Skip to content

Monthly Archives: Januarie 2011

Ode aan Cupcakes

Van al die soorte dieetkos is cupcakes die lekkerste. 

Die fenomeen van die koppiekoekie het die laaste paar jaar nuwe versiersuikerhoogtes bereik en geen partytjie of sommernet oggendtee met jouself is volmaak sonder ‘n cupcake nie.

Dis natuurlik die versierings wat jou eerste naderlok. Met jolige polkakolle, stuitige helderpienk daisies of komiese grootoogpaddas is jy klaar weerloos nog voor ‘n enkele hap gevat is. Dan praat ek nie eens van elkeen se papierrokkie nie – daar is  ‘n hangkas vol opsies om van te kies.  Party pryk guitig met frilletjieskant en  ‘n ander een glinster knipoog in blinksilwer plooitjies om die middel.

Die magie van elke cupcake is nog ‘n swymelende affere. Donker klam sjokoladekoek, bloedrooi fluweelkoek of bottergeel vanieljiekoek smelt saam met die soetste versiersuiker in jou mond en jy vergeet vir daardie oomblik jou naam, adres en  rokgrootte.

‘n Glastoonbank vol cupcakes laat vroue versamel soos bye om ‘n … wel, ‘n cupcake-uitstalling!  Elke keer as jy jou keuse gemaak het , spring ‘n ander een uit wat se, nee kies my!

Ek is die oorspronklike cupcake connoisseur en kan vir jou elke naam en nommer gee van cupcake-bakkers binne ‘n honderd seemyl van my huis af. Elke dag ontdek ek nog en om elkeen se klein koekskilderytjies te proe is een van die vreugdes van die voller figuur.

Dis met empatie en leedwese wat ek kyk na vroue wat strak en beangs verby die cupcake tafel loop en ‘n slaai bestel.  Hul sit meestal dikmond en kou aan die drie blare en ‘n halwe tamatie en sal selfs die fetakaas eenkant krap. Die koektafel trek hulle soos ‘n magneet, maar hul byt verbete op die komkommerskyfie om tog net nie in te gee nie.  G’n wonder meeste maer mense lyk so nors nie, hulle is eintlik net honger!

Ek het ‘n vriendin wat elke cupcake wat sy al ooit geeet het kiek op film.  Dit is soos nuwe kunsstuk wat ontdek word en elkeen se gesiggie word noukeurig gebere in die cupcake-album.  Het dit nie bevestig nie, maar dink sy blaai saans deur daardie album voor slapenstyd en droom dan van kabouters op versiersuikerberge, liggeel rosies met skoenlappers tussen groen blare en babaskoene op smeltsagte eierwitversiering.

Lank lewe die cupcake.

Spesiaal opgedra aan Linda van www.sugarcakes.co.za wat kan toor met suikerversiering.

Tarentulas in Thailand

 

Thailand   – Deel I

Thailand met al sy onuitspreeklike lekker strande, kos en shop-till-you-drop stalletjies en winkels is natuurlik op elke vroulike reisiger se wenslys. Dan natuurlik hits die goedkoop vlug- en verblyfpakkette jou nog verder aan om alle verantwoordelikhede (en inhibisies) oorboord te gooi en aan boord te spring.   Erens in jou lewe moet jy Thailand toe!

Een van ander lekker goed van reis is die vooraf navorsing op die internet; boeke en om almal wat al ooit ‘n toon daar gesit het te vra, foto’s te kyk en sommer gou so deurmekaar te wees soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartieboks. So many options, so little time!

Een mooi Junie-dag pak ek en my ousus, Lenie die trek Thailand toe aan. Ons hop soos rubberballetjies van excitement. Kan ons geluk nie glo dat ons sonder kind of kraai vir drie weke die land van heerlikheid gaan besoek nie.

Eerste Stop:

Indra Regent Hotel – Bangkok

Hier lyk die voorportaal soos Saterdag in Roodepoort se inkopiekern. Dis gepak van SA vrouens met groot slotte aan die tasse, nog groter handsakke vir die shopping en ‘n versameling van appliekbloesies, rekmiddellyf denims en crocs om beter te kan stap my kind. ‘n Vrou met ‘n shopping missie is ‘n gevaarlike ding en hier het die menigtes toegesak vir ernstige dae van koop.

Eers is dit ontbyt en ons pyl veilig verby die noedels en spinasiegereg na die koue vleis en slaai buffet. Vrugte waarmee mens kinders kan bangmaak loer vir jou uit die bak, maar ons hou koers en eet die bekende gekookte eier, kaas en brood.

Stadskaskenades

As jy by die voordeur uitstap tref die swaar, klam hitte jou tussen die o? en binne tien minute sleep jy voet van tuk-tuk tot tuk-tuk – die klein oop mini-bussies wat jou van een plek na die ander zirts. Jy klou verbete aan die dak as die bestuurder deur duisende motors en motorfietse vleg teen hartstilstand spoed en rakelings voetgangers skraap sover hy jaag. Toeters skel en fietse met bakkievragte is alles deel van die verkeer. ‘n Familie van vier ry almal op een motorfiets – ma en pa netjies aangetrek in snyerspakke, boetie in skooluniform en baba agterop. Almal word padlangs by hul bestemming afgelaai en vanmiddag word die ritueel sekerlik weer herhaal.

