Skip to content

Monthly Archives: Desember 2010

Gebreekte mosselskulpe en ‘n bamboeswindjie

 

 Erens in my dna gevleg sit die bossiereuk, stukkende mosselskulpe se geknars en die druisende branderbreek van die Weskus.

 

Om Weskus toe te ry is ‘n belewenis op sy eie. Van ons af deur die wingerde verby Bloemendal taphuis, Hilcrest en Durbanville Hills wynkelder. Dan reeds in die verte die deinserigheid van Bloubergstrand. Al met die N7 langs tot by Melkbosstrand se afdraai en jy weet jy is nou-nou op die weskuspad. Erens voor die Darling/ Yzerfontein-afdraaie sit ‘n heerlike padstal op regterkant. As jy uitklim groet die weskusbossiereuk gemeng met pas gebakte brood jou al by die kar en jy loop al agter jou neus aan om proviand te koop vir die tog vorentoe.

Van hier af jaag ek resies met die branders tot kort duskant die Weskus Nasionale Park. Vandag is ek spyt ek kan nie gou by Geelbek Restaurant inloer en van Elmerie se lekker troetelgeregte proe nie, maar ons is oppad Dwarskersbos toe vir die naweek. Ja verby Langebaan die snob; verby Vlakvarkgat die paartie-seun en Saldanha die blue collar-werker van die familie.

Links le die geroeste staalfabriek en op die verste koppie lê Vredenburg en bak in die laatmiddagson. Voor jou span die pad snaarstyf Velddrift se kant toe en dan sien jy skielik die pienk flaminke grasieus pirouette op een been in die vlak moeras – reg voor die Riviera Hotel. Die soutpanreuk gemeng met visafval van die Eigelaars se fabrieke vertel selfs ‘n blinde hy is aan die weskus – die regte egte weskus sonder pretensies, dubbelverdieping-aftreemonsters of kamma-griekse huisies.

Wag, amper ry ek verby die Riviera Hotel – dis dan deel van die Weskus-welkom. Gou ‘n glasie soetes op die stoep wat oor die rivier kyk.‘n Velleriffer se vir sy ou vistermaat: “Jirre swaerg, hiegso loepie vis viddag so gheil hulle wou sogmer innie boot spring”. Ja dis nou amptelik – ek is op die Weskus.

Nog so 14 km aanstoot na Dwarskersbos, maar eers moet jy by die padstalletjie stop wat Sandveld spanspek en waatlemoen verkoop. Die verkoops-girl waarborg die waatlemoen vir 30 dae! Ek koop een van alles op display en stoot die kar se neus Dwars toe.

Dan sien ek Calima se blou en wit seehuisie gepak met skulpe, rooiwyn en ‘n antieke lampie uit Buenos Aires. Laatnamiddag stap ons oor ‘n wydgespande strand met pienk en goue linte wat met die son oor die horison hang. Hierdie is een van die veiligste swemstrande aan die weskus – geen gevaarlike seestrome of makgemaakte vakansiegangers wat alles kom omdolwe met 4X4’s of waterponies nie. Ons drink ‘n glasie sjampanje, tel stukkende skulpe op vir servetringe en stap sleepvoet huistoe agter Laslappie (Calima se hondjie) aan.

   

  

 Vroegoggend weer in die pad – die keer Jacobsbaai toe vir middagete. Tussen Vredenburg en Saldanha draai die pad af na regs en jy gly oor heuwels en tussen plase deur tot die see voor jou op-en-af wip soos ‘n nuwe kastroldeksel – regs le Swartriet, maar ons mik links na Jacobsbaai en dan spesifiek die Weskusplek wat met sy voete speel in die sout bamboeswater van die klein halfmaan baaitjie. Wille Magrietjie is ‘n snuffelwinkeltjie wat knus leun teen die restaurant en strand. Hier koop ek en Merlene elkeen ‘n ring, rooibos- en- gemmer handeroom en twee pare oorbelle! Nou is ons reg vir eet.

