Skip to content

Monthly Archives: Junie 2011

The unbearable Lightness of travelling with girlfriends

 

Nouja van alle soorte reis, is die reis met vriendinne (susters
is vriendinne met ekstra special benefits)  die 
heel  lekkerste.

Dis nou nie dat ek nie ekstra lekker kuier saam my man en
seun op ‘n trippie nie, maar ‘n ma wat saam met haar gesin reis is nog steeds
‘n verantwoordelike ma wat sorg vir wasgoed, etenstyd en al die ander
versorgingstakies van ‘n huismoeder.

Ek het al so dikwels vriendinne sien terugkeer, na ‘n lang
Kersvakansie, met ‘n groot kyk van verligting op die gesig.  Om net weer by die huis te wees, met eie
wasmasjien, die huishulp, eie lekker Kirby stofsuier en  mees belangrikste van alles – die local
Woolies net om die draai, is heaven. 

Die laaste drie weke het SA vriendinne om die beurt vir my
kom kuier op die eiland. 

Eers was dit M met haar lemmetjiegroen reuse tas en nog sewe
klein sakke wat al die pad van Zadar met die bus gery het tot op Split.
Blykbaar was haar busgenoot ‘n tannie met ‘n welige snor en baie dik stem.  Van Split het sy die ferry na Stari Grad
geneem en soos dit enige goeie Suid-Afrikaner betaam haar tas en ander kleiner
bagasie drie stelle ferry-trappe opgesleep en weer afgebons.  Alles uit vrees dat iemand dit onder in die
ruim sal steel.  Tot groot vermaak van
ander ou gesoute ferry-ryers wat alles wat hul besit, net daar onder by die
ferry-deur los.  Wie gaan dit steel en
waar kan hulle nou heengaan met jou tas? 
Dis dan in die middel van die see, 
maar nee, ons SA’ers  klou verbete
aan ons goed, check elke vyf minute of alle slotte nog werk, want IEMAND gaan
my goed steel…

Ek en M het die eiland veken, elk nog twee pare skoene in
Hvar Town gekoop, pizza geeet langs die rye en rye vakansiebote en die tam
kelner op Afrikaans vertel hoe pateties sy rerig is. Paar dae later die pad
gevat Zagreb toe (per motor) en die vreugdes van die nuwe tolpad tussen Split
en Zagreb ervaar.  Daarmee saam ook die
plesiere van ‘n tolpad-restaurant/petrolstasie/piepieplek geniet. 

In Zagreb het ons ‘n hele dag lank van een winkeltjie na die
ander gedrentel en paar maal verdwaal. 
Alles is egter met groot geduld en gelag afgemaak.  Die museum van “Broken Relationships”  het ons baie vermaak verskaf – soos net ‘n
klomp vrouens kan floreer op stories en intrigues van die hart – veral as dit
skeefgeloop het.  Probeer dit nou met
Pappa aan jou sy… of nog beter probeer dit nou met Pappa, Boetie en Sussie
aan jou sy!

Paar dae later daag twee ander vriendinne op, op die
eiland.  Ek kry die bakker se seun om my
ferryhawe toe te neem. Ek ken vir Nicola al vandat hy 11 jaar oud is en as
klong van 18 jaar het hy al harde baard, maar hy loop nog net so graag saam met
my hand om die lyf in die dorp, want ek is sy Africa Mamma.  As hy my by die hawe aflaai, ry hy ‘n wye
draai om ‘n skadukol vir my te kry (te sweet) en as ek mooi dankie se is sy
woorde:  for you always.

Die twee girls kom met gelag en reuse tasse aangestap van
die ferry.  Ons is so bly om mekaar te
sien   almal praat gelyk.  Op die local bus na Stari Grad, maar nie
voordat ons eers ‘n spier of twee gerek het met die swaar tasse nie.

Die aankoms word gevier met ‘n glasie SA wyn wat al die pad
in die tasse saamgery is.  Ons huur weer
‘n motor en verken, Jelsa, Sucuraj, Pitve, Verbanj en Svete Nedelja met sy mooi
klein wingerdterrasse wat tot hoog bo tot teen die berg groei.  Daar is geen pad vir trekkers tot daar  die wingerd groei nie.  Om die waarheid te se daar is nie eens ‘n
voetpaadjie tot bo teen die berg nie. 
Hierdie druiwe word per hand gepluk, in mandjies tot 1 km ver afgedra en
dan onder verwerk tot die bekende Zlatan Otok wyn  met sy ryk geel kleur (tipies van Kroatiese
wyne) en grasgroen smakie.   Die girls
ontmoet ook vir Bosko van Antika, wat soos sy naam, ‘n bos lang hare en ‘n
baard het en tog te ingenome lyk met die nuwe talent.  Hulle word amptelik gegroet met die hand en
daar word ook formeel geposeer vir ‘n foto. 
Op ons tafel is ‘n klip gesit wat se “gerezervierd” en onder die klip is
‘n papiertjie waarop staan “ South Africa”.

Die tweede dag swem die twee meisies in die Adriatic en kom
met die breedste glimlagte huistoe – net betyds vir die soetste waatlemoen,
joghurt en druiwekorrels so groot soos tennisballe.

Die namiddag verken ons Hvar Town en is betyds vir die
groot  kerkoptog deur die dorp.  Blykbaar iets te doen met die Kroate se
“join” van die Tweede Oorlog, wat ook gerieflik saamval met Jesus Christus se
gees wat Sy liggaam  verlaat het en
opgestyg het Hemel toe.   Daar stap eers
‘n paar priesters met bruin gewade, dan ‘n groep met wit en blou gewade,
volgende kom ‘n groep mans en toe omtrent 40 klein dogtertjies aangetrek as
bruide, besig om roosblare te strooi sover hulle loop. Na hulle kom ‘n paar
seuntjies in liggroen togas wat druiwetakke swaai en dan eers die res van die
gemeente wat gewyde liedere sing.

