Besoek aan Windhoek – deel 3

Die seremonie

Saterdagaand is die eintlike doel van ons besoek aan Windhoek. 

Ons woon die Namibian Children’s Book Forum se prystoekennings in die Goethe sentrum in Fidel Castro rylaan by.  Vroulief se kinderboek, “Wat is jy Kartoffel?” is genomineer vir die prys in die kategorie van geillustreerde kinderboeke.

Sandy Rudd, die seremoniemeester, hou die atmosfeer lig en vinnig.  ‘n TV span van (vermoedelik) Nam TV is daar, en ‘n klompie fotograwe.  Hierdie kontingent maak dit soms moeilik om uit die gehoor uit foto’s te neem.  Hulle is so half in ‘n mens se pad.   Die spannetjie van die Greenwell Matongo Library Dance Group doen hulle ding.  Energiek, lewendig, luidkeëls.  Die gesiggies léwe.  Dis ‘n plesier om hulle dop te hou.  Gcina Mhlope is ‘n besonderse vrou.  Sy doen twee storievertellings.  Haar hele wese het ‘n ritme.  Sy betrek haar gehoor maklik, en amper ongemerk maak sy ‘n ritmiese liedjie waarby sy almal betrokke maak.

Mevrou Kovambo Nujoma, gade van die oud-president, is al vir baie jare die beskermheer van die Forum.  Sy doen die oorhandigings.  Sy is ‘n waardige tannie.

Daar is ooglopende toegeneentheid by die aanwesiges.  Ek weet dis baie irriterend hierdie ouens wie drie weke in Suid-Afrika kuier en dan reken hulle kan al ons probleme oplos.  So, op risiko om soos ‘n wysneus te klink, was dit nog telkens my waarneming dat die rasseverhoudinge in Namibië voorkom om baie meer gesond te wees as Suid van die Oranjerivier.   Hierdie aand is geen uitsondering nie.  OK, tannie Nujoma se lyfwag was nie onnodig vriendelik nie, maar dit kom waarskynlik saam met die posbeskrywing.

Van al die toekennings van die aand is my belangstelling natuurlik eintlik primêr vroulief se ontvang van haar toekenning.  Ek is baie trots op my vrou toe sy opgeroep word om haar prys van mevrou Nujoma af te ontvang. 

Nou ken ek ook iemand wie al ‘n gewese Namibiese president se vrou se hand geskud het.  Wat my natuurlik self nou bietje van ‘n celebrity maak.

Laaste kuier

Ná die verrigtinge word daar gesellig verkeer oor ‘n vingerete en ‘n glasie wyn.  Toe almal huis toe is, neem ons gasvrouens ons vir ‘n koffie-uitstappie na die Thule restaurant.

Mokerstok!  Die restaurant sit seker op dié prime spot in Windhoek.  Jy kyk uit oor die Noordelike deel van die stad (ek aanvaar dit moet Eros wees), alhoewel ons natuurlik niks anders as liggies sien nie.  Dit is hierdie warm aand, met ‘n luggie wat nét genoeg stoot om die hitte te breek.

Ons ga hystoe

Sesuur Sondagoggend word ons opgelaai om terug lughawe toe te gaan.  Dis ‘n heerlike rit uit Ooswaarts lughawe toe.  Die son begin net oor die Namibiese vlaktes skyn.  OK, ek lieg bietjie van die vlaktes, dis meer soortvan poëtiese lisensie.  Daar is juis nié vlaktes hier nie.  Dis hoeka die rede hoekom die lughawe 40km buite die dorp is, want dis waar hulle eers ‘n groot genoeg vlakte kon kry om die aanloopbaan te bou.

By die inweegtoonbank kyk die man agter die toonbank ‘n paar keer op van ons paspoorte na die rekenaar voor hom en na ons.  Dan neem hy my elektroniese kaartjie en vergelyk dit met die rekenaar voor hom.  Die frons tussen sy oë verdiep.

“I will be with you shortly,” sê hy. 

Hy neem ons paspoorte en die rekenaaruitdruk van my aanlynbespreking, en verdwyn by ‘n deur uit.  In die agtergrond verbeel ek my ek hoor die 007-temaliedjie speel.   Later begin ons (nog meer) bekommerd raak.  Nog later sien ek die man ‘n ent weg verbystap, nog steeds met al ons goed in sy hande.  Ek draf agterna en volg hom in ‘n kantoor in waar ‘n vroulike veiligheidswag my onvriendelik aankyk. 

Ek beduie vir haar dis my pampiere daai, ek wonder maar net wat die probleem is.

