Skip to content

Time to Say goodbye

My eerste herinnering van afskeidneem was elke Januarie na die Grootdae. 

Ons en al my ma se broers en susters & kinders het vir jare by Gert du Toit se baai gekamp.  Almal het van oor die hele land gekom om bymekaar te kuier, middagslapies te vang en saans by die bamboes-gepakte skerms vleis te braai.

Klokslag  16 Desember het my pa die druiwelorrie gelaai met tente, stoele, beddens en allles wat nog nodig is op ‘n plek waar net mooi niks is nie – nie eens toilette of water nie.  Die toilet se gat is darem ‘n week voor die tyd gegrawe en ‘n makeshift houtstruktuur met hessian om het die mure gemaak, maar reg voor – see se kant toe, was  ‘n loergaatjie sodat jy kon sien wie aankom en ook vir ‘n uitsig op die see.

Tussen die skulpe, bamboese en rotspoele het ons  magdom niggies en nefies dae aaneen gespeel, geswem en klipvisse gevang.  Nie ver van die tente was die blaasgat.  Ons kon net soontoe loop saam met ‘n grootmens (dink ook ons wou nie alleen soontoe gaan nie), want die seewater het so ‘n onderaardse blaasgeluid gemaak deur ‘n nou rotspyp en dan almal sopnat gespat met ‘n sierlike soutwatersproei. My Kaapse nefies en niggies was my beste speelmaatjies. Ons het saam eerste tande gesny, amper verdrink en eerste liefdes ontdek.

Die swaarste was  oppakdag kort na Nuwejaar.  My hart was seer, want die  oorvloed speeldae en maatjies was klaar en vir ‘n klein dogtertjie het die jaar tot volgende Desember gevoel soos ‘n ewigheid. Vir iemand wat op ‘n plaas grootgeword het en in ‘n plaasskooltjie leer ABC het was vriende ‘n luukse en oppakdag was soos dood. 

As ons lorrie uiteindelik oor die randjie trek kon ek nie deur my trane nog vir oulaas die see sien of wie dalk nog waai nie – die hartseer was net te groot. 

In my sewende jaar staan ons voor ‘n vrou se bed in Vredendal hospitaal om afskeid te neem.  Sy haal hortend asem deur haar mond en sy lyk so vreemd vir my.  Haar lang vlegsel vlek die wit kussing en ‘n lewelose hand hang halfpad van die bed af. My pa buk en soen haar saggies op die wang. Ek draai om en loop uit – ken nie die vreemde vrou wat soos my ma lyk nie.  Twee ure later bel die dokter en se sy is dood. Ek is klein  en alleen saam met my pa op die plaas.  Ek haat  dit om anders as ander maatjies te wees en ek raak onmanierlik met skynheilige buurtannies wat nooit voorheen  moeite gedoen het om by ons te kuier nie en nou skielik heeldag kos aandra.  Ek verstaan niks van die dood en hoe om sonder ma te wees.

Op 25 staan ek langs my broer Koos se bed in Groote Schuur hospitaal. Hy het deur twee jaar van breinkanker geworstel en ek moes ‘n Durbanvakansie kort knip om totsiens te kom se vir my “idol boetie” wat my soveel van die lewe geleer het.  Hy het nooit getrou nie en was ons aldrie susters se raadgewer oor modes, haarstyle en hoe om soos ‘n dame te sit.  My eerste bikini het hy vir my gekoop (6 jaar) en daar is gereeld deur my onderklerelaai gegaan om uit te gooi wat nie meer mooi of vroulik lyk nie. Sy reguit manier van praat, sy ongelooflike humorsin en pragtige gly oor ‘n dansbaan sou nooit weer wees. Daar is ‘n afskeidsgat so groot soos ‘n krater in my hart.

Twaalf jaar later is weer tyd om te groet. My oudste broer Danie het dapper geveg teen prostaatklierkanker, maar die stryd het te moeisaam, langsaam en sonder doel geraak. Hy was reeds 20 jaar oud toe ek gebore is en het eintlik ‘n tweede-pa rol gespeel vir ons susters, maar veral vir my as laatlam. Sy kritiek op my was die van ‘n pa, sy ongeduld met my voortvarende jeugeskapades was die van ‘n pa en sy berispings oor onnodig geldmors was ook die van ‘n pa.  Nadat my motor afgeskryf is in ‘n ongeluk, in die verre Transkei, het hy geld gestuur vir ‘n ander motor – het hom jare later eers terugbetaal, sonder ‘n sent rente en dit was reg so met hom.

Vir oulaas het ek langs sy bed gestaan in sy eie huis (dankie daarvoor skoonsus Elmarie) en gesien hoe hy teen die newels van morfien baklei, aanmekaar oor sy droe lippe lek en ongemaklik rondskuif met sy opgehewe maag.  Ons familie is nie vreeslik drukkerig of handevatterig nie, maar ek het sy hand houvas en al het ek geweet dis glad nie sy styl nie, het hy nooit gelos en net lank vir my gekyk.

