Besoek aan Windhoek – deel 2

Oktoberfest

Sowat vier weke gelede het ons afskeid geneem van ‘n vriendien op Riebeek-Wes.  Gebaseer op die geskiedenis van ons vriendskap was die verwagting om haar weer min of meer oor tien jaar te sien.  Sy het Windhoek toe getrek.   Ons onverwagse besoek aan Windhoek verander dit.

Sy gee ons die opsie om te kies tussen ‘n kuier Vryadgaand by Joe’s Beerhouse, of die Oktoberfest.   Aangesien die Oktoberfest net een keer ‘n jaar plaasvind kies ons laasgenoemde. 

Dis nogals ‘n groot gedoente.  Die Kirchdorfer is ‘n Duitse orkes wat die wêreld vol toer om by sulke feeste te speel.  Onder andere in Brasilië en Korea.  Die Verenigde Arabiese Emirate het blykbaar óók ‘n bierfees waar hierdie ouens gaan speel (nee, regtig).

Hierdie oempa orkes is fenomenaal.  Nege mans en een dame sterk.  Hulle speel die aan omtrent vir 5 ure lank.  Hulle neem darem twee breke tussen-in, maar steeds.  Daar is ‘n energie by hulle wat aansteeklik is.  Nee, hiérdie oempa loempas is flippen amazing.

Daar is nogals ‘n sterk opkoms Duits-sprekendes by die fees.  Baie van die mans dra hierdie knie-broeke (van leer of nie) met kruisbande.  Die vrouens dra ook tradisionele drag.  Van die manne het nogals groot boepe, merk ek op.  Dit kon ‘n landbouskou in Suid-Afrika gewees het.  En van die vrouens sien ek ook daar met baie groot bierbekers.   Jy bestel basies jou bier by die emmer.

Dit het natuurlik sekere gevolge.  ‘n Meisie struikel teen my aan by die kroegtoonbank.  Sy sit twee van die plastiek bierbekers neer vir ‘n hervul (ja, daar is kleiner variante van glase darem ook gewees). Die bierbekers wil nie bly staan nie.  Maak nie saak hoe hard sy probeer nie, hulle val telkens om.  Dit moet seker maar ‘n defek in die vervaardigingsproses gewees het.

Sy verduidelik vir my wat die probleem is.  Of eintlik, ek dink dis wat sy doen.  Ek het geen benul watter taal sy praat nie, alhoewel ek seker is dit moes Duits, Engels of Afrikaans gewees het, maar sy klink soos Donald Duck wat helium ingekry het.  Miskien kon dit ook ‘n probleem in die vervaardigingsproses gewees het, maar ek dink eerder die bier mag ietsie gebrou het daar. 

A good time was had by all.   

Toeriste

Saterdag doen ons die toeriste ding en stap deur die dorp. 

My oog vang die naambord van ‘n prokureursfirma:  FOP attorneys. 

?

Ek wonder nogals oor die naam.  Dit is ‘n akroniem bestaande uit die eerste letters van drie vanne, sien ek.  Gegewe mense se (absoluut ongegronde) aanname dat prokureurs soms minder dan onkreukbaar eerlik is, het ek gewonder of hierdie afkorting die regte seine uitstuur.  By nadere ondersoek besef ek egter ek kyk verkeerd. 

Dit is F Q P prokureurs.  Dis mos darem heelwat beter.

Op die onderwerp van prokureurs: dit wil voorkom asof ‘n voorkeurberoep in Windhoek die vervaardiging en installering van diefwering en elektriese heinings moet wees.  Nee, jammer, ek is eintlik nou heel af van die onderwerp van prokureurs.  Tsv al die diefwering voel mens nie onveilig nie.  Goed, deels dalk oor jy aan die regte kant van die diefwering is, maar selfs as jy aan die ander kant daarvan is.  Ek aanvaar jy moet nou nie stupid wees nie, maar ek is tog onder die indruk dat die misdaad hier minder gewelddadig is as in Suid-Afrika.

Die kontras tussen oud en nuut is opvallend.  Byvoorbeeld, die ou koloniale gebou van die Bank of Namibia word nou verdwerg deur ‘n baie moderne gebou van die Bank of Namibia net langsaan.  [Die oue is die een links].

Die Bank of Namibia het in 1993 die Namibiese reserwebank vervang.  Wel, soortvan; die reserwebank het eintlik nooit bestaan nie. 

Die ruiter op sy perd (Reiterdenkmal) moes skuif van waar hy voorheen gestaan het.  Hy staan nou voor die ou fort (Alte Feste).  Die ruiter moes skuif om plek te maak vir Noord-Koreaans geboude Onafhanklikheids Gedenkmuseum. 

Op die foto steek ‘n stukkie van die Alte Feste uit links van die ruiter.  Die reuse gebou wat soos ‘n koffieperkoleerder lyk is die Onafhanklikheids Gedenkmuseum.

Wat opval daarvan is weer eens die oud en nuut saam op dieselfde perseel.  Al die oud word egter verdwerg deur hierdie gedenkgebou. Dalk was dit juis so beplan.