Die strate en sypaadjies is kakofonie van geur en kleur. Dit is gepak met stalletjies vol bleekwit hoenders, slange in witblits, die bontste klere & vrugte en groente wat ek nog nooit gesien of geproe het nie. Lietjies is so groot soos suurlemoene en suurlemoene so groot soos spanspekke ens. Oral is sapstalletjies met die ongelooflikste vars vrugte slush-puppy drankies. My eerste bevrore waatlemoensap is so soet en geurig dat ek summier die stalletjie-eienaar verdink van foulplay, maar na deeglike observasie sien ek dit is slegs vars, pas-oopgesnyde waatlemoen wat in die masjien gevoer word – ongelooflik.

Die winkels se voorraad word in die dakke gebere en as jy ‘n nommer soek verdwyn die assistent in ‘n obskure gaatjie om dit te vind. Ek vererg my egter bloediglik, want sover ons stap roep almal jou nader en vir my spesifiek met “for you extra big size”. Nouja, my hele familie weet niemand lewer kommentaar oor my kurwes nie – so onnodig om te se dat daardie winkels totaal geignoreer is en my sussie op die sypaadjie gaan sit het om te lag dat die trane loop. Ek weet in elk geval nie wat Thaise mense eet nie, want 99% van hulle is so klein en fyn dat mens versigtig moet wees om hul nie dood te trap nie.

Een van die winkelsentrums het 12 verdiepings en elke vloer bestaan uit duisende stalletjies (nie winkels soos by ons nie). Dis tafellinne, houtpaddas wat kan kwaak en sonbrille vir die hele Mitchell’s Plain se volgende 20 jaar bevolking. Veral die verskeidenheid denims is oorweldigend, maar gemaak vir mense wat net een maal ‘n week ‘n komkommerskyfie lek. Ek koop dus maar tafelmatjies, perels, ‘n bamboesskinkbord en elke uur nog bevrore waatlemoensap.

Die uitstappie na die drywende markte op kanale is vol verrassings en ompaaie. Per bus so een en ‘n half uur, maar eers maak ons ‘n draai by ‘n houtsneefabriek waar figure en muurversierings uit soliede stukke hout gekerf word. Die detail so klein en spesifiek dat jy net in ongeloof daarna kan staar. Die man wat vir ons sy handewerk demonstreer se smal skouertjies is in ‘n permanente boog getrek en sy gesig lyk soos ‘n ou knoets in ‘n boomstomp. Krom voete klou die hout vas en sy blitsige handewerk lyk na o?verblindery.

Die volgende stop is ‘n groot park waar tradisionele thaise dansers in ‘n houtamfiteater al vinniger en vinniger oorlogsdanse uitvoer op oorverdowende tromslaanritmes. Net daarna kan ons ‘n paar olifante besoek wat verveeld naderstaan vir die daaglikse vertoning. Hulle is kleiner as die Afrika-weergawe, maar net so behendig met die slurp en pootaksies.

In die doolhof kanale ry ons vir kilometers tussen skewe boothuise en lyk asof die ligste windjie dit kan laat tuimel. Hier gaan die kanaallewe aan soos eeue tevore. Dit is wasgoed was, bad met ‘n koekie seep in die hand en kinders wat uitgelate plas – alles in die vuil modderwater terwyl muskiete soos helikopters om jou kop bewe.

Die Damnoen Saduak drywende mark is selfs nog mooier as enige poskaart wat ek ooit gesien het. Dit is die grootste van die drywende markte en ‘n moet op enige toeris se lys. Lang houtbote is steunvol gelaai met vrugte en groente, vars kruie en souse. Party ander is drywende take-away thaikosrestaurante en nog ‘n paar verkoop die daaglikse basiese artikels wat enige huisvrou alewig op nommer 99 nodig kry. Dis plastieksiwwe, wokpanne, opskeplepels en ‘n magdom rysstomers wat in piramides gebalanseer word vir optimale visuele effek. Ons vleg deur die handelsbote en word verwelkom soos die Verlore Seun. Almal wil graag iets verkoop, maar is glad nie opdringerig of oorlams nie. Die fyn, statige glimlag van ‘n thaise verkoopsvrou kry meer reg as die duurste tv-advertensie ter wêreld.

Te gou is ons tyd in Bangkok verby, maar die treinrit Chang Mai toe lê voor en een laatmiddag vind ons die groot miernes-treinstasie waar die reis moet begin.

Word vervolg/…

Time to Say goodbye

My eerste herinnering van afskeidneem was elke Januarie na die Grootdae. 

Ons en al my ma se broers en susters & kinders het vir jare by Gert du Toit se baai gekamp.  Almal het van oor die hele land gekom om bymekaar te kuier, middagslapies te vang en saans by die bamboes-gepakte skerms vleis te braai.

Klokslag  16 Desember het my pa die druiwelorrie gelaai met tente, stoele, beddens en allles wat nog nodig is op ‘n plek waar net mooi niks is nie – nie eens toilette of water nie.  Die toilet se gat is darem ‘n week voor die tyd gegrawe en ‘n makeshift houtstruktuur met hessian om het die mure gemaak, maar reg voor – see se kant toe, was  ‘n loergaatjie sodat jy kon sien wie aankom en ook vir ‘n uitsig op die see.

