkig is ook ‘n fout ‘n avontuur in ‘n vreemde land. Ons eindig toe maar in ‘n winkelsentrum waar die seuns ure ronddwaal in die winkel met elektroniese “gadgets” en ek my vermaak het met kennis oor wat die Franse eet, gebruik vir waspoeier en onder hul arms spuit, in die Carrefoure (hul tipe hipermark). Nog ‘n entjie aan sien ek my favourite winkel in Europa (en VSA) – IKEA. Die toebroodjies en koeldrank word voor die ingang van IKEA geeet en die seuns drentel maar sleepvoet agter my aan, want dis meestal huisware en meubels. Later vind ek hulle in die kinderafdeling by die sagte speelgoed. Francois het vir Paultjie in die reuse houer met sagte speelgoed geboender en net sy voete steek uit tussen die bere, slange en donkies. Dit was definitief tyd vir huis-toe-gaan.

Alles is vreemd en effens oorweldigend, maar dis die begin van ‘n nuwe avontuur en ons is gereed vir enigiets.

More probeer ons weer om oom Leonardo se kasteel te vind…

Tamaties en emosies in die Kroatiese Seisoen

 

Dit is vanaand ‘n soort van “sad” aand vir my, want dit is die einde van my 5 weke hier in Stari Grad, Hvar-eiland.

Ek kom al vir sewe jaar na hierdie eiland en as ek terugkyk na die jare maak die herinneringe bobbeltjies soos krale. Party is mooi glashelder; party cheap plastiek en nog ander is waardevolle edelgesteentes versamel deur die tyd. As ek al die weke bymekaar tel wat ek al hier spandeer het is dit altesaam 1 jaar en 2 weke. Nie lank in ‘n mens se leeftyd nie, maar soms kan ‘n dag mos ‘n leeftyd wees en ‘n leeftyd net een dag.

Die heel eerste keer het ek en my seun (toe net ses jaar oud) hier geland nadat ek die huisie wat ons sou huur op ‘n internet webwerf gesien het. Ek en hy het sak en pak geland vir die verblyf van 4 maande. Ons (of liewer ek) was glad nie voorbereid nie. Ek het so pas daardie jaar my geliefde nefie aan die dood afgestaan en so ook my pa, Koos Kapsnor wat my grootgemaak het vandat ek ses jaar oud was. Die idee was net om bietjie weg te kom, perspektief te kry en ook tyd met my seun te spandeer voordat hy groot skool toe gaan. As werkende ma het ek hom vandat hy ses maande oud was in die sorg van ons dierbare Hanna gelos, maar erens in my agterkop het ek aanhoudend gevoel ek faal as ma. In daardie vier maande het onstwee saam fiets gery (ek het meestal gestap) seekatte gaan vang in die baai, geswem in die Adriatiese kus en saam vir die eerste maal sneeu gesien in Plitvice Jezera – op Kersdag. My seun het vir die eerste maal in sy kort lewe die totale vryheid van ‘n misdaadlose omgewing ervaar en het die dorpie plat gery met sy fietsie, die bouers help bou aan die huis langsaan en leer brood bak saam met die bakker en sy seun. Hy het ook in daardie tyd geleer dat die wereld groter as die voorstad is waarin ons leef en dat alle mense nie met agterdog bejeen moet word as hul vriendelik is met jou nie. Dat die wereld eintlik vol gawe en omgee-mense is wat net tamaties eet as dit in seisoen is.

‘n Jaar later het ek per ongeluk betrokke geraak by ‘n HIV/Vigs projek wat die Kroatiese regering wou aanpak. ‘n Bekende fotograaf, operasangeres en “string quartet” het SA besoek en wou graag foto’s neem saam met weeskinders met HIV/Vigs. Ek het hul vergesel na Thembalitsha in die Kaap en kon sien hoe deins hulle terug vir die pragtige kindertjies. Wie kon hul egter kwalik neem – hul het uit ‘n land gekom waar minder as 0,001% van mense weet van die siekte en nog minder al ooit daardeur geraak is. Dit was my voorreg om die uitstalling in Zagreb by te woon en ook weer ‘n draai te maak op Hvar-eiland.