      

 Die lekkerste tafel op die stoep maak seker ons kyk oor die ronde klippe van Jacobsbaai waar seevo?ls om die beurt sitkry en op visse spioeneer. Van êrens uit die eetplek kom die klanke van Steve Hofmeyr. Oppad kleedkamer toe hang ‘n lewensgrootte foto van Steve en op die kaggel is sy persoonlike familieportrette (of so lyk dit altans vir my). Die Weskusplek behoort aan Steve en Dawie Roodt en ek is sommer vies dat Gautengers beter visie as ons Kapenaars gehad het, want hierdie is ‘n weskuspêrel, blinkgevryf en mooi ingeryg teen die fliekmooi baai. In die vlak water vang twee seuntjies klipvisse en kleinsus plas met parmantige boksterte agterna. Die calamari is sag met ‘n crisp deeglagie wat heerlik afgaan met ‘n glasie witwyn. Net genoeg om nie jouself teesinnig te eet en met kwade gevoelens weg te ry nie. Vir oulaas stop ons op die grondpad bokant die baai en ek kliek vinnig ‘n memory of twee op kamera. Te gou, te vinnig is die dag verby. 

 Voor ons huiskry gou stop by die Lapa naby Dwarskersbos – ‘n riet- en houtlapa met ‘n bar, ruwe tafels en nog rowwer karakters. Ook hier gly die strand eindeloos en godsverlate verby met mosselgruis, platgespoelde klippe en melkbosreuk. Net die plek vir ‘n sonsonderknertsie, maar nie vanaand – Laslappie wag al heeldag vir ons.

 

Vroegdag by die blou-en-withuisie begin met moerkoffie, Sandveld-waatlemoen (die 30 dae gewaarborgde een) en beskuit. Daar is geen rede om die vrug terug te neem en alles word verorber tot net die dun groen skille nodeloos rondlê. Die bamboes-seelug hang deur die huis en kleef selfs aan jou hare – die onvergeetlike reuk van my kinderdae weer onverwags raakgeloop hier aan die weskus.

Vandag draai die rooi karretjie se neus Paternoster se kant toe vir die langverwagte middagete by Die Gaaitjie. Hier kom jy egter nie uit voor jy nie by “Oep vi Koep” (die winkel op Paternoster) gestop het vir druiwekonfyt en vrylekkers nie. As jy gelukkig is kry jy pakkies visbiltong (bokkomrepies), maar moenie oopmaak voor vreemde mense nie – hulle gaan jou skeef aankyk. Oorkant die Paternoster Hotel, tussen die bloekomstamme, hang die kreefmanne rond en jy kan enige grootte of ouderdom koop – een tip, as dit nie meer roer nie, roer jy dan maar aan.

     

Onder by die vismark lê rye kreefbakkies (bote) van elke kleur waar kinders rondwemel, klouter en kammabestuur tot agter die laaste deining. Aan hierdie markkant is klein ant Katie. Sy swaai die septer groot, want sy is die matriarg en voorsitter an die vismarkbestuur. Met haar on-site vis en tjipswinkel hou sy ‘n wakende oog. Haar kyk is reguit en haar praat is klaar.

Tussen die vissershuise deur kronkel jy tot amper teen die see en hier sit Die Gaaitjie restaurant. Op die voorstoep verwelkom ‘n embuia tafeltjie en twee 70’s nagemaakte leer-halfmaanstoele jou. Deur die koel eerste kamer, deur die kombuis tot by die agterste deel –tot net langs die stoep word ons gelei na ‘n tafel / bank vol kussings en ‘n Louis Vuitton ysemmer. Het ons ge-arrive of net aangekom? So skuins deur die venster lê die blou see en as ek verby die buurman se hoed loer sien ek selfs ‘n vistreiler of twee. Suzy die eienares is nie vandag hier nie en ‘n nuwe kelnerin vergeet ons wyn, kosbestellings en water. Gelukkig is ons in vakansieluim en vra maar weer. Langs ons is die tafel egter nie so inskiklik en die paartjie maak gereed om te loop voor hul bedien is – wag blykbaar reeds ‘n uur vir kos. Dis twee lieflike mense en op die koop toe die regte “old man” van Groote Post Wynlandgoed naby Darling – die Pentze. Gelukkig daag hul kos op en ons word ook bedien met heerlike seekosgeregte. Die afskeidsgeskenk van ons nuwe vriende is ‘n yskoue bottel Old Man’s CCM sjampanje – van die oorspronklike “baas van die plaas” – baie spesiaal. Net op die Weskus maak jy vriende in ‘n oomblik en bly getroue volgelinge for life.