Tussen die skulpe, bamboese en rotspoele het ons  magdom niggies en nefies dae aaneen gespeel, geswem en klipvisse gevang.  Nie ver van die tente was die blaasgat.  Ons kon net soontoe loop saam met ‘n grootmens (dink ook ons wou nie alleen soontoe gaan nie), want die seewater het so ‘n onderaardse blaasgeluid gemaak deur ‘n nou rotspyp en dan almal sopnat gespat met ‘n sierlike soutwatersproei. My Kaapse nefies en niggies was my beste speelmaatjies. Ons het saam eerste tande gesny, amper verdrink en eerste liefdes ontdek.

Die swaarste was  oppakdag kort na Nuwejaar.  My hart was seer, want die  oorvloed speeldae en maatjies was klaar en vir ‘n klein dogtertjie het die jaar tot volgende Desember gevoel soos ‘n ewigheid. Vir iemand wat op ‘n plaas grootgeword het en in ‘n plaasskooltjie leer ABC het was vriende ‘n luukse en oppakdag was soos dood. 

As ons lorrie uiteindelik oor die randjie trek kon ek nie deur my trane nog vir oulaas die see sien of wie dalk nog waai nie – die hartseer was net te groot. 

In my sewende jaar staan ons voor ‘n vrou se bed in Vredendal hospitaal om afskeid te neem.  Sy haal hortend asem deur haar mond en sy lyk so vreemd vir my.  Haar lang vlegsel vlek die wit kussing en ‘n lewelose hand hang halfpad van die bed af. My pa buk en soen haar saggies op die wang. Ek draai om en loop uit – ken nie die vreemde vrou wat soos my ma lyk nie.  Twee ure later bel die dokter en se sy is dood. Ek is klein  en alleen saam met my pa op die plaas.  Ek haat  dit om anders as ander maatjies te wees en ek raak onmanierlik met skynheilige buurtannies wat nooit voorheen  moeite gedoen het om by ons te kuier nie en nou skielik heeldag kos aandra.  Ek verstaan niks van die dood en hoe om sonder ma te wees.

Op 25 staan ek langs my broer Koos se bed in Groote Schuur hospitaal. Hy het deur twee jaar van breinkanker geworstel en ek moes ‘n Durbanvakansie kort knip om totsiens te kom se vir my “idol boetie” wat my soveel van die lewe geleer het.  Hy het nooit getrou nie en was ons aldrie susters se raadgewer oor modes, haarstyle en hoe om soos ‘n dame te sit.  My eerste bikini het hy vir my gekoop (6 jaar) en daar is gereeld deur my onderklerelaai gegaan om uit te gooi wat nie meer mooi of vroulik lyk nie. Sy reguit manier van praat, sy ongelooflike humorsin en pragtige gly oor ‘n dansbaan sou nooit weer wees. Daar is ‘n afskeidsgat so groot soos ‘n krater in my hart.

Twaalf jaar later is weer tyd om te groet. My oudste broer Danie het dapper geveg teen prostaatklierkanker, maar die stryd het te moeisaam, langsaam en sonder doel geraak. Hy was reeds 20 jaar oud toe ek gebore is en het eintlik ‘n tweede-pa rol gespeel vir ons susters, maar veral vir my as laatlam. Sy kritiek op my was die van ‘n pa, sy ongeduld met my voortvarende jeugeskapades was die van ‘n pa en sy berispings oor onnodig geldmors was ook die van ‘n pa.  Nadat my motor afgeskryf is in ‘n ongeluk, in die verre Transkei, het hy geld gestuur vir ‘n ander motor – het hom jare later eers terugbetaal, sonder ‘n sent rente en dit was reg so met hom.

Vir oulaas het ek langs sy bed gestaan in sy eie huis (dankie daarvoor skoonsus Elmarie) en gesien hoe hy teen die newels van morfien baklei, aanmekaar oor sy droe lippe lek en ongemaklik rondskuif met sy opgehewe maag.  Ons familie is nie vreeslik drukkerig of handevatterig nie, maar ek het sy hand houvas en al het ek geweet dis glad nie sy styl nie, het hy nooit gelos en net lank vir my gekyk.

Toe is dit Kobus se beurt (broer Danie se oudste seun) om te gaan.  Op drie-en-twintigjarige ouderdom ontdek hulle ‘n kol op sy lewer wat gepaard gaan met erge nagsweet.  Dis lewerkanker en dis aggressief. Ons laaste Kersfees saam is Kobus se gesiggie klein en skraal, maar hy het genoeg hardkoppigheid en wil vir nog 7 maande. Weereens staan ons in dieselfde kamer as waar sy pa dood is en hy wriemel deurmekaar op die bed. Nou en dan vlieg hy op met wankelende bene en beur straat toe. Twee vriendinne moet hom vashou – hy wil buitentoe – hy wil die wereld nog eenmaal in die oe kyk. Ek voel rustig om hom te groet, want hy het ‘n gekruisigde Jesus laat tattoeer op sy onderbeen en ek weet hy sal ok wees aan die ander kant.

