Gouritsmond – Deel 6: Die Karnaval daag op

alternatiewelik:  Skandes, skades oorwinnings

Elke toertjie en vakansie het maar sy kwota skades, skandes en oorwinnings. 

Met die rit van Montagu af Gouritsmond toe het Ouboet die motor se ligte aan vergeet toe hulle hier stilhou.  Die aand is die battery pap.  Soos in heeltemal.  Die volgende oggend is ek Mosselbaai se Battery Centre toe om ‘n ander battery te kry.  Die battery is egter só daarmee heen dat ek nie die (outomatiese) motor gejumpstart kry nie.  Ek ry met die bakkie Mosselbaai toe.  Dit blyk dat die battery skade het, en nog onder waarborg is.  Ek kry ‘n nuwe battery verniet.

Ons maak een aand hoendervingers en platgesnyde artappels op ons nuwe braaipan wat jy op die kole kan sit.  Ek wil die pan skuif, maar die handvatsel brand my dwarsdeur my handskoen.  Ek moet dit haastig neersit op my anchovienet grondseil.  Nou het ek ‘n ronde gat in my anchovie net, en ‘n interessante patroon onder my splinternuwe braaipan waar die net vasgesmelt het.  Ek het dit ook goedgedink om die pan in gedempte stemtoon te verwittig hoe ek voel hieroor.  Net so effentjies, saggies, verstaan.   

Ouboet moet redelik versigtig wees nog met wat hy eet.  Hy droom nou al weke lank van hamburgers, maar sy mond kan nie groot genoeg oopmaak nie, en in elk geval meen die dokter dis nog te hard vir hom om nou al te probeer.  Die dokter het sy kake ontklem onder streng instruksie dat hy vir nog ‘n week lank niks harder mag eet as dit wat hy met ‘n lepel kan eet nie.  Ek is nie seker of dit ‘n goeie maatskaf is nie.  Ek meen, ek kan aan baie harde goed dink wat ek met ‘n lepel sal kan eet – dit moet net klein genoeg wees om daarop te pas.  Ons kloek dus maar ietwat besorgd rondom Ouboet wanneer dit etenstyd raak. 

Net mooi ‘n week later is Ouboet en sy vriend Langjan, en laasgenoemde se sussie as designated driver, af Stilbaai toe om te gaan touchies kyk.  Ek hou maar my foon byderhand.  Mens weet nooit wanneer daar ‘n noodoproep kom nie.  Ek sê vir Langjan om tog seker te maak dat Ouboet nie dalk iemand byt of met die kop stamp nie.  Hy het nog nooit nie, maar ek meen nou maar, die dokter was baie ernstig daaroor dat hy nie nou sulke beserings kan bekostig nie. 

Maar ja, om 12h06 kry ek ‘n WhatsApp van Ouboet.  Kon gedink het daar gaan moeilikheid wees.  Ek maak die boodskap oop en loer net so met een oog dat ek nie al die nuus op een slag raaklees nie.

“Nunet n burger geet dit was bje lekker en morsig.”

So uiteindelik het ouboet se droom waar geword.  En gelukkig geen skade nie.

Net so ná ses die middag hoor ons die karnaval die dorp binnekom. Luidrugtige musiek en so.  Dan verskyn my motor om die draai by die kampterrein se hek, en kom ons agter dís die karnaval.  Die musiek is hard.  Ouboet en Langjan, effens verstrengel in sy t-hemp,  sing vrolik saam.  Langjan se sussie bestuur die motor. 

Hulle is besonders vrolik.  Ok, party van hulle.  Die sussie wat bestuur is minder vrolik, sal ek nou maar sê.   

Ouboet se vriend van Pretoria het intussen ook geariveer.  Kortjan sluit dadelik aan by die ander twee.  Die res van die aand kuier die drie musketiers saam.  Laataand besoek hulle die pub, Die Mond, net buite die hek van die karavaanpark.

Net so na 02h00 stamp vroulief aan my.  Sy hoor mense luidrugtig sing.  Ons weet nie wie dit is nie, maar ek spring op trek aan, en klim in my bakkie om liewers die drie musketiers te gaan soek.  By die kamp se hek is daar steeds ‘n hekwag aan diens.  Ek vra hom of hy nie dalk drie luidrugtige singende ouens gewaar het nie.

Die hekwag stel my gerus dat ek my oor niks hoef te bekommer nie, sulke ouens sal glad nie by hom verbykom of in die kamp toegelaat word nie. 

Mmmm……  Dis presies waarvoor ek bang was.

Ek ry deur die dorp, maar buiten vir ‘n oewerkonyn en so drie jeugdiges is die strate stil.  Ek kom terug karavaan toe en WhatsApp vir Ouboet om 02h33.

“Ons kon netnou vrolike mense hoor sing.  Kamp toegangsbeheer sal luidrugtige mense toegang weier.  So wees bedeesd as julle inkom.  En as jy langs die pad ‘n groot haas sien, los hom uit.  Dis nie die Paashaas nie, maar ’n oewerkonyn – ‘n bedreigde spesie.”

Vroulief hoor beter as wat nodig is.  ‘n Paar minute later rapporteer sy dat die manne nou ingekom het – doodstil. 

[Deel 7 volg]

PG JONKER

6 thoughts on “Gouritsmond – Deel 6: Die Karnaval daag op

  1. My grootste nagmerrie was toe ek snags wakker gele en gewag het vir die kinders om huistoe te kom.
    So dankbaar hulle is nou gesettle. Nou is dit mos die kleinkinders se beurt….sugtog…darem nog so 16 jaar tot dan 😀

  2. Goeie storie! Bly JJ was nie daar om die singery te hoor nie. Die man hou mos van sy slaap. En hy’t ore soos ‘n kleinhond. Geheue soos ‘n olifant. Stem soos ‘n ‘voice’. Dan sou die hekwag soos ‘n vulletjie gelyk het.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.