Ons stap by ‘n gebou verby waar ek seker is president Sam Nujoma het voorheen gebly.  Ek wonder of ek dalk my kamera voor by my broek moet indruk of so dat die wagte nie moet dink ek spioeneer op die gewese president nie.  Daar is egter niks ouens met AK-47’s nie.  Ek het later verneem die oud-president het sedertdien geskuif na ‘n ander woning toe.  Nee, hy leef nog, hy woon net elders in Windhoek.

Net verby die Onafhanklikheids gedenkmuseum is die Christuskirche.  Hierdie Lutherse kerk is begin bou in 1907 na die Duits / Herero / Khoikhoi / Ovambo oorlog.  Dis voltooi in 1910 en toegewy as ‘n kerk van vrede.

Downtown Windhoek

Windhoek midde-dorp is besig.  Dis maandeind.  Dis ook warm.  Dis amper somer.  Daar is vir my iets ontspanne in die vibe van die dorp. 

Een ou het wel sy humeur verloor vir iemand wat voor hom ‘n u-draai gemaak het.  Hy was nie tevrede met net ‘n kort blêr op sy toeter nie.  Hy lê met mening op die toeter.  Maar dan weer, enige kort toeter kan maklik aangesien word vir ‘n taxi, so dalk wou hy maar net misverstand voorkom. 

Van taxi’s gepraat, daar is baie min minibus taxi’s.  Die ouens daar ry met sedan motors.

In ooreenstemming met die neiging van oud teenoor nuut pryk die nuwe Hilton hotel skuins oorkant die ou Kalahari Sands hotel. Hierdie foto is geneem van die hoek van Robert Mugabe rylaan en Sam Nujoma rylaan.  Die Hilton links, die Kalahari Sands regs.

Windhoek bou vooruit.

Trippie Windhoek toe – Deel 1

Vertrek

Ek vind dit altyd so half stresvol om vroegoggend te vlieg. 

Ek en vroulief moet vier-uur opstaan om die vlug Windhoek toe te haal.  Elke kort-kort is ek wakker en loer op die horlosie langs die bed of dit al tyd is.  Dit is nie.  Uiteindelik raak dit darem toe vieruur.

Die strate is stil toe ons donkeroggend afry lughawe toe.   My aansluiting by Modderdamweg se verkeerslig is stukkend.  Hy het vasgehaak op rooi.  Die voertuig wat langs my intrek stop so effentjies en ry oor.  Dalk doen mens dit so vier-uur in die oggend.   Ek ry toe ook maar.  In my spieël sien ek die verkeerslig verander toe tog.

Ná bietjie van ‘n soektog om Air Namibia te kry, kry ons vir die eerste keer stempels in ons nuwerige paspoorte. 

Arriveer

Hosea Kutako lughawe in Windhoek is nie onnodig besig nie.  Doeane geskied vinnig.  Suid-Afrikaanse Rande is geldige betaalmiddel in Namibië, maar die kontant wat ek getrek het, het ons by ouboet gelos.  Hy moet die huishouding behartig in ons afwesigheid. In elk geval, ons kan mos in Windhoek geld trek. 

Op die lughawe vat die kitsbanke net Visa kaarte, en myne is Master.  Die selfoondiensverskaffer, MTC, is darem bereid om vir my ‘n simkaart en R50 se belgeld op die kredietkaart deur te sit.  

In die motor op pad Windhoek toe begin ek sms’e te stuur vir almal wie moet weet waar ons is.  Nee, ek bestuur nie, ons het ‘n geleentheid gekry.  Geen sms wil deurgaan nie.  Ek bel later die tolvrye hulpnommer.  Hulle stel voor ek maak eers ’n oproep net om die kaart te aktiveer.  Ek doen dit, maar dit werk ook nie. 

“Moet jy nie eers die lugtyd oplaai nie?” wonder vroulief later.  Mmm…..  Nou dís nou ‘n goeie plan.  Ek laai die geld op, en skielik werk die foon.  Dit kan bel en sms’e stuur, ook na Suid-Afrika toe.      

Die veertig kilometer rit Windhoek toe is lekker ontspannend.  Soos ons die dorp inry probeer ek bakens herken van vorige besoeke. 

Windhoek ontwikkel ongelooflik.  Daar word gebou dat die biesies bewe.  Hulle het duidelik die 2008 eiendomsmark ineenstorting misgeloop. 

By die gastehuis word ons vriendelik ontvang en sommer dadelik koffie aangebied.  Dis my tipe gastehuis dié.

Kultuursentrum

Ons besoek die Franco Namibian Cultural Centre in Robert Mugabe rylaan.    

Ons is betyds vir die opening van die die Boekefees van die Namibian Children’s Book Forum.Dis nogals ‘n groot gedoente.  ‘n Man met ‘n groot snor is die seremoniemeester.  Ek is nie seker waar hy inpas nie.  Die ambassadeur van Frankryk Jean-Louis Zoël (ek weet dis sy naam, want dit staan in die brosjure) maak ‘n toespraak waarin hy die agtergrond van die Franco Namibiese inisiatief verduidelik; dit is gesamentlik deur die Franse en Duitse ambassades begin om kultuur in Namibië te onderstun. 