Terwyl die optog so halfpad is hoor ons ‘n groot knal en
sien net donker rook borrel oor die hawe. 
Ek, wat al gewoond is aan die Kroate se obsessie met die see, dog  dis maar deel van die optog en dat dit seker
‘n ou boot is wat aan die brand gesteek is as simbool van “whatever”.  Maar nee, die volgende oomblik spander die
klein bruidjies en klein “priestertjies” hawe toe, die sirene loei en ‘n
brandweerbakkie en lorrie kom oor die eeueoue plein gejaag – so tussen die
priestertogas, wierook en roosblare deur. 
Intussen kom ‘n man verbygehardloop met velle wat weggebrand is van sy
bene en arms.   Dis fees, maar dis ook
drama en tragedie –  soos ‘n Shakespeare play – die verskil is net hierdie is “real” en ek staan met ‘n
sak  vrugte in die hand.

Dag later klim ek en die girls met motor en al op die
vroegoggend ferry na Korcula.  Die
geboorteplek van Marco Polo. Ek het al mooi geleer dat ‘n tipiese Kroat nooit
‘n ferry bestyg sonder padkos en ons is 
gewapen met kaas, pasteta, ham en vars broodrolletjies.  Ons hou piekniek op ‘n vuil tafel, le op die
dek vir son en sit ken op die bors en rondskommel saam met die see se
deinings. 

Korcula is ‘n “cliché” van skoonheid met sy fraaie stadspoort,
nou steil straatjies,  500+ jaar oue
geboue en most beautiful hawemuur waarop tientalle restauranttafels uitsprei
vir elke dag se gaste.  Sy grootste “claim
to fame” is dat Marco Polo hier gebore is. Laatmiddag sit ons meisies elk met
‘n lang glas Prosek  wat bedien word met
suurlemoen en ys.  Ons neem fotos van
bote wat inseil in die hawe, bome wat oorleun in die water en meer as een van
onsself – tot ons maer genoeg op lyk op elkeen.    Teen sononder (halftien) is dit spaghetti
carbonara met egte room, przut en sterk gegeurde kaas of gnocci, ham en gorgonzolasous.  Die kelner moet ons weereens afneem (neem al
langer om ons mooi te laat lyk) en laataand stap ons lag-lag deur die laning
bome, lanterns en tafeltjies na  nog ‘n
sorgelose dag van niksdoen, lig lewe en vergeet van die wereld daarbuite.

Dis Saterdagaand 25 Junie 2011 in Korcula. Die lewe is mooi
en sonder sorge van kinders se sokkies soek, Pa se leesbril vind.  Dis ook sonder misdaad, swaarkry of rooftogte
en buite my kamervenster trap die windjie ligvoets in die bome.

TV Repair: Island Style

‘n Kykie op eilandlewe: tv-antenna-man kom kyk na my tv wat nie wil werk nie.

Hy skud sy kop vervaard: ””No, no wrong antenna, wrong cable, wrong everything”.

Ek: “Oh, now what do you suggest?”

“Madam I don’t know, everything kaput. I cannot help you, I have NO time! Everybody wait till season time, why you did not call in winter? “

Ek verduidelik mooi op basiese Engels dat ek nie in die winter hier was nie en dat ek net nou hier is vir paar weke. Trek my skouers moedeloos op en beskuldig sommer my arme man vir die powere vorige antenna-joppie. Dit werk soos ‘n bom, want hy voel baie beter en skud sy kop met ‘n sjtk-sjtk.

TV man: Maybe I can help but I have lot of jobs, you have to wait long time”.

Ek weereens moedeloos en sit my mees verlore gesig op.

TV man: “I will see what I can do, but very busy, you have big problem. I cannot do this in so short time. I do not have big ladder and I do not have time!”

Ek probeer my geluk “push”: “Will you be able to fix everything before end of June?”

TV man:” Oh no, how do you want me to do such big job in such short time. (gooi sy hande in die lug en skud sy kop) Hmmm, I will see, maybe tomorrow I will come to fix, yes I think tomorrow is fine.”

Hoofstuk 2

Wel TV man daag nie op soos beloof die volgende dag. Ek sit heeldag gekluister aan stoel en wag, maar niks gebeur.

Gister, laatmiddag gaan koop ek vrugte by die vrugtemark en daar sit Mnr TV langbeen op die Ploce Cafe/Bar se stoep. Ek gooi hande in die lug ( mooi geleer om net so dramaties soos hy te wees ). “Where were you Niksa, I waited all day!”

TV man: ” Oh I have big problem with my children!”

Ek vra erg bekommerd uit, maar kom nie regtig by die oorsaak van die “problem” uit nie. Hy spring sommer dadelik op en se hy wil net gou iets gaan kyk by my tv. Wel hier sluit niemand hul deure nie, so ek stuur hom voort terwyl ek gaan waatlemoen, vars kersies en lekker ryp vye koop.

Hy wag my in by die huis en se die antenna wat ek het is “kaput and no good”. Maar het hy dit dan nie twee dae terug reeds gese nie? Ek bly maar geduldig – is “after all” die verlee een.

Nee, die nuwe reeling is dat hy more-oggend om 8uur by my sal wees met nuwe antenna, nuwe “cables – we need lots” en ‘n leer wat drie verdiepings hoog kan klim.

Wraggies om 8h45 daag TV man met leer, boor en ‘n reuse rol elektriese “cable” op. Ek skarrel nog in my pajamas rond, maar gou help ek plan maak in die straat – selfs die leer op in my Woolies nighties – alles in die naam van tv vrede.

Volgende verdoemende uitslag: ” Roof is finished, no place for antenna”. Hy skud sy kop, vee die sweet af en gee lang aan suig aan sy sigaret op my kombuisdeurtrappie. Ek is nou werklik bekommerd. Bedoel die man my dak is aan die inmekaarval of wat? Probeer vasstel waar die dak-probleem is, maar hy ignoreer die vraag ook en gaan loop eers ‘n draai by die bure se tuin. Ek sit en wag maar geduldig dat hy moet terugkom en gooi solank vir hom yskaswater in ‘n glas. As hy terug is vra ek weer wat fout is met my antenna, maar hy hou net by die verdoemende antwoord “roof is finished – kaput”.

My voorstel is dat ons die antenna op die buurman se kantmuur wat nog hoer as my dak is vassit (wat gelukkig in Sarajevo is). Hy stem skielik hiermee saam, maar se die “cable will be hanging down street and into your kitchen”. Nee, nee, nee ek wil nie ‘n “cable” hê wat van die straat af gesien kan word nie. Die strate is oor die 500 jaar oud en ‘n mens ontsier hulle nie nie met elektriese drade en antennas nie! (my antwoord).