  

Die dag word afgesluit met ‘n bottel Old Man’s Blend Red (ja, mos gesê) op die sinkgebou-restaurantjie, Voorstrand se stoep. ‘n Beter naam kan ek nie maklik aan dink – dit sit letterlik voor op die strand. Ma’s, Pa’s, Ouma’s en kleinkinders kuier almal gesellig op die stoep en die wat lus het gaan stap ‘n draai op die strand of speel bal op die sand – alles nog binne stemafstand van almal – alles terwyl borde stomende snoekkoekies of gebraaide kreef ongemerk uitgepak word en glase nogmaals gevul word. Saam met die son sak die glase wyn en albei se rooi skynsel bly as herinnering van nog ‘n onvergeetlike naweek teen die Weskus.

  

Saligheid in San Telmo

Dis 3 Januarie 2010 en ek bespreek my kaartjie – Kaapstad na Buenos Aires  – vir September.  Die epos word uitgestuur na alle vriendinne met die datum, vlugtye en nommers, want ek verjaar en wil dit erens vier waar ek nog nooit was. 

Vrydagmiddag, 17 September 2010, 17h35 land ek en nog drie vriendinne van SA op Buenos Aires lughawe.  Ruben, die Argentynse gids laai ons op en my sy gekleurde “kwaf” en slap polse vee hy summier my kopfoto van smeulende Argentynse studs tot ‘n ink-blur. Sy vriendelikheid en georganiseerdheid maak darem op vir die gebrek aan haarstyl en rittelende spiere.

Ons huur ‘n huis in San Telmo, die ou deel van Buenos Aires, wat bekend is vir sy antieke winkels en Sondag straatmarkte.  Voor die deur staan en trippel drie ander vriendinne van Kanada reeds toe ons stop en almal ontmoet, herontmoet en lag gelyk.

So lyk die vriendekring vir die volgende 7 nagte:

Calima van Van Riebeekshof, Bellville – enkellopend, opinionated en in beheer van groot projekte by ‘n Northlink kollege. 

Shirley van Tokai – enkellopend, no-nonsense girl met groot konneksies onder die struggle elite en pas afgetree as hoof van Corporate Education, Pentech (nou CPUT).

Merlene – enkellopend, suksesvolle besigheidsvrou van Mouillepunt met ‘n sterk aar Joodse-boerebloed.

Ziza – Portugese ma van drie met ‘n  Hollandse man en kunsgalery in British Columbia, Kanada.

Ann – Australiese ma van uit-die-huis kinders, getroud met ‘n prokureur en woon in Hope, Kanada – ‘n deurwinterde wereldreisiger en caring engel.

Anelia – oorspronklik van Piketberg, maar vir vir 20 jaar reeds in Hope, Kanada. Free spirit, in serious need of Ritalin, kunstenares, juweleontwerper en superatleet.

Keiko – enkellopende Japanese skoonheidsterapeut met ‘n onblusbare lus vir organisasie, skoonmaak en rooiwyn.

Myself – boeremeisie, grootgeword in Vredendal en tans woonagtig in Welgemoed.  Onblusbare lus vir die onbekende, mense en om herinneringe te versamel.

Met meeste van hierdie groep is ek die enigste gemene deler – dws almal ken nie vir almal nie.

Ons huurhuis in Estados Unidos het vyf slaapkamers, drie onthaalareas, vier badkamers en ‘n daktuin wat uitkyk op die bure se reuse satellietskottels.

Daar word uitgepak, nesgeskrop en voorraad gekoop by die naaste supermark.  So gou moontlik sit ons almal in die binnehof met ‘n glas SA wyn (al die pad saamgevlieg) en ruil snippets van ons lewens uit. Daar hang afwagting en opgewondenheid oor ons, want die volgende 7 dae is net ons vrouens s’n – vir ontdekkings, saamkuier en wegraak in Buenos Aires.

