Skip to content

Monthly Archives: November 2010

‘n Split sekonde teen die Adriatiese Kus

 

Paar van die eilande uit die lug geneem

 

Dis Julie, dis somer en Croatia Airlines land op ‘n bewend-warm Split Lughawe  om 12h40. 

Die lughawe is die beste opsie (net mooi in die middel) as jy die Dalmatiese Kus van Kroasie wil besoek. Twee en ‘n halfuur se vlug vanaf Londen of Frankfurt en siedaar jy het die time warp gedoen.

Kroasie is soos die Meditereense See 30 jaar terug – nie oorbenut, oorbebou en vuilgevat deur gulsige toerismehande nie.

Dit beteken dat daar nie ‘n vloot van withandskoentoergidse staan om jou die wonders van die land te laat ontdek nie.  Nee jy stap by die klein lughawe gebou uit oor ‘n onindrukwekkende parkeerterrein en vind die plaaslike bushalte en… dis waar die ongelooflike avontuur van travel deur  Kroasie begin.

Die buskondukteur sweet in sy vessie elke keer as die bus hortend tot stilstand kom vir nog passasiers, maar jy is lig en vrolik want Trogir le net 5km ver van die lughawe.  Hierdie dorpie met sy pragtige ou straatjies wemel van  seiljagte, visruik vissermanne en genoeg roomysstalletjies om enige Eskimo groen van jaloesie te laat.

By Trogir se toerismekantoor vind die vriendelike dame binne 7 minute vir jou die beste kamer in die dorp – lugreeling; en-suite badkamer en ‘n bak vol yskoue vye op die spieeltafel.  Laatmiddag drentel jy saam met almal al langs die Riva en doen wat Kroate doen  – drink ekspresso of ‘n biertjie of drentel met ‘n roomys al langs die skemerwater tot dit tyd is  aandete.

Die volgende oggend klim jy honderde trappe uit in die St Barbara Kerk en word beloon met die mooiste uitsig oor Trogir, Ciovo en tot sover as die eerste gebou van Split self.

Tas oor die kobbelstene  weer oppad bushalte toe.  Die keer weet jy al “Dobro Jutro” (Goeiemore) sal die busbestuurder in ‘n goeie bui sit en hy gaan heel waarskynlik help om jou by die regte halte te laat afklim in Split (daar is nogal ‘n paar om van te kies).

Split, een van die grootste stede aan die Adriatiese kus (ongeveer 110 000 inwoners) is die middelpunt waarvandaan meeste eilande per ferry besoek kan word.  Kroasie het ongeveer 1 185 eilande waarvan 69 bewoon is. Veerbote is dus noodsaaklik as jy wil eilandhop en terselfdertyd die gevoel van seevaart wil kry.

Die Docletian Paleis slaan jou asem weg en so ook die groot snye pizza te koop naby die waterfront. Nou straatjies kronkel jou deurmekaar en as jy weer sien het jy al drie keer die vismark gesirkel. Nie dat noodwendig sleg is nie, want hier sien jy visse, seekatte en seegediertes wat nuwe betekenis aan Fruite de Mare gee.  Naby die veerboothawe is ‘n heerlike vars vrugtemark en Made In China stalletjies wat Bellville stasie na ‘n weeshuispiekniek laat lyk. Ook hier wentel vroegaand-aktiwiteite om die Riva (waterfront) en wie nie stap, babastootwaentjie stoot, fietsry of draf hierlangs nie het nie die “art of living in Split” onder die knie nie.

My eerste eilandstop is Hvar – so een uur en 50 min per boot.  Starigrad is die ankergooidorpie hier en terwyl ‘n lui veerbootomie sleepvoet sy klapperhaarmat uitdra vir die voertuie stap die voetgangers aan wal.  Wat sal dit wees?  Die ou geel skoolbus, die geroesde ou Valiant of die swartroktannie met die verweerde rooms/ sobe teken? Ek dink aan onse eie Valiant Swart en besluit as hy sover kon kom met die kar kan ek seker ook 1,5km ver ry met hierdie geroesde weergawe.