Nadat ek nou al The Pink Panther ‘n hele paar keer saam met die kinders gekyk het vind ek dit moeilik om ‘n ou met ‘n Franse aksent ernstig op te neem.  Ek vang my dat ek wag vir die punchline van die grappie om te kom, maar dit gebeur nie.

Verteenwoordigers van die Duitse, Amerikaanse en Portugese ambassades is ook daar om redes te lewer.  Die mans is aangetrek soos vir enige sosiale geleentheid in die Europese winter.  Dis net nie winter óf Europa hieso nie.  Die kwik styg skelmpies ongemerk op na so 38 grade toe. 

Die hoofspreker is die adjunk-minister van Binnelandse Sake.  Hy is ook ten gunste daarvan dat mense moet kan lees.  Which is good, mos. 

Twee dames voer daarna ‘n uittreksel uit Dr Zeuss op.  Hulle is vrek snaaks.

Daarna volg ‘n vingerete.  Die area is bietjie klein, so mens het nou en dan nodig om iemand uit die pad uit te skouer om by die eetgoedjies uit te kom.     

Die teëlvloer het ‘n ry glaspanele waardeur jy beelde van mense onder die vloervlak kan sien.  Mens kry die gevoel van slawe wat weggelei word.  Jy loop basies bo-oor die uitstalling.   Dis waarskynlik die simbolieke doel daarvan.      

Daar is vir my iets ongelooflik treffends daaraan.  Hierdie mense van onder die glaspaneel wat totaal geignoreer word deur dié bò die glaspaneel.

Riebeek Vallei

Ons het die naweek bietjie weggebreek na die Riebeek Vallei toe. Eintlik op pad St Helenabaai toe vir ‘n ete-afspraak.  

Sowat 80km van Kaapstad af lê die twee Riebeeke. Dis hierdie vreemde ding om twee volledige dorpe 5km uit mekaar uit te hê. Elkeen natuurlik met sy eie kerk.

Eers kry jy Riebeek Kasteel, maar daar is nie ‘n kasteel nie. Blykbaar lyk die berg soos ‘n kasteel. Miskien van bo af, maar nie eintlik van onder af nie. Jan van Riebeeck en sy tjomme het op die plek afgekom, toe noem hulle dit Riebeek Kasteel. (Wie sou dit nou kon dink). In 2001 het daar 2532 mense op Riebeek Kasteel gewoon. Die dorp se grootte word aangedui as 1,4 vierkante kilometer.

Ten spyte van sy grootte bied die dorp 32 akkomodasie plekke aan en 12 eetplekke. Dit beteken 31,4 eet- of verplyfplekke per vierkante kilometer. OK, dis nie heeltemal akkuraat nie. Sommige verblyfplekke oorvleuel met eetplekke. Maar dis steeds verbrands indrukwekkend.

Riebeek-Wes is vyf kilometer verder. Hy is effens kleiner as Riebeek Kasteel. Vierhonderd vierkante meter kleiner, om presies te wees. Sy een vierkante kilometer het in 2001 sowat 2661 inwoners gehad. Wat hom natuurlik meer dig bevolk maak maak as Riebeek-Kasteel. Ek vermoed mens gaan dit nie agterkom nie. Maar Riebeek-Wes het ‘n meer beskeie 14 blyplekke en drie eetplekke. Alhoewel dit steeds ‘n skaflike 17 eet- of verblyfplekke per vierkante kilometer is, kan dit nie kers vashou by Riebeek Kasteel nie.

Rumour has it dat daar nou 24 000 mense in die twee dorpe bly, maar ek is nie so seker nie. Ek het net dertien mense gesien, waarvan nege besoekers was. OK, miskien was ek in ‘n stiller deel van die dorp en van die jaar. Mens moet dalk eerder probeer met van die jaarlikse feeste, waarvan daar nogals ‘n paar is.

Oktober               – Shiraz & Arts Weekend

Desember           – Kloovenburg Summer Market Day

Maart                    – Mediterranean Fest

April                       – Portuguese Festival

May                       – Olive Festival

July                        – Berg rivier marathon en die Riebeek Berg Marathon

Maar gegewe die verwagte luidrugtigheid wat die noodwendige gevolg moet wees van 31,4 kuier- en blyplekke per vierkante kilometer op Riebeek-Kasteel het ons toe gemik vir Andrea Townsend se Church Hills gastehuis in Riebeek-Wes. http://www.riebeekvalley.net/

Die plek is pragtig en lekker luuks. Synde min of meer middel van die winter was die plek uiteraard nie tjok en blok vol nie, wat nogals nice was, gegewe veral ons behoefte aan rustigheid.

Ons het liewer nie van die swembad gebruik gemaak nie.  Dis winter, verstaan.

  

Stil, baie stil.  Ek dink dis nou selfs nog stiller noudat die naweek verby is.