Sondag in San Telmo:

Op die natgedoude plaveistene van ‘n bree San Telmostraat pak informele handelaars reeds van vroegmore af hul ware uit – tafels en vertoonrakke is oorbodig – hier gooi jy net ‘n gekleurde lap neer en rangskik juwele, sponsdiere of ‘n marionet tot finansiele voordeel vir elk.  Rastas, gypsies, ou verkreukelde argentynse tannies en snotkoptieners staan skouer-aan skouer met iets te koop, iets te eet of iets te sien – alles teen ‘n minimale prys. Op die een straathoek dans ‘n bejaarde Gardella-lookalike met homself ‘n tango en verder af sit ‘n afkop straat”standbeeld” op ‘n stoel langs sy geroeste blikkie vir geld. ‘n Man en vrou met oostewind jaspante, ‘n wegwaai das  en ‘n sambreel wat omdop in die wind stap verby, maar iets pla, want hier waai geen wind – dis ook straat  performers en ek is seker hul show lees ‘n Argentyns “windverwaai”. Deur op deur lei na antieke stukke van ‘n tyd toe die elite van BA hul skatte moes verkwansel om te oorleef.  Die regering van daardie tyd het al die geld in banke gevat – ja, letterlik gevat en dit was al manier om inkomste te kry – verkoop jou perels, verkoop jou kristal en bied jou 1962 oranje telefoon te koop aan vir versamelaars van die verlede.

    

Van ver af hoor jy reeds die geroffel van tromme – al nader trom dit tot die aarde onder jou voete dril en dan sien jy die 30 stuks tromspelers afloop in ‘n oorvol straat. Oral langs hulle dans verbyloopvroue spontaan tango steppies – ‘n kop word skalks gedraai, ‘n heup wulps geswaai en ‘n statige ou dame (diep in die 70) skop die voet guitig na voor en agter met ‘n glimlag wat draal.

Op die plein staan ry op ry antieke ware stalletjies, maar werklike winskopies is skaars en slegs rye en rye spritzer bottels wag in gelid. Tog snuffel almal verbete vir die verborge bargain of ‘n stukkie nostalgie om huistoe te neem.

Op die ander hoek speel die oeroue taffereel van ‘n liefdesdriehoek hom af op ‘n tangodansvloer van 2m by 2m.  ‘n Bejaarde tangodanser smeul wang teen wang met ‘n veel jonger dame op die dansvloer.  ‘n Veel ouer tangodame met geelblonde hare, ‘n te klein royal blue strappiesrok en te veel rooi lipstiffie tik die jonger dame op die skouer en wys haar die deur (of liewer die rand van die dansvloer) en begin self die dans van liefde met haar amper-verlore dansmaat. Hul lywe word een en hul passies ‘n geheel – soos net ou getroudes weet na jare van saamtrap. By die laaste note van  die konsertina klap die skare spontaan hande en gooi hande vol geld in die hoed.

Laer af in die straat staan rye gepak met Buenos foto’s, skiderye in waterverf, olieverf en self papierplakwerk. Ek koop ‘n triptiek met ‘n straatkafeetoneel wat oopvou om ‘n tangopaar te onthul  en erens agter ‘n potplant loer ‘n swart kat uit. Mate (kruietee) bekers van elke ontwerp ingeryg soos krale in en geblomde leerware wink in elke vorm en kleur na jou sintuie.  Jy draal by elke stalletjie – nie omdat jy iets wil koop, maar om ‘n ‘n geheuefoto te neem wat gevul is met kleur, geur en atmosfeer.

Laatmiddag speel ‘n groot orkes tangomusiek voor die plaaslike katedraal en jy raak saam met vyftig of meer  vreemdelinge weemoedig oor  die trekklavierklanke wat huil van verlore liefdes en passievolle tangonagte wat dalk nooit eers was.

Teen aandskemering begin elkeen stadig hul ware oppak – die einde van nog ‘n Sondag in San Telmo.

Oppad huistoe loop ek trompop in Johnny Depp se Dr Hook vas – iemand neem ‘n foto en ek smile. Vir oulaas  huiwer ek nog ‘n rukkie by ‘n straatkafee met ‘n Coronabier en ‘n ou Fordbakkie met vier verskillende kleure verf.

                        

                          

Krismisblues

Dis die tyd van die jaar wat ek haat.  Ja dit klink erg – miskien exagerate ek bietjie, wel … dan liewer …. nie baie van hou nie. Hoekom weet ek nie eintlik nie, want ons susters gaan vroegtydig op (meer as een) Krismisuitstappie/ ete/ inkopietog. Oral speel mooi musiek en kinders loop gelukkig in die winkels rond agter ma en pa, want hul weet dis persentkooptyd. Almal stuur mooi boodskappe en nooi jou na lekker jaareind-kuiers en laataand-tequilas.  Maar nee, ek hou niks van die aanloop na Kersfees of die dag self nie.