TV man sit sommer sy goed neer en kyk my halfskeel aan. Ek skrik so groot, want kan sien hy is besig “to down tools” en my tv is nog steeds net sneeuvlokkies in die somer!

Ek doen sommer ‘n 180 degree en se: “Niksa, you are expert, you do what is best for tv and I have full confidence in you”. Hy het helfte nie verstaan nie, maar beaam die “expert” gedeelte met ‘n verduideliking dat hy al 25 jaar lank tv’s fix.

Op hierdie hoogtepunt besluit ek om te gaan stort en se so vir hom, maar hy is nie so seker daarvan nie, want hy se hy het my “opinion” nodig (dit nou vir ‘n man wat nog alles wat ek gesê het afgeskiet het met minagting). Ek belowe om gou te maak en as ek weer onder in die kombuis kom is die elektriese koord deur ‘n ou skoorsteen aan die kant van die huisie getrek en die tv blêr dat bure verskrik na buite loer. Alles werk en tv man illustreer sy handewerk vir 25 minute lank in detail. Die beste van alles is dat geen antenna of “cables” te sien is van die straat se kant af nie.

Die koste van die hele verhaal: 600 kuna (X 1,3 in rand).

Laatmiddag gaan koop ek wyn by my bure Louis en Natascha en sy vra dadelik hoeveel Niksa gevra het vir sy joppie. Ek sê die prys en sy verstik amper in haar glasie bier. Blykbaar is die gewone prys vir hierdie tipe werkie 350 kuna….

Wel, die positiewe einde van die verhaal is dat ek vanaand 11 kanale het om van te kies – almal Kroaties.

Svete Stephan, silver kandelare en ‘n kopbeen

 

Die onverwagse vreugdes van ‘n nie-Katoliek in Kroasie

 As jy soos ek, tussen die skoon, onversierde mure van die NG Kerk gedoop, voorgestel en getrou is, is die ontdekking van Rooms-Katolieke kerke in Europa vir ‘n mens ‘n eye-opener.  

Nou hier is dit tyd om te bieg: Ek vind al die “bling” en en prentjies  van die Roomse Kerkeoorweldigend mooi. Dis amper soos die Kinderbybel wat “real” geword het en vir ‘n visuele siel soos ek is dit asof jy my in die Bybel se bladsye vat op ‘n wandeling. 

Ek dwaal van kerk tot kerk om foto’s te neem van baba Jesus, Moeder Maria, die lampe, die granietaltare en skilderye van die dissipels (hier natuurlik Saints). Elke keer sien ek net nog ‘n mooier beeld, net nog ‘n mooier kerkorrel .

Nou nog ‘n groot seen is dat my huisie op Hvareiland toe reg langs die kerk is – letterlik net twee deure en ‘n klein pleintjie wat ons skei.  Dit is nie “grandste” of oordoenste kerk wat ek al aanskou het nie, maar vir my is dit pragtig en eg. Svete Stephan (St Stephankerk) se groot kerktoring staan los van die kerk en beier elke kwartier, halfuur, driekwartier en uur uit met luide klokgesang. Moenie dat dit Sondag raak of een of ander Saint se verjaardag nie (omtrent elke maand een wat verjaar – so mooi gespasieer deur die jaar). Dan raak die klokke, van soggens sesuur af , heeltemal oorhoops . Dis nog ‘n klok wat met die hand gelui word en die arme klokman se arms moet van staal wees, want dit beier in ritmes, melodies en met intervalle van 15 / 30 en 60 minute om die blye tyding aan te kondig.

Die kerk binne is vir gewyd en mooi, so soort van ‘n art deco “look” met die gallery en die orrel wat lyk soos ‘n mooi versierde troukoek.  Die mure is sagte ligblou en roomkleur en daar is nie onnodige tierlantyntjies oral geverf of geteel nie. Die kerkbanke se vernis is al afgebid en soos in enige plek op aarde het ‘n tiener of wat ook al uit vervelig hul name in die hout gekerf. Die altar heel voor in die kerk het altyd blomme op die tafel en twee groot wit kerse.   Heel agter teen die muur is ‘n skildery van Moeder Maria, Liewe Jesus as baba en twee ouerige manne – seker maar die Wyse manne. Die prent is omraam met goud (gold leaf) en oral rondom is swaar silwer kandelare.

 

Langs die kante van die kerk is nog rye en rye prente. Een het ‘n priester op met ‘n bossie blomme wat buk by ‘n kopbeen. Die een verstaan ek nie heeltemal nie, maar maak ook nie saak nie – dis nogtans mooi .

Die ander versierings is net so aanskoulik – een het so ‘n goue lourierkrans met weereens die Moeder Maria beeld en Jesus en rondom is kindgesiggies. Dit is op ‘n lang stok en by Paastyd is dit een van die hoofartikels wat in die optog deur die dorp rondgedra word.

Weerskante van die banke, in die suile, staan ook biegkamers – sulke minatuur houthokkies met gordyne voor. Wou al ‘n keer of wat soontoe mik, maar daar is twee probleme:

  1. Die hokkie is baie klein en ek is bang ek sit vas
  2. Ek het nie so baie tyd op hande om al die jare se sondes te bieg wat ek agter is nie.

 

Moenie dat die mannekoor oefen nie, ek stap summier die kerk in en sit tot hul klaar is – seker tot groot irritasie van die koorpriester, want ek en die koorseuns trek vir mekaar gesigte agter sy rug en dan giggle ons partykeer onnodig uit ons plek uit.

Elke week, as ek hier is, steek ek twee kerse aan in die kerkie op die plein. Een vir familie en een vir vriende. Dit kos 3 kuna per kersie, so om hier te bid is nie gratis en verniet nie. Ek voel egter meer gerus, want as mens vir ‘n diens betaal weet jy die kanse dat iets gaan werk is goed.

Die kerk is my veilige vesting, my dinkplek en my mooi plek hier in Stari Grad. Hier droom ek snags weer, soos toe ek ‘n kind was, van Bybelverhale. Ek weet  ook nou dat vir party Protestante ‘n prentjie of wat glad nie skade gedoen sal doen in die NG Kerk nie.