Ses weke daarna neem ek afskeid van my pa.  Hy het die rype ouderdom van 87 bereik en met twee gebreekte heupe het die longe besluit hulle is gedaan.  Koos Kapsnor was sy lewe lank ‘n sensitiewe, maar fisies-sterk man. Sy vingers soos groot trosse piesangs was gemaak om in die grond te werskaf. Sy liefde vir die natuur en sy kinders onvoorwaardelik, dog sonder groot gebaar, omhaal of woord. Onstwee was van my kleindag af op mekaar aangewese en dis sy braaihoenderresep wat ek vandag nog maak.  Hy kon die heerlikste konfyt kook, met so ‘n effense taaierige stropie en ingelegde perskes was ook glad nie bokant sy vuurmaakplek.  Sy ongelooflike terggees en sedige segoed word  by elke familiefees afgestof en weer vertel.

So se ek ook totsiens vir twee beste vriendinne (eerder susters) wat onderskeidelik Kanada en Australie toe trek.  Ons het mekaar se dae gevul met telefoongesprekke en oor-en-weer kuiers. ‘n Oor om by te kla of ‘n skouer om op te huil was net ‘n halfuur ver en toe skielik is albei weg en ek bly erens in die middel van my eensaamheid agter. Nie eensaamheid sonder ander geliefdes of familie, maar eensaamheid sonder die bekendheid wat net opregte sielsgenote kan bring. Ons kuier na 10 jaar nog steeds op Skype, Facebook en epos, maar ek sou wat wou gee om net gou in my kar te spring en iets te gaan deel met een van hulle twee.

Vanaand is my hart weer seer, want ek neem (al)weer afskeid  –  van my enigste kind.  Hy gaan koshuis toe en ek weet dis ook sy eintlike vlerkesprei na grootword, manwees en onafhanklik wees. Ek weet ook dis nie dood nie en dat ek hom elke naweek sal sien. Maar vir my voel dit soos dood, want ek hou nie van groet en ek haat dit om agter te bly. 

Con te partirò (lirieke deur Francesco Sartori en Musiek deur Lucio Quarantotto)

Bekend gemaak deur Andrea Bocelli en Sarah Brightman

Time to Say Goodbye (Engelse vertaling)
———————-
When I’m alone
I dream on the horizon
And words fail;
Yes, I know there is no light
In a room
Where the sun is not there
If you are not with me.
At the windows
Show everyone my heart
Which you set alight;
Enclose within me
The light you
Encountered on the street.

Time to say goodbye,
To countries I never
Saw and shared with you,
Now, yes, I shall experience them,
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall experience them.

When you are far away
I dream on the horizon
And words fail,
And yes, I know
That you are with me;
You, my moon, are here with me,
My sun, you are here with me.
With me, with me, with me,

Time to say goodbye,
To countries I never
Saw and shared with you,
Now, yes, I shall experience them,
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall re-experience them.
I’ll go with you
On ships across seas
Which, I know,
No, no, exist no longer;
With you I shall re-experience them.
I’ll go with you,
I with you.

Xanadu in Zanzibar

Xanadu in Zanzibar

Ek het nie, soos gewoonlik, vreeslik navorsing gedoen nie en met ‘n “surprise me” houding ‘n paar goed in die tas gegooi, in die lughawe-CNA ‘n storieboek gegryp en gewag vir die drinkstrollie wat gangaf kom.

Op Kisauni lughawe of liewer Zanzibar International Airport hang die vli?e en doeanebeamptes skadeloos teen die mure en die aankomssaal lyk na ‘n koringskuur wat onlangs tot nuwe titel verhef is. ‘n Polisiestokkie keer my voor en ek moet sommer in die uitgang tasse oopmaak vir inspeksie. Die res van die gaste stroom om en oor jou besittings en as jy weer kyk het die diener lankal belangstelling verloor en jy ook jou vriende. Buite staan taxi’s soos tande ingeryg – spierwit en skerp vir die wegspring. Die probleem is net watter een is jou hotel s’n, waar is jou vrinne en hoekom skreeu 6 taximanne almal gelyk jou hotel se naam?   Gelukkig kom haal my reisgenote my en ons word twee maal in en uitgebondel, want ons is te veel en die twee taximanne langs mekaar is kwaaivrinne.

Langs die pad wieg vroue in veelkleurige kangas soos afrika-lelies in die aandskemering. Díe vroue balanseer bokse, emmers, hele takke piesangs en selfs stene op hul koppe met ‘n kind aan elke hand. Sodra die taxi in sig kom groet iedere elk Jambo! Jambo! So ver soos ons bokspring (op ‘n pad vol obstacles) sit groot groepe mense by huise en staar na iets – dan kliek ek! Almal kan nie tv bekostig nie en as dit soapie-uur is versamel ‘n hele straat by die rykste man. Sy tv word buitentoe gedra en die lugdraad hang halflyf oor die tweedehandse voordeur.

