Skip to content

Ode aan Cupcakes

Van al die soorte dieetkos is cupcakes die lekkerste. 

Die fenomeen van die koppiekoekie het die laaste paar jaar nuwe versiersuikerhoogtes bereik en geen partytjie of sommernet oggendtee met jouself is volmaak sonder ‘n cupcake nie.

Dis natuurlik die versierings wat jou eerste naderlok. Met jolige polkakolle, stuitige helderpienk daisies of komiese grootoogpaddas is jy klaar weerloos nog voor ‘n enkele hap gevat is. Dan praat ek nie eens van elkeen se papierrokkie nie – daar is  ‘n hangkas vol opsies om van te kies.  Party pryk guitig met frilletjieskant en  ‘n ander een glinster knipoog in blinksilwer plooitjies om die middel.

Die magie van elke cupcake is nog ‘n swymelende affere. Donker klam sjokoladekoek, bloedrooi fluweelkoek of bottergeel vanieljiekoek smelt saam met die soetste versiersuiker in jou mond en jy vergeet vir daardie oomblik jou naam, adres en  rokgrootte.

‘n Glastoonbank vol cupcakes laat vroue versamel soos bye om ‘n … wel, ‘n cupcake-uitstalling!  Elke keer as jy jou keuse gemaak het , spring ‘n ander een uit wat se, nee kies my!

Ek is die oorspronklike cupcake connoisseur en kan vir jou elke naam en nommer gee van cupcake-bakkers binne ‘n honderd seemyl van my huis af. Elke dag ontdek ek nog en om elkeen se klein koekskilderytjies te proe is een van die vreugdes van die voller figuur.

Dis met empatie en leedwese wat ek kyk na vroue wat strak en beangs verby die cupcake tafel loop en ‘n slaai bestel.  Hul sit meestal dikmond en kou aan die drie blare en ‘n halwe tamatie en sal selfs die fetakaas eenkant krap. Die koektafel trek hulle soos ‘n magneet, maar hul byt verbete op die komkommerskyfie om tog net nie in te gee nie.  G’n wonder meeste maer mense lyk so nors nie, hulle is eintlik net honger!

Ek het ‘n vriendin wat elke cupcake wat sy al ooit geeet het kiek op film.  Dit is soos nuwe kunsstuk wat ontdek word en elkeen se gesiggie word noukeurig gebere in die cupcake-album.  Het dit nie bevestig nie, maar dink sy blaai saans deur daardie album voor slapenstyd en droom dan van kabouters op versiersuikerberge, liggeel rosies met skoenlappers tussen groen blare en babaskoene op smeltsagte eierwitversiering.

Lank lewe die cupcake.

Spesiaal opgedra aan Linda van www.sugarcakes.co.za wat kan toor met suikerversiering.

5 thoughts on “Ode aan Cupcakes

  1. Christa-amper-Kleynhans says:

    Stem saam jou dat cupcakes die lekkerste lekker is! Oe, en ek het gaan kyk – Kunswerkies wat Linda maak!

    Antwoord
  2. lindaknop says:

    Dit is pragtig geskryf, baie goeie woordkeuse gebruik. Gaan in die toekoms baie meer van Vlerke se stukke lees, ek hou daarvan. Baie dankie dat jy dit aan my opgedra het, dit beteken vir my soooo baie, was ‘n groot verassing om dit te lees, jy maak my dag, liefde Linda

    Antwoord
  3. charlenesmithmorkel says:

    Ai,Vlerke-vrou,jy weet mos ons deel daai grootste liefde vir die kleine fyne verleiding…ek het ook baie empatie met diegene wat so verlangend daarna staar en dan met ‘n Canola-stafie wegstap…ek lees weer!

    Antwoord
  4. AhJayEm says:

    Mhhh…..stem saam oor die norse maeres. Mooi skrywe.

    Antwoord
  5. beatrixroux says:

    Hi Blouseun baie dankie vir die mooi woorde. (Hoop maar nie my maer vriendinne het die gelees nie…)

    Antwoord

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.