My hart “is Bledding” vir Slovenie

 

Met Lize Swardt en Isabel Verwey se stappie deur die strate van Ljubljana, so ‘n rukkie gelede op Kwêla, het ek besluit dat Slovenië ‘n definitiewe moet op my reislysie sal wees. Dit lê lekker knus skuins tussen Kroasië en Hongarye en ek het ‘n niksdoen week om dit te besoek voor my SA gaste kom kuier in Kroasië.

Op die kaart lê Budapest en Slovenië baie naby mekaar, maar om een of ander rede het die treinspoorbouers dit goed gevind om heelwat kronkels en opskure oorklimstasies as obstacles daar te sit.  As jy met ‘n motor sou ry van Budapest na Ljubljana is dit slegs 377 km, maar die treine van burokrasie neem my via Wene (noord), Maribor (suid) en dan Ljubljana (wes) – ‘n volle 9 uur en 12 minute. By elke oorklimstasie maak ek die volgende trein met sekondes. By Maribor sien ek my volgende trein twee peronne en ‘n duikweg ver en waai vervaard vir die kondukteur om te wys ek is oppad. Een van die stasievëers sien hier kom ‘n fout en gryp my tas terwyl ons altwee soos in ‘n fliek na die stadig-bewegende trein hardloop. Ek spring op en vëer gooi tas agterna; kondukteur wys vir my vinger en tik op sy horlosie terwyl die metaalwiele al vinniger onder die perron uitgly.

Ek het geen hotelbesprekings gemaak nie en vertrou (alweer) op ‘n taxidrywer om my na ‘n dak oor my kop te neem. ?rens het ek gelees van die een jeughostel wat voorheen ‘n tronk was en vra dat hy my soontoe moet neem, maar nee, hy blaas sy wange koelrond op en herhaal talle male “phoei-phoei” . Neem my eintlik op ‘n toer daar verby om te wys dat die plek van buite baie vuil lyk en demonstreer ook sommer duidelik hoe ‘n spuitnaald in jou arm gekap kan word. Onstwee besluit saam dis dalk nie die regte plek vir my nie en taximan neem my na Hotel Park (elke groot dorp in Kroasie en Slovenie het ‘n hotel Park, g’n mens weet waarom). Dit is heel repektabel en die prys sorg ook dat ek nie honger aan die lakens hoef te knaag vir die volgende paar dae nie.

Miskien is dit omdat die hele land Slovenië net 2 miljoen mense het dat ‘n dorp soos Ljubljana net 20 000 mense hoef te hê om stad-tig verklaar te word. My visioene van lang kronkelstrate en ingewikkelde woonbuurte word die eerste aand die nek ingeslaan, want al wat jy hoef te doen is om al langs die Lubljanica-rivier te loop (wat meer soos ‘n diep kanaal lyk) en jy sal verseker uitkom by die restaurante, kuierplekke, historiese geboue en die oudste gedeelte van die dorp.

Dis skemeraand as ek my eerste tree waag oppad na rivier, die hartsnaar, van Ljubljana. Deur ‘n skewe straatjie stap ek aan soos beduie. Skielik voel ek onveilig en ontbloot, so asof ek nie hier hoort nie en my “gut feeling” is ook heeltemal reg, want binne die volgende twee blokke word daar twee maal opmerkings na my geskreeu, piepie ‘n dronk man amper op my voet en ry ‘n baldadige takhaar met sy fiets liggies in my vas. Die geboue in hierdie agterbuurt is meestal vol graffitti gespuit en alles ruik na ou kos en galsterige olie. Ek is egter honger en voel ek moet die eerste aand die towerkern van die stadjie vind anders gaan dit die res van my verblyf hier verdof.

Oppad na die oudste gedeelte van die dorp is die straatjies vol restauranttafeltjies, kelners met swart voorskote en hier en daar nog ‘n oop winkeldeur. Ek sit vir ‘n rukkie by ‘n straatkafee met rooi geruite tafeldoeke om eers my “bearings” te kry en so deur ‘n slukkie of twee wyn vind ek die landmerke een vir een op my hotelkaart. Om my voete snuffel ‘n maer, pikswart hond en as die straatvioolspeler ‘n hoë noot vat tjank hy lustig saam. Albei klink ewe vals en ek besluit om aan te skuif na vroliker geselskap. Groot is my vreugde as ek later ‘n klein restaurantjie vind met groot ysterpotte vol aartappel-goulash en hoenderbredie. ‘n Wynglas is hier ook 150ml groot (weet nie wie die idee in die Hongare en Slovene se koppe geprent het nie) en as ek my tweede glas vra kyk die restauranteur my bekommerd aan. Min weet hy ek is ‘n meisie wat self my eie blikbekertjie Vaaljapie elke aand saam met die werkers op die plaas gedrink het. Jy kan maar se ek is ‘n produk van die dopstelsel, maar ek is nie lus om die inligting met hom te deel nie, en skuif maar later na die waterfront (langs die rivier) vir ‘n derde glasie 150ml.

 

 

Hier, langs die walle van die Ljubljanicarivier kook dit behoorlik. Die cafe/bars, restaurante en roomysstalletjies sit ingeryg soos blink krale en oral staan duisende tafeltjies met jongmense wat kuier, gesels en vir ure lank aan een “drink” drink. Plek-plek sit daar my ouderdom mense ook, maar almal is in pare of groepe en vir die tweede maal die aand voel ek uit my plek. ‘n Baie eienaardige gewaarwording, want ek reis al vir soveel jaar en is dikwels op my eie, maar iets aan die mooi tonele langs die rivier laat my verlang na geliefdes en wonder oor die wysheid van wegstap uit dit wat vir mens bekend is. Om jou jouself alleen, in vreemde plekke en situasies te verplaas en te midde van duisende mense eensaam te voel.

