Skip to content

Xanadu in Zanzibar

Xanadu in Zanzibar

Ek het nie, soos gewoonlik, vreeslik navorsing gedoen nie en met ‘n “surprise me” houding ‘n paar goed in die tas gegooi, in die lughawe-CNA ‘n storieboek gegryp en gewag vir die drinkstrollie wat gangaf kom.

Op Kisauni lughawe of liewer Zanzibar International Airport hang die vli?e en doeanebeamptes skadeloos teen die mure en die aankomssaal lyk na ‘n koringskuur wat onlangs tot nuwe titel verhef is. ‘n Polisiestokkie keer my voor en ek moet sommer in die uitgang tasse oopmaak vir inspeksie. Die res van die gaste stroom om en oor jou besittings en as jy weer kyk het die diener lankal belangstelling verloor en jy ook jou vriende. Buite staan taxi’s soos tande ingeryg – spierwit en skerp vir die wegspring. Die probleem is net watter een is jou hotel s’n, waar is jou vrinne en hoekom skreeu 6 taximanne almal gelyk jou hotel se naam?   Gelukkig kom haal my reisgenote my en ons word twee maal in en uitgebondel, want ons is te veel en die twee taximanne langs mekaar is kwaaivrinne.

Langs die pad wieg vroue in veelkleurige kangas soos afrika-lelies in die aandskemering. Díe vroue balanseer bokse, emmers, hele takke piesangs en selfs stene op hul koppe met ‘n kind aan elke hand. Sodra die taxi in sig kom groet iedere elk Jambo! Jambo! So ver soos ons bokspring (op ‘n pad vol obstacles) sit groot groepe mense by huise en staar na iets – dan kliek ek! Almal kan nie tv bekostig nie en as dit soapie-uur is versamel ‘n hele straat by die rykste man. Sy tv word buitentoe gedra en die lugdraad hang halflyf oor die tweedehandse voordeur.

Ras Nungwi Hotel sit teen die weskus van Zanzibar, heelwat noord van Stone Town. Die sterre is drie en as ons voor die draad-plaashek stop, sak my drome op my slipslops, want anderkant hol kinders, hoenders en halstarrigge boklammers. Ons stop voor die ingang van die hotel en toe kom die son vir my op (al was dit sononder), want so verby die ontvangstoonbank, toegegroeide klippaadjie en ‘n magdom tasse sien ek die mooiste blouste see met ‘n guitige wit sandfrilletjie om.

 

 Ons girls omhels mekaar, spring op en af & gil soos justin bieber-groupies ten aanskoue van ons kamers – dis grondvloer, reg op die strand met elkeen sy eie stoepie en ‘n waaier wat werk! Skemeraand swaai ons in die hangmatte en drink ingesmokkelde tequila terwyl kaalvoetkindertjies vir oulaas miniatuurvissies vang in die skemerwater.

 Vroegoggend se ontbyt is koeksisters met kaneelstroop, pynappel, roereier en iemand voer wragtig Vredendal koshuis se snot-en-trane konfyt ook hierheen uit. Oppad dorpie toe – strandlangs wat lyk soos ‘n cheesy liefdesnovelle se voorblad. Sover jy loop groet almal wittand, Jumbo! Die vriendelikheid loop oor elkeen se rand en jy kan nie help om kliphard terug te groet en te lag nie.

Onder ‘n paar koeltebome sit twee Masaivroue wydsbeen en krale inryg – die velle is vlekkeloos – glad gespan oor die mooiste wangbene. Die rooi masailappe val sag in die sand en om hul arms klingel die koper armbande as hul sonder opdring vir jou die ware wys.

 Verder af staan ‘n grasdak met ‘n ingeboude kroegtoonbank, hangmat en ou boot vir sitplekke. Reggaemusiek blaas baldadig en al dit nog net 11 uur in die oggend voel jy verplig om ‘n Pina Colada te bestel en op “Hope Johanna” saam met die Rasta kroegman te dans.

    

In Ras Nungwi se middedorp verras die Zanzibar Coffee House ons met ‘n biblioteek/ book-exchange. Vir 5$ koop jy enige van die eienaar se boeke en as jy dit terugbring kry jy jou geld terug. Na tone-omkrul koffie en ‘n heerlike boekvonds “The seven veils of Mohammed” draal ons verder vir middagete en sonskyn.