Ras Nungwi Hotel sit teen die weskus van Zanzibar, heelwat noord van Stone Town. Die sterre is drie en as ons voor die draad-plaashek stop, sak my drome op my slipslops, want anderkant hol kinders, hoenders en halstarrigge boklammers. Ons stop voor die ingang van die hotel en toe kom die son vir my op (al was dit sononder), want so verby die ontvangstoonbank, toegegroeide klippaadjie en ‘n magdom tasse sien ek die mooiste blouste see met ‘n guitige wit sandfrilletjie om.

 

 Ons girls omhels mekaar, spring op en af & gil soos justin bieber-groupies ten aanskoue van ons kamers – dis grondvloer, reg op die strand met elkeen sy eie stoepie en ‘n waaier wat werk! Skemeraand swaai ons in die hangmatte en drink ingesmokkelde tequila terwyl kaalvoetkindertjies vir oulaas miniatuurvissies vang in die skemerwater.

 Vroegoggend se ontbyt is koeksisters met kaneelstroop, pynappel, roereier en iemand voer wragtig Vredendal koshuis se snot-en-trane konfyt ook hierheen uit. Oppad dorpie toe – strandlangs wat lyk soos ‘n cheesy liefdesnovelle se voorblad. Sover jy loop groet almal wittand, Jumbo! Die vriendelikheid loop oor elkeen se rand en jy kan nie help om kliphard terug te groet en te lag nie.

Onder ‘n paar koeltebome sit twee Masaivroue wydsbeen en krale inryg – die velle is vlekkeloos – glad gespan oor die mooiste wangbene. Die rooi masailappe val sag in die sand en om hul arms klingel die koper armbande as hul sonder opdring vir jou die ware wys.

 Verder af staan ‘n grasdak met ‘n ingeboude kroegtoonbank, hangmat en ou boot vir sitplekke. Reggaemusiek blaas baldadig en al dit nog net 11 uur in die oggend voel jy verplig om ‘n Pina Colada te bestel en op “Hope Johanna” saam met die Rasta kroegman te dans.

    

In Ras Nungwi se middedorp verras die Zanzibar Coffee House ons met ‘n biblioteek/ book-exchange. Vir 5$ koop jy enige van die eienaar se boeke en as jy dit terugbring kry jy jou geld terug. Na tone-omkrul koffie en ‘n heerlike boekvonds “The seven veils of Mohammed” draal ons verder vir middagete en sonskyn.

Aandete is by ‘n handgemaakte tafel met vier verskillende pote wat staangemaak word in die vlak water van die Indiese Oseaan. Die water speel aan-aan met jou tone en ‘n kersvlam flikker liggies in die wind. Ons chef is ook die eienaar /visterman en deeltyds toergids. Vanaand bring hy die blinkste vis om mee te spog.Voor ons braai hy dit op kaneelhout tot die sappigste wit vleisies van jou vurk afval. Ver op die indigo oseaan vaar vragskip en jy weet as die hemel so lyk gaan jy graag.

 Dag twee is dit tyd vir ‘n snorkeltrip op een kranklike dhow. Ek het vir die eerste keer in 12 jaar ‘n swembroek aan en lyk soos ‘n voorbode wat onheil vir die oseaan bring. Tussen die koraalriwwe spring almal oorboord, maar ek staan versigtig middellyfdiep en hou net my snorkelbril in die water – jip, ek sien lekker alles wat swem en hoef glad nie onvleiende skopbewegings uit te voer nie. Ek het net my probeer-maer-lyk-pose vervolmaak toe Vriendin met ‘n bloedrooi gesig teruggejaag kom (as mens nou kan jaag in swem). Haar gesig opgepof, asem weg en met intense pyn in die arm spring sy aan boord. Haar hele arm is vol swart spikkeltjies en sy hang op die afgrond van floute. Al was sy uitkry is jellievis, eina en help. Die dhow-eienaar het nog nooit van ‘n noodhulptassie gehoor en voor ons lê die see wat nou skielik baie onmanierlik geraak het. Dis ‘n uur se vaar terug na die beskawing. Vriendin is ‘n meisie wat ‘n Landrover ry en BMW motorfiets kickstart soggens, maar hierdie is nie kinderspeletjies nie – ons kan almal sien sy is in PYN. Teen die poer-poer spoed van ‘n grassnyer jaag ons na ‘n privaateiland daar naby vir hulp. Die mans in ons groep sleep haar aan wal soos ‘n skeepsdrenkeling en na baie asyn en twee allergiepille kan ons aanbeweeg terug hotel toe. Dit kos nog twee inspuitings van die plaaslike dokter voor Vriendin weer kop by die kamer uitsteek. Die culprit – ‘n Rhodesian Man of War jellievis wat na die tsunami in Thailand skielik sy verskyning begin maak h et teen hierdie eilandkus.

 

Na die onderonsie met die jellievis spandeer ons die volgende dag veilig op dro? grond. Dis tyd vir die bekende spesery en vrugtetoer. Al wip-en-stamp oor die slaggate en dan is dit tyd vir ‘n bietje leer. My mond hang oop, want in my speseryerak lyk kaneel dan nou glad nie eens soos kaneelboom se stiefsuster nie – wat nog van naeltjieboom en borrie? Naeltjies is Zanzibar se grootste uitvoerproduk en word vir enigiets van tandpyn tot naarheid gebruik deur die locals. Dis ‘n gesnuif, proe en vryf aan die blare en later by die speserystalletjie stap almal weg met sakke vol kaneel, saffraan en suiwer peper.  