Teen laatmiddag gaan ons vir ‘n stappie deur die dorp om te verken.

Interessante ou geboue en name van plekke.

Die dorp is nogals, wel, stil, jy verstaan.

O ja, die kerk.

Ek is nou net bietjie onseker watter kant toe Do-Do is.  Ek het in elk geval gedog hulle het uitgesterf.

Vroegaand gaan soek ons ‘n eetplek. Ons mik vir downtown Riebeek-Kasteel. Dié is self nie onnodig besig nie. Dis nou nie asof jy net agter die geraas aan kan ry om ‘n kuierplek te kry nie.

Sonder ‘n kaart moes ons bietjie rondsoek (I kid you not), maar ons eindig toe by die Kasteelberg Country Inn & Bistro. http://www.kasteelberg.com/

[Nota:  dit was al donker toe ons daar kom – hierdie foto kom van die Bistro se website af]

Twee kaggels hou die koue op ‘n afstand. Franse musiek speel in die agtergrond, en ons geniet lekker steaks.

Sondagoggend is mistig en reënerig.

Ná ‘n lekker ontbyt in die knus eetsaal kies ons koers St Helenabaai toe.

Die reënweer maak foto’s neem bietjie moeilik.

Op St Helenabaai ontmoet ons familie vir, wel, nog ‘n ete. Weer by ‘n Bistro. Ek het nou op Wikipedia gaan kyk wat ‘n Bistro is. Dis ‘n klein restaurant wat “moderately priced simple meals” bedien in ‘n “modest setting.”

Ek dink Bistro’s is my ding.

Daniel se The Swiss Deli & Bistro bedien uitstekende kos.

Die restaurant is op Sandy point geleë in wat jare gelede een van die ou plaashuise op die plaas Sandy Point gewees het.

Dit kyk uit oor die see.

Nou ja, soos my Engelse juffrou my geleer het om ‘n opstel oor ‘n piekniek af te sluit: “A good time was had by all.”

Plaasstories

Twee ure oud.

Wat dink jy, sal ons ‘n kraak maak?  Die hek is net hier links van ons.

Te laat.  Vreemd, ek het die ding van moederskap heeltemal anders in my kop gesien afspeel.

Read my lips, ou grote.  Hier is nie vir jou ook plek op die bakkie nie.  Ons is eerste hier, en ons is twee.  Skoert nou.

Maar jy het nie ore nie.  Ons sê dan hier is nie plek vir jou ook nie.

Ag moet nou nie só wees nie, man.

Sal ons hom maar laat opklim?

Aag OK, man, ons vat jou net vir ‘n pop.  Jy kan maar opklim.

Ek het jou gesê dis ‘n simpel plan.  Daai Boerboel staan die hele bakkie vol!

Namakwaland toer – Deel 4

Thomas se storie

 

Thomas het goed gevorder tot by die “Dik sand. Slegs 4×4 voertuie.” Die eerste deel daarvan was ook nog goed. Toe kom hy by die deel waar ons ons bande verder afgeblaas het. Op daardie stadium was Thomas haastig en het hy nog nie sy bande afgeblaas nie.

 

Die sleepwa het hom feitlik dadelik laat vasval in die sand. Net mooi waar hy laasjaar met die Colt vasgeval het. Hy besluit toe hy gaan nie met die Jeep en die sleepwa regkom nie. Dus haak hy die sleepwa af en kry dié darem uit die sand uit. Die sleepwa los hy toe langs die pad met die plan om tot by ons te ry om ‘n ander voertuig te kry om die sleepwa mee te haak.

Dus los hy die sleepwa en takel die dik sand met die Jeep. ‘n Paar honderd meter later raak hy uit grondvryhoogte en val hulle vas.

 

Twee uur later toe lê daar al klein bergies sand weerskante van die pad soos hy en Marienka grawe (party mense het ook ál die pret).  

 

Thomas besluit later dat die skrif aan die muur is. Hulle gaan nie die Jeep uitkry nie. Soos dit diligens paterfamilias betaam pak Thomas toe kos en drinkgoed in ‘n sak; hulle gaan nou hulp soek.

 

Marienka reken egter sy gaan nie hierdie Rooikapie ding doen nie. Eerstens is hier wilde diere: daai volstruise wat hulle langs die pad gesien het gaan hulle jaag. Thomas sê hulle sal nie. Marienka sê hulle kan nie die voertuig daar los nie. Die volgende ou kom dalk teen ‘n spoed daar aangejaag en ry hom besimpeld vas in die Jeep. Thomas sê dis laat, niemand gaan meer hier verbyry nie.

 

Voordat die aangeleentheid in ‘n huishoudelike geskil kon ontaard daag die manne met die Land Rovers daar op, baie opgewonde om iemand te kan red. Die res is geskiedenis.

Toe ons uiteindelik laataand in die bed kom sien ek dis maar 22h00.  Ons het net gelê toe sê Marga die see raas darem nou kwaai in ons ore. Kom ons lê ander kant om. Ons maak toe so. Ek kan nie sê dat dit toe stiller was nie, maar dit was tog geriefliker om opdraende in plaas van afdraende te slaap.