Hvar-eiland is ongeveer 67km in lengte en  4km in breedte en veral bekend vir laventel, uiters skoon lug en reenlose dae.  Talle dorpies polkadot die kuslyn en geen kuiertjie is voltrek as jy nie ten minste Hvar Town,  Vela Stineva en Sucuraj gesien het nie.  ‘n Dagtrippie deur ‘n ou  een-laan grondtonnel neem jou na Dol en Zlatan Otok waar die heerlikste wyn gemaak word van wingerde wat so hoog soos Tafelberg se hoogste piek groei.  Skink ‘n glasie en sip stadig terwyl jy met jou voete in die water skop.  

Swem op Hvar-eiland is ook ‘n belewenis.  Die skoonste, heerlikste warm water waarin jy sommer direk van die rotse af inplons.  Geen sand wat aan die tan lotion vasklou en skawe waar nie geskawe moet word nie.  Hier is meer klippe as in die res van die wereld wat dit geraadsaam maak om swemskoene in te pak, maar as jy eers in die water is, is alles vergete en jy dobber ure lank in jou eie reuse Adriatiese spa!

                              

Saans drentel jy deur Starigrad se strate en hang besluiteloos rond voor storieboekrestaurantjies met name uit vergange dae.  Antika se baas Bosko groet vriendelik vanaf sy bankie voor die deur en bied ‘n knertsie aan vir die pad vorentoe.  Later sit ons aan by Jorin Podrum en lees voorin die spyskaart dat William en Wallace Simpson ook eenmaal vir ‘n hele week lank in die hawe was en elke aand hier kom eet het.  Goed genoeg vir ‘n geabdikeerde koning – goed genoeg vir my ook.

Die volgende aand sing die dorp se beroemde Klapa (mannekoor) in die Petar Hektorovic paleis  – Petar Hektorovic is een van die literere helde van Kroasie en sy somerhuis (paleis) versier die middedorp van Starigrad.  Hier swem visse  lustig tussen visdam en  see en ‘n lieflike tuin sorg vir pragtige agtergronddekor op hierdie sangaand. Die burgemeester maak spiets, die toerismehoof verwelkom almal en ‘n mooi plaaslike maagd lees die geskiedenis van Starigrad.  Hierna sing die Klapa  die krieke en ons  stil.  Ek herken die slagter in die middel voor en agter staan die burgemeester homself – nou netjies getooi in pikswart broeke, wit hempde en rooi bande om die mae – sing is ernstige werk.

Soggens koop jy sjokolade croissants by Pekarna Paris en Ivana ken jou al so goed  – sy het die pakkie  opgemaak voor jy nog gevra het. Teen 11 uur drink jy koffie op die stoep van een van die talle Cafe Bars saam met die jong ma’s en hul stootwaentjies, die ou omies in hul onderhempde en ‘n paar tannies wat net “gou” iets by die winkel moes kry.

Te gou glip die dae hier onder jou uit en skielik is dit die laaste aand voor jou vertrek.  Teen hierdie tyd ken jy al jou bure langsaan, oorkant en ook twee huise verder. Almal kom groet:   Davor  is ‘n sokker “scout” vir Bosnie en drink heelaand in sy donkerbril en bandana; Natasha is die sleutelbewaarder van elke huis in die straat en ook die amptelike nuusbulletin.  Teta Maja is 82 jaar en hou al vir 56 jaar lank hier vakansie . Sy het al ‘n Tweede Wereldoorlog en die Bosnieses burgeroorlog oorleef – tog val ‘n glimlag maklik om haar oe. Sy verstaan niks wat ek se, maar ons gesels ure lank dmv handgebare, glasies klink en buurman wat tolk speel.