By ‘n vrugtestalletjie word gestop vir eksotiese vrugtesoorte met hare, knolle en amper tande ook. Vyf en twintig soorte piesings en stervrug is maar ‘n paar van die bekendes hier. Blykbaar is stervrug baie goed vir visie – dis nou die kyksoort. ‘n Besonder vreemde vrug word met een meskap oopgevlek en te proe aangebied. Dit proe heerlik na vrugteslaai, maar voor jy by die deel uitkom, moet jou neus eers die stank van vrot sokkies oorkom en gewoond raak aan die snotterige gevoel op jou tong. Soek later weer die naam op: Jack Fruit – wees gewaarsku.

    

Die Stone Town uitstappie raak een van my mees onvergeetlike memories. Vervalle geboue is versier met die mooiste gekerfde houtdeure en lapsels verf . As jy inloer by ‘n binnehof speel doekgesig dogtertjies al om ‘n fontein. Op die stoep van Freddie Mercury se bar (ja, hy is in Zanzibar gebore) sit ons en kyk hoe jongmanne strandsokker speel tussen dhows en rondloperkoeie.

   

        

   

 Die plaaslike mark is gelaai met die baldadigste lappe (kangas), oorryp papajas, skaapkoppe en halfgewaste afvalle wat sous in die straat. Teen skemeraand verskyn honderde seekosstalletjies by die Forodhani Gardens, Stone Town se seefront. Elke denkbare oseaansoort is op sosatiestokke geryg, gebraai of in ‘n degie toegerol. Die personeel van elke stalletjie bestaan uit ‘n roeper (bemarker), verkoper (sales rep) en vlieewaaier (PR) gewapen met ‘n tak of opgerolde koerant. Laasgenoemde is die minste effektief – vli?e loop bakarm oor geregte en rus op die staf se neuse.

     

SAL reel spesiaal vir ons ‘n staking, presies twee dae, voor die terugvlug. Ons moet (ongelukkig…) nog ‘n paar dae in Stone Town oorbly – natuurlik op SAL se koste en die justin bieber toi-toi word weer gedoen. Die hotel het ‘n blink marmer ontvangslokaal, beautiful dakrestaurant en ek slaap soos die hoofmeisie van ‘n harem op die mooiste hemelbed. Saans wag ons vir die Imam se roep voor daar bier gedrink word op die dak. Onder lê die wriemelende strate van Stone Town en afgedopte mure van ‘n blink verlede. Laataand lê en dink ek aan Freddie en weet skielik wat sy inspirasie vir “ I want to break free” was – sekerlik ‘n hunkering terug na sy eilanddae as kind in ‘n land van oorvloed, glimlagte en vrotsokkie-vrugte.

 

 

Van Dopstelsel tot Salvador Dali

Iets oor myself – ‘n bietjie “navel gazing”:

Wat is jou vroegste herinnering?

Ek is so vier jaar oud en ry in ‘n mandjie agterop my pa se trekker in die nag terwyl hy die lande omploeg – hy kon my nie alleen by die huis los.

Wat het jy die meeste op skool geniet?
Pouses, vriende en ou Chief  se vreesaanjaende Biologieklasse.
Noem 1 ding waarna jy as kind gesmag het.
Ongekende smagting gehad na die wereld anderkant die bult, wat net agter ons plaashuis was. Het gereeld my klein bruin tassie gepak met een pantie, ‘n rok, toebroodjies en my peanutkombersie. Dan aangekondig ek gaan nou op reis. Geloop tot bo-op die bult en gewens ek het die moed om tot by die grootpad te loop, op ‘n trein te klim en die wye wereld in te vaar. Kon ure lank droom oor die wereld anderkant ons plaas.
Wat wou jy eendag word as jy groot is?

Wou vreeslik graag ‘n rooiworsiefabriek besit – rooiworsies en chips was vir my die lekkerste, beste, grootste treat ooit!

Wanneer het jy die eerste maal wyn gedrink?

Ek het op die dopstelstel grootgeword. My pa het ‘n oor aangesweis vir ‘n klein visblikkie en ek het elke aand saam met Klonkies, Alfred en Pietman in die ry gestaan vir my bietjie Vaaljapie.

Wat is die ergste date waarop jy ooit was?

Vriendin het my een aand saamgeneem na haar date se huis. Haar kerel se vriend is toe ook daar – met ‘n vuilerige pruik, ‘n liggeel kortbroek en bruin check hempie. Ek het my doodgegril vir die man. Gelukkig het hy die vibes opgetel en nie nader beweeg.

Wat is die malste ding wat jy al ooit aangevang het?

Bloed geskenk vir 20 dollar ‘n pint – New York. Nogal drie dae in ‘n ry. Was aan die einde van 8 maande se reis deur die VSA en het niks geld oorgehad vir die youth hostel.

Het jy enige verborge talente?

Ja, nou hidden, maar op skool was dit algemeen bekend. Het altyd gesing op konserte.

O ja, ek kan ook altwee my oge teen ‘n vreesaanjaende spoed al in die rondte draai – gelyk. Glo my ek lyk erg “af” tydens hierdie trick.