Toe is dit Kobus se beurt (broer Danie se oudste seun) om te gaan.  Op drie-en-twintigjarige ouderdom ontdek hulle ‘n kol op sy lewer wat gepaard gaan met erge nagsweet.  Dis lewerkanker en dis aggressief. Ons laaste Kersfees saam is Kobus se gesiggie klein en skraal, maar hy het genoeg hardkoppigheid en wil vir nog 7 maande. Weereens staan ons in dieselfde kamer as waar sy pa dood is en hy wriemel deurmekaar op die bed. Nou en dan vlieg hy op met wankelende bene en beur straat toe. Twee vriendinne moet hom vashou – hy wil buitentoe – hy wil die wereld nog eenmaal in die oe kyk. Ek voel rustig om hom te groet, want hy het ‘n gekruisigde Jesus laat tattoeer op sy onderbeen en ek weet hy sal ok wees aan die ander kant.

Ses weke daarna neem ek afskeid van my pa.  Hy het die rype ouderdom van 87 bereik en met twee gebreekte heupe het die longe besluit hulle is gedaan.  Koos Kapsnor was sy lewe lank ‘n sensitiewe, maar fisies-sterk man. Sy vingers soos groot trosse piesangs was gemaak om in die grond te werskaf. Sy liefde vir die natuur en sy kinders onvoorwaardelik, dog sonder groot gebaar, omhaal of woord. Onstwee was van my kleindag af op mekaar aangewese en dis sy braaihoenderresep wat ek vandag nog maak.  Hy kon die heerlikste konfyt kook, met so ‘n effense taaierige stropie en ingelegde perskes was ook glad nie bokant sy vuurmaakplek.  Sy ongelooflike terggees en sedige segoed word  by elke familiefees afgestof en weer vertel.

So se ek ook totsiens vir twee beste vriendinne (eerder susters) wat onderskeidelik Kanada en Australie toe trek.  Ons het mekaar se dae gevul met telefoongesprekke en oor-en-weer kuiers. ‘n Oor om by te kla of ‘n skouer om op te huil was net ‘n halfuur ver en toe skielik is albei weg en ek bly erens in die middel van my eensaamheid agter. Nie eensaamheid sonder ander geliefdes of familie, maar eensaamheid sonder die bekendheid wat net opregte sielsgenote kan bring. Ons kuier na 10 jaar nog steeds op Skype, Facebook en epos, maar ek sou wat wou gee om net gou in my kar te spring en iets te gaan deel met een van hulle twee.

Vanaand is my hart weer seer, want ek neem (al)weer afskeid  –  van my enigste kind.  Hy gaan koshuis toe en ek weet dis ook sy eintlike vlerkesprei na grootword, manwees en onafhanklik wees. Ek weet ook dis nie dood nie en dat ek hom elke naweek sal sien. Maar vir my voel dit soos dood, want ek hou nie van groet en ek haat dit om agter te bly. 

Con te partirò (lirieke deur Francesco Sartori en Musiek deur Lucio Quarantotto)

Bekend gemaak deur Andrea Bocelli en Sarah Brightman

Time to Say Goodbye (Engelse vertaling)
———————-
When I’m alone
I dream on the horizon
And words fail;
Yes, I know there is no light
In a room
Where the sun is not there
If you are not with me.
At the windows
Show everyone my heart
Which you set alight;
Enclose within me
The light you
Encountered on the street.

Time to say goodbye,
To countries I never
Saw and shared with you,
Now, yes, I shall experience them,
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall experience them.

When you are far away
I dream on the horizon
And words fail,
And yes, I know
That you are with me;
You, my moon, are here with me,
My sun, you are here with me.
With me, with me, with me,

Time to say goodbye,
To countries I never
Saw and shared with you,
Now, yes, I shall experience them,
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall re-experience them.
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall re-experience them.
I’ll go with you,
I with you.

4 thoughts on “Time to Say goodbye

  1. Christa-amper-Kleynhans says:

    Sjoe… die skrywe skop vas in my hart, Vlerke… self my boetie (ons het maar 11 maande verskil) aan die dood afgestaan. Kon egter nooit groet en die onbeantwoorde vrae huiwer diep in my siel tot vandag nog, wanneer ek myself toelaat om dit te laat surface. Hy was pas 21.

    Jy het al soveel meer moes groet! – Pragtige liriek!

    Dink aan jou in jou seun se ‘vlerke sprei’ – Ma se vlerke kind dié 🙂

    Antwoord
  2. beatrixroux says:

    dis sad om iemand vir wie jy lief is aan die dood af te staan.So jammer om ook van jou boetie te hoor. Tog moet ons dan ekstra moeite doen om ook sommer namens hulle te lewe, ne?!

    Antwoord
  3. Christa-amper-Kleynhans says:

    Ja ek stem dat mens dan sommer namens hulle ook moet leef. Mis hom na al hierdie jare nog baie. Baie jammer oor jou verliese ook, B!

    Antwoord
  4. OupaSePieta says:

    Definitief ‘n artikel wat aan my hart geraak het! Omdat ek jou persoonlik ken, kon ek dit wat jy voel saam jou meeleef. Pragtig en sensitief. Een van die dae is dit tyd om weer ‘hallo’ te se – want binnekort is ek terug in die land waaroor jy so liries skryf en beleef. Dankie vriendin!

    Antwoord

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.