Gouritsmond – finaal: Winde van verandering

Die wind kan nogals waai op Gourits.  In 2008 het ons ‘n wind daar gehad wat mense se tente geskeur en hul goed weggewaai het.  Rukwinde van (blykbaar) tot 90 km/h.  Ek hou dus gereeld die weer webtuistes dop om die windvoorspelling te volg.

Hierdie jaar het ons baie naby aan perfekte weer gehad.  Ons het wel vir twee dae wind gehad wat geruk het tot so by 65km/h.  Dan staan jy maar met jou rubberhamer in die hand en kap penne in soos die wind hulle uitruk.

Vir die dag van ons vertrek is eweneens sterk wind voorspel.  Van ons kampvriende is maar die vorige dag al huis toe juis om die wind vry te spring.  Teen die tyd wat ons die oggend daar wegry, toe waai die wind verwoed. 

Die bakkie sukkel maar met die karavaan in die wind, so dit gaan stadig.  Toe ek die N2 Kaap se kant toe vat, toe waai die wind nie meer van agter af nie, maar van voor af.  Toe is dit heelwat erger.  Blykbaar was die wind vir die res van daardie dag besonders erg op Gourits.  Hierdie keer gepaardgaande met reën.  Ons het dus per ongeluk die regte dag gekies om nie op Gouritsmond te wees nie.  Maar dis ook nie so ‘n goeie idee om in so ‘n wind van voor huis toe te ry nie.

Elke jaar neem ons ons voor om ons laaste dag by die see ten volle te geniet, en eers laatmiddag te begin pak.  Maar elke jaar gebeur dit maar net dat, as jy jou kom kry, dan is jy besig om goed te sorteer met die oog op die oppak.  So nog voor 12h00 die middag vind ons dat ons reeds aan die oppak is. 

Waar ons hierdie jaar nie ‘n muisplaag gehad het nie, was die krieke wel met ons.  Die oggend wat ons op pak, is daar krieke orals in ons goed.  Hier en daar ook ‘n kakkerlak.  Ek kyk met verstomming hoe ‘n kwikstertjie ewe diknek ‘n kriek teister wat probeer wegkom.  Uiteindelik kom die kriek weg.

Met alles gepak, laat sak ek die karavaan se opligdak.  Ek hoor ‘n kriek iewer protesteer.  Ek maak die bakkie agter toe.  Ek hoor ‘n kriek iewers daar binne protesteer.

Voordat ek die dak laat sak maak ek eers seker van alles.  Sien, dit het al gebeur dat die karavaan gehaak is, en ons reg is vir ry, en dan is my bakkie se sleutels nog in die karavaan.  Maar dan is dit nie so eenvoudig nie.  Dis in ‘n opklapkassie in die karavaan.  Maar omdat die karavaan se dak al laat sak is, kan die kassie nie meer oopmaak nie.  En om die dak op te lig is ook nie só eenvoudig nie, want ek maak die knippe met kabelstroppe was om seker te maak die dak lig nie op nie.  So die stroppe moet eers afgesny word.  Maar die mes waarmee ek dit moes doen sit toe óók in die opklap kassie.  Jy kry die prentjie.  Só raak mens al slimmerder en slimmerder oor tyd.   

As gevolg van die wind vat dit langer as 5 ure om die 380km huis toe te ry.  Dis warm in die Kaap.  Die res van die dag word daar afgepak. 

Die terugkeer verg natuurlik ‘n paar veranderinge in mens se kop.  Ek gaan stap deur my buurt net om weer die gevoel van die bekende te kry.  Hoë mure, honde wat blaf, elektriese heinings, die sekuriteitsmaatskappy se fietspatrollieman op sy pos.  Die paranoia van deure toemaak en sluit, alarm stel skop weer in.  Home sweet home.

Toe ek laataand my garage gaan toesluit, toe hoor ek steeds ‘n kriek protesteer iewers vanuit ‘n stukkie toegeritste kamptoerusting.

Mag die krieke met jou wees, ou grote.

DIE EINDE

PG JONKER

2 thoughts on “Gouritsmond – finaal: Winde van verandering

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.