Dis ‘n tyd wat my vul met ‘n onderlangse weemoed en soos my ouma Lenie dit so goed verwoord het:  rondloop met my siel onder my arm. Ek doen alles in my vermoe om die gevoel weg te gesels, kuier of weg te loop, maar dit hang erens in die lug tussen my en die res van die wereld se vrolikheid.

Daar word beweer dat  Kerstyd die hoogste selfmoordsyfer het en ek kan dit soort van verstaan.  As ek so voel – wat omring is met vriende, familie, persente en vrolikheid – hoe voel die persoon wat ‘n geliefde afgestaan het/ werk verloor het/ ver van familie is/ mishandel word en min of mooiweersvriende het?

Kerstyd “is not always what it seems” rondom jou.  Mense glimlag terwyl hul harte huil. Iemand staan netjies aangetrek langs jou in P & P, maar gee ‘n laaste R20 uit en dis nog net die 11de van die maand. ‘n Seuntjie skop ligvoets die bal oor die gras, maar  in sy huis skop pa vir ma.  Twee strate van jou af huil ‘n meisie hartverskeurend oor ‘n verlore liefde – hierdie kersfees is sy gestroop van ‘n toekomsvisie.

Ek vra mooi dat jy wakkerkyk om jou en hand uitsteek in hierdie tyd.  Nooi die enkellopende wat nagskof moet werk vir Kersete, gaan haal die bakleibure se kinders om saam met jou die kersboom op te maak en maak seker jou huishulp en tuinjong se kinders het almal kersgeskenke (nie net ‘n bonus vir ma – dit stop net noodgate toe).

 En belangrikste van alles…

Gee liefde, gee vriendskap en gee jou tyd.

Iemand stuur hierdie eg-Kaapse Krismisboodskap vir my en ek deel dit graag met julle:

Merrie krismis
Heppie nuwejaar 
As djy vat, vat versigtag
En hou jou hare bymekaar

Groetnis byrrie hys
Hou lekka paartie
En braaivleis,
Groetnis virrie taanie
en al die laities
Se vi ma ” I love u”
En vi derra the message is vi hom oek
Se vi coussie,ons stiek
Soes masels yt
Om die big days te celebrate

En , kykie ,
Loep wys jou gavriet byrrie kerk
Doen tog ‘n slag
Die Jirre se werk
Se virrie Father,
“Thenk U” virrie jaar
Want jou lewe is darem nog bymekaar!!
Ons Ko maak Krismis ‘n draai!!!

Emmersvol geleef

Daar is twee emmerlyste in my huis. 

Die UIT-emmer vir dinge waaroor gedroom en afgetik is en die IN-emmer vir drome wat nog net presies drome is.