Die jaar daarna het ek weer vir twee weke kom vakansie hou en ook begin uitkyk vir ‘n huisie op die eiland. Iets wat ek my eie kon noem en wat my altyd sou rede gee om terug te kom hierheen. Vriende het gedink ek is mal om hier te kom koop, want kort ons huis dan nie al 5 jaar lank hekke nie? Is die koi-visdam dan nie al 6 jaar sonder visse en ‘n pomp nie? Het my huis nie 1970 ingeboude kaste wat ruik na muf in die winter nie? Ja dit alles was waar, maar my hart het gese ek moet Kroasie toe kom, hier ‘n anker kom gooi wat vir my en my nageslagte sal wees.

Die beste van alles is dat my man my 100% persent ondersteun het en gelukkig ook nie onthou het van die tekortkominge tuis nie. Ek moes ‘n maatskappy stig (kan nie as individu hier koop as jy SA’er is nie – elk geval nie 4 jaar gelede nie). ‘n Maatskappy moet ‘n prokureur en ‘n rekenmeester he en natuurlik ook die amptelike “stamp”. Kroate is oor ‘n “stamp” soos ‘n snotneusklonkie oor ‘n winkelvenster – hier baie meer werd as jou handtekening. Hierdie paar dinge het meer as twee jaar geneem om te organiseer en toe begin die “restourasieprojek” van die klein huisie in die middel van die eeue oue dorpie. Dit staan in die tweede-oudste straatjie van die dorp en dus moes alles perfek wees – meer vir ons as vir hulle. Die restourasie is natuurlik ‘n hele blog op sy eie.

Oor die afgelope 5 jaar het meer as 48 Suid-Afrikaners ons huisie besoek (meeste vriende) en saam met ons verlief geraak op Stari Grad en sy mooie straatjies, stadige leefwyse en seisoengroente en vrugte.

Wel vanjaar het ek weer, soos 7 jaar gelede, hier aangekom op my eie. Vriendinne het kom kuier en my seun (nou 14) en sy pellie het ook opgedaag. Maar… vir my was dit weereens ‘n tyd van alleenwees; inhoudsopgawe neem en wegkom van alewige skedules en planne en ook veral om vrede te maak dat my huis weer leeg is. Ja, my seun is koshuis toe die jaar en dit het ‘n groot gat in my hart gelos. Ek was kwaad vir hom en sy pa. Ek was kwaad vir God dat Hy toelaat dat hy nou so vroeg weer onder my vlerk moet uit. Ekself het sonder ‘n ma groot geword en dit het vir my gevoel asof ek nou dieselfde aan my kind doen. Veral ook toe hy so sukkel om aan te pas en ek drie maal per week Stellenbosch toe moes ry.

In kort, die huisie in Stari Grad is my wegkomkans as die lewe my met vraagtekens gooi, as ek wonder oor die rede van paaikwadraat (nee daai een ignoreer ek sommer) en of tamaties dan nou heeljaar groei?

Ek hoop elkeen van julle het ook so ‘n hoekie – dalk nie ‘n huisie op ‘n eiland, maar jou eie “eiland” waarheen jy kan wegglip as vrae te veel raak, hartseer jou oorval of jy sommer net wil “chill”.

Ek is vanaand “sad” om totsiens te se vir my huisie, maar ek weet dis nie vaarwel en daarom gaan ek my kop neerle op my lekker oorgroot kussing en vir oulaas droom van die turkoois see, die vismark met die haasbek omie wat altyd so vriendelik is en die skim wat een maal ‘n week vir my tamaties op my vensterbank neersit.

Madirazza wyn, Ston oesters en ‘n Klapa in Dubrovnik

(Om een of ander rede kry ek nou al vir dae nie foto’s opgelaai nie, so jammer julle.  Sal dit later byvoeg)

Van Korcula ry ons per ferry oor na Orebic, op die
skiereiland Peljesac, oppad na Dubrovnik. Die pad is egter nie reguit en vinnig
nie – o nee, oral langs die weg is afdraaie en paadjies vol nuwighede.

