Gouritsmond – Deel 7: Diere, visse en voëls

Laasjaar het ons ‘n kwaai muisplaag gehad.  Ek het vir die Hessequa Munisipaliteit geskryf deur die jaar en gewonder of hulle nie dalk ‘n paar uilkaste kan oprig nie.  Blykbaar kan ‘n uil-gesin so sewentien muise in ‘n nag opeet.  Dit sal mos goed wees vir die uile, het ek nou maar gedink.

Met ons aankoms op Gouritsmond gewaar ek wel ‘n paar muise.  Tewens, dit het gelyk of ‘n splinternuwe werpsel muise pas die lig gesien het.  Dié spannetjie hop vrolik van die een bos na die ander, reg op die rand van ons staanplek.

My buurman wys egter vir my ‘n reuse uil wat op die huis naaste aan ons se dak sit.  Vermoedelik ‘n variant van die oortjies-uil.  Later sluit ‘n kleiner uil by hom aan.  Aha! 

Dit was gou duidelik dat die uile hulle werk gedoen het.  Daar was wel een muis in Ouboet se tent, maar sy tent was reg teenaan die bos waar die gesinnetjie muise tuisgegaan het.  Ouboet het later ‘n stukkend gekoude handdoek onder sy bed gekry.   Maar by die huis is sy kamer net so deurmekaar dat ek ook nie verbaas sal wees as dáár muisneste uitbroei nie.

Ons staan een aand by die vuur en kyk weer vir die uile.  Buurman vertel van die ou bygeloof dat as ‘n uil op jou dak gaan sit, dan gaan iemand in die huis dood.  Ons dink toe dis snaaks.  Totdat buurvrou onthou dat (a) die eienaar van daardie huis onlangs oorlede is, en (b) buurvrou se bejaarde vader en moeder oor drie dae daar intrek – hulle huur die huis vir die vakansie. 

Toe is dit nie meer heeltemal so snaaks nie.

Kleinboet wil vreeslik graag visvang.  Ek is glad nie ‘n visserman nie.  Ons het vir hom by die Chinese winkel ‘n visstok gekoop, maar vroulief besluit daai katrol gaan nie hou nie.  Sy koop vir hom ‘n ordentlike katrol in die Kaap voor ons see toe vertrek.

Buurman maak Kleinboet se drome waar en neem ons saam op sy boot op die rivier om te gaan visvang. 

Buurman moet egter die voorligting en opleiding ook behartig.  Hy is beïndruk met Kleinboet se katrol.  Nou kort hy net ‘n regte visstok, reken buurman.  Hierdie een gaan nie hou nie.  Paah!

 

Verskeie ure later stap ons aan wal met Kleinboet vreeslik vrolik.  Hy het niks gevang nie, maar die ondervinding was vir hom groots.  Miskien is dit goed dat hy nie ‘n byt gekry het nie.  Hy is werklik ‘n slegte verloorder, en reageer normaalweg besonders onsportief op enige vis wat wegkom nadat hy aan sy aas geknibbel het.   Die gebrek aan goeie byte is eintlik ‘n seëning.

 

‘n Paar dae later vertel vroulief my ek moet die pa-en-seun ding gaan doen  en weer vir Kleinboet vat om by die riviermond te gaan visvang.  Ek maak so.  Maar eers moet ek aas kry.  Pilchards is die ding, vertel die plaaslike kundiges my.  Ek sit gou eers af winkel toe om pilchards te koop.

By die rivier sit ek die pilchards aan die hoek.  Dit werk glad nie.  Die goed is te bros, en breek in stukkies.  Dit wil nie aan die hoek vassit nie.  Een van die maats wat saamgekom het, kry ‘n dooie prawn en bring dit vir my.  Dié bly darem aan die hoek sit. 

Ná so drie gooie verloor Kleinboet belangstelling.

Ek gaan maar op my eie aan, maar moet later moed opgee.  Daai pilchards wil nie saamwerk nie.  Ek besluit om op te hou vis vang, en gooi die oorblywende pilchards in die see.  Op ‘n manier voel dit soos besoedeling, maar dit kan tog nie wees nie.

‘n Vet seevoël sak dadelik toe en duik die pilchards uit.

‘n Paar manne kom met ‘n kajak verby, met iemand op sleeptou.

As hulle die man probeer laat ski het, kan ek hulle sommer gesê het dit kan nie werk teen daardie spoed nie. 

Uiteindelik is almal gelukkig.  Kleinboet het probeer visvang (ek ook, alhoewel ek kan regkom sonder die poging), niks visse is ontstel nie, en ‘n vet seevoël is ook gelukkig.

Terug by die kamp verneem ek dat ek die verkeerde pilchards gekoop het.  Blykbaar moet jy dooie vissies by die winkel koop, nie die geblikte pilchards nie.

Maar dis darem nou nie asof ons met leë hande teruggekeer het nie.  Ek het vis teruggeneem tent toe.  Ons het mos darem die ekstra blikkie pilchards oorgehou.

[Deel 8 volg]

PG JONKER

 

8 thoughts on “Gouritsmond – Deel 7: Diere, visse en voëls

  1. Jetlag wil my heeltyd aan die slaap maak so jou kampstories het my lekker wakker gehou. Ek bewonder julle hi-tek wasmasjien en al jou netjiese buite geboue! Hoe mis ek nou al ons gekampery met ons kinders in die Sederberge en by NZ se Coromandel strande. Om kleuters te kon bad in daai ou buite sement klerewas wasbakke was groot fun. Geniet!

    • Muise het blykbaar ook ‘n aversie in pepermint olie. Maar dis bietjie duur, en dan het jy nog ‘n groot area ook om te dek. Slange is ook baie effektief, maar ek verkies muise bo slange. Die uile oplossing werk vir my.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.