UIT-emmer

  • Road trip met ‘n beach buggy van Durban na Kaapstad
  • Oujaarsaand in Parys, langs die Arc de Triomf
  • Olifanttrek in Thailand
  • Sonsonder op Tafelberg met egte sjampanje
  • Ry van San Francisco na New York per motor (Route 66) vir 10 dae 
  • Woon ‘n regte rodeo by in die Midwest
  • Besoek Nashville gedurende  National Fan Week en dans in die Bullpen Lounge terwyl Kenny Rogers optree
  • Besoek die meredistrik in Engeland in die hartjie van die winter – sneeubedek, kerskaartjiemooi
  • Kuier in Beatrix Potter-museum vir ‘n dag lank
  • Nylvaart – besoek al die ou stede van Pharao en sy makkers
  • Sien die Egiptiese piramides en ry ‘n kameel
  • Stap die Masadaberg uit te voet – Israel
  • Swem by Pamukale, Turkye
  • Slaap op ‘n dak vir ‘n week – Kas, Turkye (oor Kas gedroom en toe per ongeluk op dak geland)
  • Gaan kyk 11 shows in een maand – London se West End
  • Ry met die Green Tortoise Hippiebus van Seattle na San Fransisco en sauna by Cow Creek
  • Swem by die See van Galilea
  • Eet kaasfondue in Chamonix, Switzerland
  • Toer met die Amalfikus langs vir twee weke
  • Staan voor Evita Peron se graf in Buenos Aires
  • Sien die tango soos dit gedoen MOET word – Buenos Aires, Argentinie
  • Ry op die River Plata, BA
  • Stap in Junior Boca se stadion rond en neem ‘n foto saam met Maradonna se standbeeld – BA
  • Sien die kleurvolle huisies in La Boca – BA
  • Eet ‘n rocket, rosa-tamatie en mozzarella pizza in Rome
  • Sien die Cistene Chapel van naby – Vatikaanstad
  • Staan voor die Dawidbeeld in Florence
  • Sien Van Gogh se sonneblomme in Amsterdam
  • Neem deel aan Koninginnedag in Amsterdam – alles is oranje!
  • Stap deur die Alambra – Spanje
  • Eet “rabo de torro” (oxtail) soos net die spanjaarde dit kan voorberei – Toledo, Spanje
  • Sit op die Spanish Steps  in Rome en luister na die polisie-blaasorkes (blaasorkes was ‘n bonus)
  • Eet eg-Italiaanse roomys langs die Trevifontein en gooi ‘n muntstuk in (want wil graag weer terugkom)
  • Koop ‘n heks-marionet in Praag
  • Stap teen sononder oor die St Charlesbrug, Praag terwyl kunstenaars sing, dans en skilder.
  • Goulash-Suppe en Duitse Weissbeer in Munich
  • Snorkel by Eilat, Israel en sien die mees amazing seelewe
  • Dans die askoek saam met ant Grietjie op Kamieskroon
  • Sien die mis toetrek oor Swakopmund
  • Staan in die ry vir Mona Lisa in Louvre, Parys en kry haar darem te sien – baie vinnig.
  • Bly in die ou Medina van Fez (Marokko) vir ‘n week en sien ambagsmanne wat kamme maak van kameelbeen, kleurputte vir leer en mense wat in grafte woon.
  • Die eerie klank van ‘n  Imam se roepstem om te bid wat sweef oor Istanbul se strate
  • Swem by Vela Stineva, Hvareiland, Kroasie
  • Ry kuslangs van Dubrovnik tot Trieste en stop by klein dorpies, groter stede en selfs afgelee huise vir koffie.
  • Staproete van Plitve Jezera, Kroasie – die mooiste mere in die wereld
  • Maak ‘n sneeu-engel naby Vukovar
  • Ontvang ‘n klein ikoon (gratis) van ‘n wildvreemde priester in Varazdin, Kroasie
  • Stap die Paasroete tussen vyf kerke in Stari Grad met my kersie in die hand
  • Bly op ‘n “house boat” in Amsterdam
  • Besoek Friday Island in Puget Sound, VSA
  • Eet haaisteak op Phi Phi-eiland
  • Salvador Dali-museum buite Barcelona – een die hoogste, hoogtepunte in my lewe (sover)
  • Drink tee saam met die Karen tribe se Paduang-vroue (giraffe or long-neck people) op die heuweltoppe in Thailand
  • Dans saam met die Kaapse Klopse by die Lambertsbaai Kreeffees (darem lank gelede…)

Word vervolg/…

Marko Place

Waar ons bly – op die rand van die dorp – is net lee vakansiehuise en ‘n buurman wat heeldag seekatte vang vir Restaurant Antika se menu. Die paadjie dorp toe kronkel ‘n kilometer lank deur ‘n laning dennebome – al langs die natuurlike fjord. Seewater klots baldadig teen afgedopte bootjies terwyl die huise en winkeltjies van Stari Grad een vir een uitdop agter bome. Hierdie paadjie is vir vier maande ons lewensaar na kos, vermaak en mense.

Dis laatmiddag aan die einde van herfs. Die Maestral huil mistroostig om die klipgeboue terwyl ek en Francois aanstap na Marko Place vir ‘n stukkie warmte en ‘n paar gesigte – al is dit ook vreemdes met ongewone taalklanke en drinkgewoontes.

Hierdie tyd van die jaar werk hulle aan die rioolstelstel van Stari Grad wat oor die 500 jaar oud is en ons het skaars gesit toe stroom 12 werkers in. Die duikers (rioolstelsel eindig onderwater in die baai) is nog sopnat en die klipkappers vaal van die Brac-klipstof wat opgelig moet word voor jy by die pype kom. By ‘n lang tafel sit afgeremde gesigte op elmboe en wag vir die pot van die dag – grah of fazol soos die eilandbewoners dit noem. ‘n Sop-bredie met bone, uie, knoffel, vegeta en ‘n gekruide wors amper soos chorizo vir ure geprut tot alle smake saamgesmelt het vir een groot lekkerte.

