Skip to content

Van Jip de Jager na Madras

Die gewone reise van elke dag bring eie verrassings en volop plesier.

Maandagoggend 7 vm:

Ry oor die bultjie by Jip de Jagerrylaan en die Kaapse skiereiland spoel oop voor my.  Links le Tygerberg Hospitaal en die lughawe met ‘n dowe mistigheid wat wil lig. Aan die regterkant staan Tafelberg kiertsregop sonder wolk of deinsigheid.  Aan sy voete hang huise teen alle angles en  in die hawe hurk ‘n groot olieboor kniediep in die water.  In die verte steek Pringlebaai se skewe kop uit en net regs daarvan le Valsbaai seepglad gestryk.  Dis ‘n beautiful sonskynoggend en die stad maak reg vir ‘n besige dag.

Dinsdagnm 18:00

Tussen die Paarl en Klapmuts is wingerde roesbruin ingeryg terwyl die Taalmonument ‘n wakende ogie hou oor stinge karre op die N1. By die kruising verkoop smouse natrosse, geroesde draadfigure en ‘n paar bosse koningproteas.  Die druiwesmous ballet grasieus tussen aankomende karre en spin sy storie sonder asemteug by elke stop.

Voor in die teerpad glinster die laatson op kardakke en truspieels en gooi reenboogstrepe oor en weer. Erens tussen Klapmuts en die Engen garage le Dirkie van Driekuil se dam – nou amper leeg en die boom in die middel droog en kaalgestroop. As die motor verby Durbanweg ry glip die vuurson agter Leeukop in en los net’n paar goue strepe op die ore.

Woensdagoggend 10vm:

Op in Bokaap se straat met die smartie-huisies, geduikte karre en Omo-wasgoed op die drade. ‘n Toegedraaide vrou stap uit die moskee  met ‘n mop en emmer en agter haar spring ‘n  krulkopkind eenbeen van kobbelsteen tot straatlamp. Ek en F kronkel deur De Waterkant se strate verby Manhattans waar twee mans omhels en loer in by Le Petit Tartes  met sy swart teepotte, onpaar stoele en middeljarige Seepuntvroue. Hoog bo teen die laaste straat drink ons koffie by ‘n tafeltjie wat verbete klou teen die skuinste, die Oostewind en die ongelyk sypaadjie.  Die bestuurder vertel van haar mediese probleme, ons R10 tip waai onder ‘n motor in  en as ons terug kar toe loop groet die slaaiblaarman vrolik terug.

Donderdagmiddag 2 nm:

Tygervallei is styfgepak van vakansiegangers, pensioenarisse en skoolslonsies. Die klein koffiewinkel oorkant Mugg & Bean ruik na Irish Cream en Choc Fudge en ek mag my pakkie van vyf Al Capone hoede daar los – en ja, die eienares sal vir my sus se ek kom nou-nou terug. By ‘n klein geskenkwinkel oorkant Boardmans hang kristalle so groot soos hoendereiers en ‘n bottermessie met ‘n eekhoringlyf loer oor die kaasbord.  Ek koop ‘n groot pienk vark met ‘n diamante kroon, net-tutu en gleuf vir geld. Op die magie staan in silwer sierskrif “Always the Princess”.

Ons drink koffie en eet wortelkoek met heel neute en baie wortels en beplan vir oulaas die familietroue se finale klein dingetjies.  Later stap ons na die kaartjiewinkel vir ‘n handgemaakte gasteboek en lag vir die vrou wat op die skudmasjien, by Verimark, nie die afknoppie kan vind.

Vrydagmiddag 17:45

Ek sit langs die Bergrivier in die Paarl in volle afwagting vir ‘n groepie seunsroeiers wat oor die water gly. Die brug oor die water dra motors, mense en fietse – elkeen oppad na ‘n dak vir die aand.  Teen die  rivier se grashelling staan ‘n GP bakkie met ma, pa en drie kinders – almal in kakieklere en laphoede. Hulle drink uit plastiekbekers en eet witbroodtoebroodjies met polonie.  Een maak stok nat in die water en jaag ‘n paar reiers dieper die riete in.

Onder deur die brug kom ‘n vrou met handsak oor die skouer , netjiese kerkhoed sy speel  bekfluitjie.Langs  my  motor haal sy die fluitjie uit, groet en speel dan verder aan ‘n treurige lied. 
Die son sak stadig na Paarlberg se kant  en ek reis  saam met Paul Theroux deur The Great Railway Basaar. Ons is op die Grand Trunk Express oppad na Madras en Paarl se windjie bring die bekfluitjieklanke tot teen my treinvenster.

3 thoughts on “Van Jip de Jager na Madras

  1. beatrixroux says:

    Elsa vir my le die reis in elke dag, nie net die grand trips oorsee. Bly jy travel graag saam met my!

    Antwoord
  2. lora2me says:

    O, het ek nou nie hierdie inskrywing van jou geniet nie, Vlerke! ‘n Stukkie van my hart sal altyd in die Kaap wees, want dis waar ek my “eerste melkies” ingekry het…en my eerste “wyntjies”!! Ek kort definitief weer so ‘n ou Kaapse/Bolandse inspuitinkie.

    Antwoord
  3. beatrixroux says:

    lora die boland en kaap is maar lekker! dis def tyd dat jy weer kom vloeistof inneem hier. laat weet as jy kom!

    Antwoord

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.