Gelukkig sit Dave, ‘n voornemende bruidegom van Londen, in die middel van die voetpaadjie in ‘n ballerinarokkie, wit visnetkouse met swart beenhare wat deurbars, ‘n kroon op die kop en engelvlerkies gereed om al wat verbyganger is te vermaak. Hy knoop met almal geselsies aan en vra dadelik sy vriend om ons af te neem.   Hy trek nog ‘n stoel nader en ek en hy ruil wyshede oor die huwelik uit terwyl sy jong vriende ons van drinkgoed voorsien. Daar sit ek toe, middeljarige vrou van die suburbs, tussen 22 bachelor-partygangers en wys hulle dat dit moontlik is om nog steeds na 20 jaar ‘n wonderlike, individuele lewe te hê as ou getroude vrou.

Die volgende dag reën dit Kaapse sous en behalwe vir ‘n vinnige loer in die kasteel op die koppie van die dorp hou ek my skaars; lees Elizabeth Gilbert se boek “Committed” deur en kuier laataand saam met twee Russiese couples by die hotel se restaurant. Ons gesels oor die universele onderwerpe soos politiek, geld, Russiese Mafia en Kaapse wyne.

Een oggend vroeg bevind ek my op ‘n bus na die dorpie Bled, omring deur die Julian Alpe en versier met die mooiste Bled-meer en sy sprokiesmooi eiland wat ewe gerieflik ‘n kerk op het. So asof iemand besluit het om hierdie dorpie onvergeetlik te maak vir almal wat dit sou besoek. Maar eers deur die landskap van Slovenië met die bus – verby goedversorgde plase waar elke greintjie grond bewerk is, houtstellasies waarop gras gedroog word en grasgroen bome waarvan die blare wissel tussen lemmetjiegroen en diep olyfgroen. Alles lyk so vars en goed versorg – asof dit net vir jou die reisiger vanoggend nog afgespuit en blink gevryf is.

Dorpies flits soos visioene verby die busvenster en na ‘n uur en 10 minute klim mens af by Bled se busstasie. Die toerismevrou beduie die meer is net doer onder, met die arm, en ek stap maar so in die algemene rigting van die aanwysiging. Dis markdag op die gras langs die meer en hoewel daar nie ontelbare stalletjies is nie, is die wat wel daar is vol van outentieke Sloveniese skatte. Een stalletjie bied tradisionele heuningkoeke, wat in hartvorms gebak is en geskrifte op het, aan en ek kan gelukkig ‘n foto neem voor die dikarmtannie my verwilder. By ‘n ander stalletjie verkoop die man replikas van byekorwe se deure wat van die vroegste tye af beskilder is met prente wat elk ‘n storie vertel. Die een houtskilderytjie beeld ‘n toneel uit van ‘n ou vrou wat in ‘n masjien gegooi word en as jy die slinger draai dan kom ‘n jong vrou aan die ander kant uit. Ek koop dit dadelik – die hoop beskaam nooit. My volgende kopie is twee klein glas kershouers met tipiese Sloveniese simbole daarop geglasuur. Dis blou en lig en kan in ‘n klein gaatjie in die tas pas.

Die meer sprei voor my uit soos ‘n helderblou satynkombers en aan die rante fraiing vyf of ses groot roei-houtbote elke 500m of so uitmekaar. Die naastes aan my dobber met hul slapende roeiers rustig op die water – reuse spane alkant gereed. Die werk van ‘n bootsman in Bled is rustig en sonder haas. Ek stap ‘n end om die meer net om skielik oorval te word deur die asemrowende gesig van die Bled-kasteel wat hoog bo die meer verbete vasklou aan soliede granietrotse. Die kasteel en die rotse smelt saam tot ‘n sprokieskasteel-silhoeet wat prentjies van Raponsie optower. In my geestesoog sien ek haar sit met lang vlegsel en tuur na die horison, op soek na ‘n onbetroubare prins wat net nie wil opdaag.

  

Onder deur lowergroen Lindenbome word ek begelei deur ‘n hoogmoedige kromnekswaan en haar twee donskuikens. Later hoor ek perdepote en as ek omkyk kom ‘n ou perdekar aangery met ‘n rooikopbruid in egte rou-sy en haar blinkgeskeerde bruidegom. In die wind vang ek die ligte geur van Chanel no.5. Dit alles op ‘n Donderdagoggend vroeg in Junie 2011.

Teen hierdie tyd het die een houtboot al ‘n paar kliente en ek word galant opgehelp deur die baas met sy tipiese Sloveense strooihoed, halfdood sigaret en ‘n magie wat spreek van baie nuttelose ure in die son. Ons word op ‘n rit op die meer geneem wat ‘n draai op die eiland insluit – so ‘n uur en half van ritmiese watergly. Die bootsman vertel dat geen plastiekbote of enjins op die meer toegelaat word nie en dat die meer in die winter ‘n reusagtige ysskaatsbaan word.   In die winter is die dorpie Bled die middelpunt van die Sloveense ski-oorde wat in die Alpe rondom die dorp versteek lê. Van hier ry die skibus na al die verskillende oorde en saans kan jy die bedrywige naglewe van ‘n skidorpie geniet – enige iets van restaurante, nagklubs en nog meer. Enige wintersportman se droom. Beste van alles is dat die pryse ongeveer 25 tot 30% goedkoper is as in Italië of Europa.

Maar terug by ‘n meer met ‘n eiland en ‘n kerk op die eiland – in die middel van Juniemaand. As ons vasmeer by die klein kaai lei presies 100 trappies jou boontoe. Ek rus maar so elke twintig trappies om die “view te admire”. Van bo sien jy ook die anderkant van die meer en vallei. By die kerk se geskenkwinkeltjie koop ek natuurlik nog ‘n kruis vir die tuisversameling – hierdie keer ‘n blou glas een. Daar is ook ‘n pragtige uitstalling van Jesus se Lydenstyd. Elke toneel vasgevang in klei en uitgestal op die diepste, ryk pers fluweel. Die kerk vra 3 Euro vir toegang en ek loer net deur die venster. Agterna is ‘n mens natuurlik spyt oor jou geldvashou, maar elkeen van ons glo mos jy gaan eendag weer ‘n plek besoek.

 

 

Met die laatmiddagstrale roei die bootsman ons terug terwyl hy saggies neurie aan ‘n ou Sloveense volksliedjie. Agter ons krimp die eiland al kleiner.