Aandete is by ‘n handgemaakte tafel met vier verskillende pote wat staangemaak word in die vlak water van die Indiese Oseaan. Die water speel aan-aan met jou tone en ‘n kersvlam flikker liggies in die wind. Ons chef is ook die eienaar /visterman en deeltyds toergids. Vanaand bring hy die blinkste vis om mee te spog.Voor ons braai hy dit op kaneelhout tot die sappigste wit vleisies van jou vurk afval. Ver op die indigo oseaan vaar vragskip en jy weet as die hemel so lyk gaan jy graag.

 Dag twee is dit tyd vir ‘n snorkeltrip op een kranklike dhow. Ek het vir die eerste keer in 12 jaar ‘n swembroek aan en lyk soos ‘n voorbode wat onheil vir die oseaan bring. Tussen die koraalriwwe spring almal oorboord, maar ek staan versigtig middellyfdiep en hou net my snorkelbril in die water – jip, ek sien lekker alles wat swem en hoef glad nie onvleiende skopbewegings uit te voer nie. Ek het net my probeer-maer-lyk-pose vervolmaak toe Vriendin met ‘n bloedrooi gesig teruggejaag kom (as mens nou kan jaag in swem). Haar gesig opgepof, asem weg en met intense pyn in die arm spring sy aan boord. Haar hele arm is vol swart spikkeltjies en sy hang op die afgrond van floute. Al was sy uitkry is jellievis, eina en help. Die dhow-eienaar het nog nooit van ‘n noodhulptassie gehoor en voor ons lê die see wat nou skielik baie onmanierlik geraak het. Dis ‘n uur se vaar terug na die beskawing. Vriendin is ‘n meisie wat ‘n Landrover ry en BMW motorfiets kickstart soggens, maar hierdie is nie kinderspeletjies nie – ons kan almal sien sy is in PYN. Teen die poer-poer spoed van ‘n grassnyer jaag ons na ‘n privaateiland daar naby vir hulp. Die mans in ons groep sleep haar aan wal soos ‘n skeepsdrenkeling en na baie asyn en twee allergiepille kan ons aanbeweeg terug hotel toe. Dit kos nog twee inspuitings van die plaaslike dokter voor Vriendin weer kop by die kamer uitsteek. Die culprit – ‘n Rhodesian Man of War jellievis wat na die tsunami in Thailand skielik sy verskyning begin maak h et teen hierdie eilandkus.

 

Na die onderonsie met die jellievis spandeer ons die volgende dag veilig op dro? grond. Dis tyd vir die bekende spesery en vrugtetoer. Al wip-en-stamp oor die slaggate en dan is dit tyd vir ‘n bietje leer. My mond hang oop, want in my speseryerak lyk kaneel dan nou glad nie eens soos kaneelboom se stiefsuster nie – wat nog van naeltjieboom en borrie? Naeltjies is Zanzibar se grootste uitvoerproduk en word vir enigiets van tandpyn tot naarheid gebruik deur die locals. Dis ‘n gesnuif, proe en vryf aan die blare en later by die speserystalletjie stap almal weg met sakke vol kaneel, saffraan en suiwer peper.  

By ‘n vrugtestalletjie word gestop vir eksotiese vrugtesoorte met hare, knolle en amper tande ook. Vyf en twintig soorte piesings en stervrug is maar ‘n paar van die bekendes hier. Blykbaar is stervrug baie goed vir visie – dis nou die kyksoort. ‘n Besonder vreemde vrug word met een meskap oopgevlek en te proe aangebied. Dit proe heerlik na vrugteslaai, maar voor jy by die deel uitkom, moet jou neus eers die stank van vrot sokkies oorkom en gewoond raak aan die snotterige gevoel op jou tong. Soek later weer die naam op: Jack Fruit – wees gewaarsku.

    

Die Stone Town uitstappie raak een van my mees onvergeetlike memories. Vervalle geboue is versier met die mooiste gekerfde houtdeure en lapsels verf . As jy inloer by ‘n binnehof speel doekgesig dogtertjies al om ‘n fontein. Op die stoep van Freddie Mercury se bar (ja, hy is in Zanzibar gebore) sit ons en kyk hoe jongmanne strandsokker speel tussen dhows en rondloperkoeie.