Vroegdag terug oppad terug Split toe.  Te gou, te vinnig het die dae verbygeglip.  Ons vaar uit die hawe en ‘n stukkie bly agter, want hierdie dorpie het my ingetrek in sy daaglikse leefspoor.  My weer laat onthou wanneer tamaties in seisoen is en geleer die slagter en die burgemeester sing albei beautiful.

‘n Split sekonde teen die Adriaties Kus word ‘n leeftyd van memories.

 

‘n Boerefamilie op Hvareiland

‘n Kliphuisie op ‘n webwerf – dis waar dit begin het.

 Wie het nog nie gedroom van ‘n laaannngg ruskans op ‘n verre, vreemde eiland êrens tussen hier en nêrens nie?

 In Oktober 2003 pak ek en Francois (6 jaar oud) ons wieletjietasse in vir die lang ompadreis na Hvar-eiland, Kroasië. Ons is op pad na ’n klein kliphuisie op ’n eiland in die Adriatiese See – gevind op www.holiday-rentals.com. Na Bologne via Londen gevlieg. Daarna ‘n nagreis ver op die San Marina-veerboot tussen Ancona (Italiaanse kus) na Split en verder met die Jadrolinija-veerboot na Starigrad (Kroasië.). Onnodig om te së dat Kroasië vir my tot op daardie stadium so duister lyk/klink soos ‘n inbreker in donkermaan.

 Aankoms op Starigrad: Zeljko die verhuringsagent versuim om ons by die hawe te ontmoet, dus maar met ‘n huurmotor na die dorpie Starigrad. Om 13h00 hier te land is ‘n toneel uit ‘n poskaart wat gevries het. Klein vissersbootjies wat dobber op spieëlgladde water, katte wat hulle lui uitrek op eeue oue klipstene, maar verder … stilte en g’n siel.

 Die boodskap van siësta het ook hierdie dorpie bereik. Net ‘n paar lam vlieë sleepvoet verby ons natgeswete neuse.

 Weer op die foon en hierdie keer antwoord Zjelko darem. Baie verbaas dat ons gearriveer het – wonder hoekom. Hy is binne minute daar vir huis wys en sleuteloorhandigingseremonie. Zeljko is definitief ‘n paar sigarette voor, want sy tande lyk soos ‘n steenkoolmyn.

 Voorspoed een: Ons sien ons nuwe tuiste vir die volgende drie maande en dis nog mooier as op die foto’s van die webwerf. Twee olyfbome in die voortuin, roosmarynbos by die agterdeur, gedroogde vye (smokva) op die eetkamertafel, en ‘n 180°-uitsig oor die baai. “Heaven is a place on earth” – of hoe gaan daai liedjie nou weer?

 Dit sit op die rand van Starigrad se woongebied en met ‘n verhewe stoepie is jy daagliks in “pole position” om die veerbote te sien instoom.

 Saam-saam toets ek en Francois die fietse in die motorhuis (ek val af), die stort met ‘n prop (vergeet om prop uit te haal en vloer oorstroom) en lemoene uit die buurman se tuin toe hy seekatte vang (smaaklik, maar darem nie Citrusdal s’n nie).

 Laatnamiddag stap ons die mooiste kronkelseepaadjie na die dorpie se hartklop vir brood, kaas en ‘n bottel wyn vir Ma. Hierdie paadjie (1 km) stap ons die volgende drie maande byna elke dag.

 Dis ook op dié paadjie waar ‘n gevriesde hoender in ‘n inkopiesak later soos ‘n sak sement voel.

 ‘n Boeremeisie maak egter ‘n plan …

 Maandag van week twee in Starigrad: ons koop ‘n fiets vir Francois en die 350 kuna (ongeveer R370) is my beste belegging sedert die platformskoene van my matriekjaar. Soggens vroeg gaan koop Boeta die brood en melk (soms ook toiletpapier) terwyl ek nog slaperig die eerste ferry uit Split dophou op die 180° view stoepie – stomende koffie in die hand.