‘n Soektog na ‘n kitsbank neem my gelukkig na die ander mooi en lekker dele van Bled. Verby ‘n snuisterywinkel met die mooiste outydse porseleinbakkies, ‘n skoenwinkel wat ek aspris ignoreer en dan net langs die Casino na die Hotel Park (nog een), die beroemde geboorteplek van die “Creme Cake” – ‘n groot vierkantige skyf met ‘n vulsel wat na melktert smaak en ‘n die ligste, krakerigste blaardeegbolaag. Met ‘n koppie regte Engelse tee en veelbesange koek sit ek vasgevang op die stoep van ‘n restaurantjie wat uitkyk op die meer, die eiland met sy kerk en die kasteel hoog bo regs teen die rotse. Die son se strale trek strepe oor die water en drie roeiers glip tussen die waterbeelde deur vir ‘n laaste oefensessie voor die roeikampioenskappe wat die volgende dag begin.

 

 

Paprika, 5 brue, ‘n groot parlement en soveel meer – dis Budapest

 

Uitsig op die Danuberivier en die stad Budapest

 

Op die middagtrein na Budapest ontmoet ek ‘n Hongaarse vrou wat eens ‘n narkotiseur was, nou in Baltimore VSA bly saam met haar wêreldbekende doktersman (nuclear medicine) en huise besit in Budapest, Berlyn en ook op die Kroatiese eiland, Rovinj.

Sy is oppad na twee stasies voor Budapest Keleti (hoofstasie) om haar suster daar te ontmoet en op ‘n dag-en-nag- staptog te gaan in Romenië – soort van pelgrimstog waar Hongare wat daar bly, jaarliks ‘n baie Katolieke fees vier – hierdie tyd van die jaar.

My punt is… daar is niks soos treinreis in Europa nie. Met ‘n onbeheerbare lus om met vreemdes te gesels is hierdie net die vervoer vir my! Mense sit gemaklik en het lekker baie padkos. In minder as tien woorde: Hulle is relaxed. Gesels dus makliker met mekaar en ek is elke keer die ontvanger van soveel inligting, informele toer tips en nou en dan selfs van die padkos ook.

Ek en Katelijne gesels vir 6 ure aaneen en deur haar oë en kennis reis ek deur die landskap van Hongarye. As ons vir ‘n redelike tyd langs die Balatonmeer ry, vertel sy my van haar wonderlike kinderdae hier teen die meer menige somervakansie. Dis ongeveer 77km lank is en op sy breedste 17 km wyd. Hongarye is oral omring met ander lande en hierdie meer is dus hul “see”. Dit is definitief die “party hub” in die somer, maar selfs in die winter word hier ysvissery beoefen, geslee – hier is heel jaar mense en aktiwiteit. Die noordelike gedeelte grens aan berge en hier vind jy die bekende wynstreke van die land. Hongarye het van die beste wyne ter wereld en is met reg trots op hul Tokay-wyn. Die suidelike deel is waar rykes hul vakansiehuise bou en meeste restaurante, klubs en lewe aangaan in die seisoentyd.

In Budapest aangekom val ek vir die eeue oue trick van ‘n taxidrywer wat ‘n vreemdeling benoud sien rondkyk as sy van die trein afklim. “Madam it is 10 Euro to your hotel.” Wel dis halftien in die aand en ek klim dikbek maar verleë. By die hotel hoor ek die trippie kos eintlik net 4 Euro. Hoop sy hele familie vergaan van ellende, dat sy vrou hom los vir ‘n eerliker man en dat sy balls opkrimp so groot soos rosyntjies. In kort – ek is sommer die bliksem in.

Een van die eerste dinge wat ek in enige vreemde stad doen is om die naaste hop on- hop off bushalte te soek. Ry dan eerste die hele roete lekker rustig, om myself te oriënteer en besluit dan waar ek by die volgende rondte oral wil afklim. Gelukkig het Budapest ‘n spesiale aanbod en jy kan vir twee dae ry en nog ‘n bootrit ook kry vir een prys. So daar gaat ek. Kaart onderstebo in die hand, wil darem nou nie lyk of ek nie weet waarheen ek gaan nie. Dis ‘n koue reënerige dag en ek sirkel toe sommer twee maal met die bus.

Dinge wat mens uit ‘n bus kan waarneem:

  • ‘n bedelaar (vrou met ‘n kopdoek) wat op haar kniee gehurk sit by die verkeerslig. Sy lê op haar arms met ‘n kierie by haar voete en kyk so nou en dan op om te sien of daar enige reaksie is. Ek is verstom om te sien haar gesig is jonk en mooi en wonder wat haar tot hierdie lig gedwing het.

Jong vrou wat bedel by ‘n verkeerslig

  • By die Citadel se heuweltjie sien ek ‘n vrou met handskoenpoppe wat vernuftig stories vertel met, ja reg geraai, ‘n handvol vingerpoppe alles op een handskoen.

 

Vingerpoppe om ‘n hele hand mee besig te hou.                         

  • By dieselfde heuwel sien ek ook die mooiste serpe met paisley patrone – en maak ‘n nota vir myself om hierdie serpe elders ook op te spoor en sommer 6 te koop.
  • ‘n Trem wat al met die Danube langs ry en gereeld stop om mense op of af te laai. Dis so ouwêrelds – so uit ‘n vorige leeftyd, maar hier in Budapest is dit real, nou en vandag.
  • Vyf Amerikaners wat eintlik hul neef se troue in Bratislava kom bywoon, maar nou sommer die beste maak van die omliggende areas. Hulle is loud, vriendelik en baie kon net sowel uit Gauteng gewees het.

Budapest bestaan uit twee gedeeltes nl Buda en Pest wat alkant van die Danuberivier le. Buda is die ouer gedeelte, baie meer heuwelagtig en deesdae meer woongebied, terwyl Pest (platter aarde) die administratiewe en ekonomiese gedeelte van die stad is – dus meer modern. Die oorfoontjies op die bus vertel ook dat Buda vernoem is na Atilla the Hun se broer, Buda. Nog ‘n interessante feit is dat die taal Hongaars van Asie af oorspronklik kom en baie meer in gemeen het met Sweeds en Fins. Dit val moeilik op my oor en ek sukkel om woorde te erken wat soms internasionaal verbind is met ‘n taal.