“No, there is no problem,” sê die beampte.  Ek stap saam met hom terug na die inweegtoonbank.  Blykbaar is daar net ‘n klein probleempie, waarop hy nie uitgebrei het nie, wat maak dat hy ons instapkaarte met die hand sal moet invul, in plaas van om dit elektronies te doen.  Dit doen hy toe ook, en ‘n paar minute later kan ons rustig neersak vir ‘n laaste koffie voor ons vertrek. 

Ek sit lekker terug met die koffie, en kyk na die handgeskrewe kaartjies.  En stik in my koffie.  Ek gryp my vrou se kaartjie en die rekenaaruitdruk van my elektroniese bespreking en stap (nee, sorrie, hardloop) terug na die inweegtoonbank toe.

Die beampte kyk gesteurd op toe ek plaasneem langs die persoon wie hy besig is om te help.

“You booked us to Johannesburg, and we want to go to Cape Town,” verduidelik ek.  Ek hou die instapkaartjies uit na hom.

“Oh, don’t worry, you are going to Cape Town, the flight number is correct.  You can just change JHB to CPT,” reken hy.

Teen daardie tyd is die eerste oproepinstruksie al vir die passassiers wat afreis na Kaapstad om deur te stap na doene toe, en ek het nie tyd om hom anders te oortuig nie.  Ek haas my terug na waar my koffie staan en koud word, drink so staan-staan twee groot slukke van die koffie, en verander ons bestemming met pen op die instapkaaratjie. 

There, I fixed it

By die paspoortbeheer vul ons die vormpies in.  Die vormpie vra weer vir my na watter adres in Namibië ek op pad is.  Ons besluit die vorms is nie nodig nie, en vul dit nie verder in nie.  Ek verduidelik vir die dame wat die paspoorte moet stempel dat ons nie die vorms klaar ingevul het nie, want sien, ons dink dis onnodig, verstaan, want hulle wil weet waar in Windhoek ons gaan bly en eintlik is ons mos nou juis op pad wég van Windhoek af en nie ná Windhoek toe nie, so verstaan …. 

Sy glimlag vir my soos my een sub-A juffrou altyd vir my geglimlag het (sy’t my baie gelike – ek het mos toe later met haar dogter getrou.  Die sub-A juffrou nou, nie die paspoort-beampte nie) en sê daai is oraait so.

Ons stap deur vliegtuig toe.  Net vir veiligheid hou ek die instapkaartjie só vas dat my duim die deel toehou wat ek intussen verander is van JHB na CPT toe.  Net vir ingeval, verstaan.

En toe gaan ons huis toe.  

PG JONKER

Oktober 2012

Besoek aan Windhoek – deel 2

Oktoberfest

Sowat vier weke gelede het ons afskeid geneem van ‘n vriendien op Riebeek-Wes.  Gebaseer op die geskiedenis van ons vriendskap was die verwagting om haar weer min of meer oor tien jaar te sien.  Sy het Windhoek toe getrek.   Ons onverwagse besoek aan Windhoek verander dit.

Sy gee ons die opsie om te kies tussen ‘n kuier Vryadgaand by Joe’s Beerhouse, of die Oktoberfest.   Aangesien die Oktoberfest net een keer ‘n jaar plaasvind kies ons laasgenoemde. 

Dis nogals ‘n groot gedoente.  Die Kirchdorfer is ‘n Duitse orkes wat die wêreld vol toer om by sulke feeste te speel.  Onder andere in Brasilië en Korea.  Die Verenigde Arabiese Emirate het blykbaar óók ‘n bierfees waar hierdie ouens gaan speel (nee, regtig).

Hierdie oempa orkes is fenomenaal.  Nege mans en een dame sterk.  Hulle speel die aan omtrent vir 5 ure lank.  Hulle neem darem twee breke tussen-in, maar steeds.  Daar is ‘n energie by hulle wat aansteeklik is.  Nee, hiérdie oempa loempas is flippen amazing.

Daar is nogals ‘n sterk opkoms Duits-sprekendes by die fees.  Baie van die mans dra hierdie knie-broeke (van leer of nie) met kruisbande.  Die vrouens dra ook tradisionele drag.  Van die manne het nogals groot boepe, merk ek op.  Dit kon ‘n landbouskou in Suid-Afrika gewees het.  En van die vrouens sien ek ook daar met baie groot bierbekers.   Jy bestel basies jou bier by die emmer.

Dit het natuurlik sekere gevolge.  ‘n Meisie struikel teen my aan by die kroegtoonbank.  Sy sit twee van die plastiek bierbekers neer vir ‘n hervul (ja, daar is kleiner variante van glase darem ook gewees). Die bierbekers wil nie bly staan nie.  Maak nie saak hoe hard sy probeer nie, hulle val telkens om.  Dit moet seker maar ‘n defek in die vervaardigingsproses gewees het.