 Francois ry die dorpie vol, want in die nou straatjies kan geen ander voertuie ry nie en almal parkeer buite die sakesentrum. Hy verdwyn soms vir ure en wanneer ek benoud oral rondvra, kan elke tannie of oom my wys waar hy is en wat hy die afgelope uur of wat gedoen het. Sommer so ‘n gemeenskapsbabysittingsessie. My klein stadskind is soos ‘n klein hondjie wat op ‘n groot plaaswerf losgelaat is. Hy steek sy neus by elke deur in, word deur almal kos gegee en kan binne twee dae al twee baie lelike woorde in Kroaties sê en brood knie by Ivana se bakkery. ‘n Kinderparadys – geen misdaad, geen jagende motors en ‘n kerkplein vol sokkermal maatjies.

 Stokke in die Kroatiese wiel – eerste paar weke: Wanneer maak winkels hier oop en toe? Mis vir ‘n hele week die slagter se werksure. Wanneer is die bank/poskantoor oop? Hoe laat is die internetkafee oop? Kan niemand dan Engels praat of verstaan nie? ‘n Gewone koppie koffie met warm melk raak ‘n oefening in gebaretaal en praktiese demonstrasie in die Café/Bar se kombuisie. Met woordeboek in die hand leer ek dat groot koppie koffie met warm melk eintlik “Dupla duga kava sam mjelko” is – verander sommer na twee dae na plein Turkish Coffee.

 Twee weke na aankoms: Barba (oom) Lorko en teta (tannie) Marija doen huisbesoek. Sy moet die beddegoed weekliks omruil en bietjie skoonmaak – gelukkig ingesluit in die prys. Geen Engels nie, maar na ‘n oproep is hul aanstaande skoondogter daar vir die vertaalwerk. Magda word vir die res van ons verblyf elke keer saamgebring vir meer effektiewe geselsies. Oom Lorko bring ook die volgende dag, op eie inisiatief, sy seun se kleur-TV, want “hoe sal Francescko dan nou kan cartoons kyk?” Cartoon Network klink natuurlik heelwat anders in Kroaties …

 Twee aande na eerste huisbesoek: Ete by teta (tannie) Marija en familie. Ek’s uitgevat in my Sunday Best en Francois se kuifie is platgespoeg vir die geleentheid, maar teta Marija staan nie op seremonie nie en ontvang ons hartlik met slippers en ‘n kruller in die kuifie. (Sy het ’n hartprobleem en voel seker maar meer veilig in die slippers.) Vir hierdie geleentheid is haar oujongkêrel-broer ook genooi, want ‘n mens weet mos nooit wat die vreemde vrou (dis nou ek) se potensiaal is nie … Ek wapper egter my trouring so duidelik dat hy hopeloos te gou die aftog blaas. Ook maar net so wel, hy kan in elk geval ook nie Engels praat nie en hoe knoop mens nou ook ’n affair aan in Kroaties?

 Die spyskaart: Cevapcici (langwerpige lang frikkadelle) met bykosse – paprikapuree, rou uieringe en lekker brosgebakte chips. Almal kry koeldrankglase met wyn en water gemeng. Francois kyk my grootoog aan, maar soos die spreekwoord sê, “When in Rome …” Hierdie wyn is natuurlik tuisgemaak en die alkoholinhoud draai kort duskant een-sluk-een-hoenderkop. Sluit af met sjokoladegevulde pannekoeke en regopstaan Turkse koffie. Drie ure lank gekuier sonder dat enige van ons mekaar kon verstaan. Kos – die groot gelykmaker.

 Laataand neem barba Lorko ons terug na ons eilandhuisie op die rand van die dorp. Al stampende oor die kronkelpad, met ’n sak vol lemoene uit hul tuin en oorskietpannekoeke vir brekfis …

Kalkbaai op ‘n Wasdag

Dis Maandagoggend negeuur en drie van ons is reeds op die “highway” oppad na ons weeklikse halfdag-minivakansie.