Om op Peljesac (skiereiland) te ry is om die aar van Kroatiese
vrugte en wynbedryf van naderby te beskou. 
Perskes hang swanger aan bome, klein stalletjies verkoop
waatlemoen,  appelkose en vye en jy weet
nie waar om te stop nie – soveel keuses, soveel ryp sonskynvrugte.

Dorpies het se name lyk en ruik ook na vrugte bv Smokvica
(klein vy) sit reg langs die pad en by sy ingang hou twee reuse vyebome jaloers
die wag.

Die paadjie kronkel nog so onverwags toe een van vele
wynlandgoedere opduik.  Eers verby  en dan vinnig in trurat, want ‘n groot bord
en mooi gebou adverteer Madirazza wyn –  hier moet ons definitief stop. Twee reuse
houtvate sit langs die gebou en die druiwe is mooi formeel opgelei  – amper soos in die Boland.  Die vriendelikste jong kind (meisie) kom haal
ons by die deur en vertel dat alles te proe is en nogal verniet ook.  Eerste kom die  Madirazza Posip Classica aan die beurt – dis
‘n baie bekende druifsoort in Kroasie en herinner baie aan sauvignon blanc –
kleur bietjie geler, maar dis tipies agv die baie son wat die druiwe kry. Dan
‘n proetjie aan die Dingac Barique – volrond op die tong en so werk ons deur
vreemde name en smake.  Verkyk ons aan
die verskillende grappas, likeure en koop ‘n bottel egte Kroatiese sjampanje
vir die eerste aand in Dubrovnik.  My
eerste in Kroasie in die sewe jaar wat ek hier besoek…  

Ons ry draai-draai deur wingerde en vrugtebome tot die
dorpie Ston  voor opduik.  Hier kronkel ‘n klipmuur vir 5,5km teen ‘n
koppie uit.   Dit word beskou as een van
die min “oorlewende” beskermingsmure in die wereld (net kort agter die Groot
muur van China).  Ons stop langs die
stadspoorte – ja letterlik ‘n poort waardeur jy moet stap.  Buite die poort le oestervelde  en hier naby  is ook die bekende soutpanne van die
Dalmatiese kus.    Binne wag  klipstraatjies en vele  verleidings van snuisterywinkeltjies, bakkerye
en ook ‘n winkel met mandjiewynbottels teen die dak. Oral word restaurante se  seekosware van die omgewing op foto’s uitgestal.   Hoog
op in die dorpie val ons plat by ‘n restaurant met ‘n baie vriendelike en
effektiewe kelner.  Hy hardloop heen en
weer met 8 borde gelyk, vertel dat sy tweede werk foto’s neem is (van
verwonderde toeriste soos ons) en laat ons “pose”.  Ek voel afgeskeep omdat hy net saam met die
twee mooi vriendinne staan, maar dan is dit my beurt en ek kry ‘n nat bebaarde
soen op die wange – jgggg!  Daar word
besluit op 12 oesters, vispatee met toast broodjies , dalmatiese verouderde ham
(przut) en seekat (die kleintjies met die pootjies nog aan).  Kos word nie bedien voor jy nie ‘n knertsie
grappa of soetwyn op die huis geniet het nie. 
Die soetwyn is so sterk, jy moet eintlik aan die tafel vashou vir
ordentlik hoes, maar ons is in eet “mode” ingedrink en as die oesters opdaag
val die twee SA vriendinne weg soos die verlore dogters (seun) van die
Bybel.  My “octopus” is bietjie taai en
droog, maar na al die soetwyn en wyn ontdek ek dit eers die volgende dag.

Die reis gaan aan en as ons die Makarska  (Kroasie se idée van ‘n Tuinroete) tref speel
die een mooi baaitjie na die ander soos rolprentflitse voor ons af.  Jy draai nie af nie, want net as jy dink die
mooiste een is verby kom nog ‘n mooier een aan.   Die pad kronkel al langs die see met die
berg aan jou regterkant en die turkooisblou water wat helder is tot op die
bodem  aan jou linkerkant.  Soos my vriendin opmerk:  “ek is nou al skoon verveeld met al die mooi
baaitjies”.