Onstwee volksvreemdes word aangestaar asof ons maanlinge is – hier eet vrouens en hul kinders nie alleen op ‘n weeksaand waar mans hul werkskos geniet nie. “In fact” net toeristevroue eet ooit alleen by ‘n restaurant en dan ook net in seisoentyd. Francois gryp sy sokkerbal en binne minute is hy en die kelner in ‘n stewige wedstryd gewikkel. Ek drink maar ‘n “gemist” en kruip weg agter ‘n boek – my enigste engelse boek gevind in Split twee dae tevore. Nooit gedink daar bestaan plekke waar geen engelse leesboeke te koop is nie, maar hier op Hvar-eiland is 2004 nog so goed soos 1904 – geen engelse boeke, taal, tv of koerante. “ Bosnian Cronicle” deur Ivo Andric is ‘n verhaal van suffer, ellende en korrupsie en pas wonderlik by die weer wat nat slierte teen die vensters afsmeer.

Die realiteit van alleenbly op ‘n vreemde plek ver van my man, vriende en familie sypel deur my gemoed en ek wonder waarom ek altyd hierdie dinge aanpak? Ek sien my nie vreeslik dapper, sportief of oorlopensvol selfvertroue nie. Tog is hierdie reeds my vierde “ver-van-almal-wat-saakmaak-tog” – ‘n verskiet in die vreemde toekoms in wat my vul met vrees en soms eensaamheid, maar tog trek dit my deur my hele lewe soos ‘n magneet – noem dit my kleinspeld en grootmagneettye.

Marko van Marko Place Pizzeria knoop ‘n geselsie aan met Francois en vra al die vrae waaroor almal wonder. Met die eerlikheid van ‘n ses jaar oue antwoord hy flink en net so vinnig vertaal Marko vir die res van die gaste. Nou ja, daar weet die hele rioolspan toe ons ouderdomme, plek van herkoms, waar ons nou bly en wat ons in Stari Grad soek (of glad nie soek nie). Koppe skud met vraagtekens en party lyk sommer opreg geaffronteer oor die vreemde vrou se aweregse gerondrinkink en dit nogal sonder ‘n man! In die 18 dae sedert ons aankoms hier word ons oral onderlangs beloer en net Francois kry geselsies en gratis chocolate croissants by Pekarna Paris. Ek staan vreemd en onnodig in hierdie eilandbewoners se dae.

Skielik staan die deur kant en wal toe met ‘n reus van ‘n man met spierwit hare en ‘n baard. Ernest Hemmingway? Ek sweer hy het uit die dode verrys om my te kom huistoe jaag. Joviaal donder sy diep stem “Pelinkovac molim” (Pelinkovac is ‘n kruiedrankie – sterker as witblits) en sonder omhaal plak hy hom neer by ons tafeltjie. ‘n Alkohol en sigaretruik hang tussen ons en ek maak gereed om vinnig te gaan betaal. Terug by die tafeltjie ken Francois drie baie lelike kroatiese vloekwoorde en het saam met “Ernest” al ‘n sigaretboksie aan die brand gesteek in die asbak. Natuurlik weier F om sy nuwe beste vriend te verlaat en ek hang maar nog halfhartig aan die punt van die stoel. Sy engels is splinterig, maar is ‘n oop mens met interessante quirks wat die aand gou laat omvlieg. Ernest is toe al die tyd Marijan Hodak van Zagreb – ‘n dokumentere filmregisseur vir HRT 3, 67 jaar oud, ‘n chain smoker met ‘n nog groter liefde vir Pelinkovac wat vir 6 maande in sy vakansiehuisie kom herstel van siekte. Hy vertel die geskiedenis van Kroasie in ‘n baie kort sinnetjie nl. “Everybody in Europe fucked Croatia sometime or another”. Toe ek later in my gidsboek gaan lees sien ek dis nogal waar!

Ek en Francois het ons eerste amptelike vriend gevind na meer as twee weke op Hvar en al is hy meestal bietjie winddronk, loud, erratic en ‘n brandgevaar weet ons hy gaan die plek vir ons inkleur met stories en inligting oor ‘n plek wat ons glad nie ken. Ons stap laataand terug huistoe deur die lang donker bloekomskaduwees, maar die maan glimlag vol en skielik lyk die idee van bly op ‘n wildvreemde eiland in die middel van die Adriatiese See nie meer so simpel nie.

 

Gaan direk na nutsbalk.