 Ek het my twee “nuwe” vriendinne ‘n jaar gelede raakgekuier in my eie buurt nadat ek vir twee jaar met my siel onder my arm van rusbank na stoel na bed geskuif het om vir die lewe weg te kruip.  

Meer uiteenlopend as die drie vrouens in die motor kry jy nie sommer nie. Elk met sy eie quirks, lewenspakkie en huis vol planne, plae en trane (lg darem net soms). Foekie het my oorval met haar lekker Malmesbury bgrrrryyyy;verfrissende naiewe uitkyk en gedeelde liefde vir reis van enige aard. Tot onlangs was haar lewe veerlig en redelik kommervry  tot haar dogter se een oog raakgeskiet is in ‘n Paintball partytjie sowat 5 weke gelede.  Jeanette is die praktiese, modelma met die dierbare man en ‘n huis vol liefde.  Sy gooi haar gewig volledig in by die Paarl Skool waar haar jongste dogtertjie al van vier jaar oud af aan haar toekoms werk. Sy gee van haarself met oorgawe en sonder ophou.   Ek is die een met die komplekse pakkie vol hoogtepunte en laagtepunte  wat vir my lewe spel. Ons het een groot gemene deler nl is die hoofpraters in enige verhaal.  Ons hou aldrie ook van lag, stories oor die lewe en om die dag te gryp met altwee hande. 

Op hierdie oggend vat ons die pad Kalkbaai toe vir oggendkoffie en ontbyt by Cafe Olympia. Al met die M5 langs ry ons met ‘n kar vol stories van elke dag se dinge – Foekie vertel van almal wat so onwrikbaar bid vir haar kind se oog en dat sy so graag oor ‘n wonderwerk sou wou getuig. Net daar deel elk sy “angle” oor geloof – ek wat so gelowig is as dit goedgaan en dan vir alles heeldag dankie se, terwyl ek weer glad nie kan glo in wonderwerke as dit sleg gaan nie! (Dit help nou veel…). Jeanette wat weer nie Bybelversies wil hoor as sy deur ‘n slegte tyd gaan nie, maar prakties dinge wil “tackle” . En so flits die ou Art Deco geboue van Muizenberg verby, flits die blink strepe van ‘n wonderlike sonskyndag op die seewater en skielik is ons in Kalkbaai met sy fliekmooi winkeltjies. By Olympia begroet  draadspinnekoppe en die geur van vars brood ons al op die sypaadjie. Ons mik agtertuin toe sodat Foekie ‘n sigaretjie kan rook en ons kan kliphard praat sonder dat almal omkyk.  Die kelnerin verstaan nie Afrikaans nie – dis nou net die basiese asseblief en dankie (ja sy is ‘n SA burger), maar ons kyk na mosaiekvroue en halwe koppies op die muur en vergeet  dat ons eintlik net hier naby (agter Tygerbergheuwels) bly – so naby en tog soveel werelde ver.  Maak ook gou ‘n draaitjie by die Olympia bakkery-winkeltjie en sien draadskapies wat in my tuin behoort te wei.  Note to self:  kom kry drie van klein tot groot as jou skip inkom. Dis nou te se as ek nie per ongeluk op die lughawe wag nie…

Later stap ons van winkel tot winkel – elk op sy eie missie. Foekie hou van die Indiese negosiewinkel, ek en Jeanette pas pruike en brille aan by Big Blue.  Loer in by ‘n tweedehandse boekwinkel, verdwaal in ‘n vintage klerewinkel met swart en silwer paddakerse en pas die mooiste paar bloedrooi 60’s platvormskoene aan. Oorkant die straat wink ‘n bordjie wat se “Excuse my French Cafe” en oppad soontoe staan outydse vleis-bloktafels, bedpanne en ‘n geroeste karring.  Erens uit ‘n straatvenster waai Griekse musiek en blou en wit tafeldoeke wapper wulps in die Suidooster. In die hawe dobber afgedopte vissersbote luilekker na ‘n nag se vangs – salig onbewus van drie vroue wat vandag hier kuier.

