Namibië toertjie – Hoofstuk 2

Windhoek na Etosha

 

Namibië het ‘n magnetiese bekoring vir baie Suid-Afrikaners. Buiten vir die natuurskoon is die ander voordeel natuurlik dat die taal en kultuur dieselfde is, die winkels lyk dieselfde, en jy kan selfs met Suid-Afrikaanse Rande betaal. Alles dinge wat jou veilig en tuis laat voel. Namibië het vir my ‘n addisionele bekendheid vanweë die feit dat ek die grootste deel van my diensplig in Windhoek gedoen het.

 

‘n Entjie buite Windhoek is ‘n padblokkade net mooi by die ingang na die Luiperdsvallei militêre basis, wat destyds nog as Sektor Vier-Zero bekend was. Ons paspoorte word nagegaan. Alles geskied in gemaklike en gemoedelike stemming. Ons vat die groot Westelike verbypad, waarvandaan ons met die C28 Daan Viljoen toe mik.

 

Daan Viljoen is ‘n oases. Goeie en netjiese geriewe, gras, krag, warm water, wasgeriewe, selfs diere. Ek en my vrou glip gou uit Windhoek toe vir ons gunsteling tydverdryf. Op Gatheman’s se balkon gaan sit ons en koffie drink terwyl ons oor die stad Windhoek uitkyk. Windhoek is mooier, groter, skoner, besiger as die tyd wat ek hier ‘n dienspligtige was. Ek gaan gou op ‘n nostalgie trip verby die Suiderhof basis waar ek as dienspligtige tuisgegaan het. Ek het nie gedink om verder te kyk as net die hek nie. Ek meen nou maar, ek is nie seker of dit ‘n gawe plan sou wees om daar aan te meld en te sê “Howzit, in die tyd van die ou Suid-Afrika was ek hier ‘n dienspligtige” nie.

 

Ons het ‘n besonder slegte nag. Dis vrek koud. Hier by 0 grade rond, want die ys het die volgende oggend op die te tente gesit. En, kom ons agter, daai duwweljties van Hardap dam het mooitjies ons dubbel-opblaasmatras vol gate gesteek. Na ‘n paar keer se gepomp in die nag het ons dit maar opgegee, die prop uitgetrek en onsself en die kinders herrangskik vir ‘n (relatief) gemaklike slaap.

 

Dis nog vriesend koud teen die tyd wat ons die volgende dag in die pad val Waterberg toe, naby Okakarara.

 

Buite Windhoek weer ‘n padblokkade. Geen hassles nie. Die beampte het wel hardop gewonder of ons nie dalk ‘n telefoonkaart het nie. Ons het nie gehad nie, en dit was die einde van die navraag.

 

Die eerste stop is Okahandja. By die ingang van die dorp is ‘n groot padstal waar allerhande houtsneewerke verkoop word. Ek hou my op ‘n afstand. Ek is nie goed om aggressiewe verkoopsvernuf suksesvol te weerstaan nie. Frikkie leer ken een van die locals.

 

‘n Reis van 315km bring ons by die waterberg. Die laaste sowat 25km is grondpad.

 

Waterberg

 

Die geriewe by Waterberg is goed. Warm water en krag. Die kampeerplekke is effens ongeorganiseerd. Dis moeilik om te weet wie het aanspraak op watter braaiplek, indien enige. Kort nadat ons lekker ingerig is, daag ons bure op, en ons hoor die een vrou verontwaardig: “En waar moet ons nou braai”. ‘Skies toggies, maar ons het toe klaar die braaiplek gevat, sien.

 

 

‘n Herero dame wie by die oord werk neem my en my vrou op ‘n begeleide toer deur die ou gebou, vertel bietjie van die geskiedenis, en vertel ook vir ons dat hulle kleredrag uit die Victoriaanse mode oorgeneem is. Dis net, toe die span in Engeland se modes aangepas het, het hulle verkies om te hou by hulle s’n.

 

Ek het nogals gedink hierdie dame is ‘n ongelooflike ambassadeur, nie net vir die plek nie, maar vir die land. Nadat ek so vier sinne in Engels gesukkel het, het sy oorgeslaan Afrikaans toe. ‘n Duitse toeris het sy ewe gemaklik in Duits aangespreek, en met Engelssprekende besoekers was sy ewe gemaklik. Boonop het sy sommer self aangebied om ons op die begeleide toer te neem deur die plek.

 

Waterberg is die toneel van verskeie veldslae. Eers het Hendrik Witbooi (die man wie se gesig op die Nam$ is) en sy Namas in gevegte met die Herero’s betroke gewees. Die Namas het van die Suide af getrek agter weiding en water aan.   Later het die Duitsers ook met die Herero’s oorlog gemaak. Hul kommunikasie was beter (heliograwe en dies meer) en het die Herero’s die onderspit gedelf. Daar is egter heelwat grafte van Duitse soldate wat spruit uit die tyd van hierdie gevegte. Die restaurant is ‘n pragtige ou gebou wat in 1904 nog gedien het as ‘n polisiestasie.