Sy verduidelik vir my wat die probleem is.  Of eintlik, ek dink dis wat sy doen.  Ek het geen benul watter taal sy praat nie, alhoewel ek seker is dit moes Duits, Engels of Afrikaans gewees het, maar sy klink soos Donald Duck wat helium ingekry het.  Miskien kon dit ook ‘n probleem in die vervaardigingsproses gewees het, maar ek dink eerder die bier mag ietsie gebrou het daar. 

A good time was had by all.   

Toeriste

Saterdag doen ons die toeriste ding en stap deur die dorp. 

My oog vang die naambord van ‘n prokureursfirma:  FOP attorneys. 

?

Ek wonder nogals oor die naam.  Dit is ‘n akroniem bestaande uit die eerste letters van drie vanne, sien ek.  Gegewe mense se (absoluut ongegronde) aanname dat prokureurs soms minder dan onkreukbaar eerlik is, het ek gewonder of hierdie afkorting die regte seine uitstuur.  By nadere ondersoek besef ek egter ek kyk verkeerd. 

Dit is F Q P prokureurs.  Dis mos darem heelwat beter.

Op die onderwerp van prokureurs: dit wil voorkom asof ‘n voorkeurberoep in Windhoek die vervaardiging en installering van diefwering en elektriese heinings moet wees.  Nee, jammer, ek is eintlik nou heel af van die onderwerp van prokureurs.  Tsv al die diefwering voel mens nie onveilig nie.  Goed, deels dalk oor jy aan die regte kant van die diefwering is, maar selfs as jy aan die ander kant daarvan is.  Ek aanvaar jy moet nou nie stupid wees nie, maar ek is tog onder die indruk dat die misdaad hier minder gewelddadig is as in Suid-Afrika.

Die kontras tussen oud en nuut is opvallend.  Byvoorbeeld, die ou koloniale gebou van die Bank of Namibia word nou verdwerg deur ‘n baie moderne gebou van die Bank of Namibia net langsaan.  [Die oue is die een links].

Die Bank of Namibia het in 1993 die Namibiese reserwebank vervang.  Wel, soortvan; die reserwebank het eintlik nooit bestaan nie. 

Die ruiter op sy perd (Reiterdenkmal) moes skuif van waar hy voorheen gestaan het.  Hy staan nou voor die ou fort (Alte Feste).  Die ruiter moes skuif om plek te maak vir Noord-Koreaans geboude Onafhanklikheids Gedenkmuseum. 

Op die foto steek ‘n stukkie van die Alte Feste uit links van die ruiter.  Die reuse gebou wat soos ‘n koffieperkoleerder lyk is die Onafhanklikheids Gedenkmuseum.

Wat opval daarvan is weer eens die oud en nuut saam op dieselfde perseel.  Al die oud word egter verdwerg deur hierdie gedenkgebou. Dalk was dit juis so beplan.

Ons stap by ‘n gebou verby waar ek seker is president Sam Nujoma het voorheen gebly.  Ek wonder of ek dalk my kamera voor by my broek moet indruk of so dat die wagte nie moet dink ek spioeneer op die gewese president nie.  Daar is egter niks ouens met AK-47’s nie.  Ek het later verneem die oud-president het sedertdien geskuif na ‘n ander woning toe.  Nee, hy leef nog, hy woon net elders in Windhoek.

Net verby die Onafhanklikheids gedenkmuseum is die Christuskirche.  Hierdie Lutherse kerk is begin bou in 1907 na die Duits / Herero / Khoikhoi / Ovambo oorlog.  Dis voltooi in 1910 en toegewy as ‘n kerk van vrede.

Downtown Windhoek

Windhoek midde-dorp is besig.  Dis maandeind.  Dis ook warm.  Dis amper somer.  Daar is vir my iets ontspanne in die vibe van die dorp. 

Een ou het wel sy humeur verloor vir iemand wat voor hom ‘n u-draai gemaak het.  Hy was nie tevrede met net ‘n kort blêr op sy toeter nie.  Hy lê met mening op die toeter.  Maar dan weer, enige kort toeter kan maklik aangesien word vir ‘n taxi, so dalk wou hy maar net misverstand voorkom. 

Van taxi’s gepraat, daar is baie min minibus taxi’s.  Die ouens daar ry met sedan motors.

In ooreenstemming met die neiging van oud teenoor nuut pryk die nuwe Hilton hotel skuins oorkant die ou Kalahari Sands hotel. Hierdie foto is geneem van die hoek van Robert Mugabe rylaan en Sam Nujoma rylaan.  Die Hilton links, die Kalahari Sands regs.

Windhoek bou vooruit.

Trippie Windhoek toe – Deel 1

Vertrek

Ek vind dit altyd so half stresvol om vroegoggend te vlieg. 