Saterdag, 7 April

 

Dit reën lekker. Vir lang ure sit of lê ons in die tente.

 

 

Die kinders speel PSP in die motors, die grootmense kuier van sleepwa tot sleepwa vir koffie. Die sleepwaens is ingerig vir reën met hul afdakke.

 

Ons ry nêrens nie. Teen namiddag merk ons ‘n kolonie meerkatte op wat so ‘n paar honderd meter weg van ons af woon.   Een is dalk die verspieder, want hy staan die heeltyd skiertsregop en hou ons dop. Ek dink dalk was hy bloot maar nuuskierig, want hy sal ‘n redelike lousy verspieder uitmaak. Ek meen, hy was salig onbewus van die junior lede van ons geselskap wat van die teenoorgestelde kant nader aan hom gesluip het. Dis eintlik wonderlik dat die kinders so in die natuur en in diere belangstel, reken ons.

 

Toe ons egter dit twee ketties by die jongelinge gewaar besef ons dat hulle nou nie heeltemal uit is op ‘n look and learn ekspedisie nie. Luide teregwysings met gepasde handgebare laat hulle die aftog blaas. Die kinders, nie die meerkatte nie.

 

Marinus en Nicci en Thomas en Marienka is op kosdiens vir die aand. Gelukkig lig die reën. Vroegmiddag begin hulle al met die skaappot. By twee geleenthede lyk dit of die reën die aand gaan bederf, maar dit gebeur gelukkig nie. Die aand word afgerond met winkelsjokolade en koffie.  

 

Sondag, 7 April

Lambertsbaai

 

Na twee nagte pak ons op by Varswaterbaai.

 

By tye is daar ‘n keuse tussen ‘n pad teen die see en een verder weg, maar ons hou teen aan die see. Plek-plek is daar redelike uitdagende sandspore met kwaai kruis-as aksie wat dit moeilik maak om spoed te kry. Dis nogals ‘n indrukwekkende gesig om die voertuie met sleepwae daar deur te sien ry, met die sleepvoertuig en die sleepwa wat soms wild in teenoorgestelde rigtings wikkel.

 

Martin se plan was dat ons van Groenrivier af terug mik met die grondpad Garies toe sodat ons die vinnigste pad tot op Lambertsbaai kan vat. Daar is intussen teen daardie plan besluit.

 

 

Die laaste paar dae se reën maak waarskynlik dat die sand nie so uitdagend is soos wat dit sou wees as dit nat was nie. Dit bring egter heelwat modderpoele mee.

 

 

Teen die tyd wat ons op Lambertsbaai kom lyk ons of ons deur ‘n modderbad gery het. Ons het.

 

 

Ons doen ‘n kort stop by die Groenriviermond vir die been-there-dunnit foto.

 

 

Vandaar volg daar nog lang gedeeltes sandpad. Dis ‘n heerlike pad om te ry. Sekerlik interessanter as om terug te gery het Garies toe. What where you thinking, Martin!

 

Net kort van die Suidelike uitgang uit die Park uit stop ons langs die pad vir middagete. Van ons wil ook ons bande op pomp. Pieter se bakkie blaas ‘n sekering en sy elektriese kompressor wil nie werk nie. Ja-nee, ek vertrou juis nie hierdie hoë tegnologie toestelle nie. Ek haal my voetpomp uit en begin my bande op pomp. Halfpad met die eerste band breek my pomp.

‘n Vriend van my wat ek gemiddeld een keer in tien jaar sien kom toevallig verby gery. Dit verhoog die statistiese gemiddelde insidensie van ons weersiens natuurlik merkbaar.

 

Gelukkig hoef ons net sowat 28km teerpad te ry voordat ons by Lutzville kan bande op pomp en (sommiges) brandstof intap. My voertuig is die enigste petrol voertuig van die konvooi en ook die meer dorstige een. Sy gaan nie sommer ligtelik by ‘n pomp verby nie.

 

Net buite Lutzville waai die wind Martin se opvou tafel van die Landrover se dak af. Gelukkig ry hy op daardie stadium soos ‘n maniak, anders was ek kort op sy hakke en kon die tafel op my voertuig geval het. Ná ‘n vlugtige inspeksie van die tafel besluit Martin om dit daar te los vir die arm kindertjies.

 

Ons ry die tolpad van Strandfontein af Lambertsbaai toe, en kom laatmiddag by Malkopbaai kampterrein oorkant die Muisbosskerm aan.   Daar is gras staanplekke. Daar is ook ‘n gedeelte wat onder Weskus aanrolgras (anchovie-net)is, maar die plek is nie só vol nie, en almal het ‘n lekker gras bedekking.

 

Dis tog vreemd hoe aperig mens na net drie dae van longdrops kan raak by die aangesig van ‘n spoeltoilet, krag en lopende water (en gras ipv sand)!