Dubrovnik  se ou stad
le soos ‘n  brosjure-foto onder ons
uitgestal as ons die laaste draai vat.  Dan
is dit parkering soek en die tog na verbly vanaf Pile-hek.  Die hele ou stad van Dubrovnik besit geen
hysers of roltrappe nie en om jou verblyf te bereik is dikwels ‘n oefening in
200 trappe of meer – steil trappe wat loodreg die lug opskiet en oor
restauranttafeltjies of internet cafe’s tuimel tot by jou voordeur wat erens in
die verskuilte donkertes van die heuwel wegkruip. 

Ek tref dit baie gelukkiger as my reisgenote (wat al twee
maande gelede bespreek het) en is redelik “op die grond” gestasioneer – so drie
deure van die Stradun (hoofstraat van die ou stad).  My badkamer is een vloer ondertoe en as ek
die venster oopmaak sal al wat toeris is my kaal kan sien en ek met die
fotograaf oorkant kan gesels – hou dit maar dig toe – die mense wil ook mos
graag hul vakansie geniet!

Die eerste aand na aankoms drink ons die Peljesac sjampanje
en drentel deur die strate van Dubrovnik. 
Al  langs die ou hawemuur langs,
deur die doolhof van klein straatjies  waar elke hoekie tot restaurant ingespan is en
tot by ‘n pizzeria wat nie prosek het nie – so ons stap aan.  Verder af hoor ons ons mansstemme, mandoliens
en kitare en loop al agter die klank aan tot ons op ‘n systraat afkom waar
tafels sywaarts ingewurm is tussen twee geboue. 
Hier sit 7 mans almal geklee in wit hemde, swart broeke en rooi bande
(cumberbands) met instrumente en sing hul harte uit.  Dis ‘n bekende Klapa (mannekoor) wat vanaand
by een van die lede se broer se restaurant kuier.  Die klanke van mansstemme en mandoliennote  wat ou volksliedjies sing, klink deur die
klein straatjies tot al wat leef en beef nader staan om saam te sing of net te
luister.  Ek bestel ‘n bier vir elke
sanger  by die kelner wat my eers verstom
aankyk, maar dan maar die “order” uitvoer. 
Blykbaar nie gebruik hier nie. 
Later staan ek en R op en gaan luister van naderby – hulle sing My
Bonnie lies over the Ocean  vir ons, maar
as ons aankondig dat ons eintlik van SA is word daar gevra vir ‘n Afrikaanse
liedjie.  Ek sing toe maar “As
Oktobermaand weer hier is” – ‘n liedjie wat my ma altyd vir my gesing het as
kind.  Daar klink die Afrikaanse note toe
op in ‘n ou stad, tussen die ou mure en nuwe dakke van ‘n stad wat 20 jaar
terug amper platgeskiet is deur die Serwiers. 
Ek konsentreer baie hard om nie vals te sing en kry ‘n mooi handeklap na
die tyd.

Die volgende dag stap die “girls” op die ou  stad se muur wat reg rondom gaan ( 2,3km) en
ek laat my hare “highlight” in Kroaties. Die haarkapper is meisie-alleen in die
salon en in een en ‘n half uur  sny sy
drie vroue-koppe, kleur twee  se hare en
sny ook ‘n klein seuntjie en ‘n ou oom se hare. 
Ek stap uit met ‘n kortkoppie, baie ligte strepe en verspreide buie van
geel tussenin, maar voel lekker oor die “treat”.  Selfs geel strepe lyk nie so “bad” in hierdie
mooie stad nie.

Vroegaand kies ons ‘n restaurant op die ou hawemuur vir ‘n
seekosfees.  Die kelner verlaat ons
sommer toe ek se sy ma is seker trots op hom – hy is after all so mooi en
glimlag te cute.  Was seker die verkeerde
woorde…  Die res van die aand sit ons
met ‘n suur een wat glad nie humor verstaan en nog minder basiese Engels.  Ons bure is ‘n “couple” wat duidelik nie
getroud is nie.  Hy met ‘n Amerikaanse
aksent en sy Balkan.  Hulle “cuddle &
smile”  en ek maak in my kop ‘n prentjie
van  nog twee ander mense wat tuis alleen
sit en wag vir hierdie twee…  Voor ons
skyn die ou stadsmure se ligte prentjies op die water en tussen al die ligpoele
wieg klein bootjies ritmies saam met die Jugo wind.    D 
eet seekosrisotto en ek en R ‘n seekosbord.  Hier is alles presies wat dit se – geen
ekstra groente of skyfies.  Later die
aand eet ek nog kaneel en klapperroomys om op te maak vir die min groente.