Noem iets wat mense nie van jou weet nie.

Ek het eenkeer aaptwak gerook saam met ‘n rabbi (ja jy lees reg) in ‘n jeughostel net onder die Masadaberg, Israel.
Vertel vir ons ‘n snaakse familiestorie.

My suster se seun was altyd baie sedig/ ernstig. Kleintyd het hy baie graag hul huisfoon geantwoord en dan probeer ek altyd geselsies maak met hom.

Ek: “Hallo Ryntjies, wat maak jy?!”

Ryno: “Ek staan op die mat.”

Hy is vandag nog ‘n man van min woorde.

Waar sien mense jou nie dood of lewendig nie?

Orania
Was daar al ooit in jou lewe iets waarvoor jy doodsbang/ beangs was?  

Dikwels – met elke nuwe projek of reis wat ek aangepak het. Ek is egter nie bang vir die donker, bose geeste ens nie, maar wel vir vals mense – verskriklik!

Van watter buitemuurse aktiwiteite hou jy?
Sunset pieknieks by Clifton en om my kar te vind in die parkeerarea.

Waar is jou mees fav plek in die wereld?
Stari Grad, Hvareiland in Kroasie

Hoekom hou jy van bogenoemde plek?

Die ongekunsteldheid van die eilandlewe, regte-egte organiese kos en geen besoedeling of misdaad.

Wat is, sover, die belangrikste gebeurtenis in jou lewe?
Weet dit klink cheesy, maar my kind se geboorte en grootworddae – elke dag. Vir iemand wat nooit baba-betotteld was of skuim om die mond gekry het ten aanhore van domestic life nie, was en bly dit ‘n aangename verrassing.

Waarvoor sal jy graag onthou wil word na jou dood?
Dat ek altyd myself was en die wereld deurkruis het.

Het jy enige fobies?  
Ja om oud te word – soos in hulpeloos en weerloos en nie te weet wat om my aangaan as ek sit en kwyl op my stoel nie.

Dink jy, jy het ‘n doel of roeping in die lewe?
Ja om ander mense rondom my gelukkig te maak – sover moontlik.

Noem drie eksotiese lande wat jy graag sal wil besoek.
Montenegro; Cuba en Alaska
Glo jy in ruimtewesens of lewe op ander planete?
biedie biedie, oor na jou ET! Nee glad nie.
Glo jy in spoke?  
Gedagtes en slegte herinneringe kan jou “haunt”, maar g’n spook het my al ooit agterna gesit.

As jy en net nog een persoon oor is op aarde en jul is albei van dieselfde geslag – sal jy gay draai?
Nee, maar ek sal nie omgee as die ander een gay is nie – if she is happy then I am happy!

Wat is volgens jou die grootste uitvinding van jou leeftyd en hoekom?  

Die internet – die wereld van kennis het ontplof vir almal.

Wat sal jou droomberoep wees?
Reisskrywer

As jy jou naam  kon verander wat sal jy jouself wil noem?
Milan (soos in Milan Kundera) – klink net mooi 
As jy met enige persoon (lewendig of dood) op ‘n reis kon gaan, wie sou dit wees en waarheen?

Salvador Dali – deur sy hele lewensreis.

 

 

 

 

 

Knysna-dae in Januarie

Die lagoon hier voor my is vol wit seeperdjies  en seilbote dobber dronkerig rond op die water. Hier van ons stoep af sien jy The Heads na links, ‘n stukkie van die pad wat inkom van George se kant. Dit krioel met karre oppad na erens. Die Thesen Island week vroeg in Januarie is al ‘n jaarlikse instelling – so ‘n week se oulaas-vakansie voor die tog terug Kaap toe. Dit is my-tyd, ons klein familie van drie se tyd en voel-soos-‘n-toeristyd.

Hier is al die blink winkels van enige groot dorp in Knysna, maar vir my le die genot in die winkeltjies met name het soos “One Stop Bargain Shop”,  “Magie se Spaza-Spasie” en die Knysna Hospice winkeltjie. Moet dan ook nie vir Pep Stores vergeet nie – nou wel ‘n bekende “brand name”, maar nie so beskikbaar in vooruitstrewende hange van Tygerbergheuwels nie. Ek loer by elke donker deur in en loop van rak tot rak en verwonder my aan die ware wat vir elke winkeleienaar geld inbring. In elk van hierdie winkeltjies kry ek iets waarsonder ek nie kan leef nie, maar wat ek nooit voorheen besef het nie.

 By die spaza kry ek twee verblindende, blink blikemmers wat net die leemte in my huis van ys-en drankkoelhou-emmers behoort te vul.  Die hospies het ‘n melkbekerdoilie met die mooiste reenboogkrale wat pragtig op die gastekamer se kopkussing sal lyk. In ‘n hoekie hang ook ‘n klein kanthandsakkie wat seker eens vir ‘n spesiale geleentheid gekoop is.  Dit ruik na 4711 en motbolle, maar ek moet dit he – my aandhandsakversameling van 26 kan nie sonder hierdie roomkleursakkie klaarkom nie.  Die bargain negosiewinkel het presies die grootte linoleum wat in my badkamer gaan mooi lyk (ja ek weet die res van Welgemoed is al op houtvloere en travvetine teels, maar so what).  Pep Stores het die mooiste geblomde sakdoekies en hulle is perfekte servette by my versameling ou, ompaar koppies en pierings.  ‘n Kantjie omgestik en wie gaan nou dink mens kon eens jou neus hierop snuit?