Budapest is verbind met vyf brúe wat almal platgeskiet is in die Tweede Wêreldoorlog, maar almal herbou is. My persoonlike fav is die Chain Bridge – seker maar almal se favorite.

Op hierdie trip besluit ek om niks te doen waarvoor ek nie lus is nie en skrap dus al die museums van my lysie, besluit om net een kerk te besoek en belangrikste van alles om meeste van die Hongaarse cuisine te geniet.

Straatjie aan die Buda-kant van die stad – naby die Paleis

 

My eerste afklimpunt is die area in Buda waar die Matthiaskerk (enigste kerk getick vir die besoek) en die paleis geleë is. Deur die ligte reen en met ‘n cheap sambreel wat wil-wil verkeerdom dop stap ek na die kerk op die heuwel. Die mure is pragtig beskilder met patrone. Teen een muur staan ‘n pragtige hout antieke kerkbank en langsaan hou ‘n priester met Jesus as baba die wag. Die mooiste vensters laat reënboogstrale val op die marmerteels en in die kerkwinkeltjie koop ek ‘n kruis en ‘n ikoon om by my tuisversameling te voeg.

 

Matthiaskerk

Kerkbank en handgeskilderde mure van die Matthiaskerk

As jy links draai buite stap jy na die Vissermansbastion wat met die mooiste uitsig, omraam deur oneindige boograme die rivier en die Pest gedeelte van die stad verewig. Dit is so genoem omdat die vissermanne van die stad verantwoordelik was om hierdie deel van die stad beskerm in vervloë dae. Gelukkig is hier ‘n koffiewinkel en met ‘n cuppacino en sjokolade-torte sit ek vir ‘n lang tyd vasgevang in die skoonheid van ‘n chocolate box prentjie wat in werklikheid soveel mooier is as wat enige foto kan weergee. Terwyl die bote onder op die rivier heen en weer gly geniet ek elke happie van die dure stuk koek, maar gee glad nie om. Hier sit mens dalk net een maal in jou lewe. In die binneplaas aan die kerk se kant kan jy foto laat neem met ‘n kamma-soldaat en ‘n baie groot arend op jou skouer of jou gesig laat skilder deur ‘n omie met krom rumatiekvingers.

Koffiewinkel in die mure van die Vissermansbastion

Ek skip maar albei en stap aan na die paleis se kant. Die reen sak uit in slierte teen die tyd, maar ek en die sambreel byt vas. Naby die ingang is talle stalletjies en een verkoop  sulke ronde hol brode in verskillende geure – ou tradisionele “Transyslvanian cake” en ek dink sommer aan die Rocky Horror Picture Show net daar. As ek nie so propvol gestop was nie sou ek definitief die kaneel een probeer het.

 Aan die regterkant is ook die ou grondvloere en oorblyfsels van die oorspronklike paleis en ek neem maar vinnig ‘n foto – nie dat ek nou eintlik ‘n klipsoort mens is nie, maar dalk kry ek later spyt. Die paleis is deesdae die nasionale kunsgalery en van die bekendste Hongaarse skilders se werke word hier uitgestal. Party is donker, party is absurd en party is komieklik – so ‘n mengsel van die psige van die gemiddelde kreatiewe Hongaar.

Hek na die Paleis wat deesdae as Nasionale Gallery Hongaarse kuns uitstal

Laatmiddag dwaal ek deur die winkeltjies in . Velca Utca, straat. Dit is die hoof inkopiestraat aan Pest se kant en hier eet ek ook my eerste goulash. Die paprika ontplof op jou tong en die stukkies vleis smelt saam met die sousgedoopte brood weg. Alles word afgesluk met Tokay-wyn, maar met hul karige 150 ml vir ‘n glas, slaan ek gou oor na bier. Twee kitaarspelers kom tokkel langs my tafel en as ek voorgee ek is doof stap hul maar aan na die volgende slagoffers.

Goulash, bier en leesstof vir ‘n reisiger

Die marksaal of “Market Hall” in Budapest is een van my persoonlike hoogtepunte. Onder is die varsproduktemark vol van die mooiste rooiwangkersies, reuse tamaties en langvinger aspersies In die middel vind jy rye hongaarse worse en vars vleis terwyl die kruiestalletjies tussen alles deur gespat is. Paprika kom in blikkies, potjies, gedroog en voorberei in alle vorme voor. Ek koop ‘n sak vol, want nêrens in die wereld kry jy sulke lekker paprika soos in hierdie land nie. Bo in ystergange is eg-Hongaarse snuisterye te koop en wegneemetes Hungarian style! Die hele gebou is kollosaal groot en jy kan maklik ure hier rondboemel. Geborduurde lappies en tafeldoeke; babuskapoppies, viltsakkies, pelshoeke en nertse asook rye en rye leerhandsakke. Snaaks genoeg is meeste van hierdie leerhandsakke identies aan die wat ek in Buenos Aires gesien het. Die besoek word afgesluit met ‘n aartappel en Hongaarse wors gereg en lekker ligte bier. Die wors is heerlik gekrui, gerook en het natuurlik ook paprika in en ‘n grote bak van alles kos skaars R10.

  

Marksaal se snuisterye:  Babuska-poppies en vilt juweliershouers

 

Teen sononder klim ek op die boot vir ‘n vaart op die Danuberivier. Die son kleur die wolke ligpienk teen die horison en een vir een word die ligte van die bekendste, historiese geboue aangeskakel tot elkeen helder uitstaan teen ‘n donker naghemel. Die mooiste van al die geboue is die parlement wat statig waghou op ‘n draai van die Danube. Dit is ‘n asemwegslaan gebou met torinkies, vensters en vir my een van die mooiste aansigte nog gesien. Ek lees later dit is die derde grootste parlement in die wêreld en die grootste gebou in Hongarye self. Dit het ongeveer ‘n duisend mense gekos om dit te bou met 40 miljoen stene, ‘n halfmiljoen edelgesteentes en meer as 40 kg goud. Dit is in die Gotiese Herlewingstyl gebou en het ‘n simmetriese fasade en ‘n sentrale koepel bo. Tydens die Kommunitiese regeringstyd was daar ‘n rooi ster op die koepel, maar dit is in 1990 verwyder. Ek neem fotos uit elke moontlike hoek, maar geeneen lyk later vir my naasteby so indrukwekkend soos die regte ding.