Ek en vroulief moet vier-uur opstaan om die vlug Windhoek toe te haal.  Elke kort-kort is ek wakker en loer op die horlosie langs die bed of dit al tyd is.  Dit is nie.  Uiteindelik raak dit darem toe vieruur.

Die strate is stil toe ons donkeroggend afry lughawe toe.   My aansluiting by Modderdamweg se verkeerslig is stukkend.  Hy het vasgehaak op rooi.  Die voertuig wat langs my intrek stop so effentjies en ry oor.  Dalk doen mens dit so vier-uur in die oggend.   Ek ry toe ook maar.  In my spieël sien ek die verkeerslig verander toe tog.

Ná bietjie van ‘n soektog om Air Namibia te kry, kry ons vir die eerste keer stempels in ons nuwerige paspoorte. 

Arriveer

Hosea Kutako lughawe in Windhoek is nie onnodig besig nie.  Doeane geskied vinnig.  Suid-Afrikaanse Rande is geldige betaalmiddel in Namibië, maar die kontant wat ek getrek het, het ons by ouboet gelos.  Hy moet die huishouding behartig in ons afwesigheid. In elk geval, ons kan mos in Windhoek geld trek. 

Op die lughawe vat die kitsbanke net Visa kaarte, en myne is Master.  Die selfoondiensverskaffer, MTC, is darem bereid om vir my ‘n simkaart en R50 se belgeld op die kredietkaart deur te sit.  

In die motor op pad Windhoek toe begin ek sms’e te stuur vir almal wie moet weet waar ons is.  Nee, ek bestuur nie, ons het ‘n geleentheid gekry.  Geen sms wil deurgaan nie.  Ek bel later die tolvrye hulpnommer.  Hulle stel voor ek maak eers ’n oproep net om die kaart te aktiveer.  Ek doen dit, maar dit werk ook nie. 

“Moet jy nie eers die lugtyd oplaai nie?” wonder vroulief later.  Mmm…..  Nou dís nou ‘n goeie plan.  Ek laai die geld op, en skielik werk die foon.  Dit kan bel en sms’e stuur, ook na Suid-Afrika toe.      

Die veertig kilometer rit Windhoek toe is lekker ontspannend.  Soos ons die dorp inry probeer ek bakens herken van vorige besoeke. 

Windhoek ontwikkel ongelooflik.  Daar word gebou dat die biesies bewe.  Hulle het duidelik die 2008 eiendomsmark ineenstorting misgeloop. 

By die gastehuis word ons vriendelik ontvang en sommer dadelik koffie aangebied.  Dis my tipe gastehuis dié.

Kultuursentrum

Ons besoek die Franco Namibian Cultural Centre in Robert Mugabe rylaan.    

Ons is betyds vir die opening van die die Boekefees van die Namibian Children’s Book Forum.Dis nogals ‘n groot gedoente.  ‘n Man met ‘n groot snor is die seremoniemeester.  Ek is nie seker waar hy inpas nie.  Die ambassadeur van Frankryk Jean-Louis Zoël (ek weet dis sy naam, want dit staan in die brosjure) maak ‘n toespraak waarin hy die agtergrond van die Franco Namibiese inisiatief verduidelik; dit is gesamentlik deur die Franse en Duitse ambassades begin om kultuur in Namibië te onderstun. 

Nadat ek nou al The Pink Panther ‘n hele paar keer saam met die kinders gekyk het vind ek dit moeilik om ‘n ou met ‘n Franse aksent ernstig op te neem.  Ek vang my dat ek wag vir die punchline van die grappie om te kom, maar dit gebeur nie.

Verteenwoordigers van die Duitse, Amerikaanse en Portugese ambassades is ook daar om redes te lewer.  Die mans is aangetrek soos vir enige sosiale geleentheid in die Europese winter.  Dis net nie winter óf Europa hieso nie.  Die kwik styg skelmpies ongemerk op na so 38 grade toe. 

Die hoofspreker is die adjunk-minister van Binnelandse Sake.  Hy is ook ten gunste daarvan dat mense moet kan lees.  Which is good, mos. 

Twee dames voer daarna ‘n uittreksel uit Dr Zeuss op.  Hulle is vrek snaaks.

Daarna volg ‘n vingerete.  Die area is bietjie klein, so mens het nou en dan nodig om iemand uit die pad uit te skouer om by die eetgoedjies uit te kom.     

Die teëlvloer het ‘n ry glaspanele waardeur jy beelde van mense onder die vloervlak kan sien.  Mens kry die gevoel van slawe wat weggelei word.  Jy loop basies bo-oor die uitstalling.   Dis waarskynlik die simbolieke doel daarvan.      

Daar is vir my iets ongelooflik treffends daaraan.  Hierdie mense van onder die glaspaneel wat totaal geignoreer word deur dié bò die glaspaneel.