Oppad terug gastehuis toe sien ek ‘n tandlose omie in sy vessie sit by ‘n paar draaddiere – grotes, kleines, skewes, mooies en meer lelikes. Hy waai vrolik en ek stop maar.  Ek sien dadelik die draadhaas met sy steroid-ore en geroeste ribbes.  Hy vra  R50 en ek kibbel nie eens, want so ‘n haas ruk mens nie aldag uit die hoed.

Later ry ons na die valke-plaas toe oppad na Plettenbergbaai.  Die vrolike kelnerin kom van Pietersburg, maar wou eintlik drama swot –  sy het die bus geneem en toe net besluit om af te klim hier tussen Knysna en Plet – lank voor sy by die kollege in die Kaap kon uitkom. Teen die einde van ons tee en skons weet ons wat haar ma se naam is, haar pa se drankprobleem is en ook dat sy ‘n kleinboetie het wat hiperaktief is. (Ek sou ook die bus gevat het…)

Terug op Thesen Island stap  ek neus teen die ruit verby al die goed-gemodelleerde winkels en ook hier is die beursie nie stram nie – net natuurlik teen heelwat duurder. ‘n Bleek-dowwe kantrokkie word gekoop omdat die  boetiek se aantrekkamer so mooi is.   By OM koop ek ‘n voorskoot en ek maak nie eens kos nie.  Net langsaan is die mooiste skoenuitstalling, maar gelukkig lyk my kort bene erg stuitig in kort bootse of hierdie nuwe boot-sandale en ek kan gerus verbystap. Dan wink Panakuk en met die beste pannekoek en wi-fi is ek gehook (skies vir die pun).

  

In hierdie deel van die dorp is die restaurante ingeryg en elkeen se dekor spreek van goeie binneversierders, dure kombuisapparaat en gesiene klante. My stoel is egter elke oggend bespreek by Jamie Bleu met sy ompaarstoele en -tafels, vriendelike vrouens wat daar werk en roereier op toast waaroor jy nie kan sien nie. Hier kyk jy uit oor die lagoon en sien elke boot verbyvaar – elk op sy eie tydskedule.

Laatmiddag haal ons yskoue wyn uit en sit langbeen op die balkon – wag die skemeraand in. Onder is die vissermanne ingeryg soos sardientjies op die seemuur en nou en dan flits ‘n blinklyf wal se kant toe.  Tyd tik stadig af en vir ‘n oomblik verbeel ek my dit kan dalk stilstaan, maar dan sak die son en jy weet: nog ‘n kosbare vakansiedag is verby.

Leeflysie vir 2011 (oop vir aanpassings)

2 Januarie 2011en ek is nog steeds heelwat kilo’s te swaar bevind en ten minste 6cm te kort vir meeste klere in die winkels. Altyd gebaffle oor ontwerpers wat dink bree mense is ook lang mense – nee, nee! kry asb die boodskap: hoe korter hoe ronder! Maar wag dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Waaraan ek wel nie te swaar dra of te kort skiet nie is my entoesiasme vir geleenthede uitsnuffel, maak; forseer en inryg om my jaar vorentoe interessant te maak.

Hierdie nuwe jaar is klaar oorgewig gelaai met gebeurtenisse en planne wat my lewe  “worth living”  kan maak. Meeste is reeds bevestig, geboek en uitgesorteer en dit nogal deur iemand wat haarself nie juis vreeslik vooruit wil laat vaspen nie…

  • Canon fotografie-kursus sodat ek en Miss Clic mekaar beter kan verstaan
  • Francois se koshuislewe begin op Stellenbosch – ver van sy grootste “fan” sy ma
  • Lekker familietroue in Darling – Jani en Ross (April)
  • Kroasie – huisie by die see, Stari Grad, Hvareiland (Mei)
  • Slovenie – Ljubjlana Lipizaner perde  en Jazz Festival (Junie)
  • Montenegro – Sveti Stefan (Junie)
  • Francois kom aan in Split en ons verf die strate verder reenboog (26 Junie)
  • Budapest – ( begin Julie)
  • Tours – Loire-Vallei: huisruil met Franse onderwyser en sy verpleegsustervrou vir 2 weke (Julie)
  • Parys  – klim al die trappe uit by Eiffeltoring (asem jaag sommer as ek net daaraan dink), eet gebak langs die Seine en gaan loop nogmaals om en in die Pompedoursentrum – ongelooflike argitektuur buite en mooiste moderne kuns binne.
  • September – verjaardagmaand van vele familielede –  koek en tee!
  • Oktober – nog ‘n lekker familietroue (James en Helene?)
  • Desember – my ou geliefde wederhelf raak 50 en beplan iets lekker!

Ek is egter seker as jy mooi dink het jy ook al ‘n lysie vol pret en vooruitsigte vir 2011.  Laat weet my wat, waar en wanneeer!

Gaan direk na nutsbalk.