Die Travelling Willeboere

Nadat ons ons tande effens geslyp het op die Goreangab dam besluit ons dis tyd om die groter waters aan te durf. Nie branders nie, net baie meer water. Walvisbaai is die logiese keuse.  

 

So sit ons een langnaweek in Mei af Walvisbaai toe. Vier man in ‘n Mazda 323, met twee windsurfers op die dak. Die pad is lank, so ons probeer maar bietjie spoed gee. Ja, “probeer” is inderdaad die korrekte woord. Die bedoeling was daar, maar die uitvoering effe gebrekkig. Bulte op rat jy na ‘n laer rat, die enjin raas, maar al wat verander is jou gesigsuitdrukking.

 

Na ‘n ietwat moeisame tog spoed ons Walvisbaai binne. Ek het geen idee meer waar ons tuisgegaan het nie. Baie moontlik by een of ander militêr-verwante bly-plek, want ek kan onthou dat ek lank in die tou moes staan tussen ‘n klomp ander dienspligtiges vir ‘n beurt op die tiekiebox.

 

 

Die seil-geleentheid het ons maksimaal benut. Toe my hande begin blase kry van klou aan die windsurfer se boom moes ek die aftog blaas. Toe het ons nog nie harnasse gehad om die druk van jou hande af te haal nie. 

 

 

 

 

Met ons hande seer en ons lywe moeg is ons terug na die bungalow waar ons tuisgaan. Uiteraard is ‘n braai medies aangedui. Die Saterdagaand na ons klaar gebraai het gaan staan ek in die tou om van die tiekiebox af my vrou (toe nog my girlfriend) te bel. Ek raak aan die gesels met die dienspligtige voor my in die tou.

 

Hy vertel my hy is van Johannesburg. Met dié dat dit so ‘n lekker lang naweek is, van die Vrydag tot die Maandag (ek raai dit moes Paasnaweek gewees het) het hy besluit om huis toe te hike van Walvisbaai af. Vroeg Vrydagoggend het hy ‘n geleentheid gekry Swakopmund toe en ‘n paar kilometer gestap tot buite die dorp waar hy met ‘n hoopvolle duim ‘n geleentheid probeer nader wink het.

 

Daar het min motors Windhoek toe gery. Die stroom voertuie was in die teenoorgestelde rigting. Toe hy ‘n dag-en-‘n-half later nog steeds op dieselfde plek staan het hy besef die naweek Johannesburg toe gaan nie afkom nie. Hy stap toe maar oor die pad waar hy feitlik dadelik ‘n geleentheid kry terug Walvisbaai toe. Nou gaan hy maar sy meisie bel om te sê die verrassing wat hy vir haar vir die naweek beplan het gaan nou nie so lekker werk nie, maar dis darem die gedagte wat tel.

 

Teen Sondag was ons fut bietjie uit vir seil. Van die vier van ons het drie reeds klaar geswot. Ons was dus so 4 jaar ouer as die jonger lid van ons geselskap wie pas uit die skool uit was. Ons was heel gemaklik om in ‘n parkie in Swakopmund onder ‘n boom te sit en ontspan. Charles het anders daaroor gevoel. Hy het ook geen geheim gemaak van sy misnoeë oor ons ou manne wat gevrek is en in die ouetehuis hoort nie.  

 

Ons besluit toe dis nodig om Charles verkeerd te bewys.   Ons is inderdaad jonk genoeg om simpel te wees.

 

 

 

 

 

Teen Sondagaand het dit begin stil raak. Ten spyte van ‘n lekker naweek het ons almal belange elders wat maak dat ons liewer by die huis, of by ‘n spesifieke iemand anders se huis, sou wou wees.

 

Maandag ry ons min of meer nog in dieselfde gemoedstemming terug Windhoek toe. En op ‘n manier is daar no place like home, selfs al is dit jou kamer in die menasie ver weg van jou regte huis af.

 

PGJ

1 thought on “Die Travelling Willeboere

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.