 

Pieter en Hanneke en Oupa en Ouma is in beheer van die kos. Pieter het vooraf gereël dat vars vis afgelewer word wat hulle braai. Ons eet heerlike Geelstert en Witstompneus. ‘n Paar manne wat daar naby kamp bring vir ons klaar gaar kreef. Ek is effens versigtig vir die kreef met die rooigety in die omgewing, maar hulle sê daardie kreef om van die Groenriviermond af. Die kreef smaak ook erg lekker.

 

Marienka help ook met die maak van soetkluitjies vir nagereg. Ons kan voorwaar nie kla oor die kos wat ons op die toer gekry het nie.

 

Maandag, 8 April

Die terugtog

 

Vandag kom ons toer tot ‘n einde. Alles is egter natgedou of gereën, en ons moet wag vir die tente om droog te word.

Dis darem nie te erg van ‘n straf nie. Ons kuier lekker saam terwyl almal so stuk-stuk inpak.

Ná ‘n vinnige groepfotobegin elkeen huiswaarts keer.

Nou daai was ‘n lekker toertjie gewees.

 

 

Statistieke:

Nagte uit:                                            4

Tent opgeslaan:                                  3x                          

Afstand gereis:                                 1095km

Teerpad:                                             805km                   7,2km/l

Grondpad en 4×4:                               290km                   5,2km/l

Brandstof:                                           168 liter 

 

 

PG JONKER

Namakwaland toer – Deel 3

 

Vrydag, 6 April

 

Grotte en Varswaterbaai

Ongelukkig kon ons nie Bouldersbaai kry vir die volle drie dae wat ons in die Park bly nie. Vandag moet ons versit Varswaterbaai toe.

Deur die nag reën dit ‘n paar baie groot druppels. Alles is die oggend nat. Ons eet ontbyt (daar was nog van die trifle oor), en pak rustig op. Besonders rustig. Teen half-twaalf is almal opgepak.

 

Ons ry af na die Spoegriviergrotte toe. Dit is PaasVrydag. Martin lees vir ons ‘n dagstukkie. Koos, ons saamreisende prediker, hou ‘n kort nagmaaldiens, en ons gebruik nagmaal. Die hot cross bun voorraadjie kom egter onder stremming van die jonger kindertjies. Wat is dit dan in elk geval met grootmense wat so baie praat voordat hulle begin eet van die goed!

 

 

 

Ons toergroep is egter nog nie voltallig nie. Thomas en Marienka is nog nie hier nie, en dit lyk of ons moet maar gewoond raak daaraan om sonder Thomas te toer. Dit klink dan nou amper soos daai song van die ou wat moes gewoond raak daaraan om nie meer langs Sylvia te woon nie.

 

[Thomas! Waar de *** is Thomas?]

 

Wel, Thomas was laasjaar deel van ons toergroep wat die Namakwaland Nasionale Park getoer het. Thomas se Jeep Cherokee het egter onverwags gebreek (daai goed gebeur normaalweg onverwags). Hy sou gister probeer om die voertuig te laat herstel en vandag vertrek om by ons aan te sluit.

 

Daar is seker vir so ‘n 200m strook tussen die grotte en die afdraai selfoon ontvangs. Pieter kry vir Thomas in die hande op sy selfoon. Thomas trek op Garies. Hulle is dus so bietjie meer as ‘n uur weg. Thomas sleep ‘n sleepwa wat hy by Pieter leen.

 

Ons ry intussen agter Martin aan op al die klein paadjies langs die see op pad na Varswaterbaai toe.

Daar is een uitdagende gedeelte dik sand. Die bordjie wat sê “Dik sand. Slegs 4×4 voertuie” is nogal ‘n goeie aanduiding waar die gedeelte begin.

Die eerste gedeelte daarvan is heel gangbaar. Dan volg daar ‘n gedeelte harde grond, en dan weer die tweespoor sandpaadjie. Martin se eerste twee probeerslae met sy Land Rover met die sleepwa is onsuksesvol.

 

Op Martin se advies verlaag ons banddruk van 1,5 na 1,2 bar. Sommige gaan af na 1 bar.

Martin se Td5 brul weg. Later raak dit stil, en ons aanvaar hy was suksesvol met die hindernis. Hy het radio verbinding met ‘n paar lede van die groep, so ons aanvaar ons sou ‘n noodoproep gehad het as hy vasgeval het.

Hierdie is die presiese plek waar ons laasjaar ‘n redelike tydjie spandeer het. Thomas het toe nog ‘n 2×4 Colt gery en hy het daar vasgeval.  Koos kry sowaar sy paar Crocs wat hy laasjaar daar verlê het met die gesukkel om vir Thomas uit te stoot.   Hierdie keer kom Thomas darem met ‘n Jeep Cherokee.

[Thomas! Waar de *** is Thomas?]

 

Ons toer rustig verder en arriveer na 16h00 by Varswaterbaai. Op pad daarheen is daar verskeie plekke waar vars water by spruite en oë uitsyfer.

Naby een van hierdie punte het ons ook ‘n kolonie robbe gesien. Sommige het gebodysurf.