Net na twaalfuur draai ons weer, want kinders moet gehaal word by die skool, perdrylesse en wiskundeklasse wag en ek (al een met ‘n seun) het die groot taak om hom aan die leer te kry vir elke dag se eksamenvak.  Klokslag 13h09 stop ons voor die skool – laai die skoolsakke, kinders en dag se skoolstories in. Elkeen terug na sy huis, sy familie en sy gewone dag. Maar elkeen van ons weet: vandag, Maandag was nie wasdag in Kalkbaai.

Soplepel vol drome

Dis 9 Januarie 2011 en ek rapporteer gou terug op die lysie hieronder…. Wink langs elke wens beteken dis intussen gedoen of reeds bespreek vir hierdie jaar.

Die fliek “Bucket List” inspireer  ‘n mens om ‘n lys van drome oor doen-dinge, ervaar-dinge en voel-dinge neer te pen.

Hier is my soplepel vol drome:

  1. ‘n klein hondjie vashou sonder om te niesWink net gisteraand by vriende!
  2. ?

  3. die tango  leer dans sonder om belaglik te lyk
  4. ‘n komediant wees (een aand) op ‘n regte stage
  5. vir ‘n week op ‘n “motorized” seiljag leeg te le in die Adriatiese See met regte rose op die tafel, ‘n lakei wat “drinks” bedien en my koelwaai met ‘n verewaaier.
  6. ‘n rondom-die-wereld vliegkaartjie te ontvang met 12 stops – een vir elke maand
  7. vir drie maande vrywillige werk te gaan doen in Calcutta 
  8. Deelneem aan die Rio Carnival – nee, nie net kyk nie, deelneem!
  9. een goeie daad vir elke dag van die jaar te kan aftik
  10. voor die Taj Mahal te sit met die liefde van my lewe
  11. te leer bellydance – het after all die belly
  12. 3 eksotiese, unieke cocktails uitdink en maak Winkvakansie geoefen en het nou drie: ooskaap scramble / sunset slinger/ silly bugger
  13. skrywerskursus doen in Praag
  14. langs die Amalfikus gaan bly vir ‘n maand (of langer)
  15. leer kook soos ‘n Fransman of -vrouWink het huis geruil met franse couple en gaan twee weke in Loire Vallei bly – reeds restaurant gekry wat bereid is om my te laat kyk ….
  16. Gastehuis oopmaak en bestuur in KroasieWink het ons huisie in kroasie by hul plaaslike toerismeraad geregistreer en mag nou  amptelik gaste ontvang teen betaling (wel nou nie heeltemal my gastehuis-mansion wat ek voor geestesoog sien nie, maar al ‘n begin…)
  17.  sonsondergang in die Karoo op ‘n wintersaand met ‘n glasie wyn
  18. tamaties eet sonder om sooibrand te kry
  19. met ‘n plat oopdak-sportmotor deur die Alpe ry
  20. Kameeltrek doen in die woestyn
  21. Kaapse sonskyn verblik en uitvoer

Word vervolg/…

‘n Gebrek aan beplanning

‘n Gebrek aan Beplanning

Exclusive Books loop oor van selfhelpboeke wat vertel hoe om jou lewe uit te sorteer, doelwitte te stel en 5 jaar pva’s (plan van aksies) op te stel. Ek sluip altyd skuldig en lomp verby. Stamp gewoonlik iets om en almal kyk vir my. Verbeel my almal kan sien die vrou het geen plan/ geen doelwit en geen idee waarheen sy oppad is vir die volgende 2 minute – wat nog te se van 2 jaar… Dit was my lewe lank so – geen plan van aksie vir  my eie toekoms.

