Skip to content

Die non-reluctant seremoniemeester

Nouja, een van die probleme van ‘n losbek is mos dat mense dink jy kan oral en enige tyd woorde uitryg. 

Wel… in my geval is hulle toe heeltemal reg.  Kan nie dink aan ‘n tyd of plek waar ek al ooit kort van woorde was nie.

Vir my is praat, storievertel en hardop kommentaar lewer (dikwels ongevraagd) so maklik soos asemhaal. Dit is eintlik ‘n familieding.  Ons almal praat onophoudelik en graag!  Dit is een van die erflatings van ons Namakwalandse afkoms waar mense stories vertel vir tydverdryf. 

Ek skrik nie om voor mense op te staan en my woord te doen nie – ten spyte van my stadige 33 en ‘n derde spoed stem wat soms kan neig tot temerigheid.  Ek staan nie agteruit vir ‘n mikrofoon nie – ten spyte daarvan dat ek eintlik die hele ding toestaan met my ronde lyf en broodknie-arms.  Het nie ‘n sprekersgesig, stem, of houding nie, maar ek is voor in die koor as dit kom by spietsmaak.  Dit kom vir my maklik en die geen wat my moet laat sweet van angs het nooit ontwikkel.

Dit veroorsaak natuurlik dat ek nou al amper professionele status as trou-seremoniemeester bereik het.

Dis nie dat my staaltjies juis vreeslik gevat of my orale kunste digterlike hoogtes bereik nie, maar wanneer die taak my opgele word neem ek dit baie ernstig op en hier is ‘n paar van die dinge wat vir my werk:

  • Praat uit jou hart en moenie aflees van ‘n papier
  • Hou vooraf vergadering met die troupaar en stel ‘n tydlyn op van die dag se verrigtinge – jy is verantwoordelik om alles aan te kondig en seker te maak dat dit gebeur!
  • Ken jou onderwerp (troupaartjie) agtergrond oor die geleentheid – ‘n staaltjie of twee oor die bruidspaar as kinders of tieners is altyd komies vir gaste.
  • Hou die spiets lig, maar nie platvloers nie
  • Vermy grappies wat almal al in hul “inbox” gekry het.
  • Hou jou hand op die hele verloop van die dag en maak seker dat jy van begin tot einde weet wat wanneer gebeur.
  • Trek netjies aan, lyk respektabel en probeer so staan dat jou arms nie te groot lyk nie.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.