Varswaterbaai

 

Dit is koud en oortokke toe ons by Varswaterbaai kom. Ons slaan haastig tent op; dit is ons en Koos-hulle se se beurt om kos te maak. Die brood moet nog aangemaak word en darem bietjie rys voordat die son heeltemal onder is.  

 

Die vure brand darem later al en die son begin wegraak in die Weste, maar Thomas en Marienka daag nie op nie.

 

[Thomas! Waar de *** is Thomas?]

 

Daar is nie selfoon ontvangs nie, so buiten om oor hulle bekommerd te wees is daar niks konstruktiefs om oor hulle afwesigheid te kan doen nie.

 

Thomas

 

Ons braai hoendervlerkies en hoendersosaties. Genoeg om ons veertig dae en veertig nagte aan die gang te hou. Dan is daar ook twee potbrode. Die son was te effentjies om hulle lekker te laat rys, maar hulle is darem ook al onder die kole.

 

Ons sien die ligte van drie voertuie in die skemer aangery kom teen ‘n redelike tempo. Almal staan in afwagting die aankomende konvooi en dophou. Dit moet seker Thomas wees.

 

Die voorste voertuig is ‘n oranjekleurige Land Rover 110 dubbelkajuit met ‘n sleepwa. Die tweede voertuig is ‘n Land Rover 130 dubbelkajuit. Die derde voertui kan ons nie uitmaak wat dit is nie.

 

“Dis ons sleepwa!” merk Pieter se seun op toe die voorste Land Rover by ons kamp intrek.

“Haai, dis my pel Nekkies!” merk Martin op toe die tweede Land Rover intrek.

“Dis Thomas!” koor almal toe die derde voertuig stilhou.

OK, nou weet ons almal waar Thomas is.

Die kort weergawe is dat Thomas vasgeval het en dat die manne met die Land Rovers hom gehelp het, en toe sommer sy wa verder gesleep het. Een van die redders is toevallig Nekkies, Martin se pel van Getaway Motors inWellington wat altyd aan sy Land Rover werk (mens moet mos soms aan ‘n Land Rover laat werk).

Teen die tyd wat die kos gereed is het Thomas al sy tent opgeslaan. So soortvan. Die struktuur het wel ooreenkomste getoon met die vervaardigers se konsep, maar die fynere detail sou Thomas eers die volgende dag in ligdag finaliseer. Soos byvoorbeeld om nie die flysheet verkeerdom op die tent te hou nie.

Surita se ‘n sjokoladekoek (ook potgebak) rond die aand af saam met koffie. Teen daardie tyd het ons al Thomas se storie uit hom uit gerem.

 

Word vervolg

Namakwaland toertjie – deel 2

In Deel 1 het ek begin met ‘n paar foto’s.  Bietjie meer detail oor die reis self.

Bouldersbaai toertjie – Paasnaweek 2012

 

Woensdag, 4 April

 

Inpak

 

Laatmiddag ná werk begin die inpakkery in alle erns. Dis dán wanneer die gekners op die tande begin wanneer die bakkie al vol is, en “hierdie laaste paar goedjies” wat jou wil mal maak nog ingepak moet word.

 

Ons bestemming is die Suidelike deel van die Namakwa Nasionale Park – die gedeelte tussen die Spoegrivier en die Groenrivier. Oorslaap vir drie nagte langs die see veroorsaak bietjie beplanning as jy nie behoorlik ingerig is met ekstra batterye en veldyskaste nie.

 

Ek het ‘n veldyskas. Dit was ‘n geskenk van my broer so 14 jaar gelede. Eintlik was dit eerder ‘n geval dat die vrieskas nie kon pas in die Munisipale vuilgoeddrom nie. Die ding is, hy vries dat die biesies bewe op 220Volt, maar nie op 12V nie, en ook nie eintlik op gas nie. Dis bietjie soos die ou wat nommer 11 kolf vir die vierde span, maar ook nie eintlik boul nie.

 

Die vorige geleentheid wat ek met hierdie yskas probeer kamp het was juis toe ons laasjaar ook in die Namakwaland gaan toer het. Huishoudelike vrede en gerieflik kamp verg ‘n nuwe plan.

 

Uiteindelik sit ek met 2 geleende veldvrieskaste in my garage om van te kies. Een is só groot dat jy sal moet aanbou om dit te kan stoor. Ek kies daarom die meer kompakte Engel. Ek huur ook ‘n batterypak by Overland Camp Rentals. Beide toestelle dra natuurlik daartoe by dat fyn beplan met word aan die spasiebenutting agter in my bakkie. Saam met twee 25-liter waterkanne en 4 pakke hout wat ook saamgaan.

 

Laataand is ons gepak. Ouboet het besluit om die huis op te pas. Met net 4 van ons slaag ek darem daarin om later die bakkie se agterklap toe te kry. Nie heeltemal moeiteloos nie, maar darem.

Donderdag, 5 April

 

Vertrek

 

Met ‘n dag se verlof voor die naweek mis ons die ergste Paasnaweek uittog uit die Kaap uit. Om 06h45 val ons in die pad en mik vir die N7 Noordwaarts. Ons ry op ons eie.