Hongaarse Parlement

Die laaste dag spandeer ek tyd in die West End Shopping Mall, naby die treinstasie. Die sagte leerbanke vir moëe shoppers, oral in die gange van die vier verdiepings, verstom my. Mees verbasend is dat nie een ‘n gat in het of vuil gemors is met roomysstrepe of koeldrankdruppels nie. Soos in die res van Europa is die Hongare ook behep met skoene en ek join toe maar die besetenes met aankope van drie paar. ‘n Waterval stroom drie verdiepings af teen ‘n klipmuur en eindig in die kosgedeelte heel onder – weereens geen papiere wat in die fontein ronddryf nie. Die Hongare het die kuns vervolmaak om strate, parke en enige openbare plek superskoon te hou.

Te vinnig, te gou klim ek die vroegoggendtrein van Budapest na Ljubljana. Ek ry weg van Budapest met die kennis van goulash nog vars in my smaakgeheue en ‘n prentjie van verligte geboue wat leun teen ‘n donker Danube terwyl die volmaan loer oor Buda se heuwels.

Zagreb en die Pous

Wel, die Pous is op besoek aan Zagreb en ten spyte twee besoeke (of dalk as gevolg van) aan die Vatikaanstad, voel ek dit onnodig om rond te hang vir sy prediking reg voor my hotel, net langs Trg ban Jelicic. Dit is die hoofstadsplein en hier rondom vergader ou geboue en vergange geskiedenis asook great straatkafeetjies en ‘n baie mooi blommewinkel.

Dis natuurlik makliker gese as gedaan om die Pous te ontduik, want op die dag wat ek my vriendin, Merlene moet neem na die lughawe en ook terselfdertyd die gehuurde motor moet terugbesorg daar, is dinge nie heeltemal so maklik nie. Nee, al die paaie en ek bedoel AL die paaie van die lughawe na die middestad is gesluit vanaf 10 uur die oggend en nie eens taxi’s word toegelaat by die lughawe nie. Selfs die lughawe is gesluit en vlugte land en vertrek amper skelm-skelm.

Die middestad wemel van polisie en op een dag sien ek meer polisiemanne as die hele 7 jaar wat ek reeds die land besoek. Elkeen loop met ‘n groot knuppel en ‘n geroeste rewolwer (duidelik nie nodig om aldag te gebruik) en ‘n “mean look” op die gesig. Reg voor my hotel se ingang word ysterhekke opgesit en selfs die hotelbestuurder moet toestemming kry om sy eie plek te besoek.

Oral waar ek navraag doen omtrent die paaie: wanneer dit weer oopgestel gaan word en hoekom almal tot stilstand kom, kyk Kroate my aan of ek so pas met hondsdolheid geidentifiseer is. “Madam, is is our holy father visiting. Nothing is more important today”. Ja maar vertel dit nou vir die motorhuur-maatskappy sonder om nog ‘n dag ekstra te moet betaal…

Teen eenuur waag ek dit tas in die hand uit op straat (Pous nog nerens in sig) en ry vol vertroue lughawe toe. Oral langs die pad (30+km) is polisiemanne gestrooi elke 500 meter. Iets lyk nie reg nie – sou die Pous dan nie al 10uur geland het nie? Hoe lank sukkel hy dan met sy bagasie? Dis mos maar net ‘n creme toga of twee en dalk ‘n spaar koptooisel.

Sommer nog 10 km voor die lughawe word ons string karre summier tot stilstand gebring in ‘n padblokkade en gevra om uit te klim. Ek protesteer kliphard, want die polisieman verduidelik hy sal die kar neem na die parkeerarea by die sport arena en ek moet net op die Croatia Airlines bus klim na die lughawe-gebou om my papiere te gaan finaliseer. Huh? Dink die man ek is van lotjie getik, het hy al ooit gesien dat ‘n Suid-Afrikaner sy sleutels oorhandig aan ‘n man wat soos ‘n polisieman lyk en dit nogal ‘n gehuurde kar?   Ek eis dadelik om sy polisie-identifikasie te sien ten aanskoue van ‘n bus vol mense en verder plak ek my halstarrig in die passasiersitplek om saam te ry tot waar meneer konstabel die kar heen neem. Praat hom selfs eenkeer aan omdat hy die ratte krap. Onnodig om te se ons het nie die beste van vriende uitmekaar gegaan, maar ten minste het ek seker gemaak dat die huurmotormaatskappy se man self die sleutels by hom neem, die motor nagegaan is vir skrape (hulle het gelukkig nie onder gekyk nie, daai klip waaroor ek gebons het, het my nogal laat worry) en ek alles self mooi kon hanteer.

Van die sportstadion vertrek ek per bus na die lughawe-gebou om papiere af te gee. Hier wag ‘n kordon polisie ons weer in en almal word deursoek. Ek wou eers aandring op ‘n manlike ondersoeker, maar was bietjie haastig en laat begaan toe maar die ou tante met die inge-pencilde wenkbroue.

Weer op die bus, wat nog ‘n draai gaan gooi by die sportstadion en toe oppad terug Zagreb busstasie toe. Dit is drie en ‘n half uur later en ek sit natgesweet met my rooi tassie op my skoot en ‘n verflenterde tissue wat glad nie goed absorbeer nie.

Een probleem is dat die bus ‘n halfuur terugneem en die trein na Budapest binne ‘n driekwartier vertrek – 5km ver van die busstasie. My kneukels is doodgedruk toe ek by die busstasie aankom. Ek storm op die naaste taxi af en net toe ‘n groot donderstorm losbars spring ek by die stasie uit. Kaartjiekoop, perron vind en padkos koop vind alles plaas in 7 minute en 30 sekondes en as die trein uiteindelik onder die stasie uitgly is ek al op groot servette om die sweet te “dab”.

Het ek toe ooit die Pous gesien? Nee glad nie en ek weet ook nie of hy ooit self toegelaat is deur die strenge sekuriteit nie.

Wat ek wel oor wonder is of die Kroate ook soveel moeite sal doen as God self eendag opdaag.

Gaan direk na nutsbalk.