 

 

Binne is verskeie foto’s uit vervloeë dae.

 

 

 

Etosha

  

Die volgende dag reis ons die 330km Etosha toe.

 

 

Binne 5 minute vandat ons die kamp binnegaan stop ons by ‘n watergat waar ons omtrent alle sien. Gemsbok, Springbok, Vlakvark, Kameelperd, Zebra (daar is hier en daar ‘n Zebra en ‘n Springbok, sien) Blouwildebees, Kudu, Swartneus-impala’s, Jakkals. ‘n Trop olifante hang eenkant rond. Later jaag hulle almal uit die watergat en neem dit oor. Een jong bulletjie is heeltemal oorlams en jaag alles weg wat beweeg. Later kom ‘n groot bul wat steeds eenkant gestaan het en jaag weer almal uit die gat uit. Nou is hy alleen in die gat. Mens kom vinnig die orde van die voedingsketting agter.

 

 

Ons gaan meld aan by Okaukujo en ry daarna deur Halali toe om te gaan kamp opslaan. Lonely Planet se boek beskryf die kampeerplek as ‘n “dustheap”. Heeltemal reg, nogals. Hierdie was baie lank terug, ek vermoed dinge kon intussen verander het.

 

Die aand by Halali se watergat is ons gelukkig om verskeie kudu’s en renosters te sien. Daar heers daardie tipiese gewyde stilte. Nou en dan hoor mens ‘n waarderende, gedempte, “aaahh” van iemand. Totdat die stilte onderbreek word deur ‘n vyfjarige seuntjie wat kliphard ‘n wind laat. Nou nie so hard dat die renosters dit kan hoor nie, maar hard genoeg vir almal in die nabyheid om te hoor. Niemand sê iets nie, maar skielik lyk dit asof almal in ‘n bus sit wat op ‘n sinkplaatpad ry soos almal skud van die lag, maar ewe hard probeer om nie hardop te lag nie. Dis amper soos om in die kerk te probeer om nie te lag nie. Later lag almal maar, behalwe die vyfjarige seuntjie en sy ma (name word verswyg ten einde verleentheid te voorkom). Ek sê jou, gewyde oomblikke.

 

Met een van ons uitrye deur die park beland ons per ongeluk reg in die middel van ‘n leeu-jagtog. ‘n Groot maanhaar lê en wag dat 3 wyfies en ‘n mannetjie ‘n trop swartneus impala’s [dis hoe ek die prentjie in die handleiding verstaan] verbyjaag dat hy een kan gryp vir ontbyt. Net toe hy wil storm, egter, ry ek met die Venture tussen hom en die bokkies in. Eers toe dit te laat is sien ons wat aangaan. Ek gewaar die leeu oor my linkerskouer en skrik my melk weg, want dit lyk of die ou op die Venture afstorm. Maar die leeu hardloop agterom die Venture en probeer desperaat ‘n bokkie gryp, maar hy is te lomp oor die ronde klippe, en gee die stryd gewonne. Toe hy wegloop onthou ek eers van my kamera. Ek pluk dit uit, maar al wat oorbly om af te neem van die hele petalje is die leeu se stert. Ek neem toe maar sy stert af. Miskien glo iemand tog ons storie as ek die foto kan wys.

 

 

Mens misgis jou lelik met afstande in Namibië. Die lastigheid is dat jy beplan om net tot by Ai-Ais te gaan. Maar dan reken jy, jy is nou so naby, jy kan nou netsowel Duwiseb kasteel gaan kyk. Maar as jy eers daar is, dan kan jy netsowel deurhou Solitaire toe. Dit sal natuurlik simpel wees om daar om te draai, so jy hou maar deur Walvisbaai toe. En Swakopmund is net ‘n katspoegie verder, so jy kan darem nie nalaat om daar ‘n draai te gaan maak nie. En as jy eers in Swakop is, dan is Henties ‘n klein entjie aan. As jy nou op die kaart kyk, dan sien jy die Brandberg is nie te ver van ……. jy kry die idee. Uiteindelik eindig jou Ai-Ais kuier met ‘n draai in Etosha, terwyl jou mos nou in die omgewing is, verstaan.

 

So op hierdie manier besluit twee van ons gesinne ons wil Epupa valle toe. Daar is sprake van ‘n dam wat daar gebou gaan word wat sal maak dat die waterval daarmee heen sal wees.

 

Ons besluit dis nou of nooit.

 

PGJ

 

 

 

 

 

 

1 thought on “Namibië toertjie – Hoofstuk 2

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.