Nou verstaan my mooi: gee my ‘n funksie om te reel, ‘n projek om af te handel of ‘n lys met dagtake om af te handel en ek is “miss expert- I-am-your-girl.” Groot aktiwiteite het al my dae beset en begrotings van miljoene is al sistematies/ doelgerig  en oordeelkundig bestee, maar projekbestuur van my eie lewenspad – aikona ek het nie die vaagste benul.

Dis nie dat ek nie weet hoe of weet waar om te begin nie.  Dis die idee van voorspelbaarheid wat my angstig na ‘n oop venster laat soek – vars lug en koelte vir die sweetjie op die bo-lip. 

Die “random” gebeurtenisse van my lewenspad:

In matriek besluit ek om maatskaplike werk te gaan swot, maar vind uit die onderwyskollege begin twee weke na die maatskaplike werkers se kollege en net daar verander die loopbaan-baan.

Aan die einde van my onderwysstudies sweer ek hoog en nog hoger dat ek nooit ‘n onderwyseres wil wees. Skiet vir ‘n pos in Umtata sodat ek n rede kan he, om na ‘n jaar, vir my pa te oortuig dat omstandighede so sleg is dat ek (on)gelukkig  nie kan voortgaan om my onderwysbeurs terug te werk nie.

Umtata en my skoolhoudae daar raak een van my mooiste herinneringe en hoewel ek klaaglik faal as netbalafrigter verloop die onderwys baie voorspoedig. So voorspoedig dat ek verder gaan studeer op Stellenbosch – in onderwys!

Aan die einde van Stellenboschdae ry ek Kaap toe om ‘n woonstel te gaan huur.  Ry na twee uur terug koshuis toe met ‘n getekende kontrak vir ‘n dorpshuis.  Het so pas ‘n plek gekoop sonder deposito of ‘n salaris vir die volgende twee maande.

Ontmoet my toekomstige man by ‘n gemaskerde party terwyl my hart huil oor ‘n ou liefde wat die vorige dag gesneuwel het.

Besluit op 28 om my kar op blokke te trek, my meubels te berg en vir 2 jaar oorsee te gaan.  Daar is geen werk wat wag oor die water, geen vaste inkomste wat verseker is vir ‘n lang tyd en ‘n brose nuwe liefde van 6 maande word agtergelaat vir die onbekende. Ek beplan om te “au pair” in Engeland  te word en eindig  in ‘n groentefabriek. Ek beplan om in die Alpe te gaan huishou in ‘n ski-chalet en eindig in Amerika as “au pair”.  Ek beplan om na ‘n jaar huistoe te kom, maar werk vir nog ‘n jaar as “companion” vir ‘n barones, ‘n skilderes en slaap soms op dakke in Turkye.

So wil ek nooit trou nie en neem tog die stap een somersdag in ‘n Desember.  Kinders is nie op my horison en tog kry ek die mooiste, slimste en “cuteste” seun in die wereld.

Beplan eenmaal vir drie maande aan my en my seun se “sabbatical” in die Toskane en eindig dan op ‘n eilandjie in die Adriatiese See vir ‘n onvergeetlike en lewensveranderende ervaring.

Bemarking en skakelwese lyk vir my na tydmors en tog raak dit een van my grootste passies vir soveel jaar.

Van kore weet net dat ek al daarin gesing het, maar organiseer ‘n landswye kompetisie vir drie jaar met groot sukses (self verbaas hieroor!)

So was my paadjie nog altyd – onbepland, maar met die mees ongelooflike verrassings in elke kinkel.  Dit raak vir my duidelik dat my planne nooit so opwindend en onvergeetlik is as dit wat sommer so vanself uitwerk en gebeur nie.

Soos die bekende woorde ” life is what happens while you are making plans” het my lewe tot hier ook die beste “surprises” vir my beplan.

Gaan direk na nutsbalk.