 

Ons tap petrol op Vanrhynsdorp. Nie oor dit nodig is nie, maar net ingeval Garies dalk ‘n kragonderbreking het. Op Garies gooi ons weer vir oulaas petrol, en mik dan Weswaarts op die grondpad Hondeklipbaai toe.

 

Boulderbaai

 

Martin, ons toerleier, en sy seun kamp al reeds van Maandag af op Bouldersbaai.

 

So tien kilometers kort van Hondeklipbaai kry ons die afdraai na die Suidelike deel van die Namakwaland Nasionale Park. Ons meld by die hek aan. Gerrit begelei ons deur die papier- en betaalwerke, en lig ons ook in dat Martin so ‘n uur gelede uit is Hondeklipbaai toe, sonder sy sleepwa, en dat ons maar enige plek op Bouldersbaai kan kamp. Die hele plek is vir ons groep van 6 gesinne bespreek.

 

Die GPS nee ons reguit Bouldersbaai toe. Ja, ek weet dit is wat hierdie tipe tegnologie veronderstel is om te doen, maar die paaie in die Park is nie heeltemal die gebaande weë nie, en Bouldersbaai sou ook min of meer die laaste keer in ‘n paar dae wees wat die pyltjie op my GPS enigsins ooreenstem met ‘n pad.

 

Martin staan opgeslaan by nommer 2, sien ons. Staanplek 6 is reg teen die see en lyk soos ‘n gawe staanplek. ‘n Pofadder wat vervel het se ou vel lê op staanplek 6. Ek weet nie waar die pofadder nou is nie, maar ons besluit toe dis sommer simpel om so teenaan die see te staan, en mik toe maar vir staanplek 1.

 

Ons is net klaar opgeslaan toe Martin en Daniël opdaag van Hondeklipbaai af.

Spoegrivier grotte

 

Ons wil graag na die Spoegriviergrotte toe ry. Dis so 5km weg. Martin besluit om liewer vir die volgende aankomelinge van ons groep te wag. Johan en Celia (oupa en ouma) moet nou-nou daar wees.

 

Ons ry die sowat 5km terug na die grotte toe. Van die afdraai na die grotte toe raak die sand redelik dik. Normaalweg sou ek verkies om nie alleen in sulke dik sand te gaan ry nie, maar Martin weet mos darem waar om ons te kom soek as ons nie weer terugkom nie. Jy sou mos, né Martin?

 

Die rit na die grotte is dik sand. As jy in die regte rat is. Eerste of tweede hoëstrek is ideaal vir die 3.4 petrolenjin. Dié woeroe-woeroe rustig deur die sand teen so 1500 toere, met banddruk op 1,5. By geleentheid oorskat ek die erns van die sandkol voor my en sit in laestrek. Wat ‘n frustrasie. Ek is later in laestrek 4de rat, maar die enjin raas heel buite verhouding tot die vordering wat ons maak.  Too much effort for the result.

 

Die grotte bly ‘n grootse ervaring. Ek en my vrou en Klein-boet is alleen daar.  Met ons terugkeer is oupa en ouma van der Merwe net besig om tent op te slaan. Die helfte van ons toergeselskap is nou al hier.  Kort na hulle daag Koos en sy gesin op.

Martin maak vanaand kos. Dit raak laat, maar Pieter en Rinus daag nie op nie. Donkeraand kom twee voertuie se ligte oor die knop. Maar nee, die voertuie hou verby. Martin spring in sy Land Rover en gaan vang hulle ‘n ent weg.

Ons kuier tot laataand om die vuur. Wors, steak sosaties en trifle poeding word bedien. ‘n Restaurant kan gaan doppies blaas.

Dis al goed koel toe ons gaan inkruip. Laataand trek die wolke oor.

Namakwaland toertjie – deel 1

Donderdag, 5 April

 

Vertrek

 

Met ‘n dag se verlof voor die naweek mis ons die ergste Paasnaweek uittog uit die Kaap uit. Om 06h45 val ons in die pad en mik vir die N7 Noordwaarts.   Bestemming:  Namakwaland Nasionale Park se Suidelike (kus)-gedeeldte.

 

 

Nie dat daar nie verkeer of oponthoud op die pad is nie.

 

 

 

Boulderbaai

 

Anderkant Garies draai ons af op die grondpad na Hondeklipbaai.  So 10km kort van Hondeklipbaai is die hek links na die Suidelike deel van die Namakwaland Nasionale Park. Vandaar is dit so 22 km na Boulderbaai.

 

Mmmm…. laat ons sien.  Iewers ‘n oop plekkie?

 

 

 

Sowat 5 km Noord van Bouldersbaai is die Spoegriviergrotte.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Spoegriviermond is ook daar naby.

 

 

 

 

 

Langebaan

Besluite, besluite:  Pearly’s of Driftwoods?

Net bokant die restaurante, die huises.

‘n Konfytflessie vol Mojo is net die ding as jy dors is.

Driftwoods se spyskaart bied variasie.  Weskus Sushi is aan die orde.

Sommige doen, ander kyk.