   

        

   

 Die plaaslike mark is gelaai met die baldadigste lappe (kangas), oorryp papajas, skaapkoppe en halfgewaste afvalle wat sous in die straat. Teen skemeraand verskyn honderde seekosstalletjies by die Forodhani Gardens, Stone Town se seefront. Elke denkbare oseaansoort is op sosatiestokke geryg, gebraai of in ‘n degie toegerol. Die personeel van elke stalletjie bestaan uit ‘n roeper (bemarker), verkoper (sales rep) en vlieewaaier (PR) gewapen met ‘n tak of opgerolde koerant. Laasgenoemde is die minste effektief – vli?e loop bakarm oor geregte en rus op die staf se neuse.

     

SAL reel spesiaal vir ons ‘n staking, presies twee dae, voor die terugvlug. Ons moet (ongelukkig…) nog ‘n paar dae in Stone Town oorbly – natuurlik op SAL se koste en die justin bieber toi-toi word weer gedoen. Die hotel het ‘n blink marmer ontvangslokaal, beautiful dakrestaurant en ek slaap soos die hoofmeisie van ‘n harem op die mooiste hemelbed. Saans wag ons vir die Imam se roep voor daar bier gedrink word op die dak. Onder lê die wriemelende strate van Stone Town en afgedopte mure van ‘n blink verlede. Laataand lê en dink ek aan Freddie en weet skielik wat sy inspirasie vir “ I want to break free” was – sekerlik ‘n hunkering terug na sy eilanddae as kind in ‘n land van oorvloed, glimlagte en vrotsokkie-vrugte.

 

 

10 thoughts on “Xanadu in Zanzibar

  1. Skoppensvrou says:

    Wat ‘n ongelooflike kleurvolle reis deur jou oë ervaar.

    Antwoord
  2. Christa-amper-Kleynhans says:

    Wonderlik – ek is geniet jou reise…jy maak dit so lewendig dat dit voel mens is DAAR saam jou! En pragtige fotos! Op die oomblik besig om ‘n wittebrood te beplan, maar ons weet nog nie waarheen… want ek wil die kant toe, hy daai kant toe… (nogal ons eerste groot verskil in 4 jaar van saamwees…). Maar die tyd raak min, ons trou 9 April (en jy is die eerste een wat weet behalwe ons kinders en ons kollegas ;-))

    Antwoord
  3. beatrixroux says:

    Yeah! Yeah! Yes! vir die troue en ook vir die honeymoon.
    Zanzibar is Afrika maar met ‘n idilliese eiland-flavour. Laat weet as julle besluit het waarheen – dalk miskien was ek al daar (het vreeslik miere…) en kan dan paar tips stuur.

    Antwoord
  4. Sunsplinter says:

    Duidelik het ons iets in gemeen. Ons het altwee reistasse, ‘n kamera en ‘n voorliefde vir kiekies neem.
    Jy bring die plekke waar jy was tot lewe en gee kleur aan alledaagse dinge…. ek twyfel nie daaraan dat jy ‘n blokkie suiker kan inkleur dat dit soos manna uit die hemel vir ‘n diabeet sal klink 🙂
    Ek sien baie daarna uit om jou toekomstige blogs te lees (en te wens ek was in daai reistas saam met jou)

    Antwoord
  5. Kanonberg says:

    wonderlike skryfwerk!! moenie ophou skryf nie!!

    Antwoord
  6. Kanonberg says:

    en pragtige foto’s!!

    Antwoord
  7. beatrixroux says:

    ha ha valsbaai, ek het nog ‘n paar voorstelle vir plekke – hou die spasie dop.

    Antwoord
  8. beatrixroux says:

    dankie jou kanon! ek was so lank terug in Z, maar as ek na my foto’s kyk dan kom alle herinneringe terug.

    Antwoord
  9. beatrixroux says:

    sunsplinter reis is in onstwee se bloed en dis seker die duurste sport wat daar is, ai…

    Antwoord

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Gaan direk na nutsbalk.