Laataand stap ons by ‘n ou 
poort uit, kyk op ‘n baie moderne 
restaurant af wat blou poele lig die hemel in sprei en D koop vir haar
‘n mooie nekstuk met perels. 

Dubrovnik los nog  ‘n
grepie in my geheue – na soveel maal se besoek, pas daar elke keer nog ‘n
stukkie in die legkaart en ek wonder hoe mense dit  regkry om net eenmaal  in hul lewe hier  te besoek?

 

Eiland sonder planne

So ‘n rukkie (heelwat van ‘n rukkie) gelede was een van
my blogs oor  gebrek aan planne so deur
my lewensjare heen.  Of so het ek
gedink…

Elke keer as ek hier op die eiland kom val dit my op hoe
alles presies dieselfde gebly het, nie nuwe winkeltjies nie, nie nuwe modes nie
(jong meisies dra nou al vir 7 jaar skinny jeans en kort toppies) en ook nie
eintlik nuwe hoogtepunte in nuus van die bure se kant nie.  Die ergste van alles (net vir my natuurlik)
is dat almal so gelukkig lyk met stand van sake.

Is elke keer so effens frustreerd as ek al my afgelope
jaar se doen en late vertel vir die buurvrou en al wat sy se is “nothing
happened here, everything the same”. 
Surely dit kan nie waar wees nie? 
Waarheen was hulle,  wat het met
die kinders (in haar geval net een dogter) gebeur intussen en wat beplan hulle
vir die 3 maande lange somervakansie?

Sy kyk my altyd so half vaag en onseker aan, asof ek van
iets praat wat sy glad nie verstaan nie en vertel dan  van haar groentetuin.  Het dit vir lank toegeskryf aan die feit dat
sy nie goed Engels kan verstaan of praat nie en ek glad nie Kroaties kan praat
nie.  So soort van afgemaak as  ‘n kommunikasiegaping.

Gisteraand  gesels
ek en ‘n vriendin wat hier woon (sy gee privaat Engelse lesse vir
skoolkinders)  oor haar lewe en
gewaarwordinge hier op die eiland.  Daar
gee sy toe die sleutel  nl. dat haar
moeilikste onderwerp om vir die kinders te gee wanneer “future tense” bespreek word:  “Tell me about your plans for next week,
future etc.” Hul  weet glad nie  wat om te vertel nie, want niemand maak hier
planne vooruit nie.  Nee, die lewe hier
is elke dag min of meer dieselfde, familielewe en vierings word altyd op
dieselfde tyd gedoen en val ook gewoonlik saam met die kerkkalender se
feesvieringe.  Een kind het gese sy planne is dat sy suster ‘n baba gaan kry…  Hier is ‘n veiligheidskombers
van “ek weet wat aangaan, wat om te verwag en daar is geen groot planne om uit
te dink nie”.

Meeste van die kinders, wat sy al mee gewerk het, was in
hul lewe nog net sover as Split (55km) en ken die res van Kroasie nie.  Hulle droom ook nie noodwendig oor
toekomstige reise, besoeke en aktiwiteite buite die binnekring van die dorp
nie. Vir hulle is die roetine van skool, klaar met skool, soek werk op die
eiland en trou hier die normale vooruitsigte vir die toekoms – alles soort van
klaar bedink, so wat is daar nou te beplan?

Eers skok dit my, toe “depress” dit my en toe dink ek
bietjie verder…

Ek is elke dag van my lewe aan die beplan vir iets wat in
die toekoms gaan gebeur.  Daar word tot 6
maande voor die tyd aan ‘n vakansie beplan, aan ‘n rok gedink vir ‘n troue en elke
dag is sowat ‘n maand voor die tyd reeds volgepak op die kalender.  (En dit vir iemand wat nogal gedink het ek
lewe vreeslik in die “oomblik”.)

Die oomblik as ek op ‘n doelwit land, waaraan deeglik
vooraf beplan is, begin soek ek vir die volgende doelwit. ‘n Gejaag na die
toekoms, na die volgende aktiwiteit of geleentheid.  As ek vir ‘n hele dag by die huis bly en
niks  “beplan” het vir die dag nie, voel
ek nutteloos.

Meeste vrouens wat ek ken se hele gesprekke bestaan uit
ritse lyste van aktiwiteite wat alles afgehandel is of wat nog gedoen moet
word.  Dis asof ons almal ons eie waarde
meet aan hoeveel planne ons het, hoeveel goed ek kan wys op my lysie en wie die
“besigste ma” prys kan wen.

 Soos ‘n alkoholis
probeer ek toe hierdie week wat verby is 
“detoxify” van planne, lysies en vooruitsigte.   Ek het streng gesproke absoluut boggerol te
doen, niemand om voor kos te maak, niemand wat kyk of die huis skoon is of geen
werk om slapelose nagte te gee nie.  Het
‘n hele 7 dae waarop ek niks hoef te doen, niks hoef te beplan of te besluit.

Dag 1: Stel nie my wekker vir opstaantyd nie en vlieg met
‘n vaart uit die bed as ek sien dis reeds tienuur. Storm badkamer toe, draai
die stort oop en onthou dan “ek is mos in ontplannings-rehab”.  Daar sit ek toe maar weer op die bed se rand
en dag le soos ‘n leegte voor my uit.

Teen die aand het ek 52 foto’s geneem van my omgewing,
alles afgelaai en of fb gesit en ‘n blog geskryf oor die lewe hier.  Dag een: X

Dag 2: “Verslaap” alweer, maar geniet dit nou meer –
klim  terug in die bed met ‘n lekker
boek, weier om te stort of hare te was die hele dag lank. Teen die namiddag
begin ek myself verwyt oor die mooi natuurskoon wat ek vandag gemis het omdat
ek nie gaan stap het nie, nie buite in die tuintjie gaan suurlemoene soek het
nie en sommer omdat ek so ellendig lui is. Dag 2
ü en toe later X

Dag 3 en 4:  Gaan
koop self ‘n nuwe digitale dekodeerder, installeer  sover moontlik, klim op die dak en skuif aan
die antenna en “if all else fails” gaan soek ek ‘n tv man wat kan regmaak wat
fout is.  Aan die einde van dag 4 is daar
‘n nuwe antenna op die dak, ‘n blog geskryf oor Slovenie en  foto’s  daarvan afgelaai op fb. Skryf  ook ‘n lang epos vir my seun en gaan help vir
Natascha hulle aartappels uithaal op hul lappie grond net buite die dorp  Dae 3 en 4: X en X

Dag 5: Ag, ek kan net sowel maar opgee, ek organiseer ‘n
motor vir huur oor twee weke, reel vir die elektrisien om die bedrading te kom nagaan
en beplan al vroegdag om met die bus Hvar Town toe te gaan – ek moet nog
swemskoene kry vir die De Waaltjies – al vertrek ek eers oor drie weke…  Dag 5 X

Dag 6 en 7:  Stel
maar weer die wekker, was elke dag drie wasgoedjies en soek naarstigtelik na ‘n
doel vir elke dag – iets wat ek kan beplan vir vorentoe! Skryf ook hierdie stuk
vir die blog. Groot X’e hier ook.

Teen die einde van die week voel ek nutteloos en lui – ek
het die week nerens heen gegaan, niks van groot waarde verrig se my gedagtes.
Volgens my was dit ‘n onbenullige week sonder doel of visie.  Volgens my was dit ‘n week sonder “planne”.

Ek sal nooit kan oorleef sonder planne – of miskien is
dit die probleem.  Dalk  is dit die 
alewige planne vir die toekoms wat die hier en nou van elke dag so  ongevier verby laat gaan. Die onvergenoegdheid
van nie genoeg doen, nie genoeg wees of nie genoeg bewys jaag ons almal in die
pad van ontrevedenheid met jouself af. Hierdie pad kan soms ‘n afgrond he of
doodloop en dan?

Onthou nou net van nogiets wat ek dringend moet reel voor
die 5de Julie!

 

